Bestaansvoorwaardes vir ʼn Afrikanergemeenskap: 10 van hulle

Maretha Maartens reageer op Piet le Roux se bydrae, Afrikaanses is dood. En Afrikaners dan?

‘n Vrou sê toe: “Hoe ouer ek word,hoe stiller word ek. As die familie met kinders en kleinkinders kom kuier en oor politiek, godsdiens, taal en kultuur begin argumenteer, dra ek kos en koeldrank en koffie aan. Die ander praat. En hulle kom nie eens agter dat ek niks sê nie.

As jy bo sestig is, op Sondag, 8 Januarie 2012 tuis gaan wees en skaars vyf kilometer van die Waaihoek Methodiste-kerk af woon, verstaan jy dié vrou se woorde oor minder woorde. Jy weet ook hoe baie sy sou wou sê. Sy is ‘n slim vrou, ‘n analitiese denker, ‘n Christen wat nie met oppervlakkige gedoentetjies in die gemeente genoë neem nie. Sy stem DA en is die genetiese produk van Hollanders, Hugenote, ‘n Ier en ‘n Koi-vrou, om mee te begin. Sy is getroud met ‘n Afrikanerman wat die DA net soveel soos die ANC, die ACDP, die PAC, ESKOM, Julius Malema, die Jehova-getuies, die polisie, die jong wit bure met hulle aangenome swart kind, die plaaslike munisipaliteit, die Grondwet en vrouens se begrip van die toestand van die land wantrou.

Haar jongste dogter is ‘n lidmaat van pastoor Willie Norris se gemeente in Heidedal, heeltemal opgetrek met die Bruinmense daar. Eén ding van Willie Norris: he calls a spade a spade, iets wat die NG-predikante lankal nie meer doen nie, dus hou dié kind van hulle haar uit ‘n saamwoonverhouding met haar vriend. Dit is iets om voor dankbaar te wees, want die Afrikanerjeug is nou meer wêrelds as baie Hollanders in Holland. Dié kind is genadeloos kwaad oor die hele Apartheid-ding. Die swyende vrou se man praat dit goed, die swyende vrou probeer soms verduidelik hoe oningelig haar generasie was, maar hulle kind bly bitter, want wie moet die gemors opruim?

Met hulle een seun en sy vrou is dit ewe erg. Dié twee is die duiwel in vir Pieter Mulder omdat hy sy seile nou nes Kortbroek van Schalkwyk na die wind span.

Die jongste sussie, die laatlam, is nog onskuldig: lief vir haar Voortrekkers, altyd op een of ander Evangelisasie-uitreik saam met GenX — hulle gemeente se jeuggroep. Sy is so ernstig om ‘n verskil in hierdie land te maak, sy sê sy bly net hier. Sy en haar broer sit vreeslik vas.

Die swyende vrou se suster gaan soms Kanada toe: haar seun woon al dertien jaar lank in Toronto. Hy is getroud met ‘n Kanadese vrou, wat maak dat hy nooit weer sal terugkom nie. Hulle slaap met oop deure en die kinders gaan Summer Camps toe en praat Engels. Haar seun gaan nou maar op die internet kerk, want die skoondogter is soos die meeste Kanadese. Geïnstitusionaliseerde godsdiens is nie vir hulle nie. Maar sy is ‘n lieflike mens, jare lank al aktief by Oxfam.

Daar is ook ‘n probleemkind in die familie. Mark Hastings kon hóm en sy vriende in gedagte gehad het toe hy oor brandstigting, betogings en vandalisme in Engeland — en oor die jongmense wat daarvoor verantwoordelik is — geskryf het:

They are illiterate and innumerate, beyond maybe some dexterity with computer games and BlackBerries… a layer of young people with no skills, education, values or aspirations. They do not have what most of us would call ‘lives’: they simply exist. Nobody has ever dared suggest to them that they need feel any allegiance to anything, least of all Britain or their community. They do not watch royal weddings or notice Test matches or take pride in being Londoners or Scousers or Brummies.

Not only do they know nothing of Britain’s past, they care nothing for its present.

They have their being only in video games and street-fights, casual drug use and crime, sometimes petty, sometimes serious. The notions of doing a nine-to-five job, marrying and sticking with a wife and kids, taking up DIY or learning to read properly, are beyond their imaginations.

As jy bo sestig is, skaars vyf kilometer van die Waaihoek Methodiste-kerk af woon, saans Have you heard from Johannesburg? onder regie van die briljante Connie Field kyk en keer op keer naby die Baywater Polisiestasie deur verkeersbeamptes gestop word sodat hoogwaardigheidsbekleërs onder polisie- en verkeersbegeleiding kan verbyjaag na die duur gaste- en privaatwonings waar hulle gedurende die ANC se eeufeesvieringe gaan tuisgaan, staan jy nie met ‘n leë kop oor Afrikanerwees en wag nie.

Wie en wat is die Afrikaner nou? wonder jy. Van almal wat hieroor wonder, is jy dalk nommer 2 017 449. Net van één ding aangaande Afrikanerwees is nommer 2 017 449 seker, Daar waar jy tussen die sportmodel GP-Mercedesse, die BMW’s met hulle Noordwes-nommerplate en die Bloemfonteinse Toyota, TATA, Nissan- en Mahindra-bakkies staan en wag dat die BBP’s moet verbygaan.

Net van een ding is jy seker: jy en jou nageslag is nie dieselfde soort Afrikaners nie.

Hulle wil weet hóé jou generasie dan gedink het. Watter soort mens is die Afrikaner regtig? Absolute mag, sê jou kind, is wanneer jy ‘n mens of mense kan dreig en daardie mens of mense weet jy kan jou dreigement in die daad omskep. Dis hoe dit werk met emosioneel en liggaamlik mishandelde vroue. Dis hoe dit werk met seksueel misbruikte kinders. Dis hoe dit tydens die Apartheidsjare was, sê jou kind. As ‘n man tussen die mure van sy huis, ‘n minderheidsgroep soos die blanke Afrikaner tydens die Apartheidsjare of die leier van ‘n beweging absolute mag het, sak die koppe van hulle slagoffers. Hulle kry ‘n kyk. En totdat hulle hoop kry omdat daar ‘n Moses tussen hulle of vir hulle verskyn, bly die kyk dieselfde: dienstig, verrinneweer, onderdanig, behoedsaam.

Jy stamel soos ‘n kind voor jou kinders. Dis al wat ons geken het. Dis al wat ons geleer het, my kind. Ons is jammer. Ons oë het oopgegaan. Mag God dit verhoed dat enigiemand ooit weer só vir ons sal kyk.

Hulle dink hiernatoe en daarnatoe oor dié land. Jy gaan soek na die grafte van jou voorouers; jy loop oor ‘n verroeste treinbrug daarheen. Jy draai af na Magersfontein en bestudeer die rantjies, die oorblyfsels van die loopgrawe. Hulle luister jou geduldig aan as jy daarvan vertel, soort van. Jy word oud, dink hulle seker.

Hulle dink die Angolese Grensoorlog was ‘n vermorsing van tyd en lewens. Jou man blog saam met ander daaroor. Iets is op die Internet aan die losraak soos knope uit ‘n kraaines: iets uit ‘n ander era toe seuns slagveld toe gegaan en as manne teruggekom het. Iets is in die kuberruim en in Grensoorlogliteratuur aan die opstyg soos heliumgevulde ballonne: die trots van manne wat geglo het dis húlle wat die land vir die nageslag behou.

Jy kyk na jou man waar hy byna outisties gefokus oor Cuito Cuanavale sit en blog. En jy weet: nooit sal jy dié Afrikanerman se tyd op Mars verstaan nie.

Bestaansvoorwaardes vir ʼn Afrikanergemeenskap? Ek staan my lysie en maak terwyl die blouligvoertuie en die slap karre om die verkeersirkel voor ons gaan. Dalk vind ons en ons kinders mekaar aan weerskante van so ‘n lys. Dalk neem so ‘n lys sommige bo-sestigs terug klaskamer toe. Dalk maak my lys ‘n paar van my tydgenote briesend kwaad. Dalk moes ek dié lys al in 1994 opgestel het:

1. Doen iets. Help opruim. Help opbou.
2. Bring ‘n aksiegroep op die been wat vir één ding werk: dat elke kind in die laerskool waar jou kind of kleinkind skoolgaan, die inheemse taal van jou streek in daardie skool vlot sal leer praat. Beywer jou daarvoor dat die skool aandklasse in daardie taal vir ouers, oupas, oumas en oumense sal aanbied. Dat moedertaalsprekers ons wat ons doodsukkel om by te kom met Sotho of Tswana, sal by so ‘n taalspilpunt sal onderrig.
3. Vra vir God om jou aan jouself in enige van die sewe episodes van die dokumentêre film, Have you heard from Johannesburg? uit te wys. Vra Hom ook om vir jou te wys wat jou te doen staan nadat jy jouself herken het.
4. Leer jou jongste kind dat die lewe in hierdie land van bloed en miskenning, onreg en adel, wonderwerke, geleenthede en genade oor meer as sy Blackberry gaan.
5. Ken jou geskiedenis, jou helde, die krag van Afrikanerwees.
6. Ken die struggle-geskiedenis, die helde van die struggle, die krag van ander.
7. Aanvaar die werklikhede van vandag. En wees ten minste een keer per dag dankbaar dat jy hierdie werklikheid en plaas van die een wat kon wees, ontvang het.
8. Ken jou regte en ander se regte. Eis dit op vir jouself en bemagtig ander om dit ook te kan doen.
9. As iets in die kern van die Afrikanerkultuurorganisasie waaraan jy behoort, jou van “hulle” laat praat, waag dit om vir die lede van jou organisasie te vra: “Hoekom is dit ‘hulle’ en ‘ons?’” En doen dan wat reg is wanneer die antwoord kom.
10. Rakende die kruise wat dié naweek by Bloemfontein se ingange ingekap word om Mangaung asof in ‘n Kruisvaardersoperasie vir die Hoë God terug te eis —‘n teenreaksie op die kulturele reinigingseremonies wat deel van die feesvieringe hier uitmaak: ons hoef nie vir die God van ons voorvaders grond en stede af te baken nie. Hy besit dit reeds, soos wat Etan, die psalmskrywer in Psalm 89:11 bely: Aan U behoort die hemel, aan U ook die aarde; die wêreld en sy volheid — U het dit gegrond.

Die grondgebied waaroor dit vir God gaan, is nader. Dit is diep in elkeen wat hom/haarself ‘n Christen-Afrikaner noem.

Lees ook Isak Burger en Christo van der Rheede se reaksie.

Hierdie meningstuk is deur ʼn onafhanklike persoon opgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Maretha Maartens

Meer oor die skrywer: Maretha Maartens

Maretha Maartens is die skrywer van meer as 100 gepubliseerde boeke en meer as 1000 tydskrifartikels en koerantrubrieke. Sy wil nêrens anders as in (Suid) Afrika leef en werk nie. Haar lewensleuse is om lig en eenvoudig te leef. Haar God is die God van die Bybel.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

2 Kommentare

ebert ·

Dankie vir ‘n interessante blik wat jy vir ons kom bied het op die omgewing soos jy dit waarneem.

Ek is dit roerend eens met jou in sekere dele van jou boodskap, veral waar medemenslikheid en regverdigheid aan die orde kom.

Ek verskil ook in sekere opsigte van die blik wat jy bied.

Ek kan byvoorbeeld vandag se werklikhede aanvaar en dankbaar wees dat dit nie erger uitgedraai het nie. Dit beteken egter nie dat ek daarin moet berus en nie steeds kan streef na beter nie. (Wat bly daar oor vir die mens om te doen as hy nie meer kan streef na beter nie?)

Ek is dalk een van die jongeres wat dink dat julle geslag oud word, maar ek weet ook dat dit makliker is om foute in die verlede raak te sien as om dit in die hede uit te wys, eenvoudig omdat die gevolge van vandag se foute nog nie sigbaar is nie. (Bome word aan hulle vrugte geken, nie aan hulle bedoelings nie. Teleurstellings, soos Afsonderlike Ontwikkeling, word daarenteen aan bedoelings geken).

Die uitdaging vir ons geslag Afrikaners is daarom nie of ons die foute van die vorige geslag kan uitwys nie, maar of ons daartoe in staat is om meer en beter inhoud in Afrikanerskap te giet, as wat reeds daar is. Die grootste bedreiging vir ons toekoms is dalk juis ons (die nuwe geslag se) onvermoë om dit te besef en die gebrek aan instellings wat ‘n bewussyn hiervoor kan kweek (ouerhuise, skole, kerke, media, besighede en regering). ‘n Volk leef immers alleen deur sy instellings.

Mike ·

Baie emosioneel opgestel maar dit bied nie ‘n praktiese oplossing vir ‘n suksesvolle en vreedsame lewenspad aan ons nagelsag nie. Wat hier kort is ‘n plan om jou volk weer sy internasionale Godgegewe reg van seggenskap oor sy eie sake te kan gee.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.