Bestaansvoorwaardes vir ʼn Afrikanergemeenskap: Die rol van Christenskap

Isak Burger reageer op Piet le Roux se bydrae, Afrikaanses is dood. En Afrikaners dan?

Kan ʼn mens ʼn goeie Afrikaner wees sonder om ʼn Christen te wees? Ek meen dat die reaksie oorwegend “ja” sal wees.

Tog was Christenskap (al was dit slegs nominaal) in die verlede tot ʼn groot mate as sinoniem met “Afrikaner-wees” gesien. Verskillende Afrikaner-organisasies het oor die afgelope dekades Christenskap (lees: lidmaatskap van een van die drie susterskerke) as een van die voorwaardes tot toelating beskou.

Dit is waarskynlik so dat Afrikaners een van die “Christelik-godsdienstigste” volke op aarde is. Let maar gerus op as Beeld ʼn toetsvraag oor kwessies van morele of godsdienstige aard vra – gewoonlik spreek ongeveer 75% van sy lesers (wat hoofsaaklik Afrikaners is) hulle vir die behoudend-Christelike en morele standpunte uit.

Almal besef dat die klassifisering as Christen nie beteken dat iemand noodwendig ʼn ware volgeling van die Man van Genade is nie. Daar is genoeg on-Christelike gesindhede en -gedrag onder “Christene” wat baie van ons verleë laat.
ʼn Mens moet egter waak teen veralgemening. My persoonlike ervaring met ons Afrikanermense is dat hulle mense met ʼn hoë vlak van beskaafdheid, ordentlikheid en goeie waardes is – eienskappe wat ook allerweë in ander lande erken word. Natuurlik is daar ook vrot appels in die mandjie!

Ek is egter oor die algemeen heel gemaklik (en nederig trots) om myself ʼn Afrikaner te noem.

Terug na die vraag oor Christenskap en Afrikanerskap. Die Afrikaner van vandag – selfs al beskou sommige hulleself nie meer as Christelik of selfs kerkmense nie – kan nie die positiewe invloed van die Bybel en die kerk in die ontwikkeling van die Afrikaner en die Afrikanerkultuur soos dit vandag daar uitsien, ontken nie – net soos met Wes-Europa wat ten spyte van sy postmodernisme en post-Christelikheid, steeds oorvloedige getuienis dra van die eeuelange invloed van die Christendom op sy waardes, kultuur en beskaafdheid.

Benewens die besondere rol wat die Bybel, die kerk, predikante en ander Godvresendes in die ontwikkeling van hierdie Christelike karakter van die Afrikaner gespeel het, wil ek spesifiek die impak van die 1860 herlewing in die NG Kerk uitsonder. Hierdie herlewing – waarin manne soos dr. Andrew Murray betrokke was – het selfs ná 150 jaar ʼn dieper geestelike erflating in die siel van die Afrikanervolk gelaat as wat die meeste van ons besef.

ʼn Mens kan maar net spekuleer oor hoe die Afrikaner (en eintlik die Weste in geheel) vandag sou uitgesien het as daar geen Bybel, geen kerk, geen Christendom was nie. Die rol van godsdiens in die vorming en ontwikkeling van kultuur en waardes en die ontwikkeling van volkere in die algemeen kan kwalik oorskat word.

Op die vraag of Christenskap vandag ʼn bestaansvoorwaarde vir ʼn Afrikanergemeenskap is, moet ʼn mens seker “nee” sê. M.a.w., iemand kan sekerlik ʼn goeie, opgevoede, beskaafde en waardige Suid-Afrikaner wees sonder dat hy of sy ʼn Christen is.

Dan moet ek egter ook byvoeg dat enige persoon wat waarlik die lewensveranderende werk van God in sy/haar lewe ervaar het en streef om ʼn volgeling van Jesus Christus te wees, nie net burgerskap van die hemel verkry het nie, maar ook ʼn beter landsburger behoort te wees. Of dit nou ʼn Afrikaner in Suid-Afrika is, of ʼn Sjinees in Sjina, of ʼn Rus in Rusland is.

Alle goeie landsburgers en volksgenote is nie noodwendig Christene nie en nie alle Christene is noodwendig goeie mense nie. Maar enige ware burger van die koninkryk van God behoort ook ʼn aanwins vir enige nasie te wees.

Lees ook Maretha Maartens en Christo van der Rheede se reaksie.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Isak Burger

Isak Burger is die voormalige president van die Apostoliese Geloofsending van Suid-Afrika.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.