Bestaansvraagstukke bepaal lewe of dood

flip-buys-voorsitter-van-solidariteit-beweging-2018-08

Flip Buys is die voorsitter van die Solidariteit Beweging. Foto: René Roux.

“Diegene wat nie uit die geskiedenis leer nie, is gedoem om dit te herhaal”.

Hierdie tydlose wysheid van die Britse denker Edmund Burke, is vandag nog net so waar. My belangstelling in die groot prentjie van die geskiedenis, is nie om te weet presies wát gebeur het nie, en selfs nie eers hóékom dit gebeur het nie. Dis om beter die tekens te lees van wat nog kán gebeur, sodat planne betyds gemaak en uitgevoer kan word.

Die geskiedenis is vir my die verhaal van volke en lande se bestaansvraagstukke. Die bestuur daarvan beteken selfs die verskil tussen lewe en dood. Staatsmanne wat die bestaansvraagstukke van sy eie en van ander lande verstaan kan vrede en voorspoed handhaaf. Maar leiers wat dit nie verstaan nie, kan hulle mense in ’n bloedbad dompel wat in die ergste gevalle selfs tot algehele uitwissing kan lei.

Bismarck se strategie

Die beste voorbeeld van ’n staatsman wat sy eie- en sy bure se bestaansvraagtukke goed verstaan het, was die Duitse kanselier Otto von Bismarck. Hy het begryp dat Duitsland se ligging in die middel van Europa ideaal was vir vrede, maar rampspoedig vir oorlog. Daarom het hy vinnig twee kort oorloë gevoer om Duitsland te verenig en so te beveilig. Daarna het hy sy land se krag gebruik om vir dekades vrede en ekonomiese voorspoed te handhaaf. Bismarck het ingesien dat die sleutel tot Duitse oorlewing, welvaart en Europese oorheersing, in bondgenootskappe met Brittanje en Rusland lê.

Dit het die doodsbedreiging van ’n militêre “toebroodjie” tussen Frankryk en Rusland, met ’n gevaarlike Britse vloot wat Duitsland kon blokkeer, afgeweer. Brittanje kon die see beheer, solank die Duitsers die kontinent kon oorheers. So het Bismarck nie net die Duitse bestaansvraagstuk veilig bestuur nie, maar ook die Russe en Britte – en destyds die hele moderne wêreld se gemoedsrus oor hulle voortbestaan verseker.

Hitler bring rampspoed

Maar sy opvolgers het nie Duitsland en sy bure se bestaansvraagstukke begryp nie. Die Duitse keiser Wilhelm II het die Duitse vloot só groot uitgebrei dat die Britte vir hul eie veiligheid met Frankryk en Rusland ’n bondgenootskap gesluit het. Die uiteinde was ’n wapenwedloop wat later die VSA betrek en in ’n bloedige Eerste Wêreldoorlog in ’n vernederende neerlaag vir Duitsland geëindig het.

Hitler het die grootmoondhede van die tyd se bestaansvraagstukke nog minder as die keiser verstaan. Hy het Bismarck se strategiese reëls van vrede met die Britte en Amerikaners, en ’n vermyding van ’n tweefrontoorlog met Rusland, hardhandig verbreek. Die uiteinde was nóg ’n verwoestende Wêreldoorlog en 70 miljoen dooies.

Dit het die staatsman Henry Kissinger wanhopig laat uitroep: “Die arme Duitsland. Te groot vir Europa, maar te klein vir die wêreld”.

Britse bestaansvraag

Brittanje het vir eeue ’n oorheersende rol in die wêreld gespeel deurdat sy opeenvolgende staatsmanne die Britse bestaansvraag van hul kwesbare eilandstaat verstaan het. Daarom was hul nasionale strategie vir honderde jare op twee leerstellings gegrond. Die eerste was ’n sterk vloot wat enige buitelandse inval kon keer. Die tweede was dat die Britte altyd ’n Europese magsbalans gehandhaaf het. Dit moes gesorg het dat nie een Europese moondheid sterk genoeg word om die ander te oorheers en uiteindelik die Britte self te bedreig nie.

Daarom het hulle met die Duitsers ’n bondgenootskap gesluit as die Franse te sterk geword het, en met die Franse as die Duitsers te sterk was.

Russiese strategie

Die Russiese nasionale strategie word oor eeue deur twee bestaansvrae gedryf. Die eerste is die bedreiging van ’n aanval uit die Weste, en die tweede ’n historiese agterstand in ontwikkeling teenoor die Weste. Dit het ’n gevaarlike magswanbalans veroorsaak.

Die gevolg was ’n tweeledige nasionale strategie wat vandag nog geld. Die eerste is om ’n bedreiging uit die Weste te keer deur die vestiging van goedgesinde bufferstate tussen hulle en Wes-Europa. Die tweede, om die agterstand uit te wis deur óf self te probeer verwesters áf deur ’n ideologie waarmee hulle kon ontwikkel, aan te gryp. Projekte om te probeer verwesters onder tsaar Pieter die Grote en later Katharina de Grote het gemengde welslae behaal. Die projek om met Kommunisme die agterstand te probeer uitwis was egter rampspoedig.

Die Russe is verskeie kere vanuit die Weste deur die Oekraïne aangeval. Voorbeelde hiervan is Napoleon in 1812, die Duitsers in die Eerste Wêreldoorlog, die Britte en Amerikaners wat ná die Eerste Wêreldoorlog vergeefs wou verhoed dat die Kommuniste oorneem, en toe weer ’n keer die Duitsers in die Tweede Wêreldoorlog. Later die Westerse bondgenootskap tydens die Koue Oorlog, daarna die uitbreiding van die Europese Unie en Navo tot by die Russiese wesgrens, en tans die Westerse teenstand teen die Russiese oorname van die Krim Skiereiland.

Opkoms van Poetin

Die Russiese reaksie op die bedreiging uit die Weste was om ná die Tweede Wêreldoorlog Oos-Europa oor te vat om hul Wesgrens te beskerm. Ná die val van die Kommunisme was die Russe aanvanklik te swak om te keer dat die Europese Unie en Navo die voormalige Oosbloklande aan hul Wesgrens betrek. Die Westers gesteunde omverwerping van ’n pro-Russiese president in die Oekraïne het die historiese Russiese vrees vir ’n bedreiging uit die Weste laat opvlam. Dit het gelei tot hul heranneksasie van die Krim-skiereiland en inmenging in die Oekraïense burgeroorlog. Die Krim was vir eeue deel van Rusland en bevat Sewastopol, die enigste Russiese hawe wat nooit vasvries nie, en wat gevolglik lewensbelangrik vir die Russe is.

Die Weste het steeds ’n onbegrip vir die “tweeling”-(Russiese)dryfkragte van die beveiliging van hulle wesgrens en ’n strewe na ontwikkeling om ’n magsewewig met die Weste te bewerkstellig. Dit alles het gelei tot die opkoms van president Poetin wat as sterkman deur die Russe gesien word as iemand wat hulle van die Westerse gevaar kan beskerm, en wat die land met sentrale gesag moet ontwikkel. Dit het ongelukkig weer gelei tot ’n nuwe Koue Oorlog, waarin “Koue krygers” die ou uitgediende verdelingslyne weer oproep.

VSA-strategie

Die VSA het homself met sy deelname aan die Eerste Wêreldoorlog uit sy afsondering losgeruk met die dryfveer om ter wille van die beveiliging van demokrasie teen die Duitsers te veg. So het die land se ideologiese projek om Westerse demokrasie te bevorder tot ’n groot mate sy bestaansrede geword. Die Amerikaners het die suksesvolle Westerse “goue tweeling” – demokrasie en kapitalisme – as die antwoord op die bestaansvraagstukke van wêreldwye armoede en onderdrukking gesien. Hul oortuiging dat Westerse liberalisme nie uniek aan die Weste is nie, maar universeel aan die mensdom, het tot hul projek gelei om verwestering hul grootste uitvoerproduk te maak. Hierin het hulle soms enorme historiese suksesse behaal, soos om hul suksesresep met geweld op Duitsland en Japan af te dwing.

Ongelukkig het die projek ook tot klaaglike mislukkings gelei soos in die Midde-Ooste, talle Afrikastate, en die oplaaiende spanning met Rusland en China. Die Harvard-akademikus Sameul Huntington het die VSA selfs gewaarsku dat hul projek om die wêreld te probeer verwesters kan lei tot die “Weste teen die Reste”. Daarom was Huntington se goeie raad dat die Weste eerder moet probeer herleef as oorheers.

Westerse strategie

Die Weste se bestaansuitdaging was histories om te oorleef teen mededingende kultuurblokke soos die Ooste, die Moslems en die Chinese. Die betreklike magsewewig tussen die Weste en ander beskawings, het sowat 500 jaar gelede geleidelik ten gunste van die Weste verander. Dit het veral gespruit uit die Protestantse Hervorming, wat gelei het tot beter kulturele “harde- en sagtewarestelsels” soos die regsorde, kapitalisme, wetenskap en tegnologie, politieke organisasie, werksetiek, onderwys en opleiding, ekonomiese krag en uiteindelik militêre mag. Dit het die Weste in staat gestel om ander beskawings te koloniseer, in plaas van andersom. Die wêreld het intussen verander, omdat talle ander kulture ook suksesvol moderniseer het sonder om te verwesters, soos die Japanners, Chinese, Russe en Indië. Daar kom ook as gevolg van demografiese veranderings stadigaan weer ’n nuwe globale magsewewig tot stand. Dit kan ’n groot uitwerking hê op Westerse waardes soos demokrasie wat nou as algemeen aanvaar word. Die Weste word veral deur die opkoms van China en die Moslemwêreld geraak. Daarom is die Weste se voortgesette oorheersende rol, afhanklik van bondgenootskappe met kultuurblokke soos die Russe, Indiërs, en die Japanners. Dit sal meebring dat die globale magsbalans 4 teen 2 ten gunste van die Weste gelaai sal wees. Maar dan sal Westerse buitelandse beleid herbalanseer moet word volgens nasionale belang, eerder as die ideologiese projek van die Weste om die “reste” te probeer verwesters.

Afrikaner bestaansvraagstuk

Die Afrikaner se bestaansvraagstuk is nie ons klein getalle nie, maar ons yl verspreiding wat meebring dat ons orals ’n maglose minderheid met dieselfde uitdagings is. Hierdie uitdaging en moontlike oplossings sal in ’n volgende artikel in meer diepte bespreek word. Die kern van die saak is dat ons uit die lesse van die geskiedenis sal moet leer om volhoubaar voort te kan bestaan.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Flip Buys

Meer oor die skrywer: Flip Buys

Flip Buys is voorsitter van die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

24 Kommentare

jongste oudste gewildste
Oud Rhodie

Weldeurdagte artikel. Baie dankie. Sien uit na die volgende.

James

Sien uit na die opvolgartikel – maar uit die slotparagraaf: “Yl verspreiding”, glo ek dat Flip die oplossing by sy naam sal noem – Selfbeskikking, met voorafgaande konsentrasie op ‘n grondgebied.

Anti-Kommunis.

Uitstekende artikel oor ‘ons’ geskiedenis. Sien uit na die volgende aflewering en hoe dit die Afrikaner raak.

Deon

Puik Flip. Konsentrasiepunte – kantonne – kultuuroutonomie – oorlewing.

Eish

Dit was nou sommer n welkome geskiedenis les wat die groter prentjie duidelik uitbring.
Ek sien uit na die volgende artikel.
Die voorvat, die touleier, leierskap is tans n kritiese deel van ons probleem.