Bestaansvraagstukke bepaal lewe of dood

flip-buys-voorsitter-van-solidariteit-beweging-2018-08

Flip Buys is die voorsitter van die Solidariteit Beweging. Foto: René Roux.

“Diegene wat nie uit die geskiedenis leer nie, is gedoem om dit te herhaal”.

Hierdie tydlose wysheid van die Britse denker Edmund Burke, is vandag nog net so waar. My belangstelling in die groot prentjie van die geskiedenis, is nie om te weet presies wát gebeur het nie, en selfs nie eers hóékom dit gebeur het nie. Dis om beter die tekens te lees van wat nog kán gebeur, sodat planne betyds gemaak en uitgevoer kan word.

Die geskiedenis is vir my die verhaal van volke en lande se bestaansvraagstukke. Die bestuur daarvan beteken selfs die verskil tussen lewe en dood. Staatsmanne wat die bestaansvraagstukke van sy eie en van ander lande verstaan kan vrede en voorspoed handhaaf. Maar leiers wat dit nie verstaan nie, kan hulle mense in ’n bloedbad dompel wat in die ergste gevalle selfs tot algehele uitwissing kan lei.

Bismarck se strategie

Die beste voorbeeld van ’n staatsman wat sy eie- en sy bure se bestaansvraagtukke goed verstaan het, was die Duitse kanselier Otto von Bismarck. Hy het begryp dat Duitsland se ligging in die middel van Europa ideaal was vir vrede, maar rampspoedig vir oorlog. Daarom het hy vinnig twee kort oorloë gevoer om Duitsland te verenig en so te beveilig. Daarna het hy sy land se krag gebruik om vir dekades vrede en ekonomiese voorspoed te handhaaf. Bismarck het ingesien dat die sleutel tot Duitse oorlewing, welvaart en Europese oorheersing, in bondgenootskappe met Brittanje en Rusland lê.

Dit het die doodsbedreiging van ’n militêre “toebroodjie” tussen Frankryk en Rusland, met ’n gevaarlike Britse vloot wat Duitsland kon blokkeer, afgeweer. Brittanje kon die see beheer, solank die Duitsers die kontinent kon oorheers. So het Bismarck nie net die Duitse bestaansvraagstuk veilig bestuur nie, maar ook die Russe en Britte – en destyds die hele moderne wêreld se gemoedsrus oor hulle voortbestaan verseker.

Hitler bring rampspoed

Maar sy opvolgers het nie Duitsland en sy bure se bestaansvraagstukke begryp nie. Die Duitse keiser Wilhelm II het die Duitse vloot só groot uitgebrei dat die Britte vir hul eie veiligheid met Frankryk en Rusland ’n bondgenootskap gesluit het. Die uiteinde was ’n wapenwedloop wat later die VSA betrek en in ’n bloedige Eerste Wêreldoorlog in ’n vernederende neerlaag vir Duitsland geëindig het.

Hitler het die grootmoondhede van die tyd se bestaansvraagstukke nog minder as die keiser verstaan. Hy het Bismarck se strategiese reëls van vrede met die Britte en Amerikaners, en ’n vermyding van ’n tweefrontoorlog met Rusland, hardhandig verbreek. Die uiteinde was nóg ’n verwoestende Wêreldoorlog en 70 miljoen dooies.

Dit het die staatsman Henry Kissinger wanhopig laat uitroep: “Die arme Duitsland. Te groot vir Europa, maar te klein vir die wêreld”.

Britse bestaansvraag

Brittanje het vir eeue ’n oorheersende rol in die wêreld gespeel deurdat sy opeenvolgende staatsmanne die Britse bestaansvraag van hul kwesbare eilandstaat verstaan het. Daarom was hul nasionale strategie vir honderde jare op twee leerstellings gegrond. Die eerste was ’n sterk vloot wat enige buitelandse inval kon keer. Die tweede was dat die Britte altyd ’n Europese magsbalans gehandhaaf het. Dit moes gesorg het dat nie een Europese moondheid sterk genoeg word om die ander te oorheers en uiteindelik die Britte self te bedreig nie.

Daarom het hulle met die Duitsers ’n bondgenootskap gesluit as die Franse te sterk geword het, en met die Franse as die Duitsers te sterk was.

Russiese strategie

Die Russiese nasionale strategie word oor eeue deur twee bestaansvrae gedryf. Die eerste is die bedreiging van ’n aanval uit die Weste, en die tweede ’n historiese agterstand in ontwikkeling teenoor die Weste. Dit het ’n gevaarlike magswanbalans veroorsaak.

Die gevolg was ’n tweeledige nasionale strategie wat vandag nog geld. Die eerste is om ’n bedreiging uit die Weste te keer deur die vestiging van goedgesinde bufferstate tussen hulle en Wes-Europa. Die tweede, om die agterstand uit te wis deur óf self te probeer verwesters áf deur ’n ideologie waarmee hulle kon ontwikkel, aan te gryp. Projekte om te probeer verwesters onder tsaar Pieter die Grote en later Katharina de Grote het gemengde welslae behaal. Die projek om met Kommunisme die agterstand te probeer uitwis was egter rampspoedig.

Die Russe is verskeie kere vanuit die Weste deur die Oekraïne aangeval. Voorbeelde hiervan is Napoleon in 1812, die Duitsers in die Eerste Wêreldoorlog, die Britte en Amerikaners wat ná die Eerste Wêreldoorlog vergeefs wou verhoed dat die Kommuniste oorneem, en toe weer ’n keer die Duitsers in die Tweede Wêreldoorlog. Later die Westerse bondgenootskap tydens die Koue Oorlog, daarna die uitbreiding van die Europese Unie en Navo tot by die Russiese wesgrens, en tans die Westerse teenstand teen die Russiese oorname van die Krim Skiereiland.

Opkoms van Poetin

Die Russiese reaksie op die bedreiging uit die Weste was om ná die Tweede Wêreldoorlog Oos-Europa oor te vat om hul Wesgrens te beskerm. Ná die val van die Kommunisme was die Russe aanvanklik te swak om te keer dat die Europese Unie en Navo die voormalige Oosbloklande aan hul Wesgrens betrek. Die Westers gesteunde omverwerping van ’n pro-Russiese president in die Oekraïne het die historiese Russiese vrees vir ’n bedreiging uit die Weste laat opvlam. Dit het gelei tot hul heranneksasie van die Krim-skiereiland en inmenging in die Oekraïense burgeroorlog. Die Krim was vir eeue deel van Rusland en bevat Sewastopol, die enigste Russiese hawe wat nooit vasvries nie, en wat gevolglik lewensbelangrik vir die Russe is.

Die Weste het steeds ’n onbegrip vir die “tweeling”-(Russiese)dryfkragte van die beveiliging van hulle wesgrens en ’n strewe na ontwikkeling om ’n magsewewig met die Weste te bewerkstellig. Dit alles het gelei tot die opkoms van president Poetin wat as sterkman deur die Russe gesien word as iemand wat hulle van die Westerse gevaar kan beskerm, en wat die land met sentrale gesag moet ontwikkel. Dit het ongelukkig weer gelei tot ’n nuwe Koue Oorlog, waarin “Koue krygers” die ou uitgediende verdelingslyne weer oproep.

VSA-strategie

Die VSA het homself met sy deelname aan die Eerste Wêreldoorlog uit sy afsondering losgeruk met die dryfveer om ter wille van die beveiliging van demokrasie teen die Duitsers te veg. So het die land se ideologiese projek om Westerse demokrasie te bevorder tot ’n groot mate sy bestaansrede geword. Die Amerikaners het die suksesvolle Westerse “goue tweeling” – demokrasie en kapitalisme – as die antwoord op die bestaansvraagstukke van wêreldwye armoede en onderdrukking gesien. Hul oortuiging dat Westerse liberalisme nie uniek aan die Weste is nie, maar universeel aan die mensdom, het tot hul projek gelei om verwestering hul grootste uitvoerproduk te maak. Hierin het hulle soms enorme historiese suksesse behaal, soos om hul suksesresep met geweld op Duitsland en Japan af te dwing.

Ongelukkig het die projek ook tot klaaglike mislukkings gelei soos in die Midde-Ooste, talle Afrikastate, en die oplaaiende spanning met Rusland en China. Die Harvard-akademikus Sameul Huntington het die VSA selfs gewaarsku dat hul projek om die wêreld te probeer verwesters kan lei tot die “Weste teen die Reste”. Daarom was Huntington se goeie raad dat die Weste eerder moet probeer herleef as oorheers.

Westerse strategie

Die Weste se bestaansuitdaging was histories om te oorleef teen mededingende kultuurblokke soos die Ooste, die Moslems en die Chinese. Die betreklike magsewewig tussen die Weste en ander beskawings, het sowat 500 jaar gelede geleidelik ten gunste van die Weste verander. Dit het veral gespruit uit die Protestantse Hervorming, wat gelei het tot beter kulturele “harde- en sagtewarestelsels” soos die regsorde, kapitalisme, wetenskap en tegnologie, politieke organisasie, werksetiek, onderwys en opleiding, ekonomiese krag en uiteindelik militêre mag. Dit het die Weste in staat gestel om ander beskawings te koloniseer, in plaas van andersom. Die wêreld het intussen verander, omdat talle ander kulture ook suksesvol moderniseer het sonder om te verwesters, soos die Japanners, Chinese, Russe en Indië. Daar kom ook as gevolg van demografiese veranderings stadigaan weer ’n nuwe globale magsewewig tot stand. Dit kan ’n groot uitwerking hê op Westerse waardes soos demokrasie wat nou as algemeen aanvaar word. Die Weste word veral deur die opkoms van China en die Moslemwêreld geraak. Daarom is die Weste se voortgesette oorheersende rol, afhanklik van bondgenootskappe met kultuurblokke soos die Russe, Indiërs, en die Japanners. Dit sal meebring dat die globale magsbalans 4 teen 2 ten gunste van die Weste gelaai sal wees. Maar dan sal Westerse buitelandse beleid herbalanseer moet word volgens nasionale belang, eerder as die ideologiese projek van die Weste om die “reste” te probeer verwesters.

Afrikaner bestaansvraagstuk

Die Afrikaner se bestaansvraagstuk is nie ons klein getalle nie, maar ons yl verspreiding wat meebring dat ons orals ’n maglose minderheid met dieselfde uitdagings is. Hierdie uitdaging en moontlike oplossings sal in ’n volgende artikel in meer diepte bespreek word. Die kern van die saak is dat ons uit die lesse van die geskiedenis sal moet leer om volhoubaar voort te kan bestaan.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Flip Buys

Flip Buys is voorsitter van die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

24 Kommentare

Oud Rhodie ·

Weldeurdagte artikel. Baie dankie. Sien uit na die volgende.

James ·

Sien uit na die opvolgartikel – maar uit die slotparagraaf: “Yl verspreiding”, glo ek dat Flip die oplossing by sy naam sal noem – Selfbeskikking, met voorafgaande konsentrasie op ‘n grondgebied.

Hendrik ·

James ek wag ook vir die oplossings want dit raak nodig dringend dat daar gekyk word na ‘n oplossing om die Afrikaner toekoms te verseker. Vorige keer is daar genoem dat die Solidartets Beweging Afrikaner groeipunte gedentifiseer het. Ek hoop ook dat die Solidariteits Beweging ook in konsultasie met hierdie groeiarea was. Dit is belangrik om met die mense op grondvalk te konsulteer om oplossings te vind. Ons gemeenskap wag gretig vir die konsulteering vanaf die Solidariteit Beweging om groei te bevorder.

Gemsbok ·

Hendrik, vorige selfbeskikkingspogings het misluk omdat elke Afrikaner wat gekonsulteer is oortuig was dat die Afrikanergebied sy of haar agterplaas moes insluit. Vervolgens is geen oplossing vir die problem van yl verspreiding gevind nie.

In die sakewêreld het Henry Ford gesê dat as hy vir mense gevra het wat hulle wou hê, hul antwoord vinniger perde sou gewees het.

In gevalle van radikale verandering is mense geneig om eers te weet wat hulle wil hê nadat hulle dit gesien het.

Daarom Orania 25 jaar gelede begin: om vir Afrikaners te wys hoe die alternatief lyk. Terwyl almal nog gehoop het op die reënboog-droom was vordering stadig, want vordering hang van ondersteuning af, maar dinge gaan deesdae heelwat vinniger en die kurwe is besig om te versnel.

Anti-Kommunis. ·

Uitstekende artikel oor ‘ons’ geskiedenis. Sien uit na die volgende aflewering en hoe dit die Afrikaner raak.

Deon ·

Puik Flip. Konsentrasiepunte – kantonne – kultuuroutonomie – oorlewing.

Edna ·

Selfbeskikking gaan van ons ‘n baie sterk, verjongde volk met ‘n blink toekoms maak.

Eish ·

Dit was nou sommer n welkome geskiedenis les wat die groter prentjie duidelik uitbring.
Ek sien uit na die volgende artikel.
Die voorvat, die touleier, leierskap is tans n kritiese deel van ons probleem.

Rasper ·

Sien uit na die opvolg aritkel. Leierskap gaan baie belangrik wees. Aangesien die meeste van die voorbeelde in hierdie artikel gekoppel was aan ‘n leier. Daardie persoon wat al die punte bymekaar kon kry. Ek het lankal die probleem met Afrikaner leiers gesien. Niemand is in staat om die Afrikaner bymekaar te kry nie. Daar is wel “leiers”, maar hulle kan net bymekaar kry wie soos hy dink en redeneer. As volk, is dit logies dat daar ‘n konserwatiewe kant en ‘n meer liberale kant sal wees. Ons is tog immers ‘n volk. Om iemand jou te laat volg wat presies soos jy dink en dinge wil doen, is nie ‘n kuns nie, ‘n mens noem dit ‘n vriendekring, of sommer net ‘n bende. Maar die Afrikaner leiers wat oor die spektrum almal bymekaar kry, hy/sy is die leier wat ‘n bestaansplan kan laat werk. Hopelik binne ‘n vasgestelde grondgebied……

Henry ·

Toegang tot ‘n warmwater hawe is en was deur die eeue heen van primêre belang wanneer Rusland se nasionale strategie en/of nasionale belang ter sprake kom. Per slot van sake kan die “historiese agterstand” slegs doeltreffend aangespreek word, indien Rusland vrye toegang tot die res van die planeet se markte en ontwikkelinge het. Terselfdertyd moet die Russiese vloot ook oor ‘n warmwater hawe beskik om Rusland teen vyande te verdedig en andersyds om toegang tot hul belange oor die res van die planeet te verseker.

Nikita Kruschev het egter gedurende 1957, tydens een van sy talle sotlike oomblikke, die Krim gebied as ‘geskenk’ aan die Ukraïne oorhandig, omdat hy geglo het dat Sowjet Rusland vir ewig en nog verder, in beheer van die USSR se grondgebied en ‘n kommunistiese Utopia sou wees.

60 Jaar later moes Putin tsv wêreldwye teenstand, die Krim skiereiland wat danksy Krushev ‘n outonome republiek binne die grense van Ukraïne was, weereens gedurende 2014 annekseer. Dit was noodsaaklik om vrye toegang tot die Krim gebied en Sevastopol te verseker.
Soos dit vanaf die 1700’s in Rusland se nasionale belang is.

Henry ·

Jammer, maar ek het bg per abuis aangestuur, alvorens ek die ondergenoemde gedeelte bygevoeg het.

Kruschev se ondeurdagte optrede om Rusland se mees strategiese bate nl die Krim skiereiland aan die Ukraïne “weg te gee”, omdat hy “ge-glo” het dat Moeder Rusland oftewel die destydse USSR, altyd in beheer van die Ukraïne en ‘n kommunistiese Utopia sal wees, herinner aan die waanbeelde wat tydens Kodesa onderhandelinge ons ‘leiers” aangespoor het om sotlikhede oor wigte en teenwigte, minderheidsregte ens ens ens kwyt te raak.

En kyk net waar staan ons nou!!!

Ongelukkig het ons nie die mag of getalle om soos Putin, terug te neem dit wat onnadenkend weg gegee is nie. Daarom kan ek nie wag vir Mnr Flip Buys se verdere skrywes oor die pad vorentoe nie.

Strateeg Vlakvark ·

“Wisdom: Looking ahead, ignoring the past, we see not the future” [Chen Ziang, 661 – 702 AD].
‘n Goeie kennis van die geskiedenis en ‘n deeglike senariostudie van die hede is die fondament vir ‘n doelgerigte en effektiewe visie en agiele strategie. Maar toekomsbeplanning moet gebaseer wees op geregtigheid en naasteliefde.

Piet ·

Dankie mnr Buys vir hoop en toekoms visie. Sien uit na volgende artikel, maar hoop dit sal nie net by ñ artikel bly nie. Ons het Afri-byeenkomste nodig in elke streek om aksie planne te mobiliseer……en gou ook. Die uurglas loop uit.

aj ·

KONSENTREER of EMIGREER!
Koop al die eiendomme rondom Afrikaanse skole en kerke. Rig ‘n veiligheidsheining op en pas toegansgbeheer toe. Raak selfvoorsienend t.o.v. water en elektrisiteit. Dryf handel en produseer voedsel binne die veiligheidswoonbuurt. Gee opleiding aan alle inwoners in selfbeveiliging.

Bg is wat Israel gedoen het
… en dit word kibboetse genoem.

Later kan naby liggende “kibboetse” saamsmelt en sodoende selfregerende “kantons” skep.

Doen dit net!

John ·

Om alle vrae of vrese en kritiek te verwyder is tipiese kommunistiese breinspoeling en laat rooiligte flikker. Moet Afrikaners weer ge-1994 word? Auto &General het ‘n Indiese voorsitter met ‘n vreemde raad en vraagtekens hang oor ander lede. Virseker word deur julle aanbeveel en besing. Om die ANC te dupliseer is onnodig want die DA doen dit reeds. Afrikaans is nie ‘n Engele-taal nie en Afrikanerleiers was en is aardse wesens. Oppas om die Afrikaner nie te ‘verlei’ met vrees as dryfveer nie. Mnr Buys is ‘n uniebaas, oppas vir hooghartige eiewysheid; dis waar dwaasheid begin. Maroela is ‘n nuusstasie, nie ‘n heilige witolifant op Amarula nie.

Henry ·

Jy kan nie die ‘heilige wit olifant op Amarula” meer gepas omskryf het nie John.

:-)

Francois vRvO ·

Baie dankie Oom Flip vir hierdie artikel , sien uit met groot afwagting op die opvolg artikel.
Geskiedenis was vervelig op skool maar nou dat ons groot is , besef ons die waarde hiervan.
‘n Paar belangrike datums:
15 Mei 1948 – Israel verkry onafhanlikheid , begin Kiboets stelsel om land te herbou.
15 Mei 2018 – Presies 70 jaar later skuif Mnr Donald Trump die Amerikaanse ambesade van Tel Aviv na Jerusalem.
16 Desember 1949 – Die Voortrekker Monument word ingehuldig….
Presies 70 jaar later – 16 Desember 2019 – wat gaan ons skryf???

DC ·

16 Des dal kom en gaan sonder dat niks gebeur. Dalk is daar 3 saamtrekke. Die een les uit verlede is dat mense opstaan en veg vir hul regte en toekoms. Afrika respekteer net krag en mag. As dit nie deel is v n toekomsstrategie nie, is ons besig met tydmors. Die herposisionering tussen lande wat tans plaasvind skep nuwe moontlikhede waarby Afrikaners kan baat.

Jerry ·

Flip, jy beweeg teen 60% in die regte rigting, die ander 40 % moet ek met John saamstem is afwesig deels te danke aan hooghartige eiewysheid wat jy weerspieel deur geregverdigbare kritiek wat leemtes in jou skrywes uitwys, te verwyder. Jy kan dit doen, inteendeel jy kan enigiets doen, jy sal dan egter nooit daarby uitkom om die regte dinge 100% reg te doen nie.

bollie ·

Twee-derdes van Afrikaners stel nie belang in selfbeskikking nie so dit sal nie werk nie.

Jerry ·

Jy kan die Afrikaner konsentreer, maar slegs op n manier wat nie enige ander groep uitsluit of benadeel nie. Enige inisiatief wat ander groepe uitsluit of benadeel is teenstrydig met die grondwet en sal as ongrondwetlik geag word. Omheining en toegangsbeheer van residensiele areas is ook nie net teenstrydig met munisipale regulasies nie, dit is ook ongrondwetlik. Dit is dus meer wenslik en lewensvatbaar om te beding vir n eie Afrikaner grondgebied en n mens sou reken dat met al die Afrikaner leiers en projekbestuurders, dit teen die tyd al n werklikheid moes gewees het! Die teendeel is egter waar en dit laat die vraag ontstaan van hoekom die Afrikaner nie reeds n eie grondgebied het nie? Is dit dalk agv Afrikaner leiers en projekbestuurders se hooghartige eiewysheid met die buitelandse veldtogte wat dit ten doel gehad het om die ekonomie te ondermyn deur investering in SA te ontmoedig en dat as gevolg hiervan, die regering van die dag n eie Afrikaner grondgebied nou nooit sal toelaat nie en dat die regering sy aanslag teen die Afrikaner verskerp het soos met byvoorbeeld die OSV!

Skaap ·

@Jerry – Ek dink daar is nie selfbeskiking nie omdat:
1) Ons mense nog vaskleef aan die idee dat dit moontlik is om ons kultuur te behou en multikulturalisme te beofen as ‘n minderheid.
2) Ons volg nie Oranja se beste voorbeeld nie; Ons implementeer nie eie arbeid nie.

Elke keer waneer ons die leun van multikulturalisme beoefen veraai ons; ons self, ons kultuur en ons naaste.

@AJ – Stem saam met jou; “KONSENTREER of EMIGREER!”.
Ons moet maar binne die wet doen wat ons kan. Maar die wet gaan nog val wanneer die ‘free for all’ losbars.

rassie ·

Beste Flip,

Stem saam met die inleidende paragraaf van jou artikel, veral oor die deel van “vrede en voorspoed”

Ek sien baie uit na jou opvolgartikel en vertrou dat die moontlike vreedsame en voorspoedige oplossing wat jy gaan voorstel wel al die detail van presies wat, presies wie, presies wanneer, presies hoe ens ens sal bevat.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.