Beste internasionale praktyke bewys onderrig in Afrikaans moet bly

Politegniese-Instituut-van-Milaan

Politegniese Instituut van Milaan. Foto: Polimi.it

In Suid-Afrika bly die sogenaamde “taaldebat” ’n aktuele tema – veral wanneer dit oor Afrikaans handel, soos onlangse media-uitlatings deur onder andere regter Johann van der Westhuizen, prof. Jonathan Jansen en me. Deidré le Hanie, asook die hewige reaksie wat dit tot gevolg gehad het, bewys.

Wat opval wanneer ’n mens die uitlatings en die publiek se reaksie daarop bestudeer, is die gebrek aan kennis by vele oor die betekenis van taal en taalregte. In sommige gevalle is dit verstaanbaar, omdat die mense wat ’n bepaalde standpunt huldig ’n politieke agenda navolg en nie belangstel in feite wat daarmee kan inmeng nie.

In ander gevalle is dit kommerwekkend om te dink dat mense in posisies sit waar hulle besluite oor hulself, hulle kinders of selfs ’n wyer groep mense se toegang tot onderrig in Afrikaans kan neem, terwyl hulle nie oor die nodige kennis vir ’n ingeligte besluit daaroor beskik nie.

Taalregte is ’n internasionale studieveld wat tans dinamies ontwikkel en wanneer jy jou op die terrein van die debat oor Afrikaans wil begewe, is dit goed om van die jongste gebeure en navorsingsresultate op dié terrein kennis te neem.

’n Waterskeidingsaak het hom sedert 2012 in Italië afgespeel. Die Politegniese Instituut van Milaan se fakulteitsenaat het toe met ’n oorweldigende meerderheid besluit dat dié instelling binne twee jaar ten volle eentalig Engels moes word. Van hulle beweegredes was dat die instelling se internasionale reputasie sogenaamd daarby sou baat en dat dit meer internasionale studente daarheen sou trek.

Internasionale studente is deesdae ’n bate waaroor universiteite ywerig meeding in die hoogs mededingende wêreld van tersiêre onderrig. Dermate dat besluite van hierdie aard dikwels ten koste van die belange van ’n land se eie studente en werksmag geneem word. Dit was dan ook een van die besware wat dadelik gehoor is nadat die besluit rugbaar geraak het.

Soos in Suid-Afrika, het regsaksie op die besluit gevolg. Die argumente wat ten gunste van en teen die besluit geopper is, klink baie soos dié wat AfriForum en Solidariteit die afgelope twee jaar in ons regsake teen universiteite oor die uitfasering van Afrikaans moes hoor, byvoorbeeld of ’n universiteitsbestuur die outonome reg het om ’n besluit oor die afskaffing van ’n onderrigtaal te neem, of studente en personeel se regte ingrypend daardeur geraak word, en of dit die toekoms van die inheemse taal (Italiaans in hierdie geval) betekenisvol raak. Nadat die saak in verskillende howe aangehoor is, is dit uiteindelik na die Italiaanse grondwethof verwys.

Vanjaar het dié hof beslis dat die betekenis van Italiaans en dus die beskerming daarvan ononderhandelbaar is, aangesien Italiaans nie alleen dien as medium waardeur die land se kultuurhistoriese erfenis oorgedra word nie, maar dit ook ’n moderne kulturele bate uit eie reg is.

Tweedens is verklaar dat alle Italiaanse studente nie gelyke geleenthede het om Engels aan te leer nie. Wanneer slegs Engelse onderrig beskikbaar is, word studente dus van die gelyke reg op toegang ontneem.

Derdens is die beginsel onderstreep dat kursusse aan dosente toegewys moet word op grond van hulle kundigheid en nie op grond van hulle taalvaardigheid nie. Daar kan nie van hulle vereis word om in Engels klas te gee as hulle nie wil nie – hulle reg om in Italië se amptelike taal klas te gee, moet beskerm word.

Samevattend is beslis dat geen studieprogram aan ’n Italiaanse universiteit ten volle eentalig in Engels aangebied mag word nie – ’n parallelle program moet altyd in Italiaans beskikbaar wees. Onderafdelings van programme kan wel in uitsonderlike gevalle eentalig in ’n ander taal as Italiaans aangebied word as ’n goeie rede daarvoor bestaan en dit nie Italiaans in ’n minderwaardige posisie plaas nie.

Die regters het duidelik met hierdie besluit globale eise in ag geneem, maar die regte van Italiaans en sy moedertaalsprekers ook deeglik verskans. Let wel dat al die hoepels waardeur ons in Suid-Afrikaanse howe moet spring, soos bewyse van die praktiese uitvoerbaarheid van ’n taalbeleid en die aanvraag vir ’n bepaalde taal, nie eens deel van die hoofraamwerk van hierdie uitspraak is nie.

Die hof se beslissing is met oorweldigende steun deur Italiaanse akademici en die breër gemeenskap begroet. Soortgelyke golwe ten gunste van eie taal begin stadig maar seker deur die wêreld vloei. ’n Saak word byvoorbeeld skynbaar binnekort in Nederland oor die beplande verengelsing van studieprogramme aan die Universiteit van Leiden aangehoor.

In Mei vanjaar het die Universiteit van Amsterdam ’n besonder insiggewende konferensie met die tema “Die politiek van veeltaligheid: moontlikhede en uitdagings” aangebied.  Afgevaardigdes van meer as 100 instellings vanaf al die kontinente het saamgestem dat enige besluit oor ’n taalbeleid vir onderwysinstellings net kan slaag wanneer die kundige insette van onderwyskenners, regslui en politici sáám oorweeg word. Sou een van die groepe die leidende rol inneem sonder om aan die ander gelyke ruimte te gee, kan die beleid skeeftrek tot nadeel van almal.

Voorbeelde van skade wat deur eentalige Engelse onderrig in meertalige omgewings veroorsaak word, is genoem. Dit is op sigself ’n artikel werd, maar dat daar baie nadele is, is gewis.

Vanselfsprekend weet elke politikus, regsgeleerde, onderwyskenner en kultuurleier nie noodwendig van al hierdie ontwikkelinge op die internasionale terrein nie, maar dit is nodig dat hulle meer van die beste praktyke te wete moet kom. Suid-Afrika is nie so uniek soos wat dikwels genoem word nie. Vele lande moet byvoorbeeld meer inheemse tale as ons huisves. Van dié tale is ook minder ontwikkeld as ander binne dieselfde landsgrense. Ons kan baie leer uit die verskillende wyses waarop ontwikkelde en ontwikkelende tale gehuisves word.

Suid-Afrika is ook nie die enigste land met ’n omstrede koloniale verlede en tale wat ten koste van mekaar bevorder is nie.  Oor die wêreld heen het bloed al letterlik gevloei oor taalregteskendings – dit is immers omdat mense gesterf het vir die reg om in hulle moedertaal te studeer wat 21 Februarie deur die VN tot Internasionale Moedertaaldag verklaar is.

Waar moedertaalonderrig plaasvind, het deskundiges nou al onteenseglik bewys, styg ’n land se geletterdheidsvlakke en daal die werkloosheidsyfer. Dit het weer politieke en ekonomiese stabiliteit tot gevolg. Alle inwoners van die land baat daarby, nie net die sprekers van die bepaalde moedertaal waarin die onderrig beskikbaar is nie. Hoe meer moedertale só bevorder word, hoe meer gedy die land. Dit kan egter nie gebeur as een taal doelbewus benadeel word om die ander wat benadeel is te troos nie.

Hier verwys ek na die sogenaamde “gelyke ellende”-argument wat sê dat Afrikaanssprekende studente nie op Afrikaanse tersiêre onderrig mag aanspraak maak nie, omdat die moedertaalsprekers van die ander nege inheemse tale nie dieselfde geleentheid het nie. Natuurlik is dit nie regverdig dat die sprekers van dié tale nie gelyke geleenthede het nie, maar die wyse waarop die onreg aangespreek moet word, is om sodanige geleenthede te bou. Dit is presies wat instellings soos Rhodes-universiteit doen, waar dr. Hleze Kunju onlangs die eerste persoon geword het wat sy doktorsgraad in Xhosa behaal het.

Suid-Afrikaanse tale ontwikkel vinnig. Natuurlik is daar haakplekke met die standaardisering daarvan – dit is kenmerkend van enige taal in hierdie ontwikkelingsfase, maar dit behoort nie die proses te kelder nie.  Afrikaans kan behou word en die ander tale kan bevorder word, sodat alle gemeenskappe kan baat by die erkenning van hulle taalregte. Die bevordering van die een moet net nie ten koste van die ander geskied nie. Word Afrikaans “voorlopig” uitgefaseer, is die kans op ommekeer feitlik nul en gaan ’n kulturele en ekonomiese bate vir die land en ál sy inwoners verlore.

Tale hoef nie teen mekaar afgespeel te word nie. Die sprekers kan onderling uit mekaar se ervaring in die ontwikkelingsproses leer en Engels kan ook deel van leermateriaal uitmaak, mits dit nie die eksklusiewe onderrigtaal word nie.  Gemeenskappe hoef verder nie skaam te wees om eie bates vir eie taal aan te wend nie, want dit beteken nie dat hulle onvriendelik jeens ander gemeenskappe staan nie, maar bloot dat hulle waardering vir hulle eie het en dieselfde reg aan ander gun.

Dit is die insig wat die Italiaanse grondwethof getoon het, en wat vele verteenwoordigers van instellings in Suid-Afrika nog moet leer, as hulle die politieke wil en leierskap sou wou toon om te doen wat vir almal reg is.

Hierdie meningstuk is deur ʼn onafhanklike persoon opgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Alana Bailey

Meer oor die skrywer: Alana Bailey

Alana Bailey is lid van die Afrikaanse Taalraad en adjunk uitvoerende hoof van AfriForum (verantwoordelik vir internasionale skakeling, taal en kultuur).

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

9 Kommentare

JC ·

Baie, baie, baie dankie Alana. Jou insig en die skrywe is indrukwekkend!
Nou moet julle asseblief net hierdie argumente, EN DIE GENOEMDE ITALIAANSE SAAK, OOK ASSEBLIEF oordra aan die KH en dit onder die aandag van die Regters bring.
Verseker is Afrikaanse onderrig pedagogies verantwoordbaar, VERAL BY MATIES EN PUKKE.
Ek begin al hoe meer dink dat daar feitlik nie ‘n kans is dat die KH nie in ons guns gaan beslis nie, en is ek verder van mening dat die Anti- Afrikaanse beweging dit begin besef en begin paniekerig raak dat hulle hele netjiese ontplooide kaartehuis inmekaar gaan tuimel by die Grondwetlike Hof!

SkarrelKind ·

Dankie vir die insiggewende artikel. Solank daar ‘n massa mense is wat dink dat die mense van Europa hulle uitgebuit en onderdruk het (en nie daaroor wil kom en vooruit beweeg nie), sal niemand saamstem dat daar sin is om Afrikaans te behou nie. Of dit die ekonomie kan bevoerder is nie deel van die denkwyse nie. ‘n Mens kan insien dat die Italianers se bevindinge water hou, maar net in Europa. Nie in Afrika nie. Dis so jammer dat die feite nie vir Suid-Afrika betekenis sal inhou nie.

Eish ·

Briljante artikel wat goed verweef is met feite. Amen op al jul aksies, hofsake ensovoorts wat ek heelhartig steun. Moet asb net nie die privatisering van Afrikaans staak nie, want ek het my bedenkinge of die feite ooit politici se agendas sal haal.

jaco ·

onthou net Italië is SONDER goed soos regstellende aksie, uitskuif van en kwaai diskriminasie teen taal- en ras-minderheidsgroepe, Nkandla, Guptas, beurtkrag, Afrika-styl-korrupsie ens ens ens.

Theresa ·

Ja, daar is darem nog mense in die wêreld wat verstaan hoe wonderlik dit is om vir mense onderrig in hul Moedertaal aan te bied. Daar is deesdae baie bewyse dat dit die beste aanbiedvorm is – hoe vreemd dat mense so aandring en voortstu om als te verengels. Twak. Hoop die gesofistikeerdes gee nooit op (oral in die wêreld) om hul eie tale aan die lewe te hou en onderrig daarin te verkry nie. Dankie Alana – positiewe leesstof.

Therese van Schalkwyk ·

‘n Puik stuk wat deur alle belanghebbendes van al 11 landstale gelees behoort te word.

“Moedertaalonderrig = stygende geletterdheidsvlakke = dalende werkloosheidsyfer = politieke en ekonomiese stabiliteit.”

Enige redelike persoon behoort bostaande te begryp. Dit is selfs méér van toepassing in ‘n land soos Suid-Afrika waar mense vas glo dat hulle jare lank minderwaardige onderwys ontvang het in ‘n vreemde taal.

Juis dáárom gaan dit die verstand te bowe dat ‘n organisasie soos die ATKV hom wil bemoei met anderstaliges, terwyl Afrikaans vir die meerderheid Suid-Afrikaners ‘n doring in die vlees was en steeds is.

Stel Afrikaans se wenresep aan ander taalgroepe beskikbaar en help waar moontlik, maar moenie die resep verfonkfaai met allerande vreemde bestanddele tot ‘n “gelyke ellende”-flop nie.

Disselboom ·

Die argumente vir moedertaalonderwys, vir taalregte en so aan is alles gesofistikeerd en reg. Die magspolitiek van Afrika moet egter verstaan en verreken word: sonder die element van opstaan as volk waarvan die taal een kenmerk is, kan daar oor die taalsake eindeloos geskryf en geredeneer en selfs hof toe gegaan word, maar gaan dit nêrens kom nie. Is daar nog ‘n Afrikanervolk wat kan opstaan?

JC ·

Ja daar is Disselboom, dis besig om ‘n werklikheid te word!

Johan Neuteman ·

@JC, ek wonder oor die Afrikanervolk – of hy nog kan opstaan. As dit skoolvakansie is, dan staan alles stil en die organisasie wat Christen-skole aanvat maak lekker amok met nog 14 skole. En daar is nog geen grootskaalse alternatief vir Christenskole onder Afrikaners nie; klou aan die staatskole en glo Fedsas, Solidariteit en die howe sal dit reg hou – terwyl die eer van God versaak word om tog net nie aanstoot te gee nie; nou dat die toets vir uitleef van die belydenis van God as enigste God kom, is daar baie min sigbaar van daardie belydenis. As ons nie eers vir die enigste ware God in die geloof kan vasstaan nie, waar sal die dapperheid vandaan kom om vir volkwees op te staan?

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.