Beter benadering vir Midde-Ooste nodig

Betogers skree Dinsdag 17 April slagspreuke uit wat die onlangse VSA-geleide lugaanvalle in Sirië veroordeel tydens ʼn saamtrek in Manila in die Filippyne. Dié groep doen ʼn beroep op die regering om ook die beweerde Amerikaanse gewapende aggressie in die Midde-Ooste te veroordeel. (Foto: Aaron Favila, AP)

Daar lê heelwat waarheid opgesluit in die idee dat baie van die Westerse wêreld se probleme ʼn oorsprong in die Midde-Ooste het. Oor die afgelope twee dekades was dit veral die uitdaging van terreuraanvalle deur geradikaliseerde Moslems, massa-immigrasie veroorsaak deur oorloë in, onder meer, Sirië, Irak, Afghanistan, Libië en Jemen en die komplekse magsverhoudinge met belangrike rolspelers soos Israel, Turkye, Saoedi-Arabië en Iran wat vir kopsere in die raadsale van Westerse regering gesorg het.

Dit is tog belangrik om ʼn tree terug te gee en onsself aan die historiese belang van die Midde-Ooste te herinner. Die Midde-Ooste is die geboorteplek van sommige van die grootste en belangrikste gelowe in die wêreld. Vir eeue, sedert die Islam na die Bisantynse en Persiese Ryke versprei het, is die Midde-Ooste deur die Ottomaanse Ryk regeer. Sedert die einde van die Eerste Wêreldoorlog het daar egter ‘n totale herskikking in die Midde-Ooste ontstaan, een waarby die Weste direk betrokke was en wat vandag steeds onafgehandel is.

Die Weste se rol in die Midde-Ooste is sedert die einde van die Eerste Wêreldoorlog veral gekenmerk deur die skep van nuwe grense en die voortdurende stryd om toegang tot oliebronne. Die ontstaan van Israel as Joodse staat in die Midde-Ooste en veral die intensiewe militarisering van dié land met die hulp van Amerika, het sake verder gekompliseer.

Westerse lande se keuse van bondgenote en die wyse waarop lande en gemeenskappe in die Midde-Ooste oor tyd heen teen mekaar afgespeel is, het dinge oor die afgelope paar dekades ernstig gekompliseer.

Vandag is almal in Westerse lande dit eens dat dit noodsaaklik is dat stabiliteit in die Midde-Ooste verkry moet word ten einde probleme soos terreur en massa-immigrasie te oorkom. Kan die Weste ʼn bydrae tot groter stabiliteit in die Midde-Ooste lewer?

Daar is minstens vyf dinge wat Westerse lande kan doen om hier ʼn bydrae te lewer. Eerstens sal langdurige vrede tussen Israel en die Palestyne en die oprigting van ʼn Palestynse staat ʼn groot bydrae tot stabiliteit in die Midde-Ooste lewer. Amerika kan en moet hier ʼn dringender rol speel.

Tweedens moet Amerika en ander Westerse lande ophou om lande in die Midde-Ooste teen mekaar te gebruik. Die wyse waarop Amerika die afgelope tyd toelaat dat Saoedi-Arabië Amerikaanse beleid in die Midde-Ooste dikteer, is ʼn groot fout.

Derdens moet die verhouding met Turkye herskik word. Die Weste se bondgenootskap met Turkye was oor die afgelope byna eenhonderd jaar van groot belang. Dit kan nie nou verloor word nie.

Liberale utopiese denke, veral ten opsigte van die wonder van Westerse demokrasie, het nie in die Midde-Ooste gewerk nie. Oorloë om dit te vermag, was ook ʼn mislukking. Westerse lande moet dit aanvaar en meer pragmaties oor Midde-Oosterse regerings dink.

Dit is noodsaaklik dat Westerse lande met Midde-Oosterse regerings saamwerk om die opkoms van terreurgroepe betyds te identifiseer en vinnig en pro-aktief op te tree ten einde te voorkom dat ʼn terreurgroep daarin slaag om momentum te ontwikkel.

Die Midde-Ooste is ʼn komplekse streek, maar die Weste kan en moet ʼn positiewe bydrae tot groter stabiliteit in die streek lewer.

  • Hierdie nuuskommentaar word deur Pretoria FM verskaf. Luister daagliks na Klankkoerant op Pretoria FM vir die jongste nuuskommentaar.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Jaco Kleynhans

Jaco Kleynhans is hoof van internasionale skakeling vir die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

John ·

Oy… hierdie is wensdenkery op sy beste… En die Palestyne sal net tevrede wees met Jerusalem as die kersie op die koek. Openbaring skryf oor die einde der dae en wat dit voorafgaan; die magte wat op Israel afpyl en ‘n magtige aardbewing…. en soveel meer… Ons opinies oor Jerusalem is nie ter sake nie ook nie die van enigiemand anders op aarde nie. Net in die Nuwe Jerusalem sal vrede heers wat nie deur mensehande gebou en onderhou sal word nie.

Stephan de S ·

Dankie Jaco vir die interessante artikel. Hoe ingewikkeld die verhouding met die Midde-Ooste is,word ondersteun deur jou opmerking dat die VSA nie sy beleid deur Saoedi-Arabieë moet laat bepaal nie maar dat die Weste tog hul beleid deur Turkye moet laat beinvloed/ bepaal. Mens wonder of sterk optrede ipv paaiery nie goeie vrugte sal dra nie.

Spioen ·

Israel het sy eie mense uit die Gaza strook ontrek vir vrede. Asook die Sinai terug gegee vir vrede asook van sy mense ontrek uit dele van die Wesbank vir vrede. Die Palestyne soek die hele Israel met die doel om die Jode in die see in te dryf. So ‘n staat vir die Palestyne sal nie werk nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.