Betogings oor koning Leopold-standbeeld in België

Deur prof. Kobus Kok

‘Werkers maak ‘n standbeeld van koning Leopold in Brussels skoon nadat vandale dit beskadig het (Foto: AP/Francisco Seco).

Inwoners van België is die afgelope week in oproer oor die standbeelde van koning Leopold II in Antwerpen en Brussel. Betogers eis dat dié “koloniale beelde” verwyder word.

Tans word derduisende petisies onderteken om die koloniale standbeelde te verwyder in die gees van solidariteit met die Black Lives Matter-beweging en die onlangse dood van George Floyd in die VSA. Uit verskeie oorde word mense op sosiale media gemobiliseer. In ʼn onlangse artikel in De Standaard, maak die veertienjarige Noah van Kortenberg naby Brussel kapsie teen die standbeelde. Dié jongeling kry dit reg om in een dag 10 000 handtekeninge ten gunste van die verwydering van die standbeelde in te vorder. Leopold II was koning van België, wat destyds talle Afrika-kolonies besit het. Leopold II was berug vir die wrede manier waarop hy dié kolonies regeer het.

Die standbeelde word gebrand, rooi geverf en beskadig net soos dit die geval was met die standbeeld-storm in Suid-Afrika, toe duisende studente aan die Universiteit van Kaapstad daarop aangedring het dat die standbeeld van Cecil John Rhodes van die kampus verwyder word. Sommige van die standbeelde word stil-stil in die vroeë oggendure afgebreek en verwyder deur die owerhede. The Brussels Times berig onlangs dat ’n sekere swart vrou met ’n Kongolese moeder verheug is oor ʼn standbeeld van Leopold wat nou weg is. Sy het elke dag pyn ervaar as sy daar verbygestap het. Dit het haar laat dink aan die etlike miljoene Kongolese wat brutaal vermink of vermoor is onder Leopold II se leiding.

Die migrasiekrisis en die gevolge van globalisering, supermobiliteit en superdiversiteit lei onomwonde daartoe dat België erns moet maak met die stemme van mense wat afkomstig is uit voormalige lande waarin kolonialisme geheers het. Dele van Brussel en Antwerpen is oorwegend saamgestel uit immigrante. Die demografie skuif met ʼn reusespoed en navorsing dui aan dat hierdie stede binnekort meer uitlanders as Belge sal huisves.

Die koninklike paleis in België. (Foto: Twitter)

ʼn Mens wonder soms of die onsigbaar maak en verwydering van die standbeelde nie dalk die maklikste weg uit is nie – skuif gou die standbeeld onder die mat of bêre hom saggies toe onder ’n wolkombers êrens diep in ’n kelder onder ’n museum of stadshuis. Dan stap ons almal gemaklik weg en vergeet van hom. Daar is ’n verskil tussen ongeneesde vergeet en genesende onthou. Wegsteek en uit sig plaas, is amper die maklikste manier uit en konfronteer nie werklik die probleem op lang termyn nie. Wil mens nie juis onthou en sien sodat mens kan onthou en lesse kan leer nie? Deur iemand uit die sigbare geskiedenis te skryf onderdruk jy net die probleem. Dis soos iemand wat foto’s van ’n slegte tyd in hulle lewe diep in ’n kis agter in ’n kas bêre. Diegene wat diep en genesend wil groei, moet een of ander tyd die trauma wat met hul gebeur het integreer in hul menswees. Anders bly genesing uitgestel en bly dit soos ’n swart hond deel van jou skaduwee. Jy kom dan nooit bevrydend en genesend los daarvan nie.

Een dag so paar jaar gelede het ek ’n Europese gasprofessor by Tukkies onthaal. Ek het hom die stad gewys en natuurlik na die Uniegebou toe geneem. Ek kon hom die standbeeld van Louis Botha trots op sy perd wys en opgestap tot daar bo en hom die standbeeld van Madiba met sy oop arms en glimlag wys. Minstens in daardie geval het Suid-Afrika daarin geslaag om sommige ou standbeelde te behou, maar ’n nuwe bedeling se standbeeld op ’n strategiese wyse ook daar te plaas. Daarmee het hulle dit reg gekry om iets visueel te doen met betrekking tot die vertel van ’n nuwe narratief. Hulle het Botha nie weggesteek om hom te vergeet nie. Hulle wil juis hê mense moet kan onthou. Dit was op ʼn somersdag op ʼn ander besoek aan Suid-Afrika toe ek die ironiese gesien het – ʼn boemelaar wat daar aan die voet van Botha se skaduwee ʼn sitplek gekry het. Vir ʼn oomblik was dit sy tuiste, sy skadu, sy bastion teen die son. Dis toe dat ek nie anders kon om na hom te stap en my middagete met hom te deel nie. In hierdie geval het Botha ons albei meer mens gemaak en ons grense laat oorbrug.

Kobus Kok is professor van Nuwe Testament en mededirekteur van RCEC aan die Evangelies Teologiese Fakulteit, Leuven in België.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

10 Kommentare

jongste oudste gewildste
Manie

Korrek en natuurlik aangevuur deur die Liberales.

Pierreli

Die mense wêreld wyd lyk my is onder die invloed van blf. Kan nie meer vir hul self besluit om te sit en dink deur ‘n standbeeld te verwyder enigsins ‘n verandering aan die geskiedenis te kan maak nie.

minnie

foeitog die wetters is tog so onseker van hul self…. bla bla bla

Michael 1

Ons moet seker die einde van die wêreld nader want die mense is besig om mal te word,n krimineel word onopsetlik deur n wit polisieman doodgemaak en die wereld wil ontslae raak van die geskiedenis .Die wit afrikaanse boere word uitgemoor soos vlieë en niemand het n probleem daarmee nie,swart mans word vandag verkoop as slawe in Iran maar niemand het n probleem daarmee nie .

Deon

Is die piramides en coliseum en baie van die katedrale nie ook deur slawe gebou nie, hoogtyd dat dit ook af gebreek word….. Jy kan die wereld die ewigheid in blaas met n superbom, die feit is, dit was daar, die geskiedenis is daar, jy kan niks aan die geskiedenis doen nie, leer daaruit en bou n ordentlike toekoms vir ons nageslag.