Betogings oor koning Leopold-standbeeld in België

Deur prof. Kobus Kok

‘Werkers maak ‘n standbeeld van koning Leopold in Brussels skoon nadat vandale dit beskadig het (Foto: AP/Francisco Seco).

Inwoners van België is die afgelope week in oproer oor die standbeelde van koning Leopold II in Antwerpen en Brussel. Betogers eis dat dié “koloniale beelde” verwyder word.

Tans word derduisende petisies onderteken om die koloniale standbeelde te verwyder in die gees van solidariteit met die Black Lives Matter-beweging en die onlangse dood van George Floyd in die VSA. Uit verskeie oorde word mense op sosiale media gemobiliseer. In ʼn onlangse artikel in De Standaard, maak die veertienjarige Noah van Kortenberg naby Brussel kapsie teen die standbeelde. Dié jongeling kry dit reg om in een dag 10 000 handtekeninge ten gunste van die verwydering van die standbeelde in te vorder. Leopold II was koning van België, wat destyds talle Afrika-kolonies besit het. Leopold II was berug vir die wrede manier waarop hy dié kolonies regeer het.

Die standbeelde word gebrand, rooi geverf en beskadig net soos dit die geval was met die standbeeld-storm in Suid-Afrika, toe duisende studente aan die Universiteit van Kaapstad daarop aangedring het dat die standbeeld van Cecil John Rhodes van die kampus verwyder word. Sommige van die standbeelde word stil-stil in die vroeë oggendure afgebreek en verwyder deur die owerhede. The Brussels Times berig onlangs dat ’n sekere swart vrou met ’n Kongolese moeder verheug is oor ʼn standbeeld van Leopold wat nou weg is. Sy het elke dag pyn ervaar as sy daar verbygestap het. Dit het haar laat dink aan die etlike miljoene Kongolese wat brutaal vermink of vermoor is onder Leopold II se leiding.

Die migrasiekrisis en die gevolge van globalisering, supermobiliteit en superdiversiteit lei onomwonde daartoe dat België erns moet maak met die stemme van mense wat afkomstig is uit voormalige lande waarin kolonialisme geheers het. Dele van Brussel en Antwerpen is oorwegend saamgestel uit immigrante. Die demografie skuif met ʼn reusespoed en navorsing dui aan dat hierdie stede binnekort meer uitlanders as Belge sal huisves.

Die koninklike paleis in België. (Foto: Twitter)

ʼn Mens wonder soms of die onsigbaar maak en verwydering van die standbeelde nie dalk die maklikste weg uit is nie – skuif gou die standbeeld onder die mat of bêre hom saggies toe onder ’n wolkombers êrens diep in ’n kelder onder ’n museum of stadshuis. Dan stap ons almal gemaklik weg en vergeet van hom. Daar is ’n verskil tussen ongeneesde vergeet en genesende onthou. Wegsteek en uit sig plaas, is amper die maklikste manier uit en konfronteer nie werklik die probleem op lang termyn nie. Wil mens nie juis onthou en sien sodat mens kan onthou en lesse kan leer nie? Deur iemand uit die sigbare geskiedenis te skryf onderdruk jy net die probleem. Dis soos iemand wat foto’s van ’n slegte tyd in hulle lewe diep in ’n kis agter in ’n kas bêre. Diegene wat diep en genesend wil groei, moet een of ander tyd die trauma wat met hul gebeur het integreer in hul menswees. Anders bly genesing uitgestel en bly dit soos ’n swart hond deel van jou skaduwee. Jy kom dan nooit bevrydend en genesend los daarvan nie.

Een dag so paar jaar gelede het ek ’n Europese gasprofessor by Tukkies onthaal. Ek het hom die stad gewys en natuurlik na die Uniegebou toe geneem. Ek kon hom die standbeeld van Louis Botha trots op sy perd wys en opgestap tot daar bo en hom die standbeeld van Madiba met sy oop arms en glimlag wys. Minstens in daardie geval het Suid-Afrika daarin geslaag om sommige ou standbeelde te behou, maar ’n nuwe bedeling se standbeeld op ’n strategiese wyse ook daar te plaas. Daarmee het hulle dit reg gekry om iets visueel te doen met betrekking tot die vertel van ’n nuwe narratief. Hulle het Botha nie weggesteek om hom te vergeet nie. Hulle wil juis hê mense moet kan onthou. Dit was op ʼn somersdag op ʼn ander besoek aan Suid-Afrika toe ek die ironiese gesien het – ʼn boemelaar wat daar aan die voet van Botha se skaduwee ʼn sitplek gekry het. Vir ʼn oomblik was dit sy tuiste, sy skadu, sy bastion teen die son. Dis toe dat ek nie anders kon om na hom te stap en my middagete met hom te deel nie. In hierdie geval het Botha ons albei meer mens gemaak en ons grense laat oorbrug.

Kobus Kok is professor van Nuwe Testament en mededirekteur van RCEC aan die Evangelies Teologiese Fakulteit, Leuven in België.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Pierreli ·

Die mense wêreld wyd lyk my is onder die invloed van blf. Kan nie meer vir hul self besluit om te sit en dink deur ‘n standbeeld te verwyder enigsins ‘n verandering aan die geskiedenis te kan maak nie.

minnie muis ·

onthou meeste het nooit geleerdehied en ware geskiedenis geleer nie hul soek net aandag, meeste van hulle is in elk geval nie belasting betalers nie

minnie muis ·

foeitog die wetters is tog so onseker van hul self…. bla bla bla

Michael 1 ·

Ons moet seker die einde van die wêreld nader want die mense is besig om mal te word,n krimineel word onopsetlik deur n wit polisieman doodgemaak en die wereld wil ontslae raak van die geskiedenis .Die wit afrikaanse boere word uitgemoor soos vlieë en niemand het n probleem daarmee nie,swart mans word vandag verkoop as slawe in Iran maar niemand het n probleem daarmee nie .

Deon ·

Is die piramides en coliseum en baie van die katedrale nie ook deur slawe gebou nie, hoogtyd dat dit ook af gebreek word….. Jy kan die wereld die ewigheid in blaas met n superbom, die feit is, dit was daar, die geskiedenis is daar, jy kan niks aan die geskiedenis doen nie, leer daaruit en bou n ordentlike toekoms vir ons nageslag.

Jacobus ·

Puik kommentaar Deon. Tipies sosio-kommuniste breek en verorber alles. Geen verlede en geen visie vir toekoms. Die is ‘n toekoms van super vernielers.

Jack ·

AS mense die verlede ignoreer is dit onvermydelik dat hulle die foute wat daarin gemaak is maar net weer herhaal. Dit is tyd dat alle behoudende en denkende mense saamstaan teen hierdie nihilistiese vlaag wat die wêreld tans beleef.

Juls ·

Die problem is dat die regses of soos jy dit stel, die behoudende en denkende mense, te beskaaf is om noemenswaardig “op te staan” teen die vlaag van sosialisme wat tans heers. Hoe sal ons hulle stuit? Ons sal nie tot hulle vlak kan daal en monumente vernietig nie, as ons besluit om ons belastinggeld terug te hou en die regering te stuit is dit ook teen ons Christelike beginsels. Nee, ons sal sover dit van ons afhang in vrede moet probeer leef, goed doen aan weduwees en weeskinders en weggooi diere, stil-stil diE opbeur wat ellendig is en die Evangelie versprei met die hoop dat die Here in Sy genade nog siele sal red. Die ou wereld is aan die verbygaan, doen goed en bid en bely terwyl jy nog asem het. DIT sal die behoudendes en die denkendes se verset wees.

Marius ·

Ek stem volkome met jou saam Kobus. Om beelde te verwyder gaan nie noodwendig iemand wat verontreg voel, “heelmaak” nie. Die locus van my ingesteldheid is intern, en daarom neem ek verantwoordelikheid vir my eie lewe, narratief en emosies. Rhodes, nooit ‘n vriend van die Afrikaner nie, se beelde of plekke na hom vernoem, het my nog nooit gepla nie hy is onuitwisbaar deel van die geskiedenis. So-ook het ek onlangs tydens ‘n gradeplegtigheid in die Royal Albert Hall, op aandag gestaan tydens die sing van God Save the Queen – al ken ek die geskiedenis van die Engelse konsentrasiekampe waar duisende van my eie mense uitgewis was. Ek maak vrede en gaan aan, en skroom nie om die goeie van die Britse nalatenskap te waardeer nie. Wanneer die locus van beheer oor mense se lewens egter ekstern gerig is, onstaan die geneigdheid dat hulle ander en alles buite hulleself blameer. Die gevolge daarvan is ‘n slagoffermentaliteit. Jy is reg, beelde in die rivier gooi gaan jou dan nie heelmaak nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.