Betroubare bronne beskerm ons

Johannes Froneman

Samesweringsteorieë is geen nuwe verskynsel nie. Ons lees al jare, selfs eeue, hoe die Vrymesselaars, die Illuminati en die groot geldbaronne die wêreld wil regeer.

Die afgelope twee jaar het die Covid 19-pandemie aanleiding tot allerlei teorieë oor die oorsprong van die virus gegee. In die afgelope dekades het daar ook telkens aardskuddende dinge gebeur wat aanleiding tot teorieë, wat as samesweringsteorieë bestempel word, gegee het.

So het die maanlanding van 1969 nie gebeur nie, maar is in die Arizona-woestyn verfilm om die Russe ʼn punt te wys. En die 9/11-aanvalle is deur die Amerikaners self gepleeg om ʼn vyand te skep …

Hierdie “teorieë”, eintlik maar saamgeflanste stories deur mense met ʼn ryk verbeelding, word meer dikwels uit vrees en paranoia – vir die onbekende en onverklaarbare – gebore. Daar is egter baie soorte teorieë en allerlei soorte mense wat daaraan glo, so loop maar versigtig.

Van die oudste samesweringsteorieë handel oor vreemde vlieënde voorwerpe (VVV’s, of “UFOs”) wat glo al jare lank vir ons kom kuier; gewoonlik in die VSA, moet ʼn mens byvoeg (want alle besoekers uit die buitenste ruimte maak daar ʼn draai). Dit is nou nadat Langenhoven se loeloeraai toevallig vroeër by Oudtshoorn geland het.

Die geloof in die bestaan van VVV’s is nie sodanig ʼn samesweringsteorie nie. Selfs Didier Queloz, Switserse Nobelpryswenner, glo ons is nie alleen in die heelal nie en dat ons nog lewe daarbuite gaan vind. Of hulle vir ons. Hy is kwalik die enigste wetenskaplike wat so glo. Vandaar al die navorsing om lewe daarbuite te vind.

Die sameswering is geleë in die verswyging van klaarblyklike bewyse dat ons al meermale besoek van hierdie wesens ontvang het. Daar is deur die jare talle foto’s van “vlieënde pierings” gepubliseer – gewoonlik taamlik dowwe foto’s van voorwerpe wat baie soos kombuispierings lyk.

Steek die Amerikaanse geheime dienste die ware feite vir ons weg? Is hulle bang mense raak op hol, soos in 1938 toe ʼn radiodrama die landing van marsmannetjies só realisties uitgebeeld het dat daar regtig histerie in die VSA was?

VVV-aanhangers sal tereg daarop wys dat regerings ons nie altyd alles vertel nie. Tog is daar onlangs erken dat voorwerpe in die lug waargeneem is wat nie verklaar kon word nie.

Dit alles is nogal prettig en het vroeërjare aan poniekoerante van twyfelagtige reputasie lekker stories opgelewer. Die populistiese geelpers smous steeds met ʼn mengsel van die bisarre, skandalige en onwaarskynlike. In die verlede het hierdie storie meermale opgeduik: Vroue wat deur wesens uit die ruimte ontvoer is, maar gelukkig in een stuk die uitstappie oorleef het om dit dan eksklusief aan ʼn sensasieblad te vertel.

In die jongste jare het die storielyne van Netflix-reekse soos Designated Survivor en House of Cards, op spoor van die rolprent ET, tot ʼn media-omgewing bygedra waar niks onmoontlik is en niks geglo kan word nie. Vir sommige raak die verskil tussen feite en fiksie heeltemal dof. Dit is dalk onder meer die resultaat van te min goeie leesstof en te veel TV-reekse, videospeletjies en internetsoektogte.

Maar dat prinses Diana deur die Britse geheime diens vermoor is weens haar verhouding met Dodi Fayed is ʼn ander storie, want dit is seker móóntlik, dan nie?

Jy moet ʼn toegewyde volgeling van hierdie tipe stories wees om by te hou, veral noudat Bill Gates, die wêreld se grootste filantroop, eintlik agter die koronavirus sit. Of is dit tóg China? En die Chinese sê dis eintlik die Amerikaanse CIA.

Feit is dat daar geld is in stories wat mense se aandag trek. Die samesweringsmeule het gevolglik ʼn hupstoot gekry toe die internet die verspreiding van onbewese stories baie makliker gemaak het.

Daar is verskillende variasies van fopnuus. Mense klik op sulke stories en dit genereer geld. Daar is dus “joernaliste” wat daagliks leuens uitdink wat dan as nuus aangebied word. Waar pas dit in?

Ons moet onderskei tussen “ernstige” samesweringsteorieë wat die onverklaarbare omvattend en heel stelselmatig aan aanhangers verklaar, en die deurlopende, opsetlike skep van “nuus” wat op blatante leuens gegrond is, maar as die waarheid aangebied word. Die twee is nefies, maar is nie dieselfde ding nie.

Dat daar “ongelooflike” dinge gebeur, is ʼn feit. Daarom is verduidelikings soms “ongelooflik”. Dit gebeur rondom ons en ons moet dit erken. Ook dat daar onopgeloste raaisels is wat dalk net aan die hand van ʼn effens vreemde “teorie” verduidelik kan word – een waaroor sommige kop skud en ander instemmend knik.

Die gevaar sit egter nie in onsekerheid nie, maar om ingesuig te word in die skemerwêreld van sogenaamde teorieë – eintlik onbewese, fabelagtige stories – wat mense se behoefte aan antwoorde met rolprentagtige onwaarskynlikhede bevredig.

Die uitdaging is om onbewese samesweringsteorieë van die alledaagse gekonkel en leuens van fopnuus te onderskei. Dit is nie altyd eenvoudig nie, maar dit is die uitdaging wat rasionale mense moet aanvaar. Die alternatief is ʼn nagmerrie.

Een oplossing is: Hou by betroubare nuusbronne.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Johannes Froneman

Johannes Froneman is ‘n emeritus-professor, kurator van Mediamense.com en vryskutjoernalis.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Wicus ·

Dankie prof, geniet ek nou die skrywe! Die spookstories en go-elery van toentertyd val ook onder die kategorie. Ek het met ‘n wandelende gees in ons plaashuis grootgeword, my pa het gees besweerders laat kom en ook allerhande ander truuks om die meisie af te raai om ons so te pla. Baie jare later het ek my pa weer oor die wandelende gees gevra, en sy woorde, “dis sommer nonsens”.

Natuurlik word die wêreld deur geldmagte gedryf, maar nie soos die samesweringsteoriee dit wil hê nie. Ek het in my jongdae ook aan die goed geglo tot ‘n kollega ‘n Amerikaanse verkiesing uitslag voorspel het op grond van die “Illuminatie” se wil, en toe gebeur die teenoorgestelde.

En ja, tragies, het ‘n vriend wat oortuig is die maanlanding het nie gebeur nie en die aarde is plat, ai! Ons mensdom is snaaks, as jy ‘n ding glo sal geen feite jou siening verander nie.

annie ·

… Ek hoop nie dit was ‘n eksamenvraag nie, prof? Wat sou ‘n arme student antwoord? Wat kan prof aanbeveel as sou dít betroubaar wees? Soos ons wysbegeerte professor se vyf bladsy diepsinnige denke en al wat mens op sy vraag oor die werk kan lewer is: … En toe het Socrates gesê… gesê… En Plato gesê… Die waarheid lê in betroubare bronne opgesluit, maar wat is waarheid? En waar vind ‘n mens betroubare bronne? Ons moet dit eers navors. So wat dink prof?

Petrus Albertus ·

Mmm…dankie vir die advies maar hoe gemask wanneer die “betroubare” bronne so blatant eenogig berig en duidelik ‘n baie spesifieke narratief dryf, wat opsigself verdag is?

chris ·

En wanneer die betroubare “nuusbronne” dalk net deur 5-6 families wereldwyd beheer en beinvloed word.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.