Beurtkrag is ’n ander woord vir gebrekkige regering

Argieffoto.

Deur Jeannette Gnade

Dit was ’n groot teleurstelling om ná al die jare weer met beurtkrag opgeskeep te sit.

In 2008 toe relatief stabiele elektrisiteitvoorsiening plek moes maak vir gedwonge kragonderbrekings op ’n rotasiebasis, het Suid-Afrikaners hul samewerking gegee. Toestelle is afgeskakel, swembadpompe en dies meer is tydelik buite werking gestel en diegene wat dit kon bekostig, het kragopwekkers aangeskaf.

Later het dit geblyk dat die probleme by Eskom voorsienbaar was en dat beurtkrag onnodig sou wees as die elektrisiteitvoorsiener betyds beplan het. Inderwaarheid het die Witskrif op Energie al in 1998 gewaarsku dat Eskom teen 2007 ‘n tekort aan opwekkingsvermoë sal ondervind.

Die kragvoorsiener het vier jaar later daadwerklik begin met planne om sy kapasiteit te verhoog, maar die regering het dit afgeskiet omdat hy privaat beleggers uit die buiteland wou betrek. Ongelukkig het hulle nie belanggestel nie en in 2006 het kragvoorsiening nader aan die afgrond beweeg.

Nóg later het dit aan die lig gekom dat die invloedryke Gupta-familie en hul meelopers Eskom se pad fluks bewandel het. En selfs gehelp het om die geldbeurs te beheer.

Nou is dit tien jaar later en hoewel verskeie koppe gewaai het, is niemand nog werklik vervolg en gevra om vir die miljoene rande se verliese te vergoed nie.

Die nuwe Eskomraad het met mening ingeklim om die elektrisiteitvoorsiener van ondergang te red. Nóg personeel is afgedank of is aan tugoptredes onderwerp en almal het geglo dat die magtige Eskom wat al in 1923 tot stand gekom het onder die naam Evkom, weer sal opbloei.

Helaas, toe waag die beleërde nutsmaatskappy dit om ’n 0%- loonaanbod aan vakbonde te maak. Werkers was onmiddellik in opstand omdat hulle gemeen het dit is onregverdig om die broodwinners in baie families te straf vir alles wat verkeerd geloop het by Eskom.

Nie lank nie, of daar word met geweld ’n hele dag lank gestaak en in dié kort tydjie word elektrisiteitsvoorsiening lamgelê. Tegnici word verbied om instandhoudingswerk te doen, skade word aangerig en niestakers word geïntimideer. Dít ondanks die feit dat talle kragsentrales as nasionale sleutelpunte verklaar is.

Uiteindelik is dit maar weer die regering wat besluit dat loononderhandelings moet voortgaan.

Die jongste kragkrisis in die land het drie belangrike vrae laat opduik:

Wanneer gaan die regering kundiges inspan om elektrisiteitvoorsiening en al die ander diensverskaffing in die land deurtastend ontleed en aanbevelings te maak ?

Wanneer gaan die regering begin om teen vakbonde en werkers asook gemeenskappe op te tree wat hul sin deur middel van afdreiging, afpersing en saakbeskadiging afdwing?

En wanneer gaan die regering besef dat gewone wetsgehoorsame burgers die ruggraat van die Suid-Afrikaanse samelewing is en dat hulle dienooreenkomstig en met waardigheid hanteer moet word?

  • Hierdie nuuskommentaar word deur Pretoria FM verskaf. Luister daagliks na Klankkoerant op Pretoria FM vir die jongste nuuskommentaar.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Anoniem ·

Nee Jeannette, die korrupte regering suip nog te lekker aan Eskom se heuning pramme terwyl ek en jy daarvoor betaal, so hoekom moet hulle iets daaraan doen?

Theo ·

Om die drie vrae te beantwoord vat nie baie krag nie, dis bloot net die volgende;
Vraag 1 ….. Nooit
Vraag 2 ….. Nooit
Vraag 3 ….. Nooit
Antwoorde verskaf deur n Regerings Bron

dr. Sakkie van der Merwe ·

Het ‘n oorsese besoeker hier gehad. Toe praat ons van beurtkrag en verduidelik. Toe se hy: This is not loadshedding its power cuts”. Nouja die onvermoe van die regering(a en c) blyk elke dag duister te wees.

John ·

Hou die hek dop. Eskom lewer die lampies af en neem nie die ever-evers nou weer in. Die paraffien moet jy self koop en die Bic.

Dirk Breytenbach ·

Die antwoord is nooit – dis ‘n kultuur wat nog 2 eeue sal neem om te verdwyn. Wanneer SA weer ‘n oerwoud is.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.