Beveg rassehaat met wedersydse respek

Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum. Foto: Rozier van Tonder

Indien sosiale media as enigste maatstaf geneem word, kan mens nie anders as om te dink dat Suid-Afrika in ’n land van onbeheerste woede en rassehaat ontaard het nie. Daar is veral op Twitter ’n wesenlike aantal mense uit alle gemeenskappe wat diegene wat anders as hulle lyk, openlik en met groeiende passie haat – en skynbaar selfs na konflik smag.

Hierdie Twitter-krygers se haat verblind hulle in só ’n mate dat hulle skynbaar nie vir ’n oomblik daaraan dink dat konflik ook vernietigende gevolge vir hulself sal inhou nie. Hulle verromantiseer selfs geweld en besef nie dat, as jy begin skiet, iemand met mening gaan terugskiet nie.

Twitter-gesprekke (indien mens dit inderdaad “gesprekke” kan noem) het ná die Hoërskool Driehoek-tragedie ’n nuwe laagtepunt bereik toe randfigure die dood van onskuldige jong kinders “gevier” het – bloot op grond van die slagoffers se gelaatskleur en moedertaal. Ek het my eie ontsteltenis hieroor probeer verwerk deur myself daaraan te herinner dat BLF en ander rasse-opstokers ’n weglaatbaar klein aantal mense verteenwoordig. Boonop verskil dít wat mens op Twitter sien hemelsbreed van die gesonde menseverhoudings en samewerking wat ek en AfriForum op voetsoolvlak beleef.

’n Baie groter gevaar vir gesonde menseverhoudings as die randfigure op Twitter, is daarom eerder die gevaar dat die antiwit sentimente wat mens op Twitter teëkom, in so ’n mate in die land se hoofstroom- openbare debat “genormaliseer” word, dat niemand meer ’n oog knip as stereotipes van wit mense geskep word en hulle as sondaars verklaar word vir alles wat verkeerd loop nie. Dit is in dié konteks dat ek Zenoyise John se artikel “Hoërskool Driehoek and the origin of black anger”. (News24, 5 Februarie 2019) ontstellend gevind het. My indruk is dat John probeer om dié Twitter-randfigure se blydskap oor kinders se dood te regverdig. Sy sê hul uitsprake is nie weens ’n gebrek aan ubuntu nie, maar weens die “righteous and justified” swart woede. Sy jaag dan alle “white people” as groep in een kamp en verwys na “their inhumane deeds”.

Die vraag bly: Hoe het dit gebeur dat dit skynbaar aanvaarbaar is om wit mense – in ’n land wat op papier veronderstel is om nierassigheid en menswaardigheid te bevorder – as geheel tot die sondaars in die land te verklaar? Daar is baie redes hiervoor, maar die groot rol wat politieke leiers en die media speel, moenie onderskat word nie. Voormalige president Jacob Zuma se uitspraak dat al die probleme van die land met die aankoms van Jan van Riebeeck begin het, het byvoorbeeld alle wit mense openlik as moeilikheidmakers gebrandmerk. Dit word vererger deurdat die huidige president, Cyril Ramaphosa, al telkens en sonder skroom as deel van die gronddebat na “our people” verwys het in ’n konteks waarin hy duidelik nie wit mense as deel van sy “our people” beskou nie. Daar is talle ander voorbeelde.

Die media, en veral die Engelse media, se rol in die stereotipering van wit mense lê daarin dat die enkele gevalle waar wit mense die beskuldigdes en die slagoffers swart is, dadelik as rassevoorvalle gebrandmerk word. Boonop geniet dit massiewe mediadekking, terwyl swart-op-wit-insidente as gewone misdaad afgemaak en deur die media geïgnoreer word. Net een geval, naamlik die Coligny-tragedie, het volgens AfriForum se navorsing byvoorbeeld meer dekking in die Engelse media geniet as wat 145 plaasmoorde oor ’n tydperk van twee jaar in dieselfde media geniet het. Hierdie en talle ander voorbeelde het meegewerk tot by die punt waar dit skynbaar nou aanvaarbaar is om die huidige geslag wit mense as geheel as ’n spul rassistiese skobbejakke voor te hou wat verantwoordelik gehou word vir alle slegte dinge wat in die verlede gebeur het, vir wat vandag gebeur en sommer ook vir wat in die toekoms gaan gebeur.

Met die opper van hierdie besware probeer ek geensins om die “swart woede” waarna John in haar artikel verwys, af te maak of te misken nie. Ek het werklik groot empatie met mense wie se waardigheid geskend is. Wat my egter van die huidige openbare rassegevegte tref, is dat baie van die ouer geslag swart mense – wat apartheid persoonlik beleef het – nie dieselfde soort woede en rassehaat toon as dié van sommige lede van die jong geslag swart elite nie. Dit is vreemd, omdat die nuwe geslag groter geleenthede en toegang tot universiteite het en nie self tydens apartheid geleef het nie. Die redes hiervoor is debatteerbaar. Die beste verklaring waarmee ek vorendag kon kom, is dat die meeste swart mense wat gedurende apartheid geleef het, deeglik besef watter negatiewe impak rassehaat en polarisasie op ’n land en sy gemeenskappe het.

Dit is in almal se belang om wedersydse erkenning en respek te vestig. Dit is die beste wapen wat ons kan gebruik om rassehaat te beveg. Dit beteken egter nie dat gemeenskappe nie ontsteld mag wees of hul stem kan laat hoor as dinge verkeerd loop nie.

AfriForum laat gereeld sy stem hoor. Waarteen ons egter moet waak, is om nie toe te laat dat geregverdigde besware oorspoel in rassehaat nie. Om wedersydse erkenning en respek op voetsoolvlak te bevorder, is AfriForum nie skaam om sake volstoom aan te pak wat vir Afrikaners, Afrikaanssprekendes en ander minderhede belangrik is nie. Die organisasie tree ook gereeld toe tot sake wat geregtigheid eis vir gemeenskappe van verskeie kultuurgroepe. Dit sluit in hulp met sake soos dié van die Nkungumathe-gemeenskap in Nkandla in hul stryd om ’n skool te kry; dr. Maserumule se stryd teen grondbesetters; die Dube-familie se soeke na geregtigheid in die saak teen Duduzane Zuma; en vele ander.

Die veiligheidsinisiatiewe van AfriForum se plaaslike strukture, watertoetse, skoonmaakprojekte, die herstel van slaggate en vele ander aksies is ook tot voordeel van almal.

In belang van ons nageslag is AfriForum dus vasberade om hard te werk om ’n beter toekoms vir Afrikaans, Afrikaanssprekendes en Afrikaners te bou. In ons soeke na ’n beter toekoms sal ons ook doelgerig teen rassehaat veg deur wedersydse erkenning en respek tussen gemeenskappe te bevorder.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Kallie Kriel

Kallie Kriel is die Uitvoerende Hoof van AfriForum.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

22 Kommentare

Afrikaner ·

Ek het ‘n idee dit het by die paddakokery van Cyril Ramaphosa begin, dit het toe met die disinformasie wat Zuma oor Jan Van Riebeeck kwytgeraak het momentum gekry om wit mense die skuld vir als wat in die land verkeerd gaan te gee, dit gebeur nog daagliks, luister maar na Cyril en andere se toesprake, daar word gedurig steke teen die wit man ingekry.

Vandag is die wit mense basies voëlvry verklaar. Dan word die storie versprei die ekonomie is in wit hande en Cyril werk met alle mag en ongekende dryf om die wit mense se grond sonder vergoeding af te vat.

Ook, watter invloed het die onewehandige uitsprake van die howe op die mense, kyk hoe word van die mense buite die howe opgesweep waar raskwessies aangeblaas word. Hul verwagtinge skiet die hoogte in. Die EFF, die BLF dryf mense tot raserny.

Dan vra mens, waar begin jy om dinge te probeer normaliseer? Om net die mense op twitter en facebook alleen vas te vat gaan nie help nie, diegene wat verdag maak en die saadjies plant moet ook vasgevat word en verantwoordelikheid aanvaar vir hul daaglikse uitsprake, ook die ministers in die parlement.

Afrikaner ·

Dan vra mens jou die vraag af, as jy so na die uitsprake van Cyril Ramaphosa en ander oor die jare kyk, wil hulle werklik dat almal in harmonie in die land saam leef? Sal dit hulle enigsins pas? En indien dit so moet wees besef hulle verseker (ook Lesufie wat by Afrikaanse skole die bloeddruk opjaag) dat hulle niemand anders het om die skuld vir hul selfopgelegde probleme te gee nie, juis waar daar nou ‘n verkiesing oor ‘n paar maande voorlê, het hulle dan geen wortel (grond onteiening sonder vergoeding, vragte grond) om vir hul mense aan die punt van die stok uit te hou nie en geen slaansak as dinge weer verkeerd sou loop nie.

En oor vyf jaar breek die volgende verkiesing aan.

Leopold Scholtz ·

Uitstekende artikel, Kallie. Ek hou van jou nugter en genuanseerde benadering. Doe zo voort!

Judge Dredd ·

Maak nie saak hoe ver die libs/gematigdes agteroor buig nie – die kommuniste/sosialiste gaan nog meer soek.
Die dag wat die libs/gematigdes besef hoe hulle hulself en ander verloen het/alles verloor het – dan is dit alreeds te laat.

John ·

Dalk het die misverstand destyds al begin nadat Brittanje die Kaap geannekseer het en dr Philip met sy sluwe spel begin het deur die wèreld te probeer wysmaak dat die Afrikaners wat nie onder die Britse juk wou trek nie, die slawe en Khoi aan die Kaalp mishandel/onderdruk. Hierdie siekte is oorgedra aan baie sendelinge uit Duitsland en Frankryk. Honderde briewe is aan koerante ens in die buiteland gerig om die glo sluwe Afrikaners bloot te lè. Grootskaalse prospektering is deur kerklikes self gedoen. Die Boere-Republieke het die haat tot fisiese aksies gedryf. Ons ken die res. Hierdie resep word steeds aangewend.

Schalla ·

Uitstekend gestel Kallie. Ek wens net mense wil ophou praat van ‘n nie-rassige samelewing. Ek sien dit eerder as veelrassig. Die feit bly staan daar is verskillende bevolkingsgroepe, en daar is niks verkeerd daarmee nie. Om dit te probeer ontken en ‘n bril op te sit en dit te probeer wegredeneer is nie die oplossing nie, maar soos wat Kallie se artikel sê, wedersydse respek kan wel maak dat ons almal onder een son kan saamleef sonder om mekaar uit te wis. Dit beteken nie ons moet op mekaar verlief raak en mekaar se kinders hê nie, maar vet weet ons hoef nie mekaar dood te maak net oor ons verskil nie! Daar is ‘n plek vir almal, respekteer en gun mekaar dit net! As ek elke keer iemand vermoor met wie ek verskil dan het ek lankal my vrou vermoor!

Jerry ·

Respek word verdien en as jy dink jy verdien die respek van swart revolusioneres deur swart revolusionere rassiste te beveg dan maak jy of n groot fout of jy is sarkasties. Inteendeel, jy maak die geveg net groter en meer intens. Deur jou en jou organisasie se aksies vir wit geregtigheid teen swart rassiste blaas jy inderwaarheid swart rassehaat aan. Jy weet dit en ek weet dit en almal wat dit sien weet dit. Ek se nie jy is verkeerd nie, want jy doen die regte ding vir wit geregtigheid. Wat ek wel se is dat wat goed is vir wit geregtigheid, is sleg vir swart geregtigheid en visa versa. Wit geregtigheid is swart vernedering en swart geregtigheid is wit vernedering en dit ou kallie, blaas rassehaat aan, maak nie saak hoe ons daarna kyk nie! Hoe dit ookal sy, jy en jou organisasie gaan julself een of ander tyd vasloop in konflik en soos wat julle met aksies vir geregtigheid dink julle dwing respek af so gaan julle aksies tydens konflik bepalend wees vir respek of geen respek en ek hoop julle is reg daarvoor, want dit kom, dit is maar net n kwessie van tyd!

Grys ·

So ons moet eerder verlaat, realisties is dit die enigste en vinnigste oplossing… net hoe kry jy n 2de groot trek reg ?

Gert ·

Graag verskil ek van Jerry hierbo. As dit nie vir Afriforum en Solidariteit se pogings was nie, was ons reeds almal uitgemoor, in plakkerskampe of landuit. Die haat teenoor spesifiek Afrikaners is so ongelooflik erg en word uit alle oorde aangeblaas, en slegs hierdie paar organisasies, waarby ek VF+ insluit, hou die roofdiere weg van die prooi af.
Dankie Kallie!

Se maar net ·

Jerry jy praat so waar. Iemand is besig om iemand om die bos te probeer lei.

Vaalseun ·

Dankie vir jou nugtere bespreking, Kallie.

Ons moet nie skrik vir die blaf van kritiek nie, ongeag of dit regverdige of onregverdige kritiek is, haatspraak of vervalste nuus. As dít nie óók mag voorkom nie, het ons nie vryheid van spraak en denke nie, wat die hoeksteen van demokrasie en beskawing is.

Ons moet terugblaf. Maar ons blaf mag nie ook vernederend, kwetsend of uitlokkend wees nie, al word daar só na ons toe geblaf. Die kwaliteit en waardigheid van ons terugblaf moet die gekeffery wat na ons effektief en aanhoudend stilmaak. Ons daag die leuen, verdraaiings, vervalsings, toesmeerdery, bedrog, oëverblindery, gevolge van wanbestuur, swak polisiëring en regspleging uit.

Dis tyd dat ons die gekeffery oor die sg. uitermate misdaad van apartheid in vergelyking met ander politieke stelsels en hulle gevolge begin doodblaf. Toe die Voortrekkers in die binneland van Suid-Afrika ingetrek het, het hulle een groot aparte samelewing tussen die swart volke gevind. Die Xhosas, Zulus, Pedi’s, Tswanas, Griekwas, Sotho’s en die res het hulleself sover as moontlik uitmekaar se pad gevestig. Ter wille van hulle eie oorlewing en veiligheid. Tussenin het die grond aan niemand “behoort” nie. Dit was “almal” s’n, of dan, “niemand” s’n.

Die blanke politieke leiers het hierdie historiese politieke erfenis van apart woon tussen die swart volke, gerespekteer. Die feit dat dit so oorgedra is na die nuwe dorpe en stede wat deur die Voortrekkers en ander blankes opgerig is, was bloot ‘n logiese voortsetting van die inheemse bevolkings se gevestigde leefwyse.

lewies ·

Kallie dit klink soos musiek in die ore. Almal het lesse in die proses geleer.

Therese van Schalkwyk ·

Puik artikel!
Wedersydse erkenning en respek tussen gemeenskappe, terwyl groepsbelange terselfdertyd bevorder word, is heeltemal moontlik.

Stem egter saam met Schalla hierbo dat “nie-rassigheid” nie bestaan nie. ‘n Samelewing kan onmoontlik nie-rassig sowél as divers wees, en diversiteit word koorsagtig nagestreef deur westerse regerings wêreldwyd.

Wat Jerry betref, is voorheen al opgemerk dat hy ‘n emigrant met groot heimwee is, wat soveel moontlik Afrikaners probeer aanmoedig om die land te verlaat.
Die Afrikaner het bv. wat hul taal Afrikaans betref só uitgereik en versoen dat die taal uit lesingsale verdwyn het. Om “konflik” ten alle koste te vermy, dwing geensins respek af, die teendeel is waar.

Afrikaner ·

Die kortste presidensiele toespraak wat die waardes van die hele land saamvat wat ek nog ooit gelees het.

marco polo ·

Respek word verdien. Jammer, maar my respek is lankal vernietig en vervang met wantroue, tot die teendeel bewys word. Die teendeel is ook nog nie bewys nie.

John ·

Die besoek aan die buiteland was bloot om mense in te lig oor die ware stand van sake in SA, of moet ons maar moorde laat voort duur ‘om die vrede te bewaar’? Vroue wat stilbly wanneer die pa sy kinders mishandel en misbruik, word ook deur die hof gestraf. Om vredesonthalwe jou bek te hou laat die verkeerdes eerder aanwoeker. Die ANC is kwaad omdat die buitewèreld nie meer met ‘n sluier oor die oè loop nie. Die vraag is waarom moet die ware stand van sake geheim bly? Kweek dit wedersydse respek?

Cornelia ·

Al die kommentaar is geldige argumente. Mag ek myne byvoeg? Politiek gaan oor alles behalwe wedersydse respek. Dit is ‘n christelike konsep wat vra dat ‘n mens sover moontlik met alle mense in vrede moet leef. Politiek gaan oor magsbesit oor ‘n land se rykdomme en strategiese invloedsfeer. Sodra my vryheid tot assosiasie in die stof byt met mistige propagande terme soos “transformasie” staan my hare orent. Wanneer my unieke volksidentiteit as ‘n vyand vd bestaande staat gereguleer en geïntimideer word terwyl ek net ‘n deurslaggewende en positiewe bydrae in Landsbelang wil lewer, dan het so ‘n “staat” my vyand geword. Ek voeg my stem by almal wat eerlik na politieke dryfkragte kyk. Veelrassigheid is ‘n werklikheid.

George van Bloem ·

Baie goeie en feitlike stuk. Dis net jammer dat slegs die benadeelde groep dit te siene gaan kry hier. Feit bly staan is dat AL die swart partye die blanke in SA tot “public enemy number one” verklaar het en mooi woorde gaan daaraan geen verskil maak nie.Ons is soos die skape in die ry by die slagpale wat elkeen sy beurt afwag. Die tyd vir mooipraatjies is stadig maar seker besig om uit te loop en die blankes wat nog vaskleef aan die reenboodnasie illusie gaan met ‘n groot “BANG” uit lalaland wakker geskud word.Enige swaap kan sien waarnatoe alles op pad is. Dis nou net ‘n kwessie van tyd.

Jerry ·

Twitter-gesprekke en hierdie gesprek sou nie nodig gewees het nie, indien die onderneming om n eie volkstaat tot stand te bring, gerealiseer het! Wat ookal skeef geloop het, so lyk dit vir my, gaan nou maar met die tyd saam, nog skewer loop. Dit bied egter oneindige geleenthede om terug te slaan en aksies vir geregtigheid te loods, maar dit lei ongelukkig ook tot oneindige reaksies wat ontaard in n kettingreaksie. Al hierdie aksies bring ons niks nader aan n eie volkstaat nie, inteendeel soos wat die uurglas leegloop, neem dit ons verder en verder weg van die strewe na n volkstaat en nader daaraan om onsself besig te hou om vir geregtigheid terug te slaan teen onbeheersde woede, rassehaat en wat kan ontaard in n
oor en weer geskietery. Dit wat mense belowe was en op gehoop het is duidelik nie wat hulle gaan kry nie.

B ·

Ek vermoed die steil EQ gradiënthelling tussen baie partye maak hierdie volwasse denkproses bykans onmoontlik.

Lalie ·

Respek begin by jou. As jy nie respek vir jouself het nie, kan jy nie iemand anders respekteer nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.