Beveilig jouself en jou gemeenskap só

Deur Ian Cameron

Ian Cameron.

Ek het die afgelope 72 uur talle oproepe gekry van mense wat wil weet wat hulle kan doen om hulself en die mense om hulle se veiligheid te verseker. Die staat het geensins die vermoë om burgers en hul eiendom te beveilig nie.

Toe die inperking in 2020 begin het, was die ANC vinnig om meer as 70 000 soldate te ontplooi, maar nou, terwyl dele van die land brand, word net 2 500 soldate ontplooi. Die SAPD het nie genoeg ammunisie, mense en ander hulpbronne om wet en orde te herstel nie; ek noem nie eers die vermoë om voorkomend op te tree nie.

Wat kan jy doen?

  1. Maak seker jy beskik oor alle nodige noodnommers, veral oor die van jou plaaslike gemeenskapstrukture soos plaas- of buurtwagte. Dit is ook belangrik dat jy seker maak jy is in gereelde kontak met jou bure; gee om vir mekaar en ondersteun mekaar waar moontlik.
  2. Dit is belangrik om onnodige reis te vermy. Natuurlik sal ʼn mens eers basiese take moet afhandel. Mense wat in gebiede woon waar konflik kort-kort opvlam, hoofsaaklik in Gauteng en KwaZulu-Natal, moet veral hieraan gehoor gee.
  3. Indien jy moet reis, maak seker jy ry nie op paaie waar rommel of ander soorte hindernisse lê nie. Kyk uit vir geboue of enige ander goed wat brand en vermy eerder daardie area.
  4. Raak betrokke by jou gemeenskap se veiligheidstrukture soos jou plaaslike buurtwag, plaaswag of selfs ʼn gemeenskapspolisiëringsforum.
  5. Maak seker jy vorm deel van die gemeenskap se kommunikasiekanale, hetsy dit deur WhatsApp of ander kanale is. Maak seker jy neem kennis van wat daar gesê word en dat jy nie enigiets wat nie bevestig is versprei nie. Die laaste ding wat ons nou nodig het, is fopnuus wat die noodlot verder terg.
  6. Indien binne jou vermoë, word deel van die patrolliegroep en hetsy hulle staties of mobiel verkeer, neem aan patrollies deel.
  7. Maak seker dat indien jy aan patrollies gaan deelneem, jy dit nie alleen doen nie. Jy moet altyd minstens een persoon by jou hê; twee is altyd beter as een.
  8. Indien jy ʼn vuurwapen vir selfverdediging het, dra dit by jou en maak seker jy voldoen aan die wetlike vereistes.
  9. Indien jy op enige manier van hulp aan die polisie of ander nooddienste kan wees, bied asseblief jou hulp aan. Onthou, hulp kan so eenvoudig soos ʼn glas water of ʼn koppie koffie wees. Daar is duisende goeie mense wat met min of geen ondersteuning nie vanuit die staat hulle werk as staatsamptenare op grondvlak tot die beste van hulle vermoë probeer doen.
  10. Onthou, as jy jouself kan beskerm, kan jy jou gesin beskerm, as jy jou gesin kan beskerm kan jy jou bure beskerm, as bure mekaar beskerm, kan ʼn gemeenskap beskerm word.

Hou moed, ons het geen ander alternatief nie, ons bou voort!

  • Ian Cameron is ʼn onafhanklike kenner van gemeenskapsveiligheid en geweldsmisdaad in Suid-Afrika. Hy is ook die stigter van firearms.co.za en dien op die raad van #SafeCitizen.

 

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Harley Davidson ·

Ek sal en voldoen aan alles, behalwe om die polisie by te staan ek kan nie die nut sien om die saps te ondersteun nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.