Bevolkingsafname reuse-uitdaging vir ryker lande

‘n Kamp van migrante vanuit Wes-Afrika en Afghanistan in Parys, Frankryk in Desember 2022. (Foto: Maxime Gruss / Hans Lucas/AFP)

Nuwe data oor die bevolkingsaanwas in Suid-Korea is verlede week bekend gemaak. Nadat die getal kinders per vrou in Suid-Korea tydens die pandemie tot 0,8 gedaal het, het dit tydens die eerste drie kwartale van vanjaar selfs nog verder tot 0,7 gedaal.

Suid-Korea het van die laagste vlakke van bevolkingsaanwas in die wêreld. Indien dié tendens voortduur, sal Suid-Korea se bevolking, volgens demograwe, van die huidige 52 miljoen tot 35 miljoen in 2060 en minder as 10 miljoen teen die einde van die eeu daal.

In Japan het dié land se regering die afgelope paar weke reusagtige nuwe planne aangekondig om mense aan te moedig om meer kinders te kry. Verskeie nuwe gesinstoelaes wat oor die volgende drie jaar meer as 3,5 triljoen Japanse jen gaan kos, is reeds in werking gestel. Volgens Japan se premier, Fumio Kishida, is dit tans Japan se “laaste kans” om sy skerp dalende geboortesyfer om te keer. Die Japannese bevolking het die afgelope tien jaar reeds met drie miljoen afgeneem.

Dieselfde demografiese nagmerrie staar China tans in die gesig. Nadat aanvanklik voorspel is dat die Chinese bevolking teen 2033 sou begin krimp, het dit vroeër vanjaar aan die lig gekom dat die Chinese bevolking reeds besig is om te krimp en dat die afname oor die volgende paar jaar skerp gaan toeneem. Daar word verwag dat China se bevolking teen die einde van die eeu vanaf huidige vlakke kan halveer.

ʼn Lae bevolkingsaanwas raak ʼn groter en groter probleem vir ontwikkelde lande. In die VSA, Kanada, die hele Europa, Australië en Nieu-Seeland is die bevolkingsaanwas lankal reeds laer as die vlak wat nodig is om die huidige bevolkingsgrootte in stand te hou.

Die meeste van hierdie lande toon egter steeds ʼn bevolkingsgroei wat deur massa-immigrasie meegebring word. In byna elke Westerse land neem die etniese bevolking af terwyl immigrantebevolkings toeneem. In armer lande in Europa, soos Oekraïne, Pole, Serwië, Portugal, Roemenië, Bulgarye, Bosnië en Griekeland, het daar die afgelope paar jaar reeds ʼn skerp bevolkingsafname plaasgevind. Selfs in Italië het die bevolking begin afneem, ten spyte van enorme onwettige immigrasie uit Afrika.

Volgens die Wêreldbank kry vroue in Westerse lande tans tussen 1,2 en 1,6 kinders wat ver onder die vervangingskoers van meer as twee kinders per vrou is. Dit staan in skrille kontras met die baie hoë bevolkingsaanwas in die meeste Afrika-lande, sowel as in armer Midde-Oosterse en Asiatiese lande soos Pakistan en Bangladesj.

Bevolkings wat verouder en ʼn tekort aan jongmense wat die arbeidsmark betree, het uiters negatiewe gevolge vir ryker, ontwikkelde lande. Die vraag oor of immigrasie van mense uit arm lande die antwoord op hierdie probleem is, word tans in baie ryker lande gedebatteer.

In lande soos Japan, Suid-Korea en China is daar met goeie rede skeptisisme oor die oplossing wat immigrasie kan bied. In die meeste Europese lande is daar die afgelope paar jaar bewys dat immigrante dikwels meer probleme en uitdagings as oplossings bied. Die wêreld gaan oor die volgende paar jaar demografies dramaties verander.

Net volkere met ʼn positiewe demografiese tendens wat ook kreatiewe oplossings vir die uitdagings van ʼn verouderende bevolking kan skep, sal hierdie reuseveranderinge suksesvol kan deurstaan.

Hierdie nuuskommentaar is deur Pretoria FM verskaf. Luister daagliks na Klankkoerant op Pretoria FM vir die jongste nuuskommentaar.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Jaco Kleynhans

Jaco Kleynhans is hoof van internasionale skakeling vir die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

MARELIZE ·

Want ons glo die leuen. Die wêreld is oorbevolk… terwyl God sê dat Hy sal voorsien. Ons glo geld is belangriker as kunders, terwyl God sê dat Hy ons seën deur kinders, dat ons ons pylkoker moet vul met seuns.

Ons glo dat ons beter weet as ons Skepper, dat ons self kan besluit hoeveel kinders ons kan bekostig (daar is dit weer – geld), instede van te vertrou, die Alwetende te vertrou. Ons gli die pil en allerhande goetertjies in die baarmoeder is manna ui lt die hemel instede van die vrug van die moederskoot as genade te beskou.

Ons dink ma se beroep is roeping, maar vergeet dat God haar tot meer, veel meer, geroep het.

Ons Calvinistiese voorouers het God vertrou, in armoede het hulle volk gebou – maar ons, ons laat kinders vlug …

Hartseer, maar ons soek hierna.

De Bok ·

Jy is heeltemal reg Marelize. En die Calvinistiese kerke loop leeg, want almal gaan na die kerke toe wart belowe jy gaan voorspoed en/of magic powers kry as jy maar net weer gedoop word.

Ons priotiteite is heeltemal op sy kop. Ons stel voorspoed voorop, en daarom gaan ons dit verloor.

Olive ·

Geagte Marelize.
God het ook vir die mens verstand gegee om dit te gebruik, so ons moet besef waneer is genoeg. Die aarde is so uitgeput en verwoes deur die mens. Daar is nie meer plek vir dier op plant nie. Ek glo nie dit was God se bedoeling nie.

Republikein in die Wes Kaap ·

Gee etniese jong Europiërs hoop en die getalle sal weer toeneem. Die politici daar is hopeloos en boesem geen vertroue in nie. Christelike kerkleiers het die plot al dekades gelede verloor.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.