Bevrydes moet met stem legitiem protesteer

Die onderhandelde skikking tussen die apartheidsregering en die bevrydingsbeweging was Suid-Afrika se poging om die onreg van die verlede reg te stel. Opposisie teen apartheid het verskeie vorme van weerstand ingesluit – sommige wettig en ander onwettig – en ʼn spektrum van protesbewegings.

Versetveldtogte teen die paswette, die groepsgebiedewet, trekarbeid en instromingsbeheer is voorbeelde van verset. Proteste het die vorm aangeneem van optogte en betooglinievorming teen aanhouding sonder verhoor, marteling in die tronk, die aparte geriewe-wet, en so meer. Die struggle teen apartheid het ook die opblaas van sekerheidsinfrastruktuur, sagte teikens soos restaurante, kerke en die geboue van politieke organisasies behels. Terwyl baie van hierdie dinge onwettig was, is versetsdade as legitiem beskou gegewe die illegitimiteit van wit minderheidsdominasie.

Die onderhandelde skikking by Kodesa het vereistes gestel rondom ʼn post-apartheid grondwetlike bestel wat basiese regte sou toelaat, soos die reg om te stem en te ywer vir die party van jou keuse en om deel te neem aan die aktiwiteite van jou politieke party. Die reg tot samekoms, betoging, betooglinievorming en petisie – die reg, vreedsaam en onbewapend, om saam te kom, te betoog, betooglinies te vorm en om versoekskrifte aan te bied – in ʼn legitieme staat verskil, natuurlik, van protes en verset in ʼn illegitieme staat.

Binne die huidige bestel is daar ʼn wye verskeidenheid van maatskaplike bewegings wie se modus operandi dit is om optogte te hou en protes aan te teken rondom werkersklassake wat hulle ten diepste raak. Hulle het hofaksies gebruik, grondwetlike sake aanhangig gemaak, en optogte gehou om hulle stemme te laat hoor en op transformasie aan te dring. Hierdie is die Landless People’s Movement, die Treatment Action Campaign, die Anti-Privatization Movement en meer. Die vakbondbeweging het ook van protesbyeenkomste en optogte gebruik gemaak om hulle stemme rondom arbeidswetgewing, loongeskille, loonverhogings, en dies meer te laat hoor. Cosatu, egter, het reeds verskeie kere gebruik gemaak van onwettige vorme van protes om hulle alliansievennoot met politieke speletjies op die rand van die afgrond te kniehalter, in stede daarvan om om te gaan met armoede en die regte van die werkloses. As ʼn werkersaristokrasie organiseer ons vakbondbeweging dikwels protesbyeenkomste wat niks te doen het met werkersake nie, maar wat in stede daarvan gerig is om verskillende toegewings te bekom en rekenskap te ontduik (soos in die geval met onderwysers), loonverhogings bo die inflasiekoers, korter werksdae, en so meer.

Jaar in en jaar uit stem die massas vir die ANC, maar as hulle nie kry wat hulle soek nie, bemors hulle die strate, breek ruite, maak inbreuk op die regte van gewone burgers en gebruik onwettige middele om hulle doelwitte te bereik ongeag die regte van andere. Sewentien jaar na ons demokrasie het ons ʼn goedgevestigde proteskultuur, maar nie ʼn ewe goedgevestigde demokratiese kultuur nie. Gevoed op ʼn dieet van regte, eise en aansprake het die ANC-regering daarin gefaal om ʼn kultuur van verantwoordelikheid en verpligtinge te vestig.

Die meerderheid van swart Suid-Afrikaners weier om gebruik te maak van hulle stem om hulle ongelukkigheid te kenne te gee, maar sal terselfdertyd van onwettige protesmiddele gebruik maak om hulle stemme te laat klink. Suid-Afrikaners moet dit nog leer dat regerings lojaal aan hulle behoort te wees en nie andersom nie. Ongelukkig eis bevrydingsbewegings lojaliteit oneindig van húlle wat beweer dat hulle bevryd is. So bly die “bevrydes” jammerlik om die bos gelei en slaag ons nie daarin om die lesse van post-onafhanklikheid Zimbabwe, Kenia, Malawi, Zambië, Etiopië en Somalië te leer nie!

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Rhoda Kadalie

Meer oor die skrywer: Rhoda Kadalie

Rhoda Kadalie is Uitvoerende direkteur by Impumelelo Innovations Award Trust.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

5 Kommentare

Anoniem ·

Dit is so waar – “Suid-Afrikaners moet dit nog leer dat regerings lojaal aan hulle behoort te wees en nie andersom nie.” Hoe is dit moontlik dat mense keer op keer vir ‘n party stem waarmee hulle nie gelukkig nie? Hoe is dit moontlik dat mense dae voor ‘n verkiesing nog protesoptogte hou teen swak dienslewering net om dan weer te gaan stem vir die einste party wat verantwoordelik is vir die swak dienslewering. Word mense nie, soos Kadalie sê, “om die bos gelei” nie? 

Ernst Roets ·

Dankie Rhoda
Om ‘n suksesvolle bevrydingsbeweging te wees het ongelukkig niks te doen met jou vermoë om effektief te regeer nie.  Inteendeel, dit spreek dikwels van die teenoorgestelde.  Ek dink die ANC kon nie daarin slaag om die nodige kopskuif te maak om uit die “struggle” kultuur te breek en ‘n kultuur van verantwoordelike en deursigtige regering in te neem nie.

Anoniem ·

Ditto, ek kan nie dink dat mense jaar na jaar sien wat gebeur en steeds nie bereid is om ‘n “kopskuif” te maak soos Ernst gese het nie. Miskien moet ons net nie bang wees om die foute uit te lig nie?

Marnia Verwey ·

Wat ons terug hou:
Diè wat nie kan eerlik wees oor hul foute nie, is die wat iets weg steek en skuldig voel daaroor.
Diè wie se vrese vir verandering alle vooruitgang keer.
As die bogenoemde uitgesorteer is, sal ‘n groot deel al verbeter.

Jahni Cowley ·

So ongelooflik waar.  Ek stem saam met Ernst:  Daar is ongelukkig nie regtig voorbeelde van bevrydingsbewegings wat effektiewe regerings geword het nie!

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.