Bewaar ons Westerse erfenis

flip-buys

Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging. Foto: Reint Dykema

Die Afrikaners is ʼn Westerse gemeenskap met Westerse waardes, al bly ons in Afrika. Daarom is dit belangrik dat ons op Erfenisdag voorraad neem van ons Westerse herkoms en beskawing, en besin oor die bewaring van hierdie kosbare kultuurskat.

Die Westerse beskawing is die suksesvolste beskawing in die wêreldgeskiedenis en beklee die afgelope vyf eeue ʼn oorheersende plek op die wêreldtoneel. Maar Westerse state ervaar tans ʼn krisis, as gevolg van interne probleme en die opkoms van nie-Westerse state soos China, Indië en Rusland. Die belangrikste van die probleme in die Weste is die verwatering van ons Protestantse geloof, ʼn afname in geboortes en ʼn verswakking van die waardes wat ons suksesvol gemaak het – soos werksetiek, spaarsamigheid en roepingsgedrewenheid. Die gevolge hiervan kan gesien word in die ekonomiese en politieke probleme wat die Weste tans ervaar.

Die historiese verswakking van die Weste vind gelyktydig plaas met die opkoms van ʼn sterk nie-Westerse blok, en kan selfs tot ʼn globale magsverskuiwing na die Ooste lei. Dít kan weer tot ʼn globale verskuiwing weg van Westerse waardes lei, soos wat die Afrikaner reeds in Suid-Afrika ervaar. Die groot Britse historikus Arnold Toynbee het al dekades gelede gesê dat die Afrikaner in Suid-Afrika ʼn mikrokosmos van die Weste in die wêreld is.

Sukseswaardes

Dit is bemoedigend dat leidende pro-Westerse denkers van top-universiteite soos Oxford en Harvard die afgelope jare die belangrikheid van die tydlose sukseswaardes van die Westerse beskawing beklemtoon. Belangrike denkers soos proff. Samuel Huntington van Harvard en Niall Ferguson van Oxford het in opspraakwekkende boeke onbeskaamd verklaar dat tradisionele Westerse waardes die rede agter ons beskawing se eeue lange sukses is. Daarmee saam het hulle die bewaring van hierdie waardes bepleit as sleutel tot ʼn herlewing van die Weste en die sleutelrol wat die Weste in die wêreld speel.

Westerse denkers het oor die eeue ooreengestem dat ons beskawing gevorm is deur die kultuur, tradisies, instellings en erfenisse van Athene, Rome en Jerusalem.

Westerse erfenis

Kom ons kyk weer na wát hierdie bepalende Westerse erfenis is:

  • Geleerdes is dit eens dat ons Christelike en veral Protestantse erfenis die enkel belangrikste deel van ons Westerse kultuurskat is, en wat ook die morele kompas en gedragskode vir die Weste was. Die Duitse skrywer Goethe het die Christendom as die “moedertaal” van Europa gesien.
  • Tweedens is daar ons Europese taal- en kultuurerfenis waarby die kultuurskatte van die antieke Griekse en Romeinse beskawings ingesluit is.
  • Derdens die oppergesag van die reg.
  • Vierdens die bestaan van ʼn selfstandige burgerlike- en gemeenskapslewe, onafhanklik van die staat, en wat ook die skeiding van staat en kerk insluit.
  • In die vyfde plek is daar verteenwoordigende instellings soos parlemente waar leiers demokraties verkies word en dan regeer.
  • ʼn Sesde kenmerk van die Weste is vryheid. Dit geld vir die persoon, gemeenskap, howe, media, sakelui en ekonomie. Dis anders as die outokratiese tradisie wat in baie ander beskawings voorkom.
  • Sewende is eiendomsreg, ondernemerskap en die vrye mededingende markekonomie.
  • Nommer agt is wetenskap, tegnologie en die mediese wêreld.
  • Die Calvinistiese werksetiek is nommer 9.
  • Laastens is daar die verbruikersamelewing met sy klem op lewensgehalte en lewenstandaard.

In sy onlangse boek Civilization: The West and the Rest verwys Ferguson daarna dat die Westerse beskawing steeds die beste stelsel aan die mensdom bied. Die vraag is egter, volgens hom, of die Weste self die waarde van sy eie beskawingskatte besef.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Flip Buys

Meer oor die skrywer: Flip Buys

Flip Buys is voorsitter van die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

39 Kommentare

jongste oudste gewildste
Eish

Juis dit wat bewaar wil word, loop deur onder verval agv die apatiese houding en verwaarlosing van die aspekte wat juis die uitnemendheid instand hou. Ek weet voorwaar nie hoe n mens dit weer op koers kry nie. Verwatering van Christelike waardestelsels het saam met die nuwe bedeling gekom. Die oomblik toe die invloed wat die Afrikaanse kerke gehad het vanweë tradisie, se basis verval, toe loop die Afrikaanse kerke leeg. Geleerdes dig dit aan allerlei faktore toe soos byvoorbeeld immigrasie. Op voetsoolvlak, het die gewone mens egter n weerstand opgebou vir die onvanpaste, veroordelende en diktorale kerkhouding. Met ander… Lees meer »

Sarie

Die Westerse beskawing het gedy to e dit meer na die konserwatiewe geneig. Liberalisme soos dit vandag toegepas word het die Westerse state verswak. Die diewe,moordenaars en sedelose het meer regte as die persone wat die reguit paadjie probeer stap.

Armageddon Vlakvark Ph.D., D.Ed., D.Phil., D. NogWatookal

Alle lesers, kom ons maak ‘n voorspelling oor hoe die mensdom oor 100 jaar vorentoe daaruit gaan sien: Die wêreldbevolking ervaar tans ongebreidelde groei, wêreldwyd is daar op ongekende skaal menseverhuisings, daar is ‘n toenemende aanslag op natuurlike hulpbronne en ‘n ongekende uitspu van rommel. Die mensdom is soos ‘n plaag kommandowurms oppad vorentoe na selfvernietiging! Waar en hoe gaan kulture, waardestelsels, magstryde en reg en geregtigheid in hierdie armageddon om oorlewing figureer? Leef ons nie dalk in ‘n Westerse Virtuele Droomwêreld nie? Eendag gaan die rotfamilie hul kinders leer van die historiese Homo sapiens sapiens spesie wat homself vernietig… Lees meer »

Mike

Bestaan hierdie nog in Suid Afrika want die reg is deesdae ‘n grap as ons kyk na die doodskis saak. Selfstandige gemeenskappe moet nog geskep word ons is op die oomblik afhanklikke gemeenskappe.
“Die oppergesag van die reg”
“Die bestaan van ʼn selfstandige burgerlike- en gemeenskapslewe, onafhanklik van die staat, en wat ook die skeiding van staat en kerk insluit”.
Huispryse raak belaglik duur en miljoene mense sit sonder ‘n dak oor sy kop want dit is net nie meer bekostigbaar nie, waar gaan dit eindig? ‘n Vrye mark waar Uber dalk verbied kan word???
“Sewende is eiendomsreg, ondernemerskap en die vrye mededingende markekonomie”

John

Dis waar wat ons geliefde troffelgrawer se, wysheid se waarde is ver bo die’ van korale en weelderige akademiese toekennings. Hierdie wysheid is volgens die Opsteller en Skenker van alle wysheid, gratis en verniet vir diegene wat daarom vra maar koop kan ons dit nie koop nie. Die toekoms le in die hande van Hom. Of wil ons Hom uitskryf met eie slimmighede? Is dit nie juis hoekom ons nou so beangst wonder, ‘wat nou nie’? Nie een van ons gaan reg raai nie, maar mens kan gelukkig nog bid en wegdraai van verkeerde wee en rustig verder vir aardse… Lees meer »