Bewaar ons Westerse erfenis

flip-buys

Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging. Foto: Reint Dykema

Die Afrikaners is ʼn Westerse gemeenskap met Westerse waardes, al bly ons in Afrika. Daarom is dit belangrik dat ons op Erfenisdag voorraad neem van ons Westerse herkoms en beskawing, en besin oor die bewaring van hierdie kosbare kultuurskat.

Die Westerse beskawing is die suksesvolste beskawing in die wêreldgeskiedenis en beklee die afgelope vyf eeue ʼn oorheersende plek op die wêreldtoneel. Maar Westerse state ervaar tans ʼn krisis, as gevolg van interne probleme en die opkoms van nie-Westerse state soos China, Indië en Rusland. Die belangrikste van die probleme in die Weste is die verwatering van ons Protestantse geloof, ʼn afname in geboortes en ʼn verswakking van die waardes wat ons suksesvol gemaak het – soos werksetiek, spaarsamigheid en roepingsgedrewenheid. Die gevolge hiervan kan gesien word in die ekonomiese en politieke probleme wat die Weste tans ervaar.

Die historiese verswakking van die Weste vind gelyktydig plaas met die opkoms van ʼn sterk nie-Westerse blok, en kan selfs tot ʼn globale magsverskuiwing na die Ooste lei. Dít kan weer tot ʼn globale verskuiwing weg van Westerse waardes lei, soos wat die Afrikaner reeds in Suid-Afrika ervaar. Die groot Britse historikus Arnold Toynbee het al dekades gelede gesê dat die Afrikaner in Suid-Afrika ʼn mikrokosmos van die Weste in die wêreld is.

Sukseswaardes

Dit is bemoedigend dat leidende pro-Westerse denkers van top-universiteite soos Oxford en Harvard die afgelope jare die belangrikheid van die tydlose sukseswaardes van die Westerse beskawing beklemtoon. Belangrike denkers soos proff. Samuel Huntington van Harvard en Niall Ferguson van Oxford het in opspraakwekkende boeke onbeskaamd verklaar dat tradisionele Westerse waardes die rede agter ons beskawing se eeue lange sukses is. Daarmee saam het hulle die bewaring van hierdie waardes bepleit as sleutel tot ʼn herlewing van die Weste en die sleutelrol wat die Weste in die wêreld speel.

Westerse denkers het oor die eeue ooreengestem dat ons beskawing gevorm is deur die kultuur, tradisies, instellings en erfenisse van Athene, Rome en Jerusalem.

Westerse erfenis

Kom ons kyk weer na wát hierdie bepalende Westerse erfenis is:

  • Geleerdes is dit eens dat ons Christelike en veral Protestantse erfenis die enkel belangrikste deel van ons Westerse kultuurskat is, en wat ook die morele kompas en gedragskode vir die Weste was. Die Duitse skrywer Goethe het die Christendom as die “moedertaal” van Europa gesien.
  • Tweedens is daar ons Europese taal- en kultuurerfenis waarby die kultuurskatte van die antieke Griekse en Romeinse beskawings ingesluit is.
  • Derdens die oppergesag van die reg.
  • Vierdens die bestaan van ʼn selfstandige burgerlike- en gemeenskapslewe, onafhanklik van die staat, en wat ook die skeiding van staat en kerk insluit.
  • In die vyfde plek is daar verteenwoordigende instellings soos parlemente waar leiers demokraties verkies word en dan regeer.
  • ʼn Sesde kenmerk van die Weste is vryheid. Dit geld vir die persoon, gemeenskap, howe, media, sakelui en ekonomie. Dis anders as die outokratiese tradisie wat in baie ander beskawings voorkom.
  • Sewende is eiendomsreg, ondernemerskap en die vrye mededingende markekonomie.
  • Nommer agt is wetenskap, tegnologie en die mediese wêreld.
  • Die Calvinistiese werksetiek is nommer 9.
  • Laastens is daar die verbruikersamelewing met sy klem op lewensgehalte en lewenstandaard.

In sy onlangse boek Civilization: The West and the Rest verwys Ferguson daarna dat die Westerse beskawing steeds die beste stelsel aan die mensdom bied. Die vraag is egter, volgens hom, of die Weste self die waarde van sy eie beskawingskatte besef.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Flip Buys

Flip Buys is voorsitter van die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

39 Kommentare

Eish ·

Juis dit wat bewaar wil word, loop deur onder verval agv die apatiese houding en verwaarlosing van die aspekte wat juis die uitnemendheid instand hou. Ek weet voorwaar nie hoe n mens dit weer op koers kry nie. Verwatering van Christelike waardestelsels het saam met die nuwe bedeling gekom. Die oomblik toe die invloed wat die Afrikaanse kerke gehad het vanweë tradisie, se basis verval, toe loop die Afrikaanse kerke leeg. Geleerdes dig dit aan allerlei faktore toe soos byvoorbeeld immigrasie. Op voetsoolvlak, het die gewone mens egter n weerstand opgebou vir die onvanpaste, veroordelende en diktorale kerkhouding. Met ander woorde, godsdiens is gedryf as n middel tot n doel in plaas daarvan dat dit n geloofskwessie was. Die kerk se belydenisse oor verskeie kwessies wat hul verkeerd sou hanteer het, dien as bewys vir die stelling. Verder, is die Afrikaanse kerke se profetiese stem met stomheid geslaan, wat verder onderdruk word vanweë hul lidmaatskap van die SARK en die apatiese saamstem met die liggaam se standpunte. Eenvoudige vrae kan nie deur die deursnee leeraars met onbetwisde bewyslewering beantwoord word nie, wat dui daarop dat Bybelse dogma by die venster uitgewaai het. Die besigheidsmentaliteit waarmee die kerklike bestuur omgaan, vervreem lidmate verder. By al hierdie gesprekke oor ons voortbestaan skitter die kerk in sy afwesigheid wat aanduidend is dat dit sy eie irrelevantheid bevorder. Kerk is nie wat binne die vier mure van die kerkgebou gesê en gedoen word nie, maar omvat betrokkenheid op alle sfere.

Aai tog ·

Ek stem saam ons “gemeenskaplikheid”is te veel gedomineer deur godsdiens en politiek.Toe die dak vd inkubasie hoenders afgepluk is,het ons voor die vraag te staan wie is ons eintlik?Wat is die “gom” wat ons saambind behalwe ons taal !!En dan die klou aan die verlede en ons opstand teen als wat anti-Afrikaans is,selfs rassisme!
Ons moet dringend begin om ons verantwoordbaar te maak in die verskil wat ons op voetsool vlak deur ons Christelike voorbeeld;nie ons geskiedenis vd Protestante godsdiens nie.Dan dalk kan ons Ghandi se woorde ernstig opvat:”Ek wil jul Christus hê maar nie julle christenskap nie!”

Stofskoen ·

Spyker op die kop.
Die kerk het net soos FW sy eie uitverkoop. Dit veroordeel sy lidmate van 2 – 3 dekades gelede en verwag ons moet onverskoning vra vir ons verlede en aan die wat ons soos paddas wil kook.

Sarie ·

Die Westerse beskawing het gedy to e dit meer na die konserwatiewe geneig. Liberalisme soos dit vandag toegepas word het die Westerse state verswak. Die diewe,moordenaars en sedelose het meer regte as die persone wat die reguit paadjie probeer stap.

David Zurnamer ·

Sarie, ons probleem verskil min van díé van die VSA se sosiale probleme wat in die verkeerde (gek-links-liberale) rigting ontplof het agv staatse- en samelewings-wanbestuur deur droomwereld sosialiste. Afgesien van die vry-algemene wanbestuur op elke gebied deur ons “regering”, het ons, kom ons noem dit westerse lewenswaardes, verpletter geraak deur ons eie knieëbuig vir liberale breinspoeling. Donald Trump word gehaat agv sy eerlike, opregte pogings om herstel te bewerkstellig terug na konserwatiewe waardes waarop die VSA gefundeer is. Dit gaan hier terplaatse nog moeiliker wees weens ons getalle maar as ouers, kerke en leerkragte hul alles insit sal met hoop na ons volgende generasie gekyk kan word. Die Bybel moet weer dien as hoeksteen vóór daardie hoop ‘n werklikheid sal word.

Armageddon Vlakvark Ph.D., D.Ed., D.Phil., D. NogWatookal ·

Alle lesers, kom ons maak ‘n voorspelling oor hoe die mensdom oor 100 jaar vorentoe daaruit gaan sien: Die wêreldbevolking ervaar tans ongebreidelde groei, wêreldwyd is daar op ongekende skaal menseverhuisings, daar is ‘n toenemende aanslag op natuurlike hulpbronne en ‘n ongekende uitspu van rommel. Die mensdom is soos ‘n plaag kommandowurms oppad vorentoe na selfvernietiging! Waar en hoe gaan kulture, waardestelsels, magstryde en reg en geregtigheid in hierdie armageddon om oorlewing figureer? Leef ons nie dalk in ‘n Westerse Virtuele Droomwêreld nie? Eendag gaan die rotfamilie hul kinders leer van die historiese Homo sapiens sapiens spesie wat homself vernietig het deur oorteling en dat mensspesie ten spyte van al sy intellektuele vermoëns nie sy eie drange kon beheer en bestuur nie. Wat is die alternatief NOU? Vergeet politiek praat.

Breytie ·

Hier is my voorspelling: Oor 100 jaar, in 2117, gaan die Westerlinge by verre in die minderheid wees wat getalle betref, maar hulle gaan op elke kontinent hulle teenwoordigheid laat geld deur baie sterk geestelike leiding aan die massas te gee. Vir die Afrikane, Sjinese en Indiërs sal Westerlinge gesogte burgers van die land wees wat vrede en voorspoed waarborg deur hulle onpeilbare geestelike insigte en invloed. Grondgebied sal nie meer geskend wees deur eindelose paaie/strate nie, ook nie deur netwerke van kabels bo- en ondergronds nie. Elektrisiteit sal op natuurlike wyse beskikbaar wees en die internet met al die versamelde inligting sal toeganklik wees deur een of twee denkstappe. Goedere en mense sal reis deur middel van molekulêre verplasing en op dieselfde manier sal afval herintegreer word met die bodem waarvandaan dit kom. Geen myne sal bestaan nie want daar sal geen behoefte wees aan materiële welvaart of rykdom nie. Alle lande sal onder dieselfde geestelike wette en beginsels leef onder leiding van Westerlinge.

rassie ·

NogWatOokal,

Die probleem is dat niemand van ons oor 100 jaar daar gaan wees om te sien wie se voorspelling reg was nie.

Miskien moet ons eerder probeer voorspel hoe die oorspronklike Afrikaner kultuur se verskillende sub-kulture waarin dit nou vinnig besig is om te verdeel oor 10 jaar van nou af gaan lyk en watter sub-kulture Christelik- Calvinisties, slegs Christelik, nie-Christelik, ens ens gaan wees en watter gedeeltes van die tradisionele Afrikaner kultuur en tradisies in watter sub-groepe gaan voorkom.

Met die Liewe Vader se Genade en as Hy wil, gaan ons oor 10 jaar darem kan sien wat intussen van die tradisionele Afrikaner kultuur geword het en watter sub-groepe President Kruger se aanbeveling om die goeie te behou (en by implikasie die slegte agter te laat) nagevolg het en daarop gebou het.

Mike ·

Bestaan hierdie nog in Suid Afrika want die reg is deesdae ‘n grap as ons kyk na die doodskis saak. Selfstandige gemeenskappe moet nog geskep word ons is op die oomblik afhanklikke gemeenskappe.
“Die oppergesag van die reg”
“Die bestaan van ʼn selfstandige burgerlike- en gemeenskapslewe, onafhanklik van die staat, en wat ook die skeiding van staat en kerk insluit”.
Huispryse raak belaglik duur en miljoene mense sit sonder ‘n dak oor sy kop want dit is net nie meer bekostigbaar nie, waar gaan dit eindig? ‘n Vrye mark waar Uber dalk verbied kan word???
“Sewende is eiendomsreg, ondernemerskap en die vrye mededingende markekonomie”

andrea van vuren ·

Die Verwoerd droom vir parallelle ontwikkeling — ek glo sou werk, is deur ons eie mense vernietig (vermoor). Liewe volksgegenote, mede onderdruktes, treurende agtergeblewe vriende en familie van vermoorde witmense, ek huil vandag sonder ophou na die afgryslike onnodige moorde in ons land en boeregemeenskappe. Eienaardig dat meeste van die moorde in Limpopo plaasvind. Malema se gebied.
Gaan lees gerus ‘Die lang Generaal’ (gebaseer op ware feite) deur Alan D Elsdon (ISBN 978-1-4152-0092-6 ). Daarin sal julle sal antwoorde op vandag se vrae kry.

Stofskoen ·

Daar was lank terug iets op ‘n wapen gewees “Eendracht maakt Mag”.
Ons is te wyd verspreid en leef dalk te modern. Verby mekaar.
Om iets oor te hou sal almal moet besluit om terug te keer na waar ons begin het en saam weer te begin herbou.
Daar is nie een provinsie of area waar ons bevolking dig genoeg is vir die VN om ons selfbekikking te gee nie.

John ·

Dis waar wat ons geliefde troffelgrawer se, wysheid se waarde is ver bo die’ van korale en weelderige akademiese toekennings. Hierdie wysheid is volgens die Opsteller en Skenker van alle wysheid, gratis en verniet vir diegene wat daarom vra maar koop kan ons dit nie koop nie. Die toekoms le in die hande van Hom. Of wil ons Hom uitskryf met eie slimmighede? Is dit nie juis hoekom ons nou so beangst wonder, ‘wat nou nie’? Nie een van ons gaan reg raai nie, maar mens kan gelukkig nog bid en wegdraai van verkeerde wee en rustig verder vir aardse struffels bly snuffel en met vrede in die gemoed gaan slaap…

Oupa Realis Afrikaner Ystervark ·

Kom ons dink buite die kassie: Meng verskillende vloeibare chemikalië met verskillende kultuurskat samestellings. Wat kry jy? ‘n Westerse kultuurskat? ‘n Afrikaner kultuurskat? Nee! ‘n nie-Westerse kultuurskat? Nee! Wat dan anders?

Antwoord: Daar mag dalk ‘n nuwe kultuurskat uitkristalliseer wat verhewe is vér bokant Westerse of nie-Westerse kultuurskatte! Geen huidige kultuurskatte is perfek nie. Daar is altyd ruimte vir verbetering. Daarom moet ons nie slawe van onkunde, slagspreuke, indoktrinasie, volkskap, huidige kultuurskatte en tradisie wees nie. Ons moet ligdraers wees van ‘n voortdurend verbeterende waardestelsel soos ons glo ons Skepper verlang.

Vraag: Hoe gaan die mensdom se waardestelsel oor 100 jaar daar uitsien? Laat die kommentare inrol.

Stofskoen ·

As dinge aangaan soos dit aangaan sal daar beslis niks van my voorsate in hierdie kristalletjie wees oor ‘n honderd jaar nie.
Dit was wat almal, Weste en Afrika, nog altyd van my volk wou maak. En soms nog lede van my eie volk sal graag wil sien dat ons erfenis weg kwyn.
Maar my volk het nog altyd ‘n manier gekry om terug te veg.

Edward Shawe ·

Erfenisdag is begin in 1994 deur die ANC regering. Dit is volgens my siening antichristies. Ek erken geen antichirstiese vakansiedae nie.

Nugter ·

Die Westerse beskawing se tyd loop nie uit nie, die wêreld se tyd loop uit. Hierbo is kommentare wat voorspellings en “oplossings” bevat en wat ookal, maar almal vergeet egter van die Bybel. Neem gerus Openbaring 22:11 in oënskou: “Wie onreg doen, laat hom nog meer onreg doen; en wie vuil is, laat hom nog vuiler word; en laat die regverdige nog regverdiger word, en laat die heilige nog heiliger word.” Kyk om julle, hier in ons eie land maar ook wêreldwyd, Westerse lande word daagliks meer en meer sekulêr en ongelowig. Ons moet wederkomsgereed lewe want die tyd loop vinnig uit…

Kosie ·

Rusland is nie `n nie-Westerse land nie. Die Oeralgebergtes word deur sekere antropoloë beskou as die skeiding tussen Europa (Westers) en Asië (nie-Westers). Die Russe het Christendom reeds in 988 n.C. vanuit Konstantinopel aanvaar, en toe dié stad in 1453 onder die Turke val, het die Russe begin glo dat hulle (Moskou) die nuwe Rome is. Hulle is konserwatiewe Christene, en president Wladimir Poetin is openlik oor sy Christenskap. Vir die Russe is dit een van die redes waarom die liberale Weste tans so erg demoniserend van Rusland en Poetin is. In Rusland het die Westerse kultuur `n bondgenoot. (Selfs tydens die Sowjetunie is kerke soos die Sint Basilius katedraal gerestoureer, en in die Kremlin is daar die Granowitsaal uit die 15de eeu, met godsdienstige taferele.) Ons kan nie pleit vir die beskerming van iets as ons nie al die feite het nie.

Jaco Fourie ·

Flip

Net ‘n regstelling mbt jou “Westerse” punte, suiwer akademies genoem.

Behalwe vir die godsdienstige aspek, word al die ander genoemde waardes deur vele non-“Westerse” volke gedeel. Beginnend met die Franse rewolusie met sy aanvanklike ateistiese inslag, het genoemde waardes die wereld geleidelik uitgekring, welke waardes deur vele sogenaamde non-Westerse lande soos selfs Indie en Japan aanvaar en gehandhaaf word. Die ironie is dat Japan (verre ooste) as Westers beskou word, maar Europese blank Christelike Rusland nie!

Ek dink dit sou meer sin maak om jou opskrif as “Germaans” , eerder as “Westers” se waardes te bestempel

Flip ·

Dankie Jaco. Dele van die histories Westerse waardes is wel deur ander beskawings oorgeneem, maar die ‘pakket’ bly nog uniek. Japan het bv die demokrasie, kapitalisme en tegnologie, maar is beslis nie Westers nie. Indië het demokrasie, maar sukkel met die kapitalisme. China het gedeeltelike kapitalisme, maar nie demokrasie. Rusland het tegnologie, maar dit sukkel met demokrasie en kapitalisme.

Snyman van Huyssteen ·

Die kerk het sy greep verloor. Daar is ‘n boek onder redaksie van Diek van Wyk,Coenie Nolte en Leon Attebury gepubliseer “Hier Staan Ek..maar kan nie se wie ek is nie”. God is nie by sy “sell by date” verby nie maar ons kerke is. Ek veroordeel nie ons kerke nie maar besef dat daar ‘n ernstige herlewing moet kom. Ons grootste teoloe verbrokkel omdat die kerk nie gesorg het vir die mees basies spirituele evolusie nie, maar eerder bly vasklou het aan dreigemente en in hulle gemaksone verdrink het. Ons is die kerk en as volk moet ons nou saamstaan om die komende revolusie te trotseer. Ons moet beplan hoe ons die beste daarvan gaan uitkom. Wanneer ‘n volk se gesamentlike oogpunt dieselfde is, beweeg hy positief in dieselfde rigrting. Ons het hoeveel kerke, politieke partye en verdeeltheid op alle vlakke. Die gay kwessie het die kerk geskeur omdat niemand dit rerig verstaan nie. Ou testamentiese dreigemente in teenstelling met moderne kennis daaroor het geseevier in oñs sinode. Ons oordeel en veroordeel mekaar omdat ons onkundig is en versuip dan in die poel van eie geregtigheid. So word ons volk verdeel tot stof, en stof waai weg. Ons moet weer ‘n eenheid in God word. Liefde as grondbeginsel he en leer om te erken wanneer ons kennis nie voldoende is nie. Ons moet met liefde mekaar se kennis gebruik en mekaar dan aanvul om weer ons doel te bereik.

John ·

Oee… terug na die Woord, maar nie terug na alles in die Woord nie… So gepraat van Kerk. Waarom hoor ons niks oor die nuwe wending in die Katolieke Kerk veral sedert die vorige pous nie, wat aandui dat Christus nou gelyk staan aan ander gelowe se profete en hoofgode. Tans pryk ‘n Maya-slang in die Vatikaan as poging tot hande-vat met die ‘lieflike’ antieke gelowe. Wie ken die name Adolfo Nicolas en die huidige pous-generaal van die Jesuiete, Sosa Abascal van Venezuela? Sedert 1541 was daar ‘n rits sg swart pouse hoof van die militere vleuel van die Kerk. Ons vergeet dat die Katolieke vurige vervolgers van die reformiste was en is; ‘n dodelike mag om mee rekening te hou. Die huidige pous, ook ‘n aanhanger van marxisme en evolusie, predik die sg Nuwe Wereldorde-konsep, gelykmaking en die wegdoen van landsgrense selfs rasse. Trump is hul grootste vyand en almal wat in Christus as die enigste Weg tot die ewige lewe glo. Die stryd is groter as een kultuur of een outeur se swoeg voor sy rekenaar. Waar laat dit ons met ‘n prez wat Sondae politiek bedryf en Hindoe-lesings bywoon en ander groepe met ander gelowe plus die kommuniste se ateisme? Chaos is ‘n te mak woord vir die huidige wereldsituasie.

Eish ·

Lewensgehalte en lewenstandaard:
Hierdie laaste punt met betrekking tot die bewaring van ons Westerse erfenis, is een van die mees bedreigde aspekte. Die gemiddelde Afrikaansprekende het die laaste twintig jaar plus n geweldige verwering van sekuriteit ervaar. Nie alleen is werksgeleenthede op groot skaal vir die blankes ontneem nie, maar die gevolglike verarming en troostelose gebrek aan positiewe vooruitsigte het sy tol begin eis. Ek het tog n idee dat daar n stille meerderheid is wat bitter swaar kry en in n draaikolk van verslegtende omstandighede verstengel is. Ons het n nuwe armblanke vraagstuk op hande, maar hierdie keer, in die afwesigheid van politieke mag. Dit gaan dus afgesien van die beste bedoeling en hardwerkendheid, n totaal nuwe benadering tot die vraagstuk verg. Veilige blanke plakkerskampe en die georganiseerde aanwending van die bruikbare blanke arbeid gaan noodsaaklik word vir die oplossing van die kwessie. Hierdie is n tikkende tydbom wat nie in die kalklig verkeer nie vanweë ons inhirente neiging tot onttrekking wanneer armoede sy tentakels in ons lewens inslaan, en ons skaamheid daaroor. Diegene wat nie besoek ontvang het van die egodief nie, het ook maar n geneigdheid om ander pad te kyk. Die manier waarop ons gaan omgaan met ons boeties en sussies wat net nie die aanslag kon weerstaan nie, gaan myns insiens bepalend wees.

Marius ·

Ons moet waak om nie ons Westerse beskawing te aanbid nie. Protestantisme is nie ‘n Westerse uitvinding nie. Dis God se Woord wat lewe gebring het. Daar was ‘n tyd voor die goeie nuus ons voorvaders bereik het dat hulle ook soos barbare opgetree het. So onlangs soos 1939-45 het een vd beskaafdste lande ter wêreld totaal en al barbaars opgetree. In ons einste land is daar goeie voorbeelde van barbaarse gedrag onder sg westerlinge. Suiwer en korrekte interpretasie vd evangelie dwing jou op jou knieë en laat jou besef dis nie jou goedheid nie maar SYNE. Ons land het gelowiges van alke kulture wat dit so sien. Hulle stemme word egter uitgedoof deur sg. welvaartsgodsdiens en politieke bewegings wat aandring dat jy nou moet kry wat hou toekom. Hierdie vernietigende teologie het op ‘n baie slegte tyd uit Amerika oorgewaai na Afrika. Selfs ons sg meer Westerse kerke het ingekoop op dié teologie omdat dit menslike drange na materiële welvaart regverdig. Mense leef oor die algemeen nie meer die Evangelie wat sê dat jy soos Christus moet optree.
Waar gelowiges in die geskiedenis en nou ‘n opofferende naasteliefde het, groei die kerk en mense en gemeenskappe word gesond.

Disselboom ·

Dit is nodig om te besin oor die westerse beskawing, en veral wat hy met homself aangevang het tot die verswakte toestand waarin hy is. Op wêreldse vlak is dit bemoedigend om te sien wat sopas in Duitsland gebeur het, met die AfD wat van ‘n randverskynsel tot die derde grootste stemmetal in die algemene verkiesing; en dit met plakkate en slagspreuke wat vars en openlik dit gestel het dat Duitsland vir die Duitsers is en nie immigrante nodig het wat hulle eie eise kom stel nie. Foto’s van blanke Duitsers wat dit duidelik stel dat Duitsers westers wil en mag leef en nie immigrante nodig het om Duitsland te kom volwoon nie – “”Neue Deutsche?” Machen wir selber” sê die een plakkaat, met ‘n foto van ‘n laggende jong blanke (ja, ons mag dit weer sê) swanger vrou wat in ‘n grasveld. Dis vars en nuut. Tog kom iets kort: die ironie van hervormingsjaar, feestelikhede (ook in Duitsland) oor Luther en terugkeer tot fyner en regte geloofslewe en diens aan God, maar die verkiesing word op ‘n Sondag gehou sonder om God se reg vir die rusdag te erken, moet nie aan ons verbygaan nie.

Eish ·

Sondag is doodreg vir verkiesings. Genadiglik was dit nie op die Sabbat nie!

Johan Neuteman ·

Dis tyd dat die Afrikaner sy gereformeerde wortels – vanuit die hervorming – weer duidelik en ondubbelsinnig optel, en die Israelvisie asook Messianse Jode-aanhangers se dwalinge sterk en duidelik teenstaan.

Eish ·

Die waarheid het n manier om deur die oppervlak te breek wanneer jy dit die minste verwag.

rassie ·

Tydens die ontplooiing van die Afrikaner kultuur oor die tyd heen is in baie opsigte groot aanpassings aan die aanvanklike Westerse kultuurerfenis aangebring en selfs daarvan afgewyk.

So byvoorbeeld het Afrikaner Calvinisme ‘n gans ander weg gevolg as Westerse Calvinisme rakende die gelykheidsgedagte, standpunte oor rassevermeng as sonde, afsonderlike aanbidding ens. Dit het ‘n Afrikaner spesifieke Calvinisme geword, wat rondom 1994 weereens ‘n ander koers ingeslaan het. Die Weste het ons destyds erg gekritiseer oor ons spesifieke vertolking van Westerse waardes.

Westerse werksetiek was ook nie Calvinisties spesifiek nie. Dit was ‘n kultuurelement wat die Hervorming vooruitgegaan het, maar het wel in Calvinisme neerslag gevind het. In die Afrikaner kultuur, veral sedert die oplossing van die armblanke vraagstuk in die middel van die vorige eeu, het Afrikaner Calvinistiese werksetiek ‘n beroepspesifieke werksetiek geword met harde hande arbeid en bepaalde beroepe soos straatveërs, vullisverwyderaars, tuinwerkers, huishulpe ens nie juis binne die etiek nie. Dit is in skrille kontras met Europa.

Selfs ons braaitradisie, waaromheen ons selfs ‘n nasionale braaidag ontwikkel het is iets wat ons maar hier in Afrika ontwikkel het.

Moontlik het ons onsself oor die tyd heen baie verder van ons oorspronklike Westerse wortels verwyder as wat ons werklik vermoed.

Johannes Meintjes ·

Afrikaner samewerking t.o.v. deurdagte Afrikaner strategie vir volhoubare voortbestaan mag dus nie geminag word nie. Ons kan eenvoudig nie meer die houding van “ons werk nie met ander Afrikanerorganisasies saam” vanuit sekere Afrikaner instansies soos bv. AfriForum en Suidlanders handhaaf nie. Toegegee dat in die uitvoering van Afrikaner se behoudende Volksbestel, selfbestuur en selfbeskikking vir diegene wat dit volgens internasionale reg begeer, is daar liberale, gematigde en konserwatiewe of regse benaderings.

Henry ·

Ek het groot respek vir die skrywer van hierdie artikel se lewensbeskouinge en toewyding. Ook vir die waagmoed en volgehoue ywer van Afriforum en Solidariteit se leiers om ‘n minderheidsgroep – ons Afrikaanssprekendes – se belange, welsyn te beskerm en te bevorder. Kenmerke wat ook by talle van ons droewe land se voorgangers en leiers aanwesig was.

Ongelukkig is ek van mening dat die kenmerke van ons sogenaamde Westerse Erfenis soos dit hierbo beskryf word, nie so ‘n navolgingswaardige bate is, soos wat ons almal graag sou wou glo nie.

Waarom het ons, toe ons die geleentheid gehad het, nie alles moontlik in die stryd gewerp om anderskleurige landgenote op te lei, bekend te stel en deel van ons waardestelsel te maak nie?
Goethe se “moedertaal”; Westerse Kultuurskatte; Oppergesag van die reg; Korrekte gebruik van demokratiese politieke stelsels en parlementêre instellings; Westerse waardes en respek vir eiendomsreg; Vryheid se betekenis; ens ens ens

Het ons “geloof” in Apartheid en Afsonderlike Ontwikkeling wat kwalik as Westerse erfenisse beskou kan word, ons blind gehou vir dit wat ons dalk kon en moes gedoen het?

Ons kan sekerlik nie voorgee asof daar ‘n skeiding van magte en/of ‘n afwesigheid van wedersydse beïnvloeding tussen kerk en staat bestaan het nie!!!

Ons almal – die uwe inkluis – kan by nabetragting allerlei slimmighede kwytraak. Maar pasop dat ons verwaand wil raak. Wanneer versuime en vertroetelde dogma’s ons gesprekke wil oorheers.

:-)

Disselboom ·

@Henry, dis verstommend hoe die propaganda net opgeslurp word: duidelik weet jy nie wat in die vorige eeu gebeur het, hoeveel onderwys, mediese dienste, huisvesting, regte daar aan alle volke in die land gespandeer is nie. Net een voorbeeld wat by baie mense verbygaan: wie het die Lovedale College opgerig, en die Universiteit van Fort Hare waar ene Nelson Mandela skoolgegaan en gestudeer het? Dis maar net ‘n enkelvoorbeeld om ‘n baie groot saak te probeer verduidelik, teen die stormwinde van propaganda wat maak of die vorige eeu se regerings, en veral die Afrikanergedrewe-regerings, nie ontsaglik baie vir alle volke in die land gedoen het nie; met besondere insig en besonder skewe spandering, waar die verhouding tussen watter volk die meeste belasting betaal het, en aan watter volke die meeste gespandeer is, skeefgetrek was ten gunste van die anderskleuriges – maar dit was en is nie moontlik om met ‘n klein belastingbasis sulke massas alles persent te gee nie.

Breytie ·

Henry, ter verdediging van ons Arikaners vòòr 1994 wil ek jou net herinner dat daar onder ons ‘n baie sterk gevoel was téén mense wat simpatiek gestaan het teenoor anderskleuriges en niemand wou gebrandmerk word met die woord “k—–boetie” nie. Herinneringe aan die Vryheidsoorlog en die verstaanbare haat teen verraaiers in daardie oorlog, was nog vars in die geheue – al was dit deur grootouers ingebrand. Boonop het ons almal beleef hoe ‘n baie groot persentasie van ons belastinggeld net eenvoudig aan “hulle” oorbetaal is sonder dat enige sinvolle ontwikkeling daarmee bereik is. Dis maklik om nou terug te kyk en kwalik te neem, maar die provokasie was voelbaar en simpatiseerders was met minagting bejeen.

Henry ·

Breytie ek stem 100% met jou saam.

Ek weet ook watse pyne ons Afrikaners beide voor en na die ABO ervaar het, want ek het in ‘n familie en omgewing opgegroei wat al die terugslae asook die latere “beter lewe” in oorvloed ervaar het. Soos ‘n groot deel van ons Afrikaners dit ook beleef het…

Maar het ons vanaf die veertiger jare en spesifiek na 1948 werklik die regte pad gevolg? By name Apartheid, oftewel Afsonderlike Ontwikkeling (AO). Ek weet dat dit na al die terugslae van die verlede, heel maklik as die beter of veiliger uitweg aanvaar was. Ekself wat vanaf my tiener jare gedurende die vyftigers en laaaank daarna “ge-glo” het dat dit die enigste werkbare opsie vir ons geliefde RSA is. Ongelukkig is/was die oorgrote meerderheid mense van hierdie droewe land, nie deel van die Afrikanervolk nie. Mens wat ‘n heel verskillende lewensbeskouing, agtergrond, waardes ens het, as dit wat so deel van my Afrikaner-wees is. Het ons nie met ‘n foutiewe motief, metode vorendag gekom nie?

Ek wil nie nog ‘n opstel hier kom plak oor dit wat ek reeds gesê het nie. Hierdie is slegs ‘n poging om binne die beperkte ruimte ‘n groot en belangrike onderwerp te bespreek. Terloops, ek stem ook saam met Disselboom en is meer as deeglik bewus van al die wonderlike pogings wat ons voor 1994 aangewend het. Maar ek wonder steeds of ons die regte metodes, toewyding ens ens aangewend het.

Is maar hoe dit is

:-)

Eish ·

That, detective, is the right question !
Ons sal maar moet sien wat gaan oorbly nadat meerderheidspolitiek en die kook van die padda sy tol geëis het. Met die minderheidsregte wat nie verskans is nie, eerder individuele regte, is ons uitgelewer aan die massas se nukke en grille. Dit impliseer nie dat geen poging tot bewaring en beskerming aangewend word nie, maar slegs dat die werklikheid alle pogings gaan temper. Daar sal dus met omsigtigheid te werk gegaan word, synde dat ons die Kainmerk dra.

Herman Goosen ·

Niks op aarde hou vir altyd nie. Die verval van Westerse beskawing toon duidelik in Amerika waar die oorspronklike boustene van Westerse beskawing wat ‘n goeie ewewig was nou in onewe teenoor mekaar staan: Die vertroue in God, en die reg van gelykheid. Ons stel nou die mens eerste en God word net ‘n bysaak. Sodoende het ons besluit om almal die reg te gee om te doen wat hulle wil instede om almal die reg te gee om goeie waardes te mag en moet uitoefen. Sodoende het Westerse lande hul eie kultuur verloor en is spoedig besig om hul waardes en mag in die wereld ook te verloor.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.