Beweerde verkiesingsbedrog in VSA – nog is het einde niet …

(Foto: AP Photo/Andrew Harnik)

Ten spyte van verskeie neerlae in die howe, gaan die Trump-veldtog voort om hul bewerings van verkiesingsbedrog in die wetgewers van verskeie deelstate waar die uitslag betwis word, deur middel van voorleggings te staaf. In Pennsilvanië, Arizona, Nevada, Michigan en Georgia het reeds sulke voorleggings (hearings) van ooggetuies van die beweerde verkiesingsbedrog plaasgevind. Dit geskied onder die leiding van president Donald Trump se prokureur Rudy Giuliani.

Die getuies was almal op een of ander manier by die verkiesing betrokke (as waarnemers, stemtellers, stembeamptes, tegniese personeel van die telmasjiene, vragmotorbestuurders wat stembusse rondry, ensovoorts) en het eerstehandse getuienis gelewer van bedrog of ten minste verdagte gebeure en ongerymdhede rondom die verkiesing op 3 November. Die ongerymdhede, wat feitlik net oor die briefstemme gegaan het, het almal in groot stede wat deur die Demokratiese Party beheer word en in die verskeie swaaistate (swing states) geleë is, plaasgevind. Boonop het die stede, soos Detroit, Philadelphia, Minneapolis, Pittsburgh en Atlanta, dikwels ’n geskiedenis van korrupsie en plaaslike verkiesingsbedrog.

Pres. Donald Trump. Foto: REUTERS/Carlos Barria

Almal van die getuies het beëdigde verklarings gemaak en gevalle van verkiesingsbedrog of ongerymdhede uitgewys: Waarnemers van die Republikeine is gekeer om die telproses te kon sien en is selfs die stemlokale verbied of uitgejaag; briefstemme se datums is by die poskantoor teruggedateer om hulle nog binne die afsnypunt te kry; stembriewe vir Biden is verskeie kere in die telmasjien ingelees; daar is met stembusse gepeuter of hulle is nie behoorlik geseël nie; kiesers is deur stembeamptes voorgesê om vir Biden te stem en het ook andersins partydig opgetree; bedorwe stembriewe is nog steeds getel; handtekeninge is nie nagegaan nie en geen identifikasiedokumente van kiesers is gevra nie; talle kiesers het meer as een keer gestem, persoonlik én per brief; mense wat oorlede is of reeds na ander state verhuis het, het gestem; stembriewe wat kamstig per pos ontvang is, was duidelik menigvuldig gefotostateer; met die telmasjiene is verskeie kere gepeuter om die uitslag te verander. Daar het selfs ’n video opgedaag wat wys hoe telbeamptes, nadat die waarnemers en die media gevra is om die stemlokaal te verlaat weens ’n onderbreking van die telproses, in die geheim bokse met twyfelagtige oorsprong onder ’n tafel uitgehaal en getel het, blykbaar genoeg om vir Biden in die swaaistaat Georgia net-net die oorwinning te gee.

Joe Biden (Photo by JIM WATSON / AFP)

Omdat in verreweg die meeste van die sogenaamde swaaistate Biden met net ’n baie klein voorsprong van ’n persentasiepunt of selfs minder gewen het, is daar vraagtekens. Daar is ook ander statistiese merkwaardighede: in die omstrede demokratiese vestings was die stempersentasie besonder hoog, soms selfs 100% en hoër. Verder het Trump feitlik orals in die omstrede state voorgeloop tydens die telproses en skielik op feitlik dieselfde tyd het Biden in die genoemde stede ’n magdom stemme bygekry. In elke verkiesing gebeur foute, maar dan beïnvloed dit beide kante en vind nie net in ’n handjievol demokraties beheerde stede in die allerbelangrike swaaistate plaas nie, en feitlik orals onder dieselfde verdagte omstandighede.

Dit is opvallend dat bitter min nuusbronne die skokkende bewerings wat in die verhore van Rudy Giuliani deur die getuies gemaak is, gedek het. In die VSA is dit eintlik net Breitbart en in ’n mate Fox News wat dit dek, oorsee vind dit in geen hoofstroommedia enige dekking nie – net Trump se neerlae in die howe word genoem en al die bewerings van vervalsing as versinsel van ’n slegte verloorder afgemaak. Talle howe het inderdaad al van die sake uitgegooi, maar dit het meestal oor tegniese punte gegaan, soos oor watter hof verantwoordelik is. Dit is ook nie suiwer ’n regsaak nie – daar word met die verhore ook gepoog om die wetgewers van die deelstate so ver te kry om die verkiesing in hul staat ongeldig te verklaar of ten minste alle bedorwe stembriewe uit te gooi. Dis nog nie duidelik wat die uiteinde is nie, maar heel moontlik gaan die saak in die hooggeregshof (Supreme Court) draai.

Foto: REUTERS/Rebecca Cook

Hoe is dit denkbaar dat in die staat met die oudste en mees stabile demokratiese tradisie in die wêreld verkiesingsbedrog op groot skaal sou kon plaasvind en dit nie nuuswaardig is nie? Die antwoord lê daarin dat die vyande van Trump, wat volop is in die elite en in die media, hom as so ’n groot bedreiging vir hul progressiewe agenda sien, dat letterlik enige middel reg is om hom te keer. In talle lande, byvoorbeeld Duitsland, word hy in geen onduidelike terme deur histeriese meningsvormers as ’n soort tweede Hitler gesien. Die doel om hierdie “gésel van die planeet” te keer, heilig dus alle middele, uit dié oogpunt gesien. Die media in die Weste het reeds lankal hul eertydse ideaal van gebalanseerdheid en neutraliteit opgegee en beskou nou die regte (linkse) houding en aktivisme as die hoogste vorm van goeie joernalisme.

Nog ’n rede mag wees dat agter die skerms, moontlik selfs in die howe, saamgestem word dat ’n oorwinning vir Trump tot grootskaalse onluste sal lei en dit dus beter vir almal se veiligheid is om Biden eerder te laat wen en beide oë teenoor verkiesingsbedrog toe te druk. Reeds in die nag ná stemdag, toe dit gelyk het asof Trump gaan wen, het hordes aggressiewe Black Lives Matter-aktiviste in Washington saamgedrom, gereed om onlus te stook. Trump se ondersteuners sal op hul tande kners as hulle verloor, maar nie die land aan die brand steek en amok maak nie. Indien daardie soort Derde Wêreld-politiek, waar die mees aggressiewe en mees gewetenlose party wen, ook reeds die VSA besmet het, is daar egter geen hoop meer vir die Weste nie.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Sebastiaan Biehl

Sebastiaan Biehl werk tans as ʼn analis in Berlyn, Duitsland. Hy is ook ʼn skrywer van romans en reisbeskrywings in sy vrye tyd en was op ʼn tyd (2001-2005) ook vir Solidariteit se media-afdeling werksaam. Sy kwalifikasies is BA algemeen, BA Hons (Politieke Wetenskap) en MA Politieke Wetenskap by Bloemfontein en RAU, onderskeidelik. Sebastiaan se gebiede van belangstelling is veral politiek, geskiedenis en reis.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

annie ·

Jou laaste opmerking is die tragiese waarheid en die feit dat Trump mettertyd tot ‘n boef en bedreiging vir wèreldvrede, nogal, uitgemaak en uitgewerk is, moet ons tot diepe hartseer stem. Ons betree ‘n nuwe paradigma waarin die grootste rasse-groeperinge hul mag gaan demonstreer. Afrika wil koning speel en hy soek onderdane. Hy het reeds baie dom en bang wit Westerse slawe. Elders gaan Afrika sy peetjie teèkom. Sjina buig bv nie die knie voordat iemand nie voor hom lè nie… en vir die res…

pokkel ·

Hoe het ‘n man met oranje spraytan ooit president geword in eerste plek?

Therese ·

Dankie tog vir enkele stemme soos Sebastiaan Biehl in ‘n werklik verstommende sage.
As honderde beëdigde verklarings nie die howe kan oortuig om talryke skokkende bewerings ten minste te ondersóék nie, wat op aarde sal dan die “show us the evidence”-mense tevrede stel ?!

Die spottende minagtende toon teenoor Trump, wat uit die staanspoor deur die media en wêreldleiers soos Angela Merkel aangeslaan is, het almal blind en doof vir sy prestasies en haatdraend gemaak.
Let op: géén erkenning of dank vir die rekordspoed van die Covid-19-entstof danksy druk deur Trump, terwyl hy bespotlik gemaak is oor sy belofte van ‘vóór Kersfees is daar hoop’.

Trump-haters, soos “pokkel” hierbo, se kommentaar is die gebruiklike persoonlike beledigings,
Hy is ‘n “ploert” en klaar.

Human ·

Die gesegde bo blink en onder stink is nogal van pas by die Don, want by hom is dit buite blink en binne stink.

Filistyn ·

En jou inligting kry jy waar? Is jy deel van sy binnekring ?

Human ·

Binnekring! Watter binnekring hy het almal afgedank of hulle het self bedank, nou is dit sy beurt.

Dirk Mostert ·

Dankie aan die skrywer vir ‘n onpartydige bydrae. Hierdie ongerymdhede is wyd bekend. Tog hou Leopoldt Scholz aan om dit te ontken en in verskeie artikels in Die Burger prontuit Trump as ‘n leuenaar uit te maak. Ek dink L.S. dis net eenogige opinies in die hoofstroommedia op aan ons publiek.

Vrijburger ·

Goeie punt – Leopoldt Scholz se artikels is bloot ‘n sameflansing van ander se opinies wat met syne ooreenstem.
‘n Klasieke voorbeeld is die artikel onder die opskrif “Watse bloeiende beskawing voor 1652”, waar LS ‘n boek be-oordeel en veroordeel wat hy nie eers gelees het nie maar dit doen op grond van ander wat dit wel gedoen het se menings.

Kosie ·

Ek sien die een kommentator sê dat sy pa vir Biden gestem het; dit is nou 3 jaar na sy pa se dood. Die dood verander seker maar mense se politiese siening.

Stof ·

Die leuen is ‘n tropdier. Om dit in stand te hou, is gevolglike logaritmiese leuens onafwendbaar. Hulle wat hierdie verkiesingsbedrog pleeg, sal mooi van hulle vorige leuens en bedrig moet rekord hou, anders gaan hulle hulself verklik, selfs deur net een opvolgleuen wat nie konsekwent gelieg is nie.
Kern van die saak: Enige bedrog of leuen word uiteindelik ontmasker. En dan is daar vele hete kole op die hoofde van die sprekers en die daders.
Mag dit ook ons elkeen se ideaal wees om eerlik te handel en die waarheid te respekteer in elke saak, van die eerste woord af.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.