Beweging lankal betrokke by erfenisbewaring

Flip Buys. Foto: Reint Dykema

Flip Buys. Foto: Reint Dykema

Die Solidariteit Beweging is sedert sy ontstaan in 2002 aktief betrokke by erfenisbewaring. Ons beleid is dat elke geslag verantwoordelik is om as die trustees van ons erfenis op te tree, sodat dat dit goed bewaar aan die nageslag oorgedra kan word. Die betrokkenheid van ons beweging by Erfenisbewaring kan kortliks as volg opgesom word:

  1. Erfenisstigting

Solidariteit het saam met ander Afrikaner organisasies saamgespan en in 2002 die Erfenisstigting begin. Dit het gespruit uit die toenemende verwaarlosing van monumente en standbeelde deur die staat. Die stigting se strategie was tweeledig: die staat moes vermaan word om hul verantwoordelikheid na te kom vir die monumente wat staatseiendom is en die Afrikaner gemeenskap moes bewus gemaak word daarvan dat ons self ʼn groeiende verantwoordelikheid vir erfenisbewaring het

ʼn Hoogtepunt was die oprigting van die Afrikaner Erfenissentrum net langs die Voortrekkermonument, wat die bydrae van die Afrikaner oor die afgelope eeu op ʼn moderne en aanskoulike manier uitbeeld.

Die Erfenisstigting kry geen staatsubsidie nie en is afhanklik van fondsinsameling, bydraes van lede-organisasies, ʼn subsidie van die Voortrekkermonument en betaling vir bewaringsdienste wat gelewer word.

Die Voortrekkermonument se grootste inkomste is hekgelde van veral buitelandse besoekers, wat gebruik word om duur historiese terreine soos Bloedrivier in stand te hou. Die Erfenisstigting en die Voortrekkermnument is aanvanklik deur oudgeneraal Gert Opperman bestuur, wat saam met sy personeel baie goeie pionierswerk gedoen het. Hy is intussen opgevolg deur Sonja Lombard, wat die Monument nou al bykans vier jaar met groot sukses bestuur.

Die Solidariteit Beweging steun die Erfenisstigting sedert sy ontstaan aktief en kundiges van die beweging lewer al vir dertien jaar sonder vergoeding diens as direkteure van die stigting. Oor die jare het die stigting ʼn groot bydrae gemaak tot die bewaring, uitstalling en instandhouding van bedreigde Afrikanermonumente, museums en ander erfenisse landswyd, waarby die beweging betrokke was.  Fondse bly egter ʼn knellende probleem vir die stigting.

  1. Geldelike bydraes

Die Solidariteit Beweging dra al die jare by tot die kostes van die Erfenisstigting en het ook gehelp om bykomende fondse in te samel vir noodsaaklike projekte. Die beweging het die afgelope week byvoorbeeld R100 000 aan die stigting geskenk vir die herstel en beskerming van die standbeelde wat beskadig is. Daarbenewens help ons ook om plaaslike bewaringsorganisasies geldelik te ondersteun.

Solidariteit het in die verlede ʼn ruim bydrae gemaak vir die oprigting van die Gedenkmuur langs die Voortrekkermonument vir soldate wat op die grens gesterf het. Die Beweging hou ook gereeld vergaderings en funksies by die Voortrekkermonument se geriewe, wat ook ʼn inkomste vir die monument beteken.

AfriForum se jaarlikse musiekfees is ʼn voorbeeld hiervan, terwyl die jaarlikse Erfenisfees op 24 September ook geborg word. Die beweging het ook geldelik tot die herstel van die Vrouemonument in Bloemfontein bygedra en die FAK het die eeufees daar gereël.

  1. Bewaringsprojekte

AfriForum se jarelange suksesvolle veldtog om Pretoria se naam te behou deur middel van optogte, hofsake, openbare druk en onderhandeling bly ʼn groot hoogtepunt in ons erfenisbewaringsplanne.

Talle landwye bewaringsaksies word ook deur AfriForum ondersteun of self deur ons takke uitgevoer. Hieronder tel AfriForum se finansiële bystand om die Heilbron Konsentrasiekamp en die Vegkop Monumentkompleks in stand te hou, hulp met die skoonmaak van erfenisterreine soos begraafplas, en hulp met die oprigting van museums soos op Stella.

Die beweging het op versoek ook al gehelp om ʼn monument oor buitelandse vrywilligers van die Anglo-Boereoorlog na Orania te verskuif.

  1. Regshulp

Dit is gereeld nodig om die owerhede te dwing om monumente en erfenisterreine wat onder staatsbeheer is, behoorlik te versorg. Daarom het AfriForum al talle kere hofaksies geloods, soos ná die beskadiging van die Groot Trek Monument op Standerton en die verwaarlosing en verval van konsentrasiekampe soos op Winburg en Mafikeng.

Die beweging nader ook tans die hof om die EFF-leierskap te verbied om hul lede op te sweep om die wet te verbreek deur monumente te beskadig. Hofaksies is nie altyd die finale oplossing nie, maar dis ʼn belangrike onderdeel van ons groter bewaringstrategie.

  1. Groot Trek 175 herdenking

Ons Beweging het in 2013 ʼn omvattende Groot Trek 175 herdenkingsjaar saam met ander Afrikaner organisasies gehou. Die FAK, ʼn selfstandige instelling binne die Solidariteit Beweging, het die feesjaar gekoördineer en die beweging se organisasies het daaraan deelgeneem en ander organisasies se projekte ondersteun.

Die FAK het ʼn televisiereeks laat maak wat die Groot Trek op ʼn moderne manier met viertrek-voertuie herdenk het om veral ook jongmense se belangstelling te prikkel. Die reeks is in vier episodes op kykNet uitgesaai. Die FAK het self meer as ʼn halfmiljoen hiervoor ingesamel, asook borgskappe ter waarde van ʼn paar honderd duisend rand om die projek moontlik te maak. Maroelamedia het ʼn “Facebook-Trek” gehad wat deur Dr Jackie Grobler, bekende historikus, hanteer is.

  1. Geskiedenis museum op Internet

Die FAK het ʼn Internetmuseum begin, wat veral op skoolkinders gerig is. Hierdie museum is deel van die FAK se webblad en bevat waardevolle argiefmateriaal wat nog nooit tevore bekendgestel is nie.

Belangrike “Stigtingsdokumente” van die Afrikaner is hier gratis beskikbaar, asook talle foto’s en ander inligting. Die Internetmuseum maak die geskiedenis toeganklik vir almal, ongeag waar hulle woon. Ons kry selfs baie e-besoekers uit die buiteland, omdat dit vir ons belangrik is om kontak met Afrikaners wat in ander lande woon, te behou.

Maroela Media het bekendheid verwerf vir Internet projekte deur die name van almal wat in Konsentrasiekampe was op ʼn elektroniese argief bekend te stel, asook die name van almal wat ʼn eeu gelede aan die Rebellie deelgeneem het.

  1. Geskiedenisnavorsing en publikasies

Dit is belangrik om ons geskiedenis in ere te herstel, omdat die regering en ekstreme groepe ons verlede kriminaliseer om hull eie politieke doelwitte te pas. Daarom doen verskeie organisasies van die beweging deeglike historiese navorsing en publiseer dit in keurige boeke wat aan die publiek bekend gestel word. Kraal Uitgewers is deur Solidariteit en AfriForum juis vir hierdie doel begin, en het oor die afgelope drie jaar gehalteboeke van miljoene rande publiseer. Voorbeelde hiervan is:

  • Die Smarte van die Oorlog oor die konsentrasiekampe;
  • Die Bittereinde Vrede;
  • Bannelinge in die Vreemde oor krygsgevangenes wat oorsee gestuur is;
  • ʼn Glansboek oor die lewe van Generaal Koos Delarey;
  • Ons maak ʼn Taal – ʼn biografie van die Afrikaanse taal;
  • Ons was daar oor die Grensoorlog;
  • Die Afrikaner Rebellie.

Die FAK het oor die afgelope twee jaar byvoorbeeld die volgende geskiedenisboeke publiseer:

  • ʼn Geskiedenisdagboek deur die bekende skrywer, Prof Jaap Steyn;
  • Op die Spore van Retief;
  • ʼn Herdenkingsboek oor die tagtigste herdenking van die Bybel in Afrikaans;
  • Boeke oor die geskiedenis van Afrikaans.
  1. Historiese bewustheid en kennis

Dit is noodsaaklik dat ons mense op ʼn hedendaagse manier van ons geskiedenis bewus gemaak word, en die beweging het al talle inligtingsprojekte met groot sukses aangepak. Die bekendste hiervan is ons borgskap en betrokkenheid by die twee musiekblyspele van Deon Opperman wat in die Staatsteater opgevoer is, naamlik “Ons vir jou” oor Delarey en “Tree aan” oor Diensplig en die Bosoorlog. Dit is deur duisende mense gesien.

Ander projekte is historiese radiodramas wat deur Maroela Media se “Draadloos” vervaardig en kosteloos aan sowat 30 gemeenskapradiostasies versprei is. Duisende mense kon byvoorbeeld op 14 September verlede jaar luister na ʼn radiodrama deur Bettie Kemp oor die dood van Generaal Delarey in die Rebellie. Daarbenewens was die beweging ook betrokke by verskeie televisiereekse oor die geskiedenis.

  1. Afrikaans

Die Solidariteit Beweging is op groot skaal betrokke by die bevordering van Afrikaans. Sowat R40 miljoen is byvoorbeeld bestee aan die oprigting van die enigste Afrikaanse tegniese kollege in die land, Sol-Tech. Die afgelope drie jaar het die beweging ʼn verdere R40 miljoen bewillig vir die oprigting van Akademia, met die doel om dit tot ʼn volwaardige Afrikaanse universiteit uit te bou.

Die Helpende Hand se Skole Ondersteuningsentrum (SOS) bestee jaarliks meer as R10 miljoen aan projekte om Afrikaanse skoolkinders te help, met projekte was wissel van noodvoeding en skryfbehoeftes tot hulp met die vergoeding van hulponderwysers in behoeftige skole.

Daarbenewens het die Helpende Hand vanjaar R26 miljoen rand se rentevrye lenings aan sowat 1500 Afrikaanse jongmense verskaf. Afrikaans word ook deur Maroela Media bevorder, wat die tweede grootste Afrikaanse nuusdiens in die land is. Talle ander projekte om Afrikaans te bevorder word deurlopend bedryf.

  1. Geskiedenis en Erfenisbewaring

ʼn Volk sonder geskiedenis is soos ʼn mens met geheueverlies. Hy weet nie waarvandaan hy kom en waarheen hy oppad is nie. Sonder ʼn verlede is mense ook sonder ʼn toekoms. Winston Churchill het gesê hoe verder mens die toekoms wil inkyk, hoe verder moet jy in die verlede inkyk.

Daarom volg ons President Paul Kruger se resep: Neem die mooi dinge uit die verlede en bou die toekoms daarmee. Dis hoekom ons nie kan en sal toelaat dat die ANC en EFF ons geskiedenis kriminaliseer en hul weergawe van die verlede die amptelike weergawe vir almal laat word nie. Dan sal ons hulle toelaat om die verlede te gebruik om ons toekoms te vernietig. Want dis eintlik nie politici wat die toekoms regeer nie, maar geskiedkundiges!

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Flip Buys

Flip Buys is voorsitter van die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Peet Schabort ·

Flip, wanneer mens die berig lees is daar net dank oor wat sover bereik is. Daar is egter nog baie om te doen soos ons almal weet. Daarmee , weet ons, sal ook met hulp van Bo sukses bereik word.
Wat my egter hinder is dat die regering so vasklou aan ons erfenisskatte wat hulle eiendom is.
Sou dit wees om leedvermakerig te wees wat ek al begin dink dat dit wel so is? Hierdeur wil hulle beheer uitoefen sodat alles onder hul toesig kan verwaarloos en tot niet gaan.
Waarom raak hulle nie daarvan ontslae of gee die Erfenisstigting ‘n kans om die nodige herstelwerk en instandhouding te doen. Natuurlik met die nodige voorwaardes.
Ek wil as voorbeeld gebruik die toestand waarin die Voortrekkermonument te Winburg verkeer. Stuur mens ‘n e-pos aan onse vriend advokaat T.H. Malakoane, dept.hoof by die Vrystaatse Dept. van Sport, Kuns, Kultuur en Ontspanning dan kry jy nie eers ‘n ontvangserkenning van jou skrywe. Jy word net eenvoudig doodgeswyg.
Dat hierdie mense nie die suksesvolle vatbaarheid van toerisme kan insien betreffende die Winburg VTM is moeilik om te begryp. Dit is seer sekerlik ook met gevestigde bome alreeds ‘n plek waar menige woonwa-eienaars sal oornag en selfs ‘n paar dae oorbly. Dit is ‘n skamele 2,3km vanaf die N1 en dan ook al die pad ‘n teerpad!
Dan ook sou ek graag ‘n Afrikanermuseum wou sien wat NIE in privaathande is.
Ek sit self met ‘n hele klompie kosbaarhede wat ek lugtig is om goedsmoeds van afstand te doen. Ek mag dalk ook die enigste persoon wees met die “Lint voor Wonden”-sertifikaat in privaat besit.
Sterkte vorentoe met julle vrugbare werk.

Ampie ·

Solidariteit en al sy vertakkings moet geloof word vir die goeie werk wat op kulturele en ander gebiede gedoen word. Daar is ‘n duidelike strategie wat uitstekend uitgevoer word. Weet asb dat sulke bydraes waardeer word. Soos die beweging en vetakkings groei glo ek dat nog baie bereik sal word.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.