Bibi-saak plaas kollig op ekstremisme in Pakistan

Pakistan se vlag. Argrieffoto.

Honderde aktiviste is die afgelope naweek oor die hele Pakistan heen in hegtenis geneem – in die soveelste reeks gewelddadige betogings deur Moslem-ekstremiste in dié land sedert ’n omstrede, onlangse uitspraak in die hooggeregshof van Pakistan. Die saak van die jong Christen-vrou, Asia Bibi, wat in 2010 in Pakistan aan haatspraak skuldig bevind is, was altyd omstrede, maar die reg het geseëvier toe die hof gedurende Oktober vanjaar beslis het dat Bibi onskuldig is.

Bibi is in 2010 daarvan aangekla dat sy die Profeet Mohammed beledig het. Bibi is in 2010 skuldig bevind en die doodstraf opgelê. Dit het hewige reaksie uit veral Westerse lande veroorsaak en ’n uitgerekte appèlproses het gevolg. Ná die hooggeregshof se onlangse uitspraak moes Bibi se regsverteenwoordiger na Nederland vlug terwyl Bibi en haar familie verbied is om die land te verlaat.

Die betogings is grootliks georkestreer deur die groep, Tehreek-e-Labbaik Pakistan, ’n uiters konserwatiewe Moslem-beweging wat sterk gekant is teen enige regte vir Christene in Pakistan. Die groep se politieke vleuel het in die verkiesing wat in Julie plaasgevind het, daarin geslaag om twee miljoen stemme te kry. Aanvalle op Christene in Pakistan vind gereeld plaas en dié land se Christenbevolking van 2,5 miljoen mense leef veral die afgelope paar jaar in vrees.

Die onlangs verkose eerste minister van Pakistan, Imran Khan, het aanvanklik ná die uitspraak van die hooggeregshof die uitspraak verdedig en ekstremistiese optrede veroordeel. Kort daarna het sy regering egter onder druk geswig en ’n ooreenkoms met die betogers bereik waarvolgens Bibi weer vervolg sou kon word en waarvolgens sy nie die land kon verlaat nie.

Intussen het die betogings teen Bibi se vryskelding voortgeduur en leef haar familie in vrees vir aanvalle. Die Khan-regering het die afgelope tyd baie internasionale druk ervaar en dit lyk toenemend moontlik dat Bibi na Europa sal kan vlug. Duitsland het reeds asiel aan haar gebied.

Die vraag is of hierdie en ander soortgelyke insidente tekenend van ’n verdere radikalisering in Moslem-lande, veral in die Midde-Ooste is. Sedert die terreuraanval van 11 September 2001 en die talle ander terreuraanvalle in Westerse lande sedertdien, is die vraag van Moslem-ekstremisme voortdurend aktueel.

Peilings deur die Pew-navorsingsinstituut in Amerika en die bekende navorsingsagentskap, Gallup, toon dat ’n groot meerderheid van Moslems, ook in Pakistan, geweld verwerp. Die probleem is egter dat ’n meerderheid nie almal is nie. Indien ’n minderheid van 20% mense in ’n land soos Pakistan wel geweld teen ander groepe ondersteun, beteken dit dat een uit elke vyf burgers van daardie land vatbaar vir radikalisering is.

Christene en Jode woon reeds vir eeue in talle Midde-Oosterse lande. Hierdie mense se lewens word toenemend bedreig en groot getalle Christene het oor die afgelope paar jaar uit lande soos Pakistan, Irak en Sirië gevlug.

Die Weste het ’n rol om te speel om lande soos Pakistan te ondersteun in die stryd teen radikalisering. Dit moet egter vanuit ’n fokus op vertroue en respek ontwikkel en nie intervensionistiese stappe soos oorlog plaasvind nie.

Dit is in die belang van die hele wêreld, dat ekstremisme in Moslem-lande doeltreffend teengewerk word.

  • Hierdie nuuskommentaar word deur Pretoria FM verskaf. Luister daagliks na Klankkoerant op Pretoria FM vir die jongste nuuskommentaar.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Jaco Kleynhans

Meer oor die skrywer: Jaco Kleynhans

Jaco Kleynhans is Uitvoerende Hoof van die Orania Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

2 Kommentare

Merkur ·

Ek het iewers gelees dat Asia Bibi by ´n put water deur ´n groep moslem vrouens verwyt is dat sy die water met haar Christen hande onteer het. Daarop het sy geantwoord (ongeveer): ten minste het Christus vir die mense aan die kruis gesterf. Wat het Mohamed vir die mense gedoen? Vir hierdie woorde is sy aangekla.

As ek reg verstaan het die AfD reeds lank versoeke aan die Merkel-regering gerig om asiel vir Asia Bibi aan te bied voordat dit uiteindelik gebeur het. Engeland het asiel vir haar glo afgekeur.

https://www.huffingtonpost.co.uk/entry/britain-not-prepared-to-offer-asylum-to-persecuted-pakistani-christian_uk_5be3342be4b0dbe871a61b95

Rupert Ashford ·

Hierdie hele tragiese sage vertel vir ons baie meer, Jaco.
1.) Die feit dat daardie “klein minderheid” van 20% waarna jy verwys nie deur die 80% veroordeel word nie, vertel vir mens baie. Stilbly = goedkeuring. Alhoewel die meerderheid nie geweld voorstaan nie, sal hulle nie die geweldenaars veroordeel nie, want uiteindelik word die geweldenaars nog steeds as hulle “broers” gesien. En hulle sal in meeste gevalle ook eerder anderpad kyk eerder as om sulke mense aan die owerhede te rapporteer as terrorisme dade beplan word. Mens kan ook seker tot ‘n mate begrip he daarvoor want elke mens sal ook tot net voor die dood nog glo jou kind/vriend/familie is onskuldig.
2.) Die feit dat lande soos die VK nie kans sien om asiel aan Bibi aan te bied nie uit vrees vir die “klein minderheid” wat in hulle eie land in opstand sal kom daarteen, vertel van die ruggraatloosheid van Westerse regerings.
3.) Verder (op punt #2) is daar ‘n baie sterk humanistiese, antichristelike gees aan die werk in die Weste. Hierdie mense groepeer die Christendom saam met die bose “white, male, patriarchy” waarteen dit sulke sterk mode is om teen in opstand te kom deesdae, so hulle sal Bibi met liefde op die altaar van politieke korrektheid offer eerder as om te veg vir haar saak.
Dit is voorwaar hartseer tye waarin ons leef.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.