Bid en werk

flip-buys

Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging. Foto: Reint Dykema.

Dit voel soms of ons oorweldig word deur ʼn stortvloed slegte nuus. Die daaglikse dosis berigte oor staatskaping, staatsverval, rommelstatus, werkloosheid en geweldsmisdaad is genoeg om ʼn mens te laat wanhoop oor die toekoms. Dit ís so dat die probleme enorm is en dat oplossings baie uitdagend is. Ons land beleef nie net ʼn leierskapskrisis nie en die probleem lê selfs dieper as ʼn regeringskrisis. Daar is ʼn onderliggende bedelingsprobleem omdat die volhoubaarheid van die land en sy instellings self op die spel is.

Daar is egter ook positiewe tekens. Die omstrede Eskom-hoof is na ʼn lang sage darem ontslaan en die SAUK se Hlaudi Motsoeneng is uiteindelik uitgeskop. Polisiehoofde wat van onbevoegdheid en korrupsie verdink word, is uitgeskuif. Die media rig daagliks hul grofgeskut op die Zuptafikasie van die staat. Die howe staan sterk teen korrupsie, al voel ʼn mens met reg teleurgesteld oor hul uitsprake oor taal en gelykheid in die werkplek. Die kommunistiese vakbonde het baie van hul slaankrag verloor en graderingsagentskappe het die land nog nie verder afgegradeer nie.

Dit wil al meer lyk of pres. Jacob Zuma en die ANC in ʼn eindspel gewikkel is. Elke dag wat Zuma langer in die Uniegebou sit, verswak die ANC se kanse in die volgende verkiesing. Dit is duidelik dat daar oor ʼn wye front al sterker teen die Zuma-kliek standpunt ingeneem word. Boonop is die buiteland ook besig om vinnig uit die politieke betowering waarin hulle sedert die Mandela-tyd verkeer het, wakker te skrik.

As die geskiedenis egter een ding bewys het, is dit dat die toekoms nie vas en voorspelbaar is nie. Wêreldmoondhede kom en gaan en so ook korrupte en onbevoegde leiers en regerings. Lande wat onlangs nog veilig en bestendig gelyk het, raak feitlik oornag broeiplekke van terrorisme. Regerings wat gedink het hulle gaan vir altyd regeer, kry gereeld ander groepe nodig. Minderhede wat vir dekades uitgelewer was, bepaal die magsbalans as dinge skielik verander. Regerende partye wat gedink het hulle kan doen wat hulle wil, moet soms onverwags vir minderhede se belange voorsiening maak.

Die belangrikste is dat Afrikaners nie net moet sit en wag dat dinge self verbeter nie, maar dat hulle moet doen wat hulle kan, waar hulle is en met dít wat hulle het. As jy nie jou eie toekoms gaan beheer nie, gaan iemand anders dit doen. Ons is wel polities magloos, maar dit beteken nie ons is magteloos nie. Niemand kan keer dat die see onstuimig word nie, maar almal kan sorg dat hulle sterker skepe bou om die storms te weerstaan. Sterk gemeenskapsorganisasies kry dikwels meer uitgerig as swak staatsdienste.

Daarom bly die tydlose wysheid wat ons deur die hele Bybel kry vandag nog net so waar. Dit is om te bid in die wete dat alles van God afhang, en dan te werk asof alles van jouself afhang.

  • Hierdie nuuskommentaar word deur Pretoria FM verskaf. Luister daagliks na Klankkoerant op Pretoria FM vir die jongste nuuskommentaar.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Flip Buys

Flip Buys is voorsitter van die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Johan Neuteman ·

Ek stem saam dat ons moet bid en werk. Dis egter tragies dat ons gesprek in Afrikaans oor gebed nie meer vanselfsprekend en eendragtig gaan oor bid en werk volgens die Bybel en die enige ware God nie, en dat selfs die gewese PUK wat nou die NWU is, se kampusrektor saam met ‘n Moslem bid in die openbaar.

Ou Voorspoed Skeepsbouer Aardvark ·

‘n Ongebreidelde bevolkingsaanwas teenoor beperkte hulpbronne en gevolglike magstryde lei tot sosiale onrus. Dit is ‘n wêreldwye natuurverskynsel. Maar die onrus en meegaande onsekerhede het ook sy voordele: die wegdoen van tradisionele heilige koeie en uitgediende stelsels, feodale stelsels en koningkryke en gebruike, die fokus op wat is nou eintlik belangrik in hierdie kortstondigheid van die menslike lewe, die bevraging van leierskap, waardestelsels, gesinslewe, betrokkenheid by burgerlike strukture, herwaardering en uitbou van eie kultuurskatte en nadenke oor hoe om in ‘n toenemende kulturele samelewing in vrede saam te leef tot voordeel van die nageslagte.

Onsekere omstandighede skep ook nuwe uitdagings en geleenthede. Gryp die dag aan! Leer uit die verlede. Raak betrokke ter bevordering van reg en geregtigheid.

Zachrys ·

Dankie Oom Flip, hierdie komentaar is 3 maande se slegte nuus werd!

Elizabeth ·

MnrBuys, innige dank vir die skrywe. My oë en hele wese is altyd op God gerig, maar met u skrywe kry mens net die ekstra bietjie moed om positief te wees en te weet daar sal weer ñ nuwe more kom

Louis C Prinsloo ·

Dankie Mnr. F Buys.
My moed is in die behoud van Afrikaans, my hoop op die vernuwing van Suid Afrika tot weereens ‘n eerste klas wêreld kan wees en my onwankelbare geloof in God

arno ·

Om my handewerk die gebed te laat wees, spaar my n klomp woorde.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.