Biden hou hom president

Joe Biden. (Foto: AP Photo/Carolyn Kaster)

Terwyl daar in sommige swaaistate verskeie verkiesingshofsake en die oortellery van stemme aan die gang is, het Joe Biden die land toegespreek teen ʼn redelik onsubtiele blou agtergrond met die woorde “President Elect”.

Nog nooit in die geskiedenis het enige kandidaat soos ʼn pas gesalfde koning rondgepronk en gespog dat hy met wêreldleiers gesprek gevoer het voordat sy verkiesing bekragtig is nie. Was dit nie juis die rede waarom die Amerikaanse Federale Speurdiens (FBI) genl. Michael Flynn, die nuwe nasionale veiligheidsraadgewer van Trump, vroeg in 2017 vervolg het omdat hy met ʼn Russiese gesant gepraat het nadat Trump verkies is nie?

Wat ek wel vroeg in hierdie land geleer het, is: Wat vir die een geld, geld nie noodwendig vir die ander in die Amerikaanse politiek nie.

Ondanks beweerde grootskaalse verkiesingsbedrog is Biden op die punt om die leisels van die Withuis oor te neem. Wat hy sonder voorbehoud weet, is dat die hoofstroommedia hom ʼn vrypas sal gee. Dus, ongeag die inhoud van sy beleidsagendas en wat ook al hy sê hy gaan bied, sal alles as ʼn verbetering op Trump beskou word.

Ons weet egter almal dat Joe Biden ná 47 jaar in senior posisies nie naam gemaak het as ʼn innoveerder nie. Sy keuse van Ron Klain as personeelhoof van die Withuis is ʼn teken van wat voorlê. As Obama se voormalige Ebola-reaksiekoördineerder het Klain onlangs erken dat die Obama-strategie om varkgriep die hoof te bied ʼn ramp was en dat die span “elke moontlike ding verkeerd gedoen het”. Op ʼn spitsberaad in 2019 oor biosekuriteit (The Biosecurity Pandemic Summit) het Klain gesê: “Sestig miljoen Amerikaners het H1N1 in daardie tydperk opgedoen en dit is blote toeval dat dit nie een van die groot massa-ongevallegebeure in die Amerikaanse geskiedenis was nie.” En voorts: “Dit het niks te doen gehad met ons wat dinge reg gedoen het nie, dit was net pure geluk.”

Vanweë hul mislukking moet hulle nou alles uithaal om lede van die publiek te oortuig dat Trump se koronavirusprojek misluk het. Met frases soos, “Hy het bloed aan sy hande”, weier die Demokrate om pres. Trump se beduidende prestasies in die hantering van die virus te erken. Dus, onder die voorwendsel om ʼn nuwe program voor te stel, het Biden ʼn Covid-19-adviesraad van 11 lede aangestel om te help slyp aan “[sy] benadering tot die hantering van die styging in aangemelde infeksies; om te verseker dat entstowwe veilig, doeltreffend, billik en gratis versprei word; en om hoërisikogevalle te beskerm”. Met die gebruik van “transformerende” retoriek – deur die neus op te trek vir Trump se prestasies – sal hy nie vir ʼn oomblik skroom om Trump se sukses as sy eie te beskou nie. Dit natuurlik met die hulp van sy skoothondjiemedia … ʼn gedagte wat die historikus Victor Davis Hanson onlangs op Fox News bevestig het.

Die New York Times het reeds op 11 November ʼn misleidende berig geplaas om die komateuse Biden soos ʼn genie te laat lyk. Ek haal die vertaalde plasing aan: “Terwyl die land die ergste stadium van die pandemie tot nog toe binnegaan, bly die Trump-administrasie grotendeels afsydig en terughoudend (my beklemtoning). Die gekose president, Joseph R Biden jr., probeer nou die mantel van leierskap oor sy skouers hang deur sy aanstelling van ʼn koronavirusadviesraad en sy beroep op alle Amerikaners om maskers te dra, maar tot sy inhuldiging op 20 Januarie het hy nie die gesag om ʼn federale reaksie te mobiliseer nie … Die leemte wat hierdie gebrek aan leierskap in Washington laat, verhoog die gevoel van angs in stede asook state …”

Die Politico raak die volgende (vry vertaal) ook op 11 November kwyt: “Die verkose president Joe Biden het ʼn spesiale oorgangspan aangestel wat hulle toewy aan die koördinering van die koronavirusreaksie deur die regering heen, aldus dokumente wat deur Politico verkry is en mense wat vertroud is met dié besluit. Die groep bestaan ​​uit tientalle oorgangsbeamptes en sluit ʼn hele klomp federale agentskappe in, as teken van die allesomvattende benadering wat Biden beoog om die verergerende pandemie te bekamp …”

Die Trump-administrasie was nog nooit terughoudend of ondeursigtig nie. Die resultate van sy [Trump se] Covid-19-plan is so duidelik soos daglig. Die Covid-19-sterftesyfer staan op ongeveer 2% van die 11 300 635 gevalle wat deur die CDC Covid-19-data-opspoorder aangemeld is en tot dusver is ongeveer 169 725 061 toetse uitgevoer. Anders as sy Demokrate-kollegas het Trump berge versit om die nodige hulpbronne teen die virus beskikbaar te stel. Maar, nog belangriker, hy behandel nie lede van die publiek asof hulle kinders is nie – hy verwag dat hulle protokol moet nakom, hul immuunstelsels met toepaslike vitamiene sal versterk, die nodige behandelings sal ontvang en ʼn gesonde leefstyl handhaaf om gereed te wees wanneer die entstowwe beskikbaar gestel word, terwyl hulle met hul lewe voortgaan en sodoende hul lewensbestaan beskerm. Trouens, Trump was aan die spits van Operation Warp Speed wat binne rekordtyd entstowwe deur Pfizer en Moderna laat ontwikkel het. Maar nou ja, so lyk verraad in Washington DC. Selfs die farmaseutiese maatskappye wat Trump ondersteun en gefinansier het, het die aankondiging van die entstowwe vertraag tot ná die verkiesing om die president nie te bevoordeel nie.

Menselewens blyk beslis minder belangrik as magspolitiek te wees.

Dus, vir Biden om te suggereer dat daar ʼn “federale leierskapvakuum” is wat hy saam met sy oorgangspan by die horings sal pak, is eenvoudig twak. Rekenaarterme soos “veilige entstowwe”, “toetsing met behulp van die jongste tegnologie”, “pandemie-instrumentebord”, “diverse gesondheidsorgwerkers”, en so meer, sal nie die omvattende Covid-19-program onder leiding van visepres. Mike Pence vervang nie. ʼn Mens sou hoop dat die volgende regering voortbou op wat reeds gedoen is, en nie die wiel as’t ware weer probeer uitvind nie.

Nog ʼn kommerwekkende beleidsagenda is Biden se planne om Trump se immigrasiebeleid te hervorm wat, ongeag hoe jy daarna kyk, die suksesvolste van enige regering tot nog toe was. Trump het die muur gebou teen die wil van die kongres en die voortdurende orkestrering van onwettige groepe mense wat die grens oorsteek. Die huis het finansiering vir die muur teengestaan en Trump moes ʼn genadelose gespot deur die hoofstroommedia (oor die bou van die muur) verduur. Tog is die instroming van onwettige immigrante dramaties minder, en teen die einde van die jaar sal die muur reeds 430 myl (ongeveer 692 km) lank wees en wettige immigrasie op grond van meriete staan ʼn goeie kans om geïnstitusionaliseer te word. Trump se taakmag teen mensehandel (The President’s Interagency Task Force to Monitor and Combat Trafficking in Persons [PITF]) het die meeste sukses tot nog toe behaal. Waarom enige opvolger nie op hierdie prestasie sou wou voortbou nie, gaan die verstand te bowe, maar Biden is goed op pad om ʼn omvattende beleid wat die VSA op meer as een manier bevoordeel het, af te breek.

Hy sal die “Bly in Mexiko”-beleid beëindig, en vereis dat nie-Mexikaanse migrante in Mexiko wag vir die duur van hul asielaansoeke; hy sal die plafon lig vir die aanvaarding van vlugtelinge; hy sal uitsettings heeltemal staak; hy sal 640 000 ongedokumenteerde immigrante se deportering halt, wat deur hul ouers na die VSA gebring is; hy sal Trump se reisverbod teen 13 lande wat Jihad-terroriste huisves, herroep; en hy sal samewerkingsooreenkomste vir asiel met Guatemala, El Salvador en Honduras ongedaan maak.

Die Demokrate se obsessie met onwettige immigrasie is nie net om goedkoop arbeid vir die ondernemings wat hul veldtogte finansier, te verkry nie, maar ook om die stemdemografie van die land te verander namate al hoe meer Amerikaners ontnugter raak met hulle. Pres. Trump, wat uitgeskel word as ʼn rassis, het, ironies genoeg, meer stemme van minderheidsgroepe in die onlangse verkiesing gekry as sy Republikeinse voorgangers. Die vraag bly: Waarom sou Demokratiese leiers gesondheidsorg vir onwettige immigrante wat deur belastingbetalers gefinansier word, ondersteun? Waarom sou Demokrate gratis onderwys vir onwettige immigrante bevorder? Waarom sou Demokrate oop grense aanmoedig?

Die kommerwekkendste van alles is die herstel van Biden se buitelandse beleid, wat deur die neokonserwatiewes (Neocons) van ouds uitgevoer sal word. Hulle het belowe om weer by die Parys-ooreenkoms (Paris Climate Agreement), wat werkgeleenthede van baie ontneem, aan te sluit – ʼn ooreenkoms wat Amerikaanse geld opgeslurp het, maar tog niks daarmee bereik het nie, aangesien China, Indië en Rusland die grootste besoedelaars ter wêreld is. Trump se omgewingsbeleid het die vrystelling van koolstofdioksied vinniger laat verminder as wat vorige administrasies dit kon regkry. Volgens die Internasionale Energieagentskap (IEA) het die VSA “die grootste afname in energieverwante CO₂-vrystellings in 2019 per land gesien” – ʼn daling van 140 Mt (2,9%) tot 4,8 Gt.

Koolstofdioksiedvrystellings in die VSA het reeds byna met 1 BT gedaal vanaf hul hoogtepunt in 2000 – die grootste algehele daling in enige land gedurende daardie tydperk; sy wetsontwerp op die beskerming en bewaring van die natuur (Wilderness Protection and Conservation Bill) het 1,3 miljoen akker federale grond – die hoogste vlak van beskerming – in Kalifornië, Oregon, Utah en Nieu-Mexiko as ongerepte natuur aangewys, waarin houtkap, olieboordery, mynbou en padbou verbied word. Biden het gesê dat hy weer by die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) sal aansluit en die fonds van $300 miljoen sal herstel – natuurlik om China, wat op meer as een manier baie na aan Biden is, te paai.

Biden se pogings om bande met die Noord-Atlantiese Verdragsorganisasie (Navo) en die Wêreldhandelsorganisasie (WHO) te herstel, sal een van sy eerste skuiwe wees om Trump se America First-agenda af te takel. Die doel daarvan is om die vredesplan in die Midde-Ooste ongedaan te maak, gegewe Obama en Biden se jare lange antipatie teenoor Israel, terwyl Biden die riel met Iran dans. Dit sal geensins maklik wees nie, maar dit pas by die Demokrate se radikale agenda, onder meer die opheffing van die reisverbod van Jihad-brandpunte en die ondermyning van die Israeliese/Arabiese toenadering deur dalk weer $700 miljoen Amerikaanse belastinggeld aan die Palestyne uit te reik. Trump het aansienlike vertroue binne die Midde-Ooste opgebou en Biden sal dom wees om onderhandelings wat nog altyd broos was, ongedaan te probeer maak.

Biden bevind hom tans tussen twee vure en moet terselfdertyd die radikales in sy party paai en hom nie te veel van die gematigdes vervreem nie. Die moontlikheid van hom aan die stuur het die radikales in sy party ʼn keel laat opsit oor hul eise wat vandeesweek op televisie uitgesaai is. Die aftakeling van Trump se mees beduidende prestasies sal rou vleis wees vir leeus wat honger is vir mag. In ʼn party wat uitblink in die politiek van vernietiging en wraak, en waar die sukses van die vorige regime afgebreek word, is dit wel te verwagte.

Die regering van die elite, deur die elite en vir die elite is miskien nie waarvoor die mense gestem het nie, maar noudat Biden meer as ʼn halfmiljard dollar van ondernemings, die Hollywood-elite, Wall Street, Big Tech, die akademie en die hoofstroommedia ingesamel het vir sy verkiesing, SKULD hy hulle.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Rhoda Kadalie

Die rubriekskrywer Rhoda Kadalie is afgetree en woon tans in die VSA. Sy is die voormalige direkteur van Impumelelo Sosiale Innovasiesentrum, menseregtekommissaris en akademikus.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

20 Kommentare

Chris ·

Weereens ‘n baie goeie gebalanseerde artikel. Die mense staar hulle blind teen die massamedia, Trump het vir die VSA meer gedoen as baie van sy voorgangers. Ongelukkig sal hulle dit te laat agtergom indien sy termyn verleng word nie. Ek kyk van tyd tot tyd na die CNN kanaal. Die mense is venynig en ‘n Trump hater. Ek sal graag wil weet wat Trump moes doen om die virus te hanteer. Indien hy strenger opgetree het sou die libtards geskree het hy is ‘n despoot. Die VSA is in state verdeel. Die goewerneur van elke staat het die mandaat om te doen wat hy wil. Trump is nie verantwoordelik vir die dood van die mense nie en om dit te sugereer is abosuluut absurd en banaal. Onkunde is ‘n gevaarlike ding. Vergewis jouself eers van die feite en maak dan gebalanseerde gevolgterekkings en aannames.

Filistyn ·

Briljant. Dankie Rhoda – dit is goed om ‘n objektiewe mening te kry.

Boerkind ·

Dankie Rhoda! Weer eens is FEITE gegee wat bewys dat Trump die VSA eerste gestel het en sommer baie vermag het. Hy was nie perfek nie – hy is immers net ‘n mens, soos ek en jy, maar hy was strate beter as Obama, Clinton en Bush tesame! Hy het ruggraat! Biden is ‘n pateet! Hy het ‘n duister verlede en is nie iemand om op trots te wees nie – geensinds nie! Hy is breindood en kan skaars een sin logies sê! Die valse media het oorwin! Net soos hier in Suid Afrika ook. Mense koop hulle diaboliese snert vir soetkoek sonder om te dink. Die wêreld sal armer wees en dit nog berou as die leuens en bedrog van die afgelope VSA verkiessing deurgaan! Maar laat ons nie vergeet van wat hier by onsself aangaan onder nog meer swak en patetiese “leiers” nie….. Dit is nou ‘n skande… en die valse media is tjoepstil!

Vrijburger ·

Mmmm kom die ou waarheid weer by my op:
“To anger a conservative, lie to him.
To anger a liberal, tell him the truth.”

Dawid ·

Uitstekende artikel, baie dankie Rhoda. Stuur dit tog asb vir ons eie hoofstroom-media!

Maria ·

Dit is ‘n openbaring om te sien hoe die hoofstroommedia die verloop van sake reguleer en ‘ongewenstes’ terroriseer en verban tot mislukking. Dit bly maar n spel om mag en geld en is baie gevaarlik

Piet ·

“Beweerde, grootskaalse verkiesingsbedrog” waarvan niks substantiefs te vore gekom het nie, Die howe gooi hierdie sake links en regs uit want daar is GEEN bewyse nie.

koos10 ·

Piet, ek stem saam met jou.
As ek dit nie mis het nie, het Trump op ‘n soortgelyke manier teen Clinton gewen?
Jammer dat soveel kommentators nie so lank terug kan onthou nie.
Almal moet onder Trump se tong deurloop, media, kiesers, Joe ondersteuners, sy eie party, ens. oor die verkiesing.
Ek was baie klein toe ek eendag iets in ‘n Jasper boek gelees het:
“Om soos ‘n man te kan wen, moet jy soos ‘n man kan verloor!”
Trump het amper eiehandig oorlog met Noord Korea begin, deurdat hy nie sy humeur kan beheer nie. As Rocketman daai knoppie gedruk het was die USA aansienlik kleiner. Is dit hoe baie hy vir Amerika gedoen het, ter wille van sy eie ego?
Die Amerikaners het gepraat met hulle stemme, en dis nou tyd dat die hele wêrel dit verstaan en hulle nou uitlos!
(O ja, waar is daai muur wat hy sou bou? Hy het sy hele 2016 verkiesings veldtog daarop gehammer, of het ek hom verkeerd verstaan?)

Delarey ·

Koos oorweeg dit om na alternatiewe nuusbronne te kyk op die internet.

Probeer om op You Tube te kyk na die oorspronklike gebeure en op die manier toegang te kry tot dieselfde “rou” inligting as die joernaliste voordat hulle dit verdraai.

Verhore oor verkiesingsbedrog in Pennsalvanië is byvoorbeeld gisteraand regstreeks uitgesaai. Vanoggend kan ek sien en hoor hoe die hoofstroomedia dit wat gesé is, verdraai.

Wanneer jy dit so ‘n paar keer gedoen het besef jy gou die hoofstroomedia is inderdaad die “enemy of the people”.

Piet ·

Wat was die FEITE wat kwansuis verdraai is? Is enige van die verhore/sake in Pennsalvanie in Trump se guns beslis?

Delarey ·

Komaan Piet verstaan jy dan nie hoe werk die stelsel nie?

Die demokrate beheer die wetgewer, die wetstoepassingsagentskappe, die hoofstroomedia en het ‘n baie gevalle linkse regters aangestel. Net soos wat die ANC dit hier by ons doen en twee stelle reëls toepas afhangend van jou ras.

Sake moet eers uitgegooi word sodat dit op appél kan gaan na hoër howe om uiteindelik by die hooggeregshof te eindig. Dan sal ons sien.

Een van Trump se prestasies is juis dat hy die meeste regters van enige President in sy termyn aangestel het.

Piet ·

Is dit nou ‘n prestasie om te kyk hoeveel regters jy kan aanstel? Sy sake word reeds deur daai einste regters verhoor en uitgegooi. Appel is ook nie automaties nie, as jou saak so vrot is soos Trump s’n is daar geen sprake dat verlof tot appel toegestaan word nie. Ek se weer, hy het GEEN bewyse nie. Ek sien hy het darem gister begin met die oorgangsproses, die realiteit dat hy verloor het, slaan nou stadig maar seker deur.

Delarey ·

Môre Piet en Koos. Gaan luister bietjie op You Tube na die getuienis van Gregory Stenstrom by die Pensalvania verhore. Jy kan dit ook woordeliks op Breitbart News lees onder die hoof “PA Data Scientist says..” dateer 26 November. Meer as een getuie het sy weergawe bevestig.

Stenstrom het jare lank in die Amerikaanse weermag gewerk en daarna sy eie data/IT maatskappy begin. Sy getuienis is net een van meer as 400 be-eëdigde verklarings wat gewone mense afgelé het. Die feit is daar is baie bewyse van bedrog.

Dis seker moontlik dat Stenstrom lieg of dat sy getuienis ter syde gestel kan word, maar die feit bly staan dat wat hy getuig het uiters nuuswaardig is en verdien om oor berig te word. Hou ook in gedagte dat hy krimineel vervolg sal word indien hy wel lieg. Maar daar is te veel soortgelyke verklaring deur doodgewone Amerikaners.

Die hoofstroommedia weier egter om oor hierdie en ander soortgelyke getuienis te berig.

Lekker om te gesels. Mooi dag.

Dries ·

Piet jy is vergewe. Jy weet nie waarvan jy praat nie. Lees weer die berig van Rhoda. Daar le n helse tyd voor vir die Amerikaners. Die sosialiste smile nou. Jy mag net tevrede met die verkiesing wees as jy n sosialis of kommunis is.

Piet ·

Lees bietjie ook oor al sy mislukkings (dis nie in Rhoda se weergawe nie). Lees wyer as net Rhoda, sy het haar opinie wat verskil van ander. Wat sy skryf is net haar opinie.

Delarey ·

Dankie Rhoda ek het gewag vir jou artikel om publiseer te word.

Adam Adriaan ·

Baie goei opsomming. Egter;die spreek woord sê ” Do not count your chickens before they are hatched’ Hier kom nog ‘n ding wat gaan spring.. Moet nie dat jakkals opersies jou mislei nie. Donderweer is altyd doodstil voor dit begin bulder, beef en blits.

Tomas ·

Dankie Rhoda vir ‘n goeie artikel. Daar is al hoe meer bewyse van verkiesings bedrog. Sien R & R Legal Group op Youtube vir ‘n bespreking van ‘n regsgeleerde van die verskeie verkiesingsregsaksie in die howe. Die kommentataar is werklik insiggewend.

Bernhardt ·

Nog n herhaling van die alternatiewe stel feite wat Trump aan die wereld verskaf het. Dink n bietjie objektief vir jouself. Die wereld is baie meer gekompliseerd as wat jy dink. Ek dog die feit dat na 47 jaar Biden homself nie as innoveerder bekend gemaak het nie juis die tipe ding is wat julle konserwatiewes van hou? Nasionalisme was, en gaan nooit, die pad vorentoe wees om n beter wereld te skep nie. Die klimaat wat Trump geskep het in Amerika, en die wereld, is voorbeeld genoeg. Jy moet uitreik na alle kante van n saak, en na alle partye. Iets wat Biden spesifiek in goed is. Iets wat Trump glad nie gedoen het nie. Amerika was regeer soos n Monargie. Amerika se wereldverhoudinge is in n swakker toestand as ooit. Angela Merkel van Duitsland is die eerste persoon wat vir jou sal verduidelik hoekom Trump nie in daai pos moet wees nie. Is julle blind vir n duidelik fout in die wereldgemeenskap?

Delarey ·

Om konserwatief te wees beteken nie dat jy teen vernuwing is nie. Dit beteken egter wel dat jy na die wéreld kyk vanuit die tradisionele Christelike Westerse perspektief. Daardie waardes (soos om te vergewe en om self verantwoordelikhied te neem) wil ons nie prysgee nie. Dis hierdie waardes wat die Weste in staat gestel het om eerste te moderniseer en die wéreld te lei.

Nasionalisme was nog altyd deël van die wéreld en die bestaan van die mens. Dis net in die Weste wat voorspoed mense mislei het om te dink dat die wéreld nie ‘n gevaarlike plek is nie en dat alles OK sal wees as jy nie jou posisie en kultuur beskerm nie. Chinese, die Moslems in die Midde Ooste, Noord Korea en selfs die swart mense hier in SA is uiters nasionalisties en streef daarna om hulle self te handhaaf selfs ten koste van ander.

Gegewe voorgaande het jy dus nie ‘n keuse as om nasionalisties te wees nie. Anders word jy domineer, jou geskiedenis herskryf, jou eiendom gevat ens. Dieselfde verhaal oor al die eeue.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.