Biden verteenwoordig eerder einde van ’n era in Demokratiese Party

Joe Biden. (Foto: AP Photo/Carolyn Kaster)

Die Demokratiese Party in die Verenigde State van Amerika het hierdie week sy vierjaarlikse konferensie aangebied waartydens Joe Biden, voormalige senator van Delaware en adjunkpresident vir twee termyne onder pres. Barack Obama, amptelik as die party se presidentskandidaat vir die verkiesing op 3 November, benoem is.

Saam met die demografiese veranderinge in die VSA, is die Demokratiese Party ’n snelveranderende party met sy steunbasis toenemend onder jonger, diverse minderheidsgroepe, immigrante en stedelike linkse kiesers. Die ouer, hooggeskoolde, voorstedelike liberale kiesers van die Noordooste en die Weskus, ’n groep wat deur Biden verteenwoordig word, is ook ’n kleiner wordende groepering binne die Demokratiese Party.

Biden sal minder as drie weke ná die verkiesing op 20 November 78 jaar oud word en sal, sou hy verkies word, die oudste president in die geskiedenis van die VSA wees wat ’n eerste termyn onderneem. In ’n onlangse peiling sê 59% van alle Amerikaanse kiesers dat hulle nie verwag dat hy sy eerste termyn, sou hy verkies word, sal voltooi nie. Sowat 38% van kiesers sê in dieselfde peiling dat Biden duidelike kognitiewe agteruitgang beleef.

Nog sowat ’n jaar gelede was daar meer as twintig kandidate wat teen mekaar meegeding het om die Demokratiese Party se presidentskandidaat te word. Uiteindelik het kiesers in die party die sogenaamde veilige keuse uitgeoefen deur die mees ervare kandidaat, Biden, te verkies. Biden het ’n loopbaan van meer as vyf dekades in die Amerikaanse politiek.

Joe Biden. (Foto: AP Photo/Andrew Harnik)

Sy politieke loopbaan het reeds in 1969 begin met sy verkiesing op ’n distriksraad in die klein, oostelike deelstaat Delaware. In 1972 word Biden verkies tot die Amerikaanse senaat met ’n sterk liberale boodskap wat gefokus het op steun vir die onttrekking van die Amerikaanse weermag uit Viëtnam, steun vir burgerregte vir swart Amerikaners, strenger omgewingsregulasies, hoër belastingkoerse vir ryker Amerikaners en groter regeringspandering vir mediese sorg. Biden sou tot 2009 as senator van Delaware dien. Daarna het hy twee termyne as adjunkpresident van die VSA onder Obama gedien.

Niemand kan dus twyfel oor Biden se ervaring in die politiek nie. Oor Biden se kognitiewe vermoë en sy duidelike uitdagings om tydens televisie-onderhoude argumente te bly formuleer, heers daar nog onsekerheid. Die aanwys van Biden as die Demokrate se presidentskandidaat wys egter op die enorme uitdagings van die Amerikaanse politieke landskap.

Om as president van die VSA verkies te word, moet jy ’n redelike breë koalisie van kiesers bymekaar bring. Die laaste twee Amerikaanse presidente wat deur die Demokrate opgelewer is, Bill Clinton en Obama, het juis daarin geslaag. Beide Clinton en Obama is verkies met optimistiese boodskappe oor ’n beter toekoms. Beide het die jeugdigheid en diversiteit van die Demokratiese Party verteenwoordig.

Die probleem vir die Demokratiese Party van 2020 is dat die party geforseer word om ’n koalisie van kiesers met diverse behoeftes saam te stel. In ’n diverse land soos die VSA, met ’n tweepartystelsel, is dit een van die uitdagings vir politieke partye. Die Demokrate is die afgelope jaar of twee hard na links gedwing deur die opkoms van ’n aktivistiese groepering binne die party wat nie met klassieke liberalisme tevrede is nie, maar wat radikale transformasie van die Amerikaanse samelewing eis.

Joe Biden en Kamala Harris. (Foto: AP Photo/Andrew Harnik)

Die Demokratiese Party se skerp swaai na links die afgelope tyd, veral ten opsigte van onwettige immigrasie, wat insluit die idee om migrasie oor die grens met Mexiko te dekriminaliseer, genasionaliseerde mediese sorg, omgewingsregulasies insluitende die voorgestelde uitskakeling van die gebruik van fossielbrandstowwe, vergoeding aan die nasate van slawe en die radikale veldtog teen die polisie, het die party se beleid heelwat na links verskuif. Die Demokratiese Party van 2020 is heelwat meer links op die politieke spektrum as die party van Clinton of Obama.

Die Demokrate maak egter staat op pres. Donald Trump se ongewildheid. Die denke binne die party is dat ’n koalisie van anti-Trump-kiesers genoeg sal wees om in November die verkiesing te wen. Indien genoeg kiesers uit minderheidsgroepe saamkom met die meer radikale, stedelike jeug, die stedelike liberale klas van die noordooste en die weskus en die werkersklas wat in 2016 vir Trump gestem het, glo die Demokrate kan Biden op 3 November verkies word.

Tans bevestig peilings hierdie scenario. Biden is voor teen Trump in elke denkbare peiling en in die gemiddeld van die afgelope twee weke se peilings geniet Biden die steun van 50% van geregistreerde kiesers terwyl Trump die steun van net meer as 42% van kiesers geniet. Die probleem hiermee, en dit het dit 2016-verkiesing bewys, is dat nasionale peilings in die VSA slegs ’n beeld van die voorkeur van alle geregistreerde kiesers gee. Dit is geen voorspelling van die verkiesingsuitslag nie omdat slegs tussen 50% en 60% van geregistreerde kiesers gewoonlik gaan stem en Amerikaanse verkiesings volgens steun in deelstate en nié nasionale steun nie bepaal word. So het Trump in 2016 meer as drie miljoen minder stemme as Hillary Clinton gekry en steeds die verkiesing gewen.

Pres. Donald Trump. (Foto: Randy Hoeft/The Yuma Sun via AP)

Die huidige voorsprong wat Biden in peilings geniet, is egter groter as die voorsprong wat Clinton in 2016 teen Trump geniet het en sou Trump nie daarin slaag om die gaping van 8% tot minstens 5% te vernou nie, sal hy moeilik die verkiesing kan wen. Die Republikeine se konferensie vind egter eers volgende week plaas en eers nadat beide partye se konferensies deur miljoene Amerikaners op televisie gevolg is, sal ’n mens peilings ernstig kan begin opneem.

Nog ’n baie belangrike veranderlike in vanjaar se verkiesing gaan die debatte tussen Trump en Biden wees. Op 29 September, 15 Oktober en 22 Oktober sal die twee presidentskandidate deelneem aan debatte wat regstreeks op televisie uitgesaai sal word. Weens die aard van vanjaar se verkiesingsveldtog waartydens die kandidate moeiliker groot byeenkomste kan aanbied en deur die VSA kan rondreis om hulself aan kiesers bekend te stel, kan verwag word dat rekordgetalle kiesers die debatte sal kyk. Hoewel Trump nie die sterkste debatteerder is nie, kan ’n mens verwag dat hy goed voorbereid sal wees vir die debatte en sou Biden se kognitiewe uitdagings in die debatte afspeel kan dit ernstige rooi ligte oor sy vermoë om president te word, laat flikker.

In die verlede het die debatte al keer op keer ’n wesenlike invloed op verkiesingsveldtogte gehad. In 1960 het John Kennedy se sterk vertoning in ’n debat teen Richard Nixon tot ’n drastiese swaai in steun na Kennedy gelei. In 1980 het Ronald Reagan in ’n debat een week voor die verkiesing met sy vraag oor of Amerikaners beter daaraan toe is voor of na Jimmy Carter se presidentskap ook ’n groot swaai in peilings veroorsaak. Ook Bill Clinton het in 1992 die debatte met George H.W. Bush gebruik om ’n wesenlike swaai in steun te veroorsaak.

Die Amerikaanse historikus professor Allan Lichtman voorspel reeds sedert 1980 elke verkiesingsuitslag korrek volgens ’n model wat hy in 1980 ontwikkel het. Hiervolgens word dertien sleutels wat ’n presidentsverkiesing in die VSA beïnvloed, ontleed. Lichtman was een van min waarnemers wat in 2016 Trump se oorwinning korrek voorspel het. Volgens Lichtman se model swaai sewe van die 13 sleutels tans teen Trump en sal Biden dus die verkiesing wen. Lichtman se voorspelling vir vanjaar se verkiesing is reeds meer as drie weke gelede gemaak en is sedertdien deur opponente van Trump wêreldwyd voorgehou as net nog ’n bewys dat Trump sonder twyfel vanjaar gaan verloor.

Die probleem met hierdie ontleding is dat Lichtman se dertien sleutels nie staties is nie. Een van die sleutels – die vraag oor of die sittende president enige internasionale sukses behaal het – het toevallig juis verlede week ’n groot verskuiwing ondergaan met die ondertekening van ’n ooreenkoms tussen Israel en die Verenigde Arabiese Emirate wat sonder twyfel ’n groot oorwinning vir die Trump-administrasie, wat direk by die onderhandelinge betrokke was, is.

Pres. Donald Trump. (Foto: AP Photo/Evan Vucci)

Nog ’n sleutel wat nog wesenlik voor die verkiesing kan verander, is die ekonomiese omstandighede in die VSA. Tans is dit een van die sewe sleutels in Lichtman se model wat teen Trump tel. Die afgelope twee weke is ekonomiese data in die VSA bekend gemaak, insluitende ekonomiese groeisyfers, werkloosheidsdata en data oor verbruikerspandering, wat keer op keer ekonome se verwagting oortref het. Terwyl Trump se sterkste argument vir herverkiesing (voor die Covid-19-pandemie) die sterk Amerikaanse ekonomie en lae werkloosheid was, is die vraag nou of sterk ekonomiese herstel in aanloop tot die verkiesing saam met Trump se ekonomiese rekord van 2017 tot 2019 dalk hierdie sleutel wel in Trump se guns kan swaai.

In Februarie vanjaar was die Amerikaanse werkloosheidskoers op 3,5% en het dit Trump se kanse om herverkies te word heelwat versterk. Teen April het die werkloosheidskoers op 14,7% gestaan. Intussen het die werkloosheidskoers tot net meer as 10% gedaal en sou hierdie daling voortduur en die werkloosheidskoers teen die einde van Oktober tot onder 8% daal, kan Trump moontlik ’n argument uitmaak dat kiesers hom ’n kans moet gee om die wesenlike ekonomiese herstel wat hy van 2017 tot 2019 gedryf het en weer na die krisis van April en Mei 2020 bewerkstellig het, moet voortsit. Lichtman se model is dus vloeibaar en kan nog maklik in Trump se guns swaai.

Wat Lichtman se model egter uitwys, en wat al keer op keer bewys is, is dat Amerikaanse kiesers sterk op basiese behoeftes, soos veiligheid en ekonomiese sukses, fokus wanneer hulle besluit vir wie om in ’n presidentsverkiesing te stem. Trump se oorwinning van 2016 was ’n goeie voorbeeld hiervan. Terwyl ’n meerderheid van Amerikaners in 2016 ’n afkeur in Trump se persoonlikheid en styl gehad het, was ’n meerderheid van kiesers oortuig daarvan dat hy wesenlike ekonomiese herstel kan teweegbring. Dit het die blanke werkersklas wat vir Obama gestem het, vir die eerste keer in dekades na die Republikeinse Party laat swaai met Trump se oorwinnings in die industriële deelstate van die Midde-Weste.

Wat die Demokrate se konferensie en Biden se hele verkiesingsveldtog tot nou bewys het, is dat die party se argument in aanloop tot die verkiesing in November op Trump se foute gefokus sal wees. Dit is bietjie ’n riskante herhaling van Hillary Clinton se veldtog in 2016. Terwyl Trump in 2016 ’n duidelike, hoewel verdelende en radikale verkiesingsboodskap teen immigrasie, ten gunste van die beskerming van Amerikaanse bedrywe en vir die onttrekking uit oorloë in die Midde-Ooste gehad het, het Clinton hoofsaaklik ’n anti-Trump boodskap gehad.

Die Demokrate se konferensie was tot hierdie week dan ook grootliks gefokus op Trump se skandale, sy blapse, sy hantering van opstande in Amerikaanse stede en die Trump-administrasie se bestuur van die Covid-19-pandemie. Joseph Sternberg, die meningsredakteur van The Wall Street Journal, het sover gegaan om na Biden as die VSA se potensieel eerste minister te verwys. Wat hy daarmee bedoel, is dat Biden geen groot presidensiële agenda het nie. Hy word gedryf deur sy party se bewegings. Die konsep van ’n presidensie is juis daarin vervat dat politieke inisiatief by die president lê en dat hy sy party saamneem. Dit is anders as in lande soos die Verenigde Koninkryk waar politieke inisiatief by die regerende party lê en die eerste minister slegs die party se beleid help uitvoer.

Die Demokrate se konferensie was nie net besaai met anti-Trump boodskappe nie. Dit het wel beleidsvoorstelle wat breë openbare steun geniet, onder meer ’n meer gekoördineerde federale beleid vir die hantering van pandemies, groter toegang tot mediese sorg en meer beskerming vir werklose Amerikaners ingesluit.

Terwyl Amerikaners nie tevrede is met Trump se hantering van die Covid-19-pandemie nie en ’n meerderheid van Amerikaners ook toenemend wegbeweeg van die kulturele konserwatisme van die Republikeinse Party is die belangrikste vraag steeds wat die kwessies is wat Amerikaanse kiesers se keuse op 3 November gaan bepaal? Gaan kiesers hul keuse maak gegrond op Trump se persoonlikheid, wat Duitsers of Franse van Amerika dink, die aborsiebeleid of die hantering van onwettige immigrante teen die grens met Mexiko? Waarskynlik nie. Gaan kiesers se keuse sterker afhang van ekonomiese sake en veiligheid? Indien die geskiedenis enige leidraad verskaf, dan wel ja.

Joe Biden. (Foto: AP Photo/Carolyn Kaster)

Biden se probleem is tweeledig. Hy verteenwoordig ’n kleiner wordende liberale groepering in die Demokratiese Party. Sy party se hardste stemme is toenemend radikale linkse stemme wat ten gunste van sosialisme, radikale politieke transformasie, onbeperkte immigrasie en die afbreek van die Amerika van Washington, Hamilton en Adams vereis. Hierdie radikale groepering wil die hele VSA se politieke stelsel transformeer. Biden moet dus fokus op gewilde beleidsvoorstelle, eerder as die regte en noodsaaklikste voorstelle omdat hy vrees vir verdeeldheid binne sy party.

Die tweede uitdaging vir Biden is sy ouderdom en gepaardgaande kognitiewe uitdagings, tekort aan charisma en ’n visie wat op stootfaktore eerder as trekfaktore fokus. In die huidige onseker omstandighede wat in die VSA heers, kan ’n mens verwag dat die stempersentasie vanjaar besonder laag gaan wees. Dit is goed en wel dat 50% van geregistreerde kiesers jou steun, maar wat gebeur indien slegs 55% of dalk selfs net 49% (soos in 1996) van kiesers wel gaan stem? In hierdie opsig is Republikeine nog altyd meer lojale kiesers en kan ’n lae stempersentasie sterk in Trump se guns tel.

Die Demokrate se hoop dat kiesers se afkeur in Trump vir Biden oor die wenstreep sal help, is tekenend van ’n party wat nie gereed is om ’n groot visie aan kiesers te probeer verkoop nie. Obama se oorwinning in 2008 en Trump se oorwinning in 2016 was keer op keer op so ’n groot visie gebou.

Alexandria Ocasio-Cortez, die dertigjarige radikaal-linkse lid van die huis van verteenwoordigers uit New York, het Dinsdagaand by die Demokrate se konferensie verwys na die “Massa Mense-beweging” waarvan sy en ander linkses deel is en wat streef om die sogenaamde wonde van rasse-onreg, kolonisasie, homofobie en ander Amerikaanse sondes van die verlede reg te stel en om radikale nuwe beleid ten gunste van minderhede en immigrante daar te stel. Hierdie is haar eie woorde. Dit is radikaal en ver buite die Amerikaanse hoofstroom.

Ocasio-Cortez se idees verteenwoordig die toekoms van die Demokratiese Party terwyl Biden se liberale idees die verlede van die party verteenwoordig. Uit vrees vir ’n tweede Trump-termyn is alle Demokrate egter bereid om agter die wollerige, populêre boodskap van Biden in te val. Een van twee dinge gaan egter gebeur: Biden gaan die verkiesing wen en die party se linkse vleuel gaan vergoeding in radikale beleidsveranderinge eis wat weer tot die verlies aan steun onder ’n meerderheid Amerikaners gaan lei. Of die Biden-veldtog gaan weens sy reaktiewe aard en Biden se kognitiewe uitdagings in die hek duik wat tot ’n groot interne stryd om beheer van die party aanleiding sal gee.

Indien die Amerikaanse verkiesing vandag plaasvind, sal Biden waarskynlik wen. Die verkiesing vind egter eers oor elf weke plaas. Intussen moet die Republikeine volgende week hul saak vir Trump se herverkiesing aan die Amerikaanse kiesers stel. Dit sal sterk gebou wees op die Trump-administrasie se indrukwekkende ekonomiese rekord, die suksesvolle onderhandeling van ’n vredesooreenkoms met die Taliban in Afganistan en ’n ooreenkoms tussen Israel en die Verenigde Arabiese Emirate. Trump se ontbloting van die China-agenda en sy administrasie se verskeie suksesverhale met toegang tot privaat onderwys in veral armer en swart woonbuurte en die uitbreiding van verskeie regeringsdienste aan minderheidsgroepe sal as ’n Trump-suksesverhaal uitgebeeld word.

Dan moet Trump en Biden aan drie debatte deelneem. Wat is die oplossing vir die huidige ekonomiese uitdagings? Wat is die oplossing vir die opstande in Amerikaanse stede en die toenemende geweldpleging wat veral minderheidsgemeenskappe raak?

Uiteindelik gaan Amerikaners die vraag aan hulself stel: Is ons veiliger as vier jaar gelede en is ons kanse op ekonomiese sukses beter as vier jaar gelede? Watter een van die twee presidentskandidate is die beste gerat om ons veiligheid en ekonomiese kanse te verbeter?

Vanjaar se verkiesing is Trump s’n om te verloor. Dit is duidelik dat Biden nie die verkiesing gaan wen nie. Daar is net twee moontlike scenario’s oor: Trump gaan die verkiesing wen of hy gaan dit verloor. Die gevolge van die verkiesingsuitslag gaan wesenlik vir die toekoms van die VSA, die Westerse wêreld maar ook globale verhoudinge wees. Die Trump-administrasie het tot dusver ’n simpatieke oor vir Afrikanerpleidooie gehad, ’n Biden-administrasie sal nie dieselfde aanslag volg nie.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Jaco Kleynhans

Meer oor die skrywer: Jaco Kleynhans

Jaco Kleynhans is hoof van internasionale skakeling vir die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

12 Kommentare

jongste oudste gewildste
Maria

As Biden wen sit die Amerikaners met ‘n baie groter probleem as tans. Dankie vir n goeie stuk en interessante feite

Vrijburger

Baie interessante en goeie ontleding.
“Vanjaar se verkiesing is Trump s’n om te verloor”. Ek hoop jy is reg.

Tans in die VSA – as ek die gemoedere hier reg lees, lyk dit of BLM / Antifia aksies gematigde Demokrate meer na regs swaai. Daai basiese behoefte aan veiligheid wat jy genoem het.

Kokerboom

Die Amerikaners bly darem ‘n raserige vertoonnasie. Binnegevegte en politiekery haal hul oog van die doelwit af. Intussen sit die magtige China doodstil, hou hul met ‘ valkoog dop en verbreed hul wereldmag en wereldoorheersing op alle vlakke met rasse skrede. U is reg Maria…hul gaan nog met ‘n eier op die gesig sit. Ek wonder wat het Amerikaanse nasionalisme geword?

Therese

Skitterende artikel oor die stand van sake!
Onheilspellend vir enige pro-Trump leser, maar die hoop beskaam nie.
Die “einde van ‘n era in die Demokratiese Party”, maar na my mening óók vir die VSA as Biden wen.

Simon

Die mag van die Pers.