Billy Graham sterf op 99-jarige ouderdom: Stil broers, hier gaan ʼn groot man heen

Billy Graham. Foto: Facebook.

William Franklin “Billy” Graham, die mees invloedryke evangelis van ons tyd, het onlangs op die ouderdom van 99 jaar, ná ʼn ryk en vol lewe in diens van Christus, gesterf. Hy was vir meer as 60 jaar aktief in die bediening van die Woord en het meer mense met die Christelike boodskap bereik as enige iemand anders in die 20ste eeu.

Hy het opgegroei in ʼn Christelike huis in die platteland van die Amerikaanse Suide en al op die ouderdom van 16 tot bekering gekom en daarna besluit om sy lewe aan die saak van Christus te wy en ʼn voltydse prediker te word. Ná sy teologiese studies is hy op 21 as prediker in die Presbiteriaanse Kerk bevestig, maar het hom later by die Suidelike Baptiste aangesluit. Hy was eers betrokke by die jeugbediening en het daarna prominent geword deur sy kragtige preke in ʼn groot tent waarmee daar na verskeie dele van die VSA uitgereik is. Sy meelewende en dramatiese manier van preek, en sy kragtige stem het groot impak gemaak. Ná elke preek was daar ʼn geleentheid vir bekering, en na skatting het hy 3,2 miljoen mense direk tot bekering gelei tydens sy byeenkomste.

In 1952 was sy eerste uitreik na die buiteland, na Groot-Brittanje, destyds alreeds ʼn ontkerstende en siniese samelewing ná die ontwrigtings van die Tweede Wêreldoorlog. Dr. Graham kon ten spyte van skeptisisme en weerstand ook dáár groot getalle met sy styl van prediking en aanvoelbare entoesiasme en empatie meesleur en ook kritici oortuig. Sy boodskap was nie gebou op haat en verwyt nie, maar op Christus se boodskap van liefde. Hy het egter ook nooit doekies omgedraai of enige twyfel daaraan gelaat nie dat jy sonder bekering verlore is, en dat jou lewe die vrugte van bekering moet wys. Daarna het sy evangelisasie-uitreike of kruistogte hom na groot dele van die wêreld gelei. By name in Suid-Korea was sy impak so groot dat dit in ʼn land met ʼn groot Christelike bevolking verander het. Ook in Afrika was hy veral in die 1960’s besonder aktief. Omdat hy al vroeg in sy byeenkomste in die suide die rasse-segregasie verwerp het (sonder om dit tot ʼn politieke vraagstuk te verhef en godsdiens en politieke aktivisme te meng) het hy ook wêreldwyd geloofwaardigheid gehad.

Persoonlik was sy lewe en sy preke in lyn met mekaar. In kontras met talle hedendaagse predikers wat preek om vir hulle volgelinge bymekaar te maak en om belangrik te voel, of wat die Bybelse wette buig as dit hulle pas en saam met die stroom gaan om “relevant” te bly, was die boodskap van Billy Graham van sy jeug tot en met sy dood dieselfde. In sy lang jare as evangelis was daar geen skandaal wat Graham in oneer gebring of sy werk beskadig het nie. Hy was byvoorbeeld ʼn geheelonthouer en was altyd getrou aan dieselfde vrou, iets wat by  bekende persoonlikhede vandag amper ondenkbaar is. Ten spyte van sy groot bekendheid en massa-aanhang het hy nie hoogmoedig geraak en sy eie persoonlike agenda gevolg nie. By Graham het die boodskap van sondeval, bekering en verlossing sentraal gestaan. Hy het ook nie ʼn spesifieke kerk se boodskap verkondig nie en mense wat hulle bekeer het, aangemoedig om dit binne hulle kerk uit te leef.

Sy preke het gewoonlik direkte politieke verwysings en eise vermy en die Christelike boodskap het voorop gestaan. Kommunisme was egter die een ideologie wat dr. Graham duidelik verwerp het en dit was besonder bevredigend vir hom om te sien hoe daar ná 1990 feitlik orals kommunistiese regimes tot ʼn val gekom het en die Christendom sterk uitgebrei het in dié lande, ook danksy sy betrokkenheid. Dit was een van sy begeertes om ook in China te preek, waar die Christendom ten spyte van die kommunistiese onderdrukking geweldig groei, maar dit was hom nie meer vergun nie.

Hy het na beraming persoonlik vir 215 miljoen mense in feitlik alle lande op aarde (selfs een keer in Noord-Korea onder streng bewaking) gepreek. Voeg daarby talle boeke, traktate, televisie- en radiopreke wat sy invloed enorm gemaak het.

Billy Graham was ook invloedryk in die politiek deurdat hy ʼn lang ry presidente as geestelike raadgewer gedien het en ook met van hulle bevriend was, sonder om onkrities te wees oor hulle gebreke. George Bush Jnr. het deur Graham tot bekering gekom. Hy moes egter erken dat ook openlik Christelike politici, soos Richard Nixon wat Graham gesteun het, lieg en mense teleurstel. Dr. Graham het later sy afstand gehandhaaf en was nooit direk in die politiek betrokke nie omdat dit sy boodskap sou afwater.

Billy Graham het in 2005 uitgetree en sy oudste seun Franklin (Billy Graham en sy vrou Ruth het 5 kinders gehad wat almal wedergebore en aktiewe Christene is) volg in sy pa se voetspore en lei die Billy Graham Evangelist Association en sit die evangelisasiewerk voort.

 

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Sebastiaan Biehl

Sebastiaan Biehl werk tans as ʼn analis in Berlyn, Duitsland. Hy is ook ʼn skrywer van romans en reisbeskrywings in sy vrye tyd en was op ʼn tyd (2001-2005) ook vir Solidariteit se media-afdeling werksaam. Sy kwalifikasies is BA algemeen, BA Hons (Politieke Wetenskap) en MA Politieke Wetenskap by Bloemfontein en RAU, onderskeidelik. Sebastiaan se gebiede van belangstelling is veral politiek, geskiedenis en reis.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

17 Kommentare

Disselboom ·

Billy Graham het nie politieke dinge vermy sover dit sy aktivisme teen apartheid aangegaan het nie, en hy word in heelwat geskiedskrywing as groot vriend van Nelson Mandela – wat nooit geweld afgesweer het nie en dus blykbaar nie die liefdesevangelie sy eie gemaak het nie – gereken.

Johett Oberholster ·

Hy het sy roeping uitgeleef, Spook. So, hou jou nare kommentaar vir jouself.

Quintus ·

Spook – jou kommentaar oor ‘n man van God is onvanpas. Jy het bevryding nodig ! Bestee eerder jou tyd in die Kerk as op die internet.

Eish ·

so sal my woord wees wat uit my mond uitgaan: dit sal nie leeg na My terugkeer nie, maar doen wat My behaag en voorspoedig wees in alles waartoe Ek dit stuur.
JESAJA 55:11 AFR53
http://bible.com/5/isa.55.11.AFR53
My op regte dank aan Sebastian vir n goed nagevorste odé aan die groot gees.
Voorwaar n man wie se lewe en preek een was. Sy bediening se finansiële state is n openbaring in rentmeesterskap.
Hy het n salaris van 50 000 dollar per jaar getrek. Die winsie uit boek verkope ensovoorts is alles teruggeploeg in die bediening.
Maar in alles ook net mens.

Bernardi ·

Opgegroei is ‘n anglisisme. Die regte woorde is grootgeword!

Landi Slatter ·

Dagsê Bernardi

Dankie vir jou kommentaar. Volgens die sede weergawe van die HAT is die woord wel aanvaarbaar. “Groei op, het opgegroei. Veral van mense gesê – grootword, wasdom bereik: vinnig/mooi opgroei. | ‘n Opgegroeide mens.”

Groetnis
Landi nms Maroela Media

Casper Labuschagne ·

In 1973 het my ouers ons as kinders na ‘n stampvol Wanderers Stadium geneem. Dit was ook die heel eerste keer in my lewe waar ek op ‘n openbare plek was waar al die rasse in SA saam was. As twaalfjarige het Billy Graham ‘n groot impak op my gemaak, veel meer as die honderde ure wat ek voor daardie dag op harde kerkbanke, swetend in ‘n pak klere met skoene wat my druk, tjoepstil moes sit. Gaan kyk gerus op YouTube na videogrepe vir “Billy Graham Johannesburg 1973”

Nic ·

Ek was ook daar! Sy boodskap (preek) het nie lank geduur nie, maar die mense het uitgestroom om hulle lewe aan die Here te gee!

rudolph ·

2 Tim 4 v 7 Ek het die goeie stryd gestry; ek het die wedloop voleindig; ek het die geloof behou.

Marius ·

Billy Graham het reeds vroeg in sy bediening ‘n raad van trustees aangestel om die miljoene Dollars te administreer uit boekverkope en ander inkomstes. Hy self het slegs ‘n salaris verdien. ‘n Man wat waarlik sy roeping uitgeleef het tot eer van God

Jerry ·

Wat n voorbeeldige evangelis! Hy was n geloofwaardige diep gelowige mens wat rasse-segregasie net so verwerp het soos wat hy kommunisme verwerp het! Die Afrikaner kan leer by evangeliste soos Billy en Angus.

Johan Neuteman ·

Sy byeenkomste en produkte is gekoppel aan sy naam, aan die “Billy Graham”-handelsmerk. Dit laat mens tog bietjie wonder. Was sy bediening, vir hoe wyd hy dan ook Christus op sy manier verkondig het, deel van toesig en orde van kerk, van kerkverband, ekumeniese skakeling en besinning of was dit ‘n vrysinnige godsdiens sonder kerkverband? Dit pla tog bietjie hoe die Billy Graham-bediening anders is as die verkondiging en werk van bv Paulus deur wie Christus meer geword het, terwyl die diens in swakheid gelewer is. Ek wonder of Billy Graham gemeentes gestig het, waardeur die kerk dan groei? Dit klink meer na persoonlike bekerings, maar is dit geanker en deurgevolg deurdat dit as gemeentes die kerk (liggaam van Christus) laat groei het?

Eish ·

Billy Graham was n naam soos Paulus of Petrus of Johannes.
Kerkverband? Eish! Watter kerk verband was Yeshua, of Paulus? Ons sit in die land met meer as 300 kerkdenominasies wat alger verskil. Yeshua se gebed was juis vir eenheid.
Eukumeniese skakeling en besinning? Eish. Paulus en Timotheus is sommer vinnig Jesrusalem toe oor die afskaffing van die besnydenis by die heidense bekeerdes wat groot konsternasie veroorsaak het by die Joodse gelowiges. Uitsluitsel was dis reg indien dit nie toegepas word nie.
Maar ons orde en moderatuur en oorsig en whatever verander die Sabbat, wat die vierde gebod is sommer in die teepouse. Genade, watter opskudding sou dit nie veroorsaak het nie en n hele aantal Bybel verse sou daaraan gewy gewees het.
Ek dink die vrye, onverbonde predikers het baie keer die waarheid beter beet dan ons benaamde en befaamde strukture.

Johan Neuteman ·

Aan Eish: in Openbaring word briewe aan die sewe gemeentes gerig. Aan die gemeentes en nie indiwidue nie. Die Nuwe Testament se beskrywing van kerk en die uitleef van geloof in Christus – die werkswyse wat die Bybel leer is in kerkverband. Die kerk is die bruid van Christus en daar is gevare van vrysinnigheid wat kan lei tot oortreding van veral die eerste drie gebooie waar geloof sonder kerk beoefen word. Ons moet nie wyser as God wil wees, wat die werkswyse in Sy Woord vir ons gee nie. Paulus het ook nooit ‘n “Paulus Crusade” in sy eie naam gehou nie. Inteendeel getuig hy dat die werk van Christus juis in swakheid volbring word. Die Billy Graham-manier strook nie met die Bybel nie.

Piet ·

Johan, het Jesus enige iets oor kerk gese? Askuus ek sukkel om te tik op die foon. My ander bydrae op rekenaar is nie geplaas nie Weetie hoekom

Marthinus Willemse ·

Een van die mites van die Koue Oorlog, was dat al die mense in al die kommunistiese lande ateïste was. Uit my navorsing van die voormalige Sowjetunie kan ek aflei dat die meerderheid Russe, byvoorbeeld, baie godsdienstig was en is. Hulle was egter geheime Christene, en het `n skynlewe gelei. Onder Stalin en Chroesjtjof is hulle vervolg en vermoor, maar onder Gorbatjof, wat `n erkende ateïs is, is kerke herbou en gerestoureer. In Roemenië is die Christene wel gruwelik gemartel en vermoor. `n Goeie argument kan gemaak word dat die Russe se geheime Christenskap [alhoewel die politburo bewus was daarvan] deels verantwoordelik was vir die aftakeling van kommunisme.

Jerry ·

Ek stem saam dat geheime Christenskap deels verantwoordelik was vir die aftakeling van kommunisme, maar dat die groot faktor wat daarvoor verantwoordelik is, die magshebber van die tyd is. Die leiers wat mense kies is diegene wat die mag het om hulle na anargie of voorspoed toe te lei. SA is n goeie voorbeeld van Zuma wat die mense in anargie wou dompel en CR wat die mense na voorspoed wil lei. Beide leiers het sosialistiese denke en sosialistiese volgelinge, maar duidellik maak die leier se ingesteldheid as mens die verskil. Dit maak dus nie saak watse ideologie nagevolg word nie. Wat saak maak en die bepalende faktor is, is die leier as mens op daardie spesifieke tydstip.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.