‘Bird Island’ – dié hoofstuk moet nou afgesluit word

In die afgelope naweek se Rapport het die koerant erken dat hulle fouteer het toe hulle die bewerings wat in die boek Die seuns van Bird Island gemaak word, as feite voorgehou het. Die boek voer aan dat die voormalige ministers Magnus Malan, John Wiley en Barend du Plessis by ’n pedofiliering betrokke was en kinders op ’n nabygeleë eiland gemolesteer het. Du Plessis word nie by name in die boek genoem nie, maar die verwysing na hom was van so aard dat hy begin vrae ontvang het oor sy beweerde betrokkenheid en besluit het om self na vore te tree en die bewerings te ontken.

Verlede week, in ’n wanhopige poging om geloofwaardigheid in die boek in te blaas, het die medeskrywer, Chris Steyn, ’n leuenverklikkertoets afgelê. Die vrae, soos gerekende poligrafiste uitgewys het, het egter glad nie gehelp om die bewerings wat in die boek gemaak word, te staaf nie. Een kenner sê die toets wat Steyn afgelê het, bepaal slegs dat sy haar bronne se weergawes van die gebeure korrek weergegee het. Dit bepaal egter nie of die bewerings in die boek die waarheid was nie. Om dit te bepaal, gaan die bronne of die mense teen wie die aantygings gemaak is, getoets moet word.

Intussen het die ondersoekende joernalis Jacques Pauw onthul dat die ander medeskrywer, Mark Minnie enkele dae voor die boek se publikasie die volgende aan die uitgewer geskryf het: “Ons het geen konkrete bewyse dat enige van die drie ministers ’n slagoffer seksueel gemolesteer het nie.” Minnie het intussen sy eie lewe geneem.

Daar kan dus nou aanvaar word dat die skrywers nie oor die nodige bewyse beskik het om die bewerings in die boek te staaf nie. Sedert 5 Augustus 2018 hang daar ’n donker wolk oor die koppe van die persone wat in die boek vermeld word – by name of deur suggestie. Ons kan net hoop dat hier ’n paar lesse geleer is.

Die eerste les is dat die media altyd bo verdenking moet wees en nie handel met hoorsê of halwe waarhede nie. Wanneer die publiek iets in die media teëkom, moet nie hulle nie twyfel oor die geloofwaardigheid daarvan nie. As daardie verstandhouding tussen media-instelling en Jan Publiek eers verlore is, moet die betrokke media-instelling maar vrede maak met die etiket “fopnuus”.

Die tweede les is dat daar te maklik deur die media en Jan Publiek as aanklaer, regter en laksman opgetree word. Drie voormalige hooggeplaastes se reputasies is ernstige skade berokken wat nie sommer herstel kan word nie. Die feit dat die bewerings vir so lank as die waarheid voorgehou is, het daartoe gelei dat Malan, Wiley en Du Plessis se nalatenskap ongekende skade gelei het nadat hulle op grond van die bewerings skuldig bevind en veroordeel is.

As daar een groot waarheid hieruit te leer is, is dit dat geen stelling op ’n openbare platform sonder die nodige feite wat dit staaf, gemaak mag word nie.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: James Kemp

James is die hoofredakteur van Klankkoerant, ʼn nuus en aktualiteitsprogram wat ook op Pretoria FM uitgesaai word.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

18 Kommentare

Johanna Botha ·

Ag nee dit het soveel lekker sensasie verwek en koerante verkoop ??

Theoman ·

Van die begin af geweet dat die verdomde boek bestaan uit n klomp vieslike en verdraaide leuns. Dit was en is n skande dat n man soos Genl Magnus Malan by sulke snert betrek was en die selfde geld ook vir Ministers Wiley en du Plessis. Hoop die oorblywende skrywer Steyn kan hiermee saamleef die ander kon nie.

Jan Alleman ·

Ek het die boek gekoop toe dit uitgekom het en kon tot op die laaste blad nie oortuig word dat daar vleis aan die storie is nie en was daarna nog nooit oortuig dat dit waar is nie. Waarvan ek wel oortuig was teen die tiende blad is dat die oorlede manlike skrywer vreeslik graag n autobiografie wou skryf

Melanie ·

Dit sal my glad nie verbaas indien die familie van die oorledenes nou vir Me Steyn hof toe sleep nie. Die oorledenes kon nie hulle naam skoonmaak nie maar die oorblywende familie kan.

Arak ·

Wat die NP regering aanbetref, is ek maar sinies; ek het nie ‘n verdere woord oor Mark Minnie se selfmoord gehoor nie? Die wyse wat hy “selfmoord” gepleeg het deur homself van voor deur sy kop te skiet is bitter vreemd en dit met ‘n “vriend” se wapen? Hoe het hy die wapen gekry en hoekom van voor deur sy kop?
Ek onthou nog die moord op Marike de Klerk en dit was dieselfde tipe reaksie deur die media. Wat van die die Smit moorde? Wat van Gert van Rooyen wat deur die polisie tereg gestel is? Hoekom soveel vreemde moorde met die NP regering as gemene deler? Ek wonder maar net…

Andreas ·

Als staan duidelik hier bo in die artikel, ook dat Minnie erken het daar is nie bewyse nie, jy kan ook Rapport gaan koop en lees, heelparty artikels is al hieroor uitgebring, vir lank, maar dis mos altyd lekker om ongeag die feite, nog steeds ‘n verdagte vraagteken onderaan te plaas.

Karma ·

Iets laat my dink dat al hoekom Rapport nou so vreeslik verskoning vra, “wyshede” kwytraak en soet-sappigheidjies opdis is omdat hulle kierrantjies in die hof gaan braai.
Hoop hulle geldsakke word goed geskud.

Piet Snot ·

James, jou gedagte van ‘n vertrouensverhouding tussen Jan Publiek en die media is pragtig. Maroelamedia uitgeslote, is ek egter bevrees die laaste wat ek ‘n joernalis sommer net geglo het, was … wel, nou kan ek nie eens meer onthou nie.
Ek sien die “disconnect” tussen die media en die publiek veral in mense se verstommende gebrek aan ontsteltenis wanneer ‘n joernalis leed aangedoen, of selfs vermoor, word.

Patat ·

Noudat hul onskuldig is en daar geen bewyse is nie, moet hierdie boeke maar herroep en verbrand word en al hierdie nonsens van social media verwyder word! As dit my familie was sou ek elke persoon agtervolg het wat dit op social media geplaas het.

Jerry ·

Enige stelling kan gemaak word sonder feite. Dit mag gebaseer wees op hoorse, opinie, wensdenkery of persepsie. Indien feite nie bestaan nie of nie die teendeel bewys nie en dit nie weerle nie, sal dit bly staan. Chris Steyn se stellings het nie feite nie, maar daar is ook nie werklik teenfeite nie, dus sal die stellings wat sy gemaak het, bly staan. Ek maak die stelling dat Steyn deel is van n linksgesinde georkestreerde poging om Afrikanerleiers uit die vorige bedeling verdag te maak ten einde Afrikaners sover te kry om hulself te distansieer van hulle verlede en leiers. Ek het nie feite vir my stelling nie, maar my stelling sal bly staan totdat Steyn feite verskaf wat die teendeel bewys.

Waarheid ·

Kla die vrou aan want sy het soveel skade aangerig.
Sy moet of tronk toe of miljoene in skadevergoeding betaal en Rapport ook!!

Sarel ·

Die Betrokke Pers, Die Uitgewer en die Skrywer moet opdok want hulle het klomp geld hier uitgemaak. Opmerklik dat die klipgooiers ,soos gewoonlik,stil is.

Ernst Marais ·

Weereens ‘n uitgewer uit die Naspers stal.
Hoop Ton Vosloo sien die dag wat Napers se publikasies almal saliger is.
En dat TenCent ‘n groot wind sluk.

Hans Richardt ·

Daar is Vryheid van spraak vir sommiges in SA, veral as dit iets negatief oor vorige NP bedeling is, al is dit hoorsê soos meeste stories oor apartheid deesdae, deur mense wat in 1983 of daarna gebore was.

Hendrik ·

Kan mens nog iemand aankla van naamskending? Hier is ‘n gulde geleentheid om die skrywers en publiseerders ‘n goeie les te leer …

Oud Weermag Lid ·

Sarel, ja dit het my ook opgeval, die klipgooiers rep nie ‘n woord nie!!!
Hoop hulle sak hulle koppe in skaamte.
Kla die lot aan – almal van hulle – wat so laag gedaal het om gesinne so te ontstel – en dit vir sensasie. Ry hulle tot by Oom Daantjie in die kallerhok!!!

Attie. ·

Die wyse waarmee Mnr Barend du Plessis sy saak gestel het op Kyk net teenoor die groot vrou van Rapport, het my beeindruk. Ek wens ons het sulke leiers vandag gehad wat reguit en op die man af binne tien minute sy eie saak sowel as Gen. Magnus Malan se saak kon stel. Ek was altyd teen die NP maar die wyse waarop Mnr. du Plessis sy praat gepraat het, het bewondering by my afgedwing. Ek hoop u dagvaar die spul vir naamskending.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.