Bitcoin en die wederopkoms van privaat geld

Argieffoto (Foto: CoinDesk)

Digitale geld is die afgelope tyd baie in die nuus. Die bekendste hiervan is Bitcoin, die elektroniese geldeenheid gebaseer op kettinglêer-, of sogenaamde “blockchain”-tegnologie. Dit is veral die wisselvallige prys van Bitcoin wat die aandag trek – dit het onlangs so hoog as $5 000 per Bitcoin verhandel. Meer belangrik as die prys is egter die groter implikasies van die tegnologie agter Bitcoin en die historiese konteks daarvan. Die ekonoom Dawie Roodt verwys tereg na Bitcoin as privaat geld, en nie digitale geld nie.

Bitcoin is die skepping van ’n anonieme kundige of span kundiges onder die skuilnaam Satoshi Nakamoto. In 2009 het hulle ’n wiskundige proses ontwikkel om onvervalsbare elektroniese betaaleenhede te skep en ’n rekenaarprogram geskryf wat ’n maksimum van 21 miljoen van hierdie eenhede skep.

Sny ’n mens deur al die kompleksiteit, dan kom Bitcoin op die volgende neer: ’n digitale eenrigtingjoernaal vir 21 miljoen digitale munte is geskep, waarop enigeen wat die voorwaardes nakom ’n inskrywing kan maak, maar waarvan niemand iets kan uitvee nie. Boonop word kopieë van hierdie joernaal op deelnemers se rekenaars reg oor die wêreld en selfs in satelliete gestoor en regstreeks opgedateer, sodat dit in praktyk onmoontlik is om die rekords te vernietig.

Die wiskundige onvervalsbaarheid, die verspreide aard van die joernaalrekords, en die beperkte uitreiking maak Bitcoin uiters interessant.

Alhoewel state ook voor die 20ste eeu by geldstelsels betrokke was, is dit eers in die 20ste eeu dat privaat geld verdwyn het en geld werklik ’n staatsmonopolie geword het. State het geld gedruk en mense met wetgewing gedwing om dit te aanvaar. Aanvanklik is die illusie in stand gehou dat reserwebanke gelykstaande hoeveelhede goud in bewaring hou. In praktyk het dit natuurlik nie gebeur nie, en is meer geld gedruk as waarvoor die staatsbanke reserwes gehad het, ’n proses bekend as inflasie. Teen die 1970’s het die illusie verdwyn dat state op aanvraag goud vir papiergeld sou omruil, en vandag sit ons met die situasie dat state soveel geld kan druk as wat hulle wil. In sommige gevalle lei dit tot geleidelike prysstygings soos in die geval van die Amerikaanse dollar, maar in ander weer tot hiperinflasie, soos wat in Zimbabwe gebeur het.

Die suksesvolle Kaapse IT-entrepreneur, Justin Stanford, vra onlangs op Twitter: Wat as die mense van Zimbabwe die opsie gehad het om Bitcoin tydens Mugabe se hiperinflasie te gebruik? Die antwoord is natuurlik dat dit baie daartoe sou bydra om die ekonomie aan die gang te hou en mense se bates te beskerm, soos wat tans in Venezuela gebeur.

Bitcoin is wisselvallig en riskant en kan dalk weer ver van sy huidige prys af val, maar dit dui op die begin van ’n nuwe era in geld; ’n era waarin hiperinflasie nooit weer dieselfde sal wees nie.

  • Hierdie nuuskommentaar word deur Pretoria FM verskaf. Luister daagliks na Klankkoerant op Pretoria FM vir die jongste nuuskommentaar.

Hierdie meningstuk is deur ʼn onafhanklike persoon opgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Piet le Roux

Meer oor die skrywer: Piet le Roux

Piet le Roux is die uitvoerende hoof en direkteur van die sakeregte-organisasie AfriSake.

Deel van: Geldsake, Meningsvormers

4 Kommentare

Stofskoen ·

As jy nog nie geleer het van Bitcoin en digitale geld nie, is dit nou tyd.

Daar is baie meer as net Bitcoin, meer as 2000 gelde wat vrylik verhandel kan word om profyt te maak.

Belê net wat jy bereid is om te verloor want dit is wisselvallig, maar dit is waar die profyt lê.

Adriaan ·

Ek hoop dit ontwikkel in tyd in meer as net iets wat verhandel kan word om profyt te maak. Ek sal dit wil sien ontwikkel in iets waarin jy waarde kan stoor, soos kontant. Ek wil betaal word en op my beurt betaal vir goedere en dienste sonder dat n bank betrokke is. Hoekom? Banke is duur en nog meer belangrik, niemand het iets uit te waai met my geldsake nie (die reg op privaatheid).

Nico K ·

Mense soos ek verstaan natuurlik nie hoe werk die ekonomie nie, want ons kan ons nie indink dink dat iemand sommer privaat geld skep nie. Maar dan moet ons dink hoekom het goud enige waarde? Niemand doen iets daar mee nie. Dit word in kluise toegesluit. Dis ook maar denkbeeldige geld.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.