Blaam vir brandstofprys, BTW-verhoging aan die voete van die regering

Argieffoto.

President Cyril Ramaphosa het vroeër hierdie maand op ’n eNCA-nuusuitsending kommer uitgespreek oor die styging in die koste van voedsel en ander basiese produkte wat moontlik kan volg op die onlangse verhogings in die brandstofprys. Tydens die nuusuitsending het die president ’n swak rand en stygende oliepryse vir die verhogings geblameer.

President Ramaphosa het versoek dat kleinhandelaars en voedselprodusente terughou en nie die pryse van voedsel en basiese produkte wat mense gebruik, verhoog nie”. Die kern van die saak is dat president Ramaphosa versoek het dat ondernemings die bykomende voorsieningskoste wat met die onlangse verhogings verband hou, absorbeer.

Kommerwekkende uitsprake

Dit is uiters kommerwekkend, alhoewel miskien nie verbasend nie, dat president Ramaphosa, geag deur baie as ’n “sakeman”, so ’n versoek as redelik beskou.

’n Mens moet sulke uitsprake en beroepe van prominente politici met versigtigheid benader. Histories is politiese beroepe vir ondernemings om hulle daarvan te weerhou om pryse te verhoog, dikwels vinnig gevolg deur prysbeheer en -regulasies wat “prysuitbuiting”, “woekerwinsbejag” en “skadelike spekulasie” verbied – alles misleidende uitdrukkings vir vreedsame sakebedrywighede wat die staat nie goedkeur nie.

Mislukkende regerings probeer dikwels om hul mislukkings te verbloem deur privaat sektor­sondebokke vir die probleme van oorregulasie en wanregulasie te blameer. Sodra die sondebokke opgestel is, skuif versoeke om pryse nie te verhoog nie, baie maklik na die implementering van dwangmaatreëls soos prysbeheer. Zimbabwe, Venezuela en vele ander lande het bewys dat beleide soos dié rampspoedig is.

Groot Suid-Afrikaanse kleinhandelaars werk in die algemeen op fyn winsgrense. Suid-Afrikaanse verbruikers het nie tans sterk koopkrag nie. Gevolglik sal prysverhogings verbonde aan voorsiening ’n opvallende nadelige uitwerking op ondernemings se winsgrense en huishoudelike finansies inhou.

Onder talle kommerwekkende aanwysers staan die Buro vir Ekonomiese Ondersoek (BEO) se peiling onder kleinhandelaars uit en dui skerp op swak kleinhandelwinsgewendheid. Verder, wanneer ’n mens die swak nettovastebeleggingsgroei in ag neem, is dit te begrype dat produktiwiteit en derhalwe die mag van aanvraag, in die gevaar van afname is. Dalende produktiwiteit sou verdere druk op die kleinhandelsektor beteken.

BEO-peilings in die tweede kwartaal van 2018 dui ook lae sakevertroue onder kleinhandelaars aan, soortgelyk aan vlakke wat laas in die vroeë 2000’s te sien was.

Argieffoto.

Wentel kostes eenvoudig af?

Teen hierdie agtergrond is die aanname dat kleinhandelaars die hoër kostes eenvoudig kan absorbeer, duidelik problematies. Maar dit is ook nie duidelik dat kleinhandelaars eenvoudig ’n keuse het om die kostes “af te wentel” na verbruikers nie.

Die meeste ondernemings sou sekerlik graag die kostes wou afwentel, maar dit is net ’n ander manier om te sê ondernemings sal graag meer, of selfs soveel as moontlik, wil vra vir hul produkte en dienste. Dít wek die vraag: As dit so maklik was soos om pryse na willekeur te verhoog, waarom sou hierdie maatskappye dit nie reeds gedoen het nie?

In werklikheid beteken die sensitiwiteit van baie verbruikers jeens prysverhogings (wat ekonome verduidelik ten opsigte van elastisiteit) dat baie kleinhandelaars in ieder geval nie in staat sal wees om brandstofkostes en BTW-verhogings suksesvol na verbruikers af te wentel nie. Hulle kan aanvanklik probeer om pryse te verhoog, maar – in die aangesig van swak verbruikersaanvraag – loop hulle die gevaar van skerp dalende verkope en opbrengste.

Maatskappye moet óf probeer om pryse te verhoog óf om winsgrense te beskerm deur minder kostes aan te gaan, byvoorbeeld om arbeidskoste te sny of om die gehalte van insette te verlaag.

Marginale winsgewende ondernemings wat nie in staat is om hoër pryse af te wentel of om kostes te sny nie, sal gedwing word om hul deure te sluit, terwyl meer doeltreffende ondernemings sal oorleef. Laer winsgewendheid van ondernemings beteken minder besparing en herinvestering en dus minder groei in produktiwiteit. Op die lang duur verhoog hierdie die ware lewenskoste vir huishoudings en krimp indiensnemingsgeleenthede.

finansies-geld-sente-rand-beleggings

Foto: Stevepb/Pixabay.com

Dit is nie slegs die rand nie

Daar is voorheen genoem dat president Ramaphosa die swakker geldeenheid en stygende oliepryse geblameer het vir die hoër prys van brandstof. Terwyl hierdie faktore inderdaad ’n rol speel, is dit dalk ook te eenvoudig om hierdie elemente alleen te blameer. Dit skep ’n opvallende indruk dat Suid-Afrika bloot ’n slagoffer van stygende oliepryse en die verswakking van die rand is.

Baie van die huidige gevare, insluitend ’n verswakte geldeenheid, kan egter eintlik aan ’n wanbestuur van Suid-Afrikaanse ekonomiese beleid in die algemeen toegeskryf word.

’n Trae ekonomie is as gevolg van stygende teenproduktiewe regeringsbeleide wat uiteindelik by president Ramaphosa berus. In werklikheid het president Ramaphosa se kabinet Suid-Afrika nie enigsins vriendeliker jeens besigheid gemaak of dit nader aan die nodige strukturele beleidshervorming in die rigting van vryer markte beweeg nie.

Onder president Ramaphosa se leiding het ons eerder ’n voortsetting van die ANC se inmengingsbeleid wat teen vrye markte indruis, gesien. Dit sluit in: die minimumloonwetsontwerp, die wetsontwerpe van die Nasionale Gesondheidversekering (NGV) en mediese fondse, en ’n steeds problematiese mynbouhandves.

Nie net dit nie, maar die Ramaphosa-kabinet het ook oor die rampspoedige deursetting vir onteiening sonder vergoeding toegesien. Om die minste te sê, is hierdie duidelik nie skuiwe na deregulering, positiewe markhervorming of vryer markte nie.

Een wyse om die rand te versterk, is om buitelandse belegging te lok, wat sal vereis dat meer buitelanders rande wil koop as wat sal wil verkoop (aanvraag sal verhoog). Rande word dan spandeer op plaaslike beleggingsgeleenthede. Hierdie beleggings verhoog produktiwiteitsvlakke, wat dan weer op die lang termyn die geldeenheid verder kan versterk.

Om egter in vaste projekte te belê, soos om byvoorbeeld ’n nuwe myn of fabriek te open, sal buitelanders die risiko’s en koste relatief tot ander lande moet vergelyk. In Suid-Afrika staar, onder meer, oorregulasie, militante vakbonde en relatiewe duur arbeid, rasgedrewe indiensnemingsbeleide, bevele oor eienaarskapstruktuur en moeilike reëls vir sake met die regering – alles voortvloeiend uit beleide direk onder die beheer van die regering – sulke beleggers in die gesig.

In die aanslag van duur regulasie en dreigende inbreuk op privaat eiendom, bly organiese privaat vaste belegging swak en ontwykend, wat moontlik ’n rol speel in die relatiewe verswakte aanvraag vir die rand op valutabeurse.

Foto: Brett_Hondow/Pixabay.com

Die regering se “brandstofgeraamte” in sy kas

Wat Ramaphosa, die sakeman, nie noem nie, is dat die brandstofprys in werklikheid streng deur die staat beheer word, wat beteken dat die brandstofmark nie toegelaat word om in die ware sin van die vryemark te funksioneer nie.

Regering bepaal die grootmaat- en kleinhandelwinsgrens en lê ’n hele reeks belastingheffings op brandstof. Ons het nie regtig enige idee hoe ’n markprys vir brandstof sou lyk nie. Ons moet egter in ag neem dat voortgesette verhogings van die brandstof- en Padongeluksfondsheffing beteken dat hierdie belasting R5,30 per liter brandstof, oftewel 37% van die handelsprys vir brandstof in Julie, beloop het.

Brandstofverkopers word nie toegelaat om met mekaar te kompeteer oor pryse of om aan klante spesiale aanbiedinge te gee nie. Pryse word “vasgestel” en tog sal jy nie hoor dat die Mededingingskommissie oor hierdie bepaalde markmanipulasie kla nie.

Die kern van die saak

Die Suid-Afrikaanse regering gaan voort om veel meer te spandeer as wat dit belas. Waar dit spandeer, spandeer dit uiters swak. Selfs wanneer geen ag geslaan word nie op die geleentheidskoste van hewige belasting wat op die privaat sektor gehef word, om op wanfunksionele en onverantwoordelike munisipaliteite, riskante staatsinstellings en ’n bultende openbaresektorloonrekening te verkwis, handhaaf die regering steeds begrotingstekorte. Sulke tekorte dompel die belastingbetaler al hoe meer in die skuld.

Dit is die regering se besteding, insluitend die voorgestelde nuwe besteding op “gratis” hoër onderrig (nie kosteloos nie) wat inderwaarheid meer belasting vereis, soos die verhoogde BTW.

Dalk sal dit dan beter wees vir president Ramaphosa, die sakeman, om die kumulatiewe impak van teenproduktiewe regulasies, beleide en belasting te evalueer in stede daarvan om nou die privaat sektor implisiet as sondaar uit te maak met onhaalbare versoeke, wat op sigself mag dien om ’n atmosfeer vir selfs meer skadelike beleide, soos prysbeheer, te skep.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Gerhard van Onselen

Gerhard van Onselen is ʼn senior navorser by Sakeliga.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

marco polo ·

Ek wonder soms oor Ramaphosa se sakevernuf en ekonomiese vermoens. Sou hy so ryk geraak het as dit nie vir BEE en sy politieke konneksies was nie.

JohandB ·

Ramaphosa sou nêrens gekom het as dit nie vir die vrugte van BEE was wat net so in sy skoot geval het nie. Hy is g’n sakeman nie. Hy is ‘n mega begunstigde.
Hoewel sy bydrae by die bemiddelingstafel tydens die opstel van die grondwet hoofsaaklik gegaan het oor meer (ontwrigtende) regte en magte vir unies, was hy steeds as politikus net op die regte tyd op die regte plek. Dit het aan hom die voordeel gegee om as “preferred black beneficiary” vele pasellas, soos direkteurskap in Marikana (en eienaardig genoeg ook sommer in die arbeidsmakelaar wat werkers verskaf het aan Marikana) en eienaarskap van KFC te verorber.
Nou is hy sommer ‘n gesoute sakeman? Nee wat, hy is maar net ‘n gevaarlike opportunis.

Riaan le Roux ·

Puik! Dit is basies ‘n (akkurate) beskrywing van die verskille tussen vryemark kapitalisme en kommunistiese staatsinmenging, met Suid-Afrika as praktiese voorbeeld.

John ·

… die sakeman? Elke vroulief met ‘n bankkaart van haar man in haar hand is ‘n kundige op sakegebied. Sy weet waar lieflike duur items te koop is en sy doen en sy besoek die skoonheidsalon en kry ‘n duur make-over, en beindruk al haar vriendinne en gaan drink by die rykste een tee. Is dit nou moeilik? Selfs die bankbestuurder groet haar respekvol. Wat se dit: haar man is die eintlike welvarende sakeman. CR is eintlik maar cr met die staatskaskaart in sy baadjie se sak… maar kaarte het ‘n manier om te hop al tap jy ook kaalbas op die tafels.

Pietman ·

Die ANC demonstreer sy onkunde vir die wêreld om te sien. Dit is ‘n klassieke geval van jy dink of raai jy weet, maar jy weet nie wat jy nie weet nie.

marous ·

Enigste plek in die wereld waar jy mense beveel om die vuur wat jy stig met hul kaal hande dood te slaan …elke dag

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.