Black Lives Matter die nuwe afgod

(Foto: Julio Cortez/AP)

Die tragiese dood van George Floyd aan die hand van ‘n wit polisieman het ‘n rampspoedige teenreaksie met sinistere ondertone ontketen wat gelei het tot chaos, vernietiging, ’n bloedbad en die dood van talle mense soos die VSA nog nooit vantevore gesien het nie.

Toe Rayshard Brooks op 12 Junie buite ’n restaurant deur polisielede doodgeskiet is omdat hy op die vlug geslaan het, was dit net nóg olie op die vuur. Santa Monica, waar ek tot ‘n paar maande gelede gewoon het, is ‘n gemoedelike klein kusdorpie vol gemeensaamheid en landelike sjarme. Maar nadat plunderaars twee weke gelede daar aangekom en die pragtige winkels in die Derde Straat-promenade geteiken en alles wat voorgekom vernietig het, is die winkels nou onherkenbaar en geboue steeds met plank verskans. Soos die plunderaars verder van die kus af beweeg het, het die verwoesting na pure moedswilligheid oorgeslaan en jong seuns het helder oordag elektriese kitare en ander duur musiekinstrumente uit musiekwinkels gegryp en daarmee weggekom.

(Foto: AP Photo/Craig Ruttle)

Peperduur ontwerperstekkies en juweliersware het oornag hul waarde verloor soos plunderende barbare van die een winkel na die volgende beweeg en voor die voet gesteel het. Hulle het tot die Kumon-skool, waar my kleinkinders skoolgegaan het, se vensters gebreek. Die winkel langs die kleuterskool van my kleinseun is ook geplunder. Niemand het hulle egter gestop nie. En niemand het ondersoek ingestel na die identiteit van hierdie plunderende jeugdiges wat klaarblyklik na buurte waar hulle nie gewoon het nie, vervoer is.My kleinkinders kon nie dit wat hulle in die dorp van hul geboorte gesien het, en waar van hul gelukkigste herinneringe gevorm is, inneem nie. Hoe verduidelik ‘n mens dié verwoesting aan kinders?

Greg Gutfeld, die ankerverslaggewer van Fox News in New York, het berig hoe hierdie jong boosdoeners luukse winkels in 5de Laan, soos Tiffany’s (Tiffany & Co.), Balenciaga, Nordstrom en ander, geplunder het en ook hul selfone gebruik het om goed af te neem waarvan hul familie en vriende moontlik mag hou, net om keer op keer terug te kom om nog te plunder.

(Foto: Mike Simons/Tulsa World via AP)

Black Lives Matter, Antifa en ander radikale groepe is al ’n geruime tyd gereed vir ‘n geveg, dog het hul bête noire (woordspeling bedoel), president Donald Trump, hulle geen aanleiding gegee om te rebelleer nie. Met ‘n stygende ekonomie en lae werkloosheidsyfer, was die ergste wat mens van hulle kon verwag, om Trump die gewone beledigings toe te snou: ’n rassis, vrouehater, fanatikus, Hitler, ’n Nazi, ensovoorts.

Hý was per slot van sake die eerste president wat in die afgelope dekades beleide ingestel het om die lewe van Afro-Amerikaners te verbeter, veral die First Step Act[i], wat aandag gee aan misdaadhervorming, histories swart kolleges/universiteite befonds, die werkloosheidsyfer tot die allerlaagste vir Afro-Amerikaners afbring, geleentheidsones vir swart mense skep, ensovoorts.

Pres. Donald Trump. (Foto: AP Photo/Sue Ogrocki)

Die aansienlike toename in swart steun aan Trump in die komende verkiesing het die Demokrate so van stryk gebring dat, toe die gevreesde video van Floyd se moord die internet tref, het hulle gejuig, want met hul gewapende ekstremistiese vleuel het hulle uiteindelik hul doel gevind. Met hul dodelike geloof in algehele anargie het hulle hul kultusagtige oortuigings met militêre presisie uitgevoer – soos ek in my vorige rubriek genoem het.

Die vernietiging van die ikoniese sakedistrikte in New York, Seattle, Minneapolis, Minnesota, Chicago, Philadelphia en ander, is gedoen om sistemiese rassisme af te skaf. Deur polisiëring as beroep te vernietig en te rasionaliseer, het hulle hul raison d’être gevind. Hul “Ontfonds die Polisie”-mantra was die vervolg op hul missie om die Abolish ICE[ii]-beweging te vernietig. Maar toe laasgenoemde missie hopeloos misluk het met Trump se konstruksie van die muur, met Mexikaanse wagte wat die suidelike grens polisieer, het BLM hul teiken elders gestel.

(Foto: AP Photo/Alex Brandon, File)

Die skielike vloedgolf van ondersteuning van BLM en hul surrogate was vir die Demokrate musiek vir die oor. En as ‘n dekades oue rasgedrewe party het hulle hierdie guerrillas natuurlik met ope arms ontvang omdat hulle onverbeterlik is as dit kom by die gebruik van ras om mense te ontsenu. Dit maak nie saak dat die huidige statistieke bewys dat daar aansienlike polisiehervorming die afgelope dekades plaasgevind het nie. Hoewel Afro-Amerikaners ongeveer 13% van die bevolking uitmaak, was die diversiteitsverhouding in wetstoepassing-sektore byvoorbeeld 16%. In teenstelling met die woede-uitbarstings, is ongeveer tien ongewapende swart mense tot dusver hierdie jaar deur wit polisiebeamptes doodgemaak. Huidige statistieke is teen-intuïtief met die ongegronde diskoers van verset. En terloops, president Trump het op 16 Junie ‘n uitvoerende bevel oor aanvullende polisiehervorming onderteken. Maar bygesê, logika en rasionaliteit was nog nooit die kenmerk van revolusionêres nie.

(Foto: AP Photo/Ted S. Warren)

Polisiëring is ‘n staatsfunksie en wanneer Demokratiese goewerneurs, burgemeesters en verkose amptenare op staatsvlak die ondergang van die polisie ondersteun, gee hulle skietgoed aan anti-staatsmagte soos BLM en Antifa om hul radikale agendas uit te voer. Voeg ras by die mengsel en die morele hoë grond word gereinig, ongeag die honderde polisiebeamptes en onskuldige mense wat ernstig in die skermutseling beseer is.

Met hul nuutgevonde mag, het BLM “wit skuld” tot die uiterste uitgebuit soos wat op TV gesien is, waar wit mense die vergifnis van die guerrilla-krygshere afsmeek – ’n demonstrasie van die bonatuurlike magte van die BLM waarteen nie eens die Katolieke geestelikes kon meeding nie.

(Foto: AP Photo/Ted S. Warren)

Hollywood-sterre en glanspersone van elke soort – Chrissy Teigen, Janelle Monáe, Angelina Jolie, Steve Carrell, Seth Rogen, Don Cheadle, Kehlani, Colin Kaepernick, Ben Schwartz, Harry Stiles, Nick Kroll, Patton Oswalt, Rob Delaney, Cynthia Nixon, Halsey en vele meer – het, soos gewoonlik, selfvoldaan verkondig dat hulle groot bedrae geld aan BLM geskenk het. Walmart, Target, Home Depot, Nike, H&M, Gap, McDonalds, Coca Cola, Levi’s, en honderde ander topwinkels het gevolg en kruiperige ondersteuning aan BLM, Antifa en hul surrogate soos NAACP Legal Defense Fund, Equal Justice Initiative, American Civil Liberties Union en ander ver-linkse opstokers op hul webwerwe geplaas. Meer as ‘n halfmiljoen dollar is in hul koffers geplaas, waarvan ’n groot deel, ironies genoeg, via die Demokratiese Nasionale Komitee na verskeie partysake gegaan het, waarvan die regsverteenwoordiging van die brandstigters en plunderaars, borggeld vir gewelddadige betogers en begrafnisse van kamerade boaan die lys is. En, natuurlik, om die leefstyl van sjampanje-sosialiste in stand te hou.

(Foto: AP Photo/John Minchillo, File)

Hoe anders kan ons drie groot gedenkdienste en ‘n begrafnis vir George Floyd, wat geen heilige was nie, verklaar? Ja, hy is miskien wreed en onregverdig doodgemaak, maar hy het ‘n ellelange geskiedenis van misdaad gehad, en boonop ‘n wapen teen die maag van ‘n swanger vrou gehou terwyl sy makkers haar huis beroof het. Waar is die feministe? Waar is die godsdienstige leiers? Waar is die akademici wat vir die indoktrinasie van hul studente verantwoordelik is? Jong mense wat die mees banale slagspreuke met demoniese ywer dreunsing…

(Foto: Aaron Chown/PA via AP)

Hoe meer mense die knie voor BLM buig, hoe meer onderdrukkend is hul Kulturele Revolusie. Bedwelm deur die reuk van mag, beskou hulle hul suiwering as ‘n regverdige, weggooibare rede en rasionaliteit so maklik soos biltong eet. Bure wat selfvoldaan hul BLM-plakkate op hul heinings plaas, voel deugdelik; sosialemediakrygers merk hul webwerwe met die alomteenwoordige swart boks; konserwatiewe nuuswebwerwe word gesensor en sommige in samewerking met Google gesluit; en nie net is daar diegene wat dit nie durf waag om te verskil van die vervolgdes nie, maar ook diegene wat weier om te praat – albei word gebrandmerk met die frase “Stilte is geweld.”

(Foto: AP Photo/Charles Rex Arbogast)

Sowel Hitler se Bruin Hemde as Mao Zedong se Rooi Garde, gereïnkarneer as BLM en Antifa, vernietig historiese oudhede, artefakte en kulturele en godsdienstige terreine sonder om gestraf te word. Op ’n bisarre manier het hul Marxistiese strategie om al die vlakke van kulturele mag te mobiliseer met die doel om die vlakke van staatsmag aan te val, gewerk, en word dit wyd ondersteun deur die bekrompe linkses.

Hulle is immuun teen kritiek en elkeen wat dit waag om te kritiseer, word van haatspraak beskuldig; erger nog, baie het hul werk verloor omdat hulle dit durf waag het om BLM te ontmasker vir die klug wat dit is, veral die akademici wat gesuiwer is bloot omdat hulle hul tirannie luidkeels verkondig het. Melanie Philips, ’n voormalige joernalis van The Guardian, beskryf dit as die “Totalitarisme van deug”. Met die miljoene dollars wat hulle ontvang het van selfvoldane beroemdes en groot ondernemings, gedra BLM hulle nou soos die guerrillas wat hulle nog altyd wou wees.

Die barbare is binne die poorte, hulle is groot en in beheer. En niemand het die moed om hulle te verdryf nie.

[i] Formerly Incarcerated Reenter Society Transformed Safely Transitioning Every Person Act

[ii] US Immigration and Customs Enforcement

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Rhoda Kadalie

Die rubriekskrywer Rhoda Kadalie is afgetree en woon tans in die VSA. Sy is die voormalige direkteur van Impumelelo Sosiale Innovasiesentrum, menseregtekommissaris en akademikus.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

Toktokkie ·

Hierdie optrede verbaas my glad nie. Dis hoegenaamd nie aanvaarbaar nie en word baie uit verhouding geruk, maar Amerika kan nie meer hul rassisme wegsteek soos hul altyd gemaak het nie. Hierdie is tragiese gevolge van hul balk in hul eie oog wat hul nooit wou raaksien nie…… en nou seëvier anargie, verwoesting en kriminele word helde. Die wiel draai…..

Kokerboom ·

Uitstekende artikel Rhoda. Dankie vir jou visie en insig.

Michael 1 ·

Hierdie is nie reg maar word uit verband geruk nou daag ek jou uit Rhoda Kadalie om n berig te plaas oor white lives does matter en die boere wat op hulle plase vermink,gemartel of vermoor word deur swart mans en as dit te moeilik is skryf dan oor die rasistiese wette wat wit mense beperk om aansoek te doen by staatsdepartemente vir poste oor die kleur van hulle velle ,wit kinders wat na 1994 gebore is en teen wie die swart regering diskrimineer bloot omrede hulle wit is.

Pierreli ·

Hiedie blm tendens is net ‘n manier om rasse haat in te bring en aan te blaas. Hulle word geborg deur George Soros & kie, en dit is besig om wêreld wyd vlam te vat.
Ons hier in Suid-Afrika is aan die voortou met ons mense wat uit gemoor word deur die swartes.
blm is al wie saak maak, nothing else matters but black lives.

Pierreli ·

Ek as blanke man het niks om oor skuldig te voel oor hoe ek die ander rasse behandel het in die verlede en tot op hede nie.
Die enigste een vir wie ek sal kniel of om verskoning sal vra is my Hemelse Vader. Niemand anders nie.

Niklaas ·

Goeie artikel .Hierdie rasse konflikte word toegejuig deur CNN (lees top Trump-haters). Enigiets wat Trump swak gaan laat voorkom is groot prioriteit vir CNN (asook die Demokrate , soos Rhoda Kadalie bevestig). Sou Biden sulke probleme kon hanteer het ? Nee , ek twyfel. Hier is nou skielik groot geleenthede om winkels te stroop , so dit gaan lankal nie meer om wraak weens George Floyd se dood nie.

J ·

Goeie artikel! Dankie Rhoda Kadalie!
Die media het hulle diskresie en integriteit verloor deur die onluste aan te blaas … want sensasie trek ‘eye balls’ en dit trek GELD!
Gebalanseerde, eerlike media sou meerdere oogpunte reflekteer het in hulle beriggewing … in plaas daarvan om SENSASIE op te wek.
Gedurende die duisende jare van slawerny het ma’s, pa’s, hoofmanne en konings hulle kinders, familie en onderdane VERKOOP aan (Arabiere) slawehandelaars.
Die feit word nêrens vermeld nie!
Die heersende FAKE NEWS ‘ narratief’ verkies om Witmense eensydig te demoniseer.
M.a.w. hulle maak net PROPAGANDA … geen erns met BLM!
Bombardeer hulle met:
#Black-on-Black-lives-.matter?
Iemand moet hulle adviseer dat hulle die NEGATIEWE PERSEPSIE (geweld, anargie, barbarisme) van Swartmense net VERSTERK … oor die hele planeet!
Mens verander nie ‘n bestaande persepsie (rassisme) deur die persepsie gestand te doen en te versterk nie.
Dis wat die ‘ silent majority’ dink!

J ·

‘All animals are equal! … but some animals are more equal than others …”

Black lives matter … ! wanneer WITTES hulle te ná kom.

Maar wanneer hulle (SWARTES) mekaar uitroei dan stel niemand in die lewensverlies belang nie.

Dit is ‘normaal’?

Swart slagoffers word slegs gebruik as rookskerm om ongesiens, ‘n ANDER AGENDA te bevorder!

Johnny ·

‘n Groot Afrikaanse nuusblad het die volgende kommentaar van ‘n kennis summier verwyder by ‘n berig oor ‘n vliegtuig wat ‘n banier met die woorde “Whites Lives Matter” bo ‘n sokkerwedstryd in Brittanje vertoon het:
“Oor my dooie liggaam sal ek enige eer betoon aan hierdie BLM beweging, Nog minder skaam voel oor my blanke vel.”

Pieter ·

Die breë weg en die smal weg van die Bybel. Die Koran stel dit baie duidelik, die regterkant is goed en deugsaam terwyl die linkerkant sleg en verwerplik is. Vreemd dat godsdienstige leiers so stil is.

Andre ·

Ag shame, lyk ook vir my hulle trek aleweig aan die korste ent!

Christo ·

Ek meen ons almal oorreageer en ruk die dam onder die eend uit.

Eerstens, Black Lives Matter (BLM) is n beweging wat in die VSA begin is in reaksie op n baie, baie slegte gebeurtenis in daardie land. As sulks is die beweging nie oordraagbaar op ander lande nie. Dit het beslis nie outomaties relevans vir ander nie.

So, moenie so opgewonde raak nie. Die VSA sal en kan sy eie probleme uitsorteer.

In elk geval, vir SA het BLM n “ingeboude fout” wat dit moeilik oordraagbaar maak op SA: elke dag word in SA honderde mense vermoor en verkrag. Meer as 9 uit elke 10 vermoordes/verkragtes is swart en is deur swart mense vermoor/verkrag.

Dalk moet die witmense n kampanje van stapel stuur wat die swart gemeenskap herinner dat “black lives matter”?

Andre ·

Tipies demonkrate met ‘n halwe storie: Black Lives Matter TOO!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.