BLF se uitsprake oor Driehoek is laagste vorm van haatspraak

dr-dirk-hermann-blf-konferensie-2019-02-14

Dr. Dirk Hermann is die bestuurhoof van die vakbond Solidariteit. Foto: Reint Dykema.

1 Februarie en die skoknuus breek – ʼn loopbrug by Hoërskool Driehoek het in duie gestort. Daar is absolute chaos. Histeriese kinders moet toekyk hoe maats onder beton vasgekeer is. Ouers jaag van die werk af skool toe. Die verkeer is totaal ontwrig. ʼn Ma, op pad na haar kind, is in ʼn ernstige ongeluk betrokke en word in ʼn ernstige toestand in die hospitaal opgeneem. Ouers sien net ambulanse. WhatsApp-boodskappe en stemboodskappe begin om die nuus stukkie vir stukkie uit te stuur. Ouers weet nie of dit húl kinders is wat agter in die ambulanse is wat wegry nie. En dan die nuus wat Suid-Afrika ruk – drie kinders is dood. Ouers is in absolute smart. Nog sowat 20 kinders is beseer. By die ongelukstoneel probeer kinders om die swaar beton van hul maats te lig, maar tevergeefs. Dokters sluit hul praktyke en jaag om die ongevalle te hanteer. Sommige van die gevalle is kritiek. Later word verneem dat een leerling verlam is. ʼn Vierde kind is die Sondag oorlede.

Die Vaaldriehoek is verslae. ʼn Ramp het hulle getref. Ouers huil oor hul kinders wat so onverwags dood is; ma’s huil in die onsekerheid oor die toestand van beseerde kinders in die hospitaal; kinders huil oor die maats wat weg is en die trauma waardeur hulle is. Suid-Afrika is geskok. Onderliggend aan almal se denke is dat dit my kind kon wees. Almal gee hul kinders ʼn ekstra drukkie as hulle nou skool toe gaan. Die trane van skok maak plek vir trane van troos. Daar is foto’s van groepies kinders en personeel, swart en wit, wat in kringe staan en bid. ʼn Berg van blomme word by die skool se hekke gepak. Buite die hek staan vier onbekende swart vroue en huil en bid. Skole oor Suid-Afrika heen hou gedenkbyeenkomste. Suid-Afrika deel in die trane.

Driehoek se smart word ʼn simbool van hoe ʼn krisis ʼn gemeenskap en land kan bind. Vier begrafnisse is gehou, kinders is steeds in die hospitaal, ouers bly nog steeds in gastehuise naby aan die hospitale om by hul kinders te waak. Kinders moet begin teruggaan skool toe, maar die trauma van die dag se gebeure en die herinnering wat die gat waar ʼn brug was bring, maak dit bykans onmoontlik om skool te gaan. Suid-Afrika het saam gehuil, maar het weer hul normale lewens hervat. Die ouers wat kinders verloor het en die ouers van beseerde kinders stoei nog met hul nuwe werklikheid. Hul harte is stukkend, baie stukkend.

Midde-in hierdie toneel wat Suid-Afrika aangryp en te midde van die trane van ouers en die trauma van kinders skryf Siyanda Gumede op sy Facebook-blad: “Don’t have heart to feel pain for white kids. Minus 3 future problems.” Lindsay Maasdorp, die BLF se woordvoerder, reageer op Gumede se boodskap deur te sê: “Syanda Gumede is correct! God is responding, why should we frown on the ancestors’ petitions to punish the land thieves including their offspring.” Zwelakhe Dubasi, die BLF se adjunksekretaris-generaal, het soos volg daarop gereageer: “Ancestors are with BLF, as we fight they fight too. They shake the land and white buildings built on stole land collapse. Keep fighting Zinyanya you are fighting a good fight, Comagu!” [sic]

Op ʼn vraag van die Citizen aan Maasdorp oor of hy weet die slagoffers is almal wit, antwoord hy: “I would ‘mourn’ the deaths of the victims if they turned out to be black but ‘celebrate’ them if they were white.” Hy voeg ook by: “If our God has finally intervened and our ancestors have petitioned and seen that these white land thieves have now died then I definitely celebrate it. I celebrate the death of our enemies, their children, their cats and their dogs. That is our position.”

Die BLF se leier, Andile Mngxitama, het daarna gesê dat daar nie teen Maasdorp opgetree gaan word nie. Oor of hy Gumede se Facebook-plasing veroordeel waarin Gumede sê dat daar nou drie minder toekomstige probleme is, antwoord hy: “But, would such a condemnation not be an erasure of the bitter history?”

Hierdie woorde van die BLF-leiers is walglik. Dit is die ergste laagtepunt wat haatspraak in Suid-Afrika nog bereik het. Om kinders se dood te vier, is laakbaar. Om dit ’n goddelike ingryp te noem wat van toekomstige probleme ontslae raak, is die ergste vorm van haatspraak.

Die liefde, omgee en gebede van die gemeenskap het wel die haatspraak van die randfigure oorskadu. Ons mag egter nie die rassehaat van randfigure net daar laat nie. Indien dit net gelos word, word dit normaal. Ons mag nie toelaat dat randfigure die gemeenskap wat in vrede wil leef, teister nie.

Die regstelsel is ontwerp vir die uitsondering, nie die norm nie. Dit is juis vir mense soos Maasdorp ontwerp. Die regstelsel straf nou sodat die volgende onbekende slagoffer van die randfiguur beskerm word. Ons moet die volgende onskuldige slagoffers beskerm teen die pyn en trane weens die BLF se rassehaat.

Verskeie ouers van die kinders wat tragies gesterf het, van kinders wat steeds in die hospitaal lê, en ouers wie se kinders die dag by die ongeluk groot trauma beleef het, het aan Solidariteit ’n mandaat gegee om namens hulle met regsaksie teen die BLF en sy leiers te begin. Die regsaksie is drieledig:

In die eerste plek behels dit ’n klag van crimen injuria. Dit is ’n kriminele klag wat by die SAPD ingedien word. In hierdie klag word daar op die onwettige, opsetlike en ernstige benadeling van die menswaardigheid van ’n ander persoon gefokus. Rasse-aanhitsing of nadelige aanmerkings wat op ’n persoon se ras betrekking het, is deel van die definisie van crimen injuria.

Die tweede klag word by die Gelykheidshof ingedien. Ons sal hier fokus op die verbod op haatspraak. Alhoewel die Gelykheidshof versoening probeer bewerkstelling, het dit ook ’n strafelement en boetes kan opgelê word.

Hierdie uitsprake is egter so ernstig dat die kriminele klag en die klag by die Gelykheidshof albei nodig is.

Die derde klag word by die Onafhanklike Verkiesingskommissie ingedien. In hierdie klag vra ons dat die BLF as politieke party gederegistreer word. Partye wat uitsprake maak wat op rassehaat gebaseer is, hoort nie in ’n demokratiese verkiesing nie.

Ons mag nie die rassehaters net uitlos nie.

Hierdie klag gaan nie trane, trauma of verlies wegneem nie. Dit vra wel vir ’n stukkie geregtigheid vir ’n groot stuk onreg wat te midde van die smart van ouers gepleeg is.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Dirk Hermann

Dirk Hermann is die bestuurshoof by Solidariteit.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

GRIET ·

BAIE DANKIE,SOLIDARITEIT VIR JUL OMGEE EN INGRYPING… EN STERKTE DAARMEE ??
SNOER DIÉ RASSISTE EN RASSE-KONFLIK AANHITSERS SE MONDE EN LAAT HULLE GEDISKWALIFISEER WORD❗❗

lewies ·

Die feit dat hierdie uitsprake in die openbare media gemaak is, maak dit net baie meer gevoelloos. Ons het ‘n langpad voor om die spreekwoordelike “wag voor die mond “, tot sy reg te laat kom.

Johanna Botha ·

Op tv kan nens sien uit die blf se mense n diepe haat …hoe kan dit mens iewers bring. Om te dink hulle ontsaan was uit die guptas gebore wat SA gepunder het en juis die aremste mense beroof het van so baie !

Gerrit ·

Baie onnosel on iemand te haat wat jy nie ken nie , lae IK storie blyk waar te wees.

jean ·

Ai, Ai, darem….so vol haat en rassisme dis eintlik tragies!. God laat ook nie sy naam misbruik…..en sal hulle aangekla word?…Neeee! Ons wag Judge Dredd!….(Het hy maar nog gelewe…dan was daar niemand in die tronke!)

Anoniem ·

Mnr Dirk Herman – Al die KRAG wat Julle nodig het, om hierdie blatante daad van die laagste vorm van haatspraak in die kiem te SMOOR, word JULLE toe gebid ! ????? MAG JULLE SLAAG want GOD is in BEHEER ! S T E R K T E

Koos ·

Die BLF se uitsprake oor die Driehoek Hoërskool tragedie is blatante rassisme!!!!

Diesulkes hoort agter tralies soos wat reeds met ander in die verband gedoen is.

Wat meer is, ‘n organisasie soos BLF behoort geensins toegelaat te word om aan die demokratiese prosesse in ons land deel te neem.
Dus MóéT die OVK die BLF summier deregistreer as politieke party indien reeds geregistreer is, of andersins enige aansoek om registrasie dadelik van die hand wys.

Dit is ‘n basiese vereiste om enige demokratiese stelsel regverdig te laat funksioneer.

WILLEM V.D. MERWE ·

Die uitspreek van Maasdorp is ongevraagd en blaas net rasisme meer aan.
Verander jou Naam van “Maasdorp” na iets wat pas by jou opmerkings.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.