BLM en die tragiese gevolge

Patrisse Khan-Cullors. (Foto: Rich Fury/GETTY IMAGES NORTH AMERICA/Getty Images via AFP)

Gedurende die laaste week van Mei het president Biden ’n bevel uitgevaardig dat die BLM-vlag voor elke ambassade moet wapper. Terselfdertyd het die medestigter van BLM, Patrisse Khan-Cullors, uit haar posisie by Black Lives Matter bedank ná konserwatiewe media haar koopgier sonder meer blootgelê het nadat sy vier duur huise (wat der miljoene kos) in spoggerige woonbuurte van Amerika gekoop het. As ‘n selfverklaarde Marxis, het sy die spreekwoordelike cliché as ‘n sjampanje-sosialis gestand gedoen en die vernietiging van kapitalisme haar missie gemaak, terwyl sý die veer van buitensporige sukses in haar eie hoed gesteek het.

Swart moeders wie se seuns en dogters aan die hand van die polisie gesterf het en wat die weeklikse bloedbad van swart-op-swart-geweld in Chicago moet verduur, keur die weelderige leefstyl van die BLM-leierskap openlik af. Samantha Rice, wat ‘n beroep op BLM gedoen het om die dood van haar 12-jarige seun in 2014 te ondersoek, het hulle daarvan beskuldig dat hulle “voordeel getrek het uit die bloed van ons geliefdes”. Volgens Fox News het selfs Hawk Newsome, die hoof van ’n filiaal, Black Lives Matter Greater New York City, gevra vir ‘n onafhanklike ondersoek na die finansies van dié nasionale organisasie. Ander swart moeders wat seuns weens polisieskietery verloor het, het BLM eweneens veroordeel: “Ons het hulle nooit gehuur om die verteenwoordigers te wees in die stryd vir geregtigheid vir ons geliefdes wat deur die polisie vermoor is nie.”

Joe Biden en Kamala Harris. (Foto: AP Photo/Andrew Harnik)

Wanneer swart mense die geloofwaardigheid van hierdie selfaangestelde advokate vir sosiale geregtigheid wat hulself uit ander se hartseer verryk, begin bevraagteken, behoort BLM rede tot kommer te hê. En dis presies op hierdie laagtepunt van hul gewildheid dat president Biden en makker Kamala Harris die BLM nie net hoër as nasionale nie, maar ook tot wêreldwye helde verhef.

Met die moord van George Floyd het BLM groot verwoesting oor die hele land gesaai met hul onluste, plundering, moorde en brandstigting. Korporasies, uit vrees vir aanvalle op hul sakeondernemings, het gesamentlik meer as $90 miljoen in die geldkoffer van BLM gestort waarvan miljoene dollars terselfdertyd vir Biden se veldtog gegaan het. Natuurlik is Biden hierdie anargistiese beweging vir ewig dankbaar dat hulle hom so vinnig in ’n magsposisie geplaas het, en hou hy hom heel gewillig blind vir hul teenpolisieveldtogte wat sedert 2020 tot die dood van 386 polisielede gelei het (gegewe dat dié getal nie almal weens aanvalle op die polisie was nie). Hierdie sterftesyfer was 246 in 2020 vergeleke met 135 in 2019 en 140 in 2021 tot op hede.

(Foto: AP Photo/Alex Brandon)

Of hulle dit wil weet of nie, die BLM het niks positiefs bereik nie. Hul Defund the Police-veldtog het negatiewe gevolge gehad vir die bekamping van misdaad en in nege state het misdaad eksponensieel toegeneem. Volgens Fox News.com “het meer as 5 300 NYPD-polisiebeamptes reeds afgetree of hul bedankingsbriewe ingedien om in 2020 die diens te verlaat – ‘n toename van 75% sedert die vorige jaar volgens data van die departement.” Dit verras dus nie dat oproepe tot polisiehervorming deur glanspersone en die BLM-beweging teëgestaan ​​word deur 70% van swart mense wat sê dat wetstoepassers “baie goeie” of “redelike goeie” werk doen.

Heather Mac Donald, ’n bekende essayis, skrywer, politieke kommentator en misdaad- en opvoedingskenner, skryf in “Taking Stock of a Most Violent Year” in The Wall Street Journal van 25 Januarie 2021 (vry vertaal):

“Die jaar 2020 sal in die Amerikaanse geskiedenis onthou word as die jaar met waarskynlik die grootste toename in moorde. In ‘n steekproef van 57 groot- en mediumgroot stede, het moord met byna 37% gestyg. Gebaseer op voorlopige beramings is daar in 2020 minstens 2 000 meer Amerikaners vermoor, waarvan die meeste swart, as in 2019.”

“Volgens data wat deur die misdaadontleder Jeff Asher ingesamel is, was die toename in plaaslike moorde in 2020 skrikwekkend: 95% in Milwaukee, 78% in Louisville, Kentucky, 74% in Seattle, 72% in Minneapolis, 62% in New Orleans en 58% in Atlanta. Tientalle kinders, oorwegend swart, is gedood deur verbyryskietaanvalle en onskuldiges het in hul beddens, sitkamers en selfs stootwaentjies gesterf. Of by ’n braai, in hul eie erf, in winkelsentrums, in hul ouers se motors of tydens verjaardagpartytjies. Vyf en vyftig kinders is in 2020 in Chicago vermoor, 17 in St. Louis en 11 in Philadelphia. Gedurende September is daar in Suid-Los Angeles alleen 40 kinders geskiet, waarvan sommige dit oorleef het.”

“Die anargie van 2020 duur voort in 2021. Voorvalle in Januarie: Skietvoorvalle in Suid-Los Angeles het in die eerste twee weke van die jaar met 742% gestyg. In Oakland het moorde met 500% toegeneem en skietery met 126%. In New York het moorde met 42% toegeneem en slagoffers van skietvoorvalle met 15%. Motorkapings, wat reeds in 2020 met 135% in Chicago toegeneem het, sprei nou uit – vier ander voorstede van Chicago is die naweek van 17 Januarie getref. In Chicago-stad was daar tot 21 Januarie 144 motorkapings, met 166 wapens wat teruggevind is.”

(Foto: AP Photo/Evan Vucci)

Die toename in misdaad gaan hand aan hand met die landwye kultuur-“slagting” deur die BLM. Hulle is direk verantwoordelik vir die infiltrasie van die Critical Race Theory in skool- en universiteitskurrikulums, korporatiewe opleiding, Hollywood, en selfs in militêre opleidingsprogramme. Christopher Rufo, senior genoot van die Manhattan Instituut vir Beleidsnavorsing, het hierdie skadelike insypeling in Amerika se kulturele lewe nagespoor, asook gekyk na die gevolge daarvan op skoolkinders, studente en opvoedkundiges.

Ek het sy onderhoude in die nuus gevolg asook sy mees onlangse verslae oor die giftige inhoud wat in hul indoktrinasiehandleidings ingesluit is, soos hieronder (vry vertaal):

  • Die departement van onderwys in Arizona het ‘n “gelykheids”-handleiding opgestel wat beweer dat babas op drie maande die eerste tekens van rassisme toon en dat wit kinders algehele rassiste word, “sterk partydig ten gunste van witheid” teen vyfjarige ouderdom.
  • Noord-Carolina se grootste skooldistrik het ‘n veldtog teen “witheid in opvoedkundige ruimtes” van stapel gestuur, en moedig onderwysers selfs aan om gesinne te ondermyn en die ideologie van antirassisme direk op studente af te dwing – sonder toestemming van die ouers.
  • Die Buffalo Public Schools leer studente dat alle wit mense sistemiese rassisme laat voortduur. Kleuterskoolkinders word ook gedwing om na ‘n video van dooie swart kinders te kyk en waarsku hulle teen rassistiese polisie en staatsgemagtigde geweld wat hulle ter enige tyd kan doodmaak.
  • ’n Cupertino-laerskool in Kalifornië dwing graad 3-leerders om hul rasse- en seksuele identiteit te dekonstrueer en hulself dan volgens hul “mag en voorreg” te klassifiseer. Hulle verdeel die agtjarige kinders ook in twee groepe: die onderdrukkers en onderdruktes.

Selfs werknemers van Disney is onder dwang opgelei oor “sistemiese rassisme”, “wit broosheid” en “wit redders”.

rhoda-kadalie-2019-01-28

Rhoda Kadalie. Foto: Verskaf.

Rufo het wel ‘n eenmansveldtog teen hierdie propaganda-oorlog gevoer, maar sy stryd het vrugte afgewerp. Ouers en onderwysers het in opstand gekom teen skoolhoofde en skoolrade landwyd omdat hulle inhoud bekendgestel het wat kinders leer om mekaar te haat – Rufo noem dit “ras-essensialisme, kollektiewe skuldgevoelens en neosegregasie, oftewel neo-apartheid”. Hierdie indoktrinasie is veral skadelik in ‘n land van gesinne van gemengde oorsprong en veelrassige kinders. Opstand in die Rooi State het “ ‘n leërskare van gesinne, ouers, skrywers, prokureurs, aktiviste en wetgewers bymekaar gebring om hierdie verdelende en anti-Amerikaanse ideologie te verslaan”, het Rufo oorwinnend verkondig.

“Goewerneur Ron DeSantis, senator Tim Scott, senator Tom Cotton en senator Ted Cruz het almal hul steun uitgespreek. Idaho en Oklahoma het die voortou geneem, en ander state volg binnekort. Ons het aktiewe wetsontwerpe in nog ‘n halfdosyn staatswetgewende liggame en ons hoop dat die grootste rooi state dit in die komende maande sal goedkeur,” het Rufo bygevoeg.

Daar is niks meer onkrities as die Critical Race Theory nie. Inteendeel, dit toon die agteruitgang van ‘n land wat ‘n oorlog teen slawerny gewen het, tot ‘n apartheid-segregasionistiese staat waar die BLM die klasse-oorlog suksesvol met rasse-oorlogvoering vervang het.

In beide gevalle is die rampspoedige gevolge vir lande wat sulke oerpraktyke toepas, nou deel van die geskiedenis. Die mees noemenswaardige van dié oorlog teen hierdie kranksinnigheid is die feit dat dit honderde ouers betrek – almal wettige immigrante uit onderdrukkende lande en wat tirannie eerstehands ervaar het.

 

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Rhoda Kadalie

Meer oor die skrywer: Rhoda Kadalie

Die rubriekskrywer Rhoda Kadalie is afgetree en woon tans in die VSA. Sy is die voormalige direkteur van Impumelelo Sosiale Innovasiesentrum, menseregtekommissaris en akademikus.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

10 Kommentare

jongste oudste gewildste
Chris

Ons sien maar nog net die oortjies van die seekoei. Ons (witvelle) gaan nog meer aan die waansinnigheidswaansin blootgestel word. Ek voel natuurlik baie jammer vir die voorstanders en propogandiste van die BLM en ander agterlopers. Hulle gaan weldra agterkom, “you get born wet and cold, and it gets worse”.

Alisia

Baie goeie artikel! Terwyl ek lees oor die indoktrinasie van die kindertjies, dink ek aan wat Jesus gesê het Mat 18:6 Maar elkeen wat een van hierdie kleinstes wat in My glo, tot ’n val bring – vir hom sal dit beter wees om met ’n meulsteen om sy nek in die see te verdrink

Boerkind

Dankie Rhoda. Dit is kommerwekkend dat die uiters gevaarlike BLM beweging so vinnig steun verwerf het onder die patetiese Biden regering – ook hier in Suid Afrika…. Dit is op valse beginsels geskoei en is tekenend van die bose tye waarin ons leef en gemik op oningeligte mense wat alles vir soetkoek opeet. Die critical race theory is eweneens demonies in oorsprong en het ten doel om te verdeel, chaos te veroorsaak en vernietiging te bring. Doen maar dieper navorsing en kyk wie agter al die onheil sit – geen wonder JFK is vermoor omdat hy “geheime” organisasies uitgewys het… Lees meer »

Manie

Dankie vir die waarheid.

Alet

Ja en waar is die Biden liefhebbers nou?