Bloedige mynstakings geen nuwe verskynsel nie

steenkoolmyn

Argieffoto.

Daar is niks nuuts in hierdie wêreld nie, sê Prediker. Die onluste wat tydens die sogenaamde Marikana-slagting van 2012 by Rustenburg uitgebreek het en waar staatsmagte geweld gebruik het om dit te onderdruk, is nie die eerste bloedige nywerheidsonrus in Suid-Afrika se geskiedenis nie.

In die vroeë 20ste eeu, lank voordat swart vakbonde soos die NUM en AMCU bekendheid verwerf het, het wit mynwerkers en ander vakbondlede aan die voorpunt van die stryd tussen arbeid en mynkapitaal gestaan om ‘n meer regverdige werknemersbedeling vir werkers in die goudmynbedryf te beding. Ongeveer die eerste twee dekades van die 20ste eeu verteenwoordig inderdaad een van die gewelddadigste en bloedigste periodes in Suid-Afrika se nywerheidsgeskiedenis wat net sulke prominente stakerleiers opgelewer het as figure soos Joseph Mathunjwa van AMCU-faam.

Op 5 Julie 1913 het “Swart Saterdag”, die traumatiese verloop van Suid-Afrika se eerste “Marikana-gebeurtenis”, in die strate van Johannesburg tydens die mynstaking van 1913 afgespeel.

Soos tans, was die verhouding tussen georganiseerde arbeid en mynkapitaal ook dikwels gespanne, maar in die vroeë 20ste eeu was daar weinig arbeidswetgewing ter beskerming van werkers. Die direkte oorsake van die 1913-mynstaking was die afdanking van vyf ondergrondse werktuigkundiges op die New Kleinfontein-goudmyn naby Benoni omdat hulle geweier het om volgens nuwe skofreëlings ook op Saterdagmiddae te werk wat nie voorheen die geval was nie.

Die destydse wetgewing het nie die werksekuriteit van mynwerkers effektief beskerm nie.

Daarbenewens het die staking ook gegaan oor arbitrêre afdankings, werkloosheid, loonverminderings, onveilige werkstoestande, probleme met die kontraksisteem, die gebrek aan vakbonderkenning deur die Kamer van Mynwese (KVM), die kwessie van werksure en die gevreesde “myntering”, oftewel silikose.  Gevolglik het die Transvaal Federation of Trade Unions, ‘n sambreelfederasie vir die Witwatersrandse vakbonde, op 26 Mei 1919 ‘n staking uit simpatie met die New-Kleinfontein afgedanktes uitgeroep.

Van al die stakerleiers was veral vier prominent tydens die staking.

Tom Mathews, die algemene sekretaris van die Transvaal Miners’ Association (TMA), is in Cornwall, Brittanje gebore. Ten spyte van die feit dat hy ‘n mynteringlyer was, was hy baie prominent tydens die staking van 1913.

Mary “Pickhandle” Fitzgerald, ‘n tikster en stenograaf by die TMA, was ’n Ierse skoonheid, van geboorte ‘n rebel en ‘n vuurvreter opruier, ‘n magtige invloed in arbeider- en vakbondgeledere en altyd in aanvraag by stakingsvergaderings. Sy het haar bynaam verdien toe sy tydens die Johannesburgse tremstaking van 1911 ‘n “piksteelbrigade” na protesvergaderings gelei het om teenstanders van die staking te intimideer.

Archie Crawford is ‘n 1883 in Glasgow, Skotland gebore en het as ‘n majoor in die Royal Artillery tydens die Anglo-Boereoorlog gedien en het na die oorlog by die Transvaalse arbeiderpolitiek en vakbondwese betrokke geraak. As militante sosialiste het Crawford en Fitzgerald rewolusionêre sindikalisme voorgestaan. In wese het hierdie ideologie beteken dat werkers deur middel van stakingsaksies direkte beheer oor industrieë moes verkry en die staat in die proses uitskakel.

James Bain, die sekretaris van die stakerskomitee, was ‘n sosialis wat in armoede in Skotland gebore is. Hy het homself in die radikale filosofieë van William Morris en Thomas Carlyle opgevoed en het ‘n vurige haat vir kapitalisme gekoester. Hy het ‘n naturaliseerde Transvaalse burger geword en was tydens die Anglo-Boereoorlog ‘n lid van genl. Jan Smuts se spioenediens – die enigste Engelssprekende na-oorlogse arbeiderleier wat aan Boerekant geveg het.

Onderhandelinge tussen die Kleinfontein-mynbestuur en die stakerskomitee het misluk en die mynbestuur het staakbrekers, ook “scabs” genoem, in die plek van die stakers begin aanstel. Teen Julie 1913 het die staking alreeds na 63 myne uitgebrei waarby ongeveer 18 000 wit werkers betrokke was. Intussen het Crawford en Fitzgerald ‘n militante stakersblad, The Strike Herald, as mondstuk van die stakerskomitee uitgegee. Volgens Fitzgerald het die intimidasie en aanranding van “scabs” ‘n aangename “sport” onder stakers geblyk te wees. Die Herald het staakbrekers se karakter beswadder en foto’s gepubliseer van stakers met pikstele en verkykers wat na onderkruipers soek.

Ten einde die “scab”-jagters met hulle “scab-hunting” te help, is ‘n lys van name van staakbrekers met swart omraam gepubliseer met ‘n aanhaling van ‘n Bybel-teksvers, Genesis 1:25: “And God made… everything that creepeth upon earth after its kind”.

Aangesien die Unieverdedigingsmag eers in 1912 gekonstitueer is, was dit met die uitbreek van die 1913-staking nog nie operasioneel georganiseer nie en was die staat genoop om Imperiale regimente in te roep ten einde die verslegtende industriële situasie te help hanteer.

Op Vrydag 4 Julie 1913 is ‘n massavergadering op die Johannesburgse markplein gereël. Alhoewel die regering die byeenkoms verbied het, het tussen 10 000 en 15 000 mense vergader. Opruiende toesprake is deur sprekers soos Bain gehou en die skare het oproerig geraak. Die polisie is met klippe en bottels bestook – gerugte wou dit hê dat Fitzgerald ook polisieperde se boude met ‘n hoedenaald geprik het – en uiteindelik is die skare uiteen gejaag.

Daardie nag het ‘n oproerige en misdadige gepeupel, volgens omstandergetuienisse aangevuur deur Fitzgerald, Crawford en andere, amok in Johannesburg se strate gemaak.

Geboue by Parkstasie (die eerste stasie van Johannesburg) is aan die brand gesteek. Daarna het die gepeupel na die kantore van The Star, wat as die mondstuk van die gehate KVM beskou is, gestorm en dit aan die brand gesteek. Die gebou is heeltemal vernietig omdat die brandweer se waterslange afgesny is en hulle nie die vlamme kon blus nie. Misdadige elemente het by verskeie vuurwapenwinkels ingebreek en skote is oor en weer tussen die stakers en die polisie gevuur.

Die Corner House, op die hoek van Simmonds- en Commissionerstraat en hoofkwartier van die mynhuis, Wernher, Beit and Company, was die gepeupel se volgende teiken, maar soldate het hulle met geweervuur afgeweer.

Teen “Swart Saterdag”, 5 Julie, het altesaam 19 000 wit werkers, insluitende ingenieurs, bouers, kragsentralewerkers en spoorwegwerkers van oor die hele Witwatersrand gestaak. Daardie oggend het ongeveer 2 000 stakers na die Rand Club in Lovedaystraat, wat die ontspanningsplek van die Randse mynbase en finansiële elite was, opgeruk en gedreig om dit af te brand. ‘n Belhamel en Afrikanermynwerker, Johannes Labuschagne, het die skare aangehits en die soldate uitgetart om hom in plaas van vrouens en kinders te skiet. Nadat die skare na waarskuwingskote steeds nader beweeg het, het die soldate op hulle gevuur en etlikes gewond of gedood, laasgenoemde waarvan Labuschagne ook ‘n slagoffer was.

As gevolg van die ontoereikende situasie met die Unieverdedigingsmag was genl. Louis Botha, die Eerste Minister, en genl. Smuts, die Minister van Verdediging, genoop om persoonlik met ‘n stakersdeputasie in die ou Carlton Hotel te gaan onderhandel ten einde die staking te beëindig.

Gerugte wou dit hê dat die twee generaals glo deur Crawford en ander stakerafgevaardigdes gedreig is dat indien troepe op stakers tydens die onderhandelings sou skiet die generaals ook sou sterf, maar dis waarskynlik ‘n stadslegende. Daar is wel ooreengekom dat die staking onmiddellik afgelas sou word, die New Kleinfontein-stakers in hulle poste heraangestel sou word, die staat sou kompensasie aan staakbrekers uitbetaal, alle ander stakers sou by hulle myne teruggeneem word en geen viktimisasie van stakers of staakbrekers sou plaasvind nie.

In die onluste van 4 en 5 Julie 1913 het 19 wittes en twee swartes gesterf. Op Maandag 7 Julie het ‘n reuse skare van 60 000 roubeklaers die dooies begrawe. Tydens die onluste is Crawford en Fitzgerald in hegtenis geneem en van aanhitsing tot openbare geweld aangekla, maar hul vervolging was nie suksesvol nie. Teen die einde van 1913 het die TMA in die Suid-Afrikaanse Mynwerkersunie verander, dieselfde organisasie wat in 2002, onder leiding van Flip Buys, Solidariteit geword het.

Tegnies gesproke was beëindiging van die mynwerkerstaking van 1913 ‘n “opskorting van vyandelikhede”. Die werkersgriewe was nog nie opgelos nie en in Januarie 1914 sou ‘n volgende kragmeting tussen die staat en die wit werkers volg. Maar hierdie keer sou Smuts gereed wees vir hulle en die lewens van Mathews, Crawford, Fitzgerald en Bain dramaties daardeur beïnvloed word.

SUID-AFRIKA SE EERSTE KRYGSWETPROKLAMASIE SEDERT DIE ANGLO-BOEREOORLOG EN DIE ALGEMENE STAKING VAN JANUARIE 1914

Die aanloop tot die staking van 1914 was ‘n aankondiging deur die Suid-Afrikaanse Spoorweë teen die einde van 1913 dat verslegtende ekonomiese omstandighede die afdanking van blanke spoorwegambagslui, asook steenkoolmynwerkers in Natal, onvermydelik gemaak het. As gevolg daarvan, tesame met die steeds onopgeloste werkersgriewe van die 1913-staking en eise om hoër lone, het ‘n staking op 8 Januarie 1914 uitgebreek.

Uiteindelik het 20 000 stakers daaraan deelgeneem: spoorwegambagsmanne in Pretoria, Johannesburg, Bloemfontein, Durban en Kaapstad, steenkoolmynwerkers, drukkersvakmanne en klerewerkers in Johannesburg en Durban. Op 13 Januarie het die stakerleier James Bain aangekondig dat die Suid-Afrikaanse Industriële Federasie (SAIF), ‘n sambreelfederasie vir blanke vakbonde, beheer oor die staking oorgeneem het. ‘n Koördinerende stakerskomitee is aangestel wat op 14 Februarie ‘n algemene staking uitgeroep het. Genl. Smuts het die regering se onderhandelinge uit ‘n posisie van onmag om die 1913-staking te beëindig as ‘n persoonlike vernedering beskou wat hy nie sou vergeet nie. Van Bain sou Smuts later in die parlement verklaar: “This was the hardest thing I have done in my life – to put my signature together with that of Mr. Bain”.

Smuts was vasberade om nie weer onvoorbereid betrap te word nie. Hy het die organisering van die Unieverdedigingsmag gedurende die tweede helfte van 1913 versnel om gereed te wees vir enige verdere nywerheidsonluste. Vanaf 7 Januarie 1914 is die belangrikste spoorwegsentra reeds onder polisiebeskerming geplaas en ‘n aantal vakbondleiers gearresteer – selfs lede van die Suid-Afrikaanse Arbeidersparty soos die parlementêre leier, kol. FHP Creswell. Teen 10 Januarie is 10 000 troepe ontplooi en op 14 Januarie het die regering Krygswet afgekondig in sekere landdrosdistrikte in die destydse Transvaal, Vrystaat en Natal. Dit was die eerste krygswetproklamasie in Suid-Afrika sedert die Anglo-Boereoorlog.

Reeds op 13 Januarie het die polisie ‘n lys van 27 buitelandsgebore “gevaarlike stakerleiers”, waaronder Archie Crawford en Mary Fitzgerald, opgestel. Crawford is byvoorbeeld as “’n baie gevaarlike agitator” beskou. Die stakerskomitee, waaronder Bain en Crawford, het hulle in die Trades Hall, die stakers se hoofkwartier, in Johannesburg verskans. Onder leiding van die vermaarde genl. Koos de la Rey is ‘n veldkanon teen 1nm op 14 Januarie op die Trades Hall gerig en die stakerskomitee is voor ‘n ultimatum gestel om oor te gee.

Op 26 Januarie is nege stakerleiers – Andrew Watson, Hessel Poutsma, Bain, George Watson, Crawford, Bob Watertston, David McKerrell, W Livingstone en William Morgan – op bevel van Smuts na Brittanje gedeporteer. Hulle is in die grootste geheimhouding met ‘n middernagtelike trein na Durban vervoer en op die stoomskip Umgeni geplaas. By Kaapstad het Creswell en die Arbeidersparty vergeefs probeer om die Umgeni ter see met ‘n sleepboot voor te keer.

Hierdie optrede van Smuts was egter onkonstitusioneel en die regering moes agterna ‘n Vrywaringswet deur die parlement loods om sy hantering van die staking en die deportasies, wat plaaslik en internasionaal wyd veroordeel is, te sanksioneer. Die gedeporteerdes het verskeie vakbonde en arbeidersgehore in Brittanje toegespreek en ook die regeringsoptrede gekritiseer, maar teen November 1914 is almal toegelaat om na die Witwatersrand terug te keer.

In die nadraai van die 1914-staking het Crawford en Fitzgerald, twee voormalige ekstremistiese en radikale, sosialistiese sielsgenote aan die militante spektrum van die Suid-Afrikaanse arbeidersbeweging en voorbokke tydens die 1913-staking, se lewens bollemakiesie geslaan. Terwyl Mary van haar man, John, aan die skei was, het sy ontdek dat sy Crawford se liefdeskind verwag. Ten einde hierdie sosiale skandaal te ontvlug, het sy haar familie en kinders verlaat en haar ook by Crawford op sy “verbanningstoer” van Britse industriële sentra tydens die deportasietydperk aangesluit. Hulle seun is buite die eg in Londen gebore. Mary en Archie is eers in 1919 getroud, maar sy het haar eerste getroude van behou.

Dit blyk dat Crawford en Fitzgerald tydens hul Britse verblyf ‘n ideologiese handomkeer van hulle vroeëre rewolusionêre, sindikalistiese standpunte ondergaan het. In Brittanje was Crawford in aanraking met William Appleton, die regse en hervormingsgesinde sekretaris van die Britse General Federation of Trade Unions. Appleton wou vakbonde van arbeidspolitiek en stakings weerhou en eerder met die owerhede en werkgewers saamwerk in ruil vir sekere werkersvoordele.

Terug in Suid-Afrika het Crawford met hernude ywer die SAIF herbou maar nou daarop gekonsentreer om nywerheidsverhoudinge tussen vakbonde en werkgewers deur die Federasie te kanaliseer. Onder sy bestuur as sekretaris het die SAIF tot die magtigste en invloedrykste sektor van die blanke arbeidsbeweging ná Uniewording gegroei. Maar met die groei van sy mag, het Crawford al hoe meer dominerend en manipulerend geraak. Deur sy leiding het die vakbonde die staat se oorlogspoging gedurende die Eerste Wêreldoorlog gesteun en hy het ook met die Kamer van Mynwese, die simbool van gehate mynkapitalisme onder linksgesinde werkers, saamgewerk om plaaslike stakings te beheer en te beperk. Maar vanuit die geledere van sy voormalige linkse, sosialistiese makkers, is hierdie gematigde reformisme, of “Crawfordism”, hewig gekritiseer en is hy as ‘n “apologeet vir kapitalisme” en ‘n “apostel” vir konsiliasie met werkgewers uitgekryt. Tydens die bloedige staking van 1922 sou ekstremistiese elemente die staking kaap en Crawford en die gematigde SAIF totaal opsy veeg.

Die lewe van sommige van die ander prominente figure tydens die 1914-staking sou later dramaties verloop. Agt maande later, op die vooraand van die 1914-Rebellie, sou Koos de la Rey in ‘n tragiese misverstand noodlottig deur ‘n opslagkoeël by ‘n polisiepadblokkade in Langlaagte getref word. In Maart 1919 is die sogenaamde Johannesburgse “Provisional Joint Board of Control” – ook die “Johannesburgse Sowjet” genoem – onder leiding van James Bain uitgeroep toe munisipale werkers tydens ‘n staking die funksies van die stadsraad wederregtelik vir bykans twee weke oorgeneem en selfs die stad se elektrisiteitstoevoer vir twee dae afgeskakel het. Bain is in Oktober daardie jaar oorlede.

Mary Fitzgerald is as lid van die (blanke) Arbeidersparty tot eerste vroue-onderburgemeester van Johannesburg verkies en was ook die eerste vrou in Suid-Afrika om ‘n motor, deur die stadsraad aan haar geskenk, te besit en te bestuur. Toe haar geliefde Archie egter op die jeugdige ouderdom van veertig in 1924 aan ingewandskoors en borsvliesontsteking sterf, was dit een te veel vir die voormalige onverskrokke sosialistiese kampvegter vir werkersregte en het sy in latere jare klaarblyklik in alkoholisme verval. In 1960, op 78-jarige ouderdom, is Mary Fitzgerald, een van die kleurrykste Suid-Afrikaanse arbeiderfigure van die vroeë twintigste eeu, en na wie Fitzgerald-plein in die stad vernoem is, in Johannesburg oorlede.

Hierdie meningstuk is deur ʼn onafhanklike persoon opgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Wessel Visser

Meer oor die skrywer: Wessel Visser

Prof. Wessel Visser is ’n medeprofessor in Geskiedenis aan die Universiteit Stellenbosch.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Een kommentaar

Nico ·

Gaan ons episode twee ook hoor. Ons wil darem graag ook weet van die 1922 staking se storie.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.