Bly en bou – proaktiewe Afrikaners in SA

Afrikaner

Argieffoto: Adéle Changuion

Onlangs, in ʼn gesprek met dr. Theuns Eloff, het ek hom herinner aan ʼn toespraak van hom in om en by 2008 by ʼn FAK-geleentheid in Potchefstroom toe hy nog visekanselier van die Noordwes-Universiteit (NWU) was. In sy toespraak het hy gesê taal en lidmaatskap van politieke partye, kerke of kultuurverenigings onderskei nie meer Afrikaners nie. Hy het bygevoeg dat Afrikaners volgens hul siening oor en waardering vir taal en kultuur, asook hul houding teenoor die nuwe Suid-Afrika (wat in 2008 nog redelik nuut was) gedefinieer word. Hy het in daardie stadium Afrikaners in vier groepe gedefinieer:

“Aktiewe weerstandiges voel sterk oor taal en kultuur, maar nie oor die nuwe Suid-Afrika nie. Hulle het ’n eksklusiewe siening oor wit Afrikaners.”

“Passiewe weerstandiges is mense wat nie sterk voel oor een van die twee nie. Hulle stuur hul kinders na Engelse skole en glo die land sal, ‘nes Zimbabwe’, ten gronde gaan.”

“Inklusiewe bevorderaars voel sterk oor die nuwe Suid-Afrika, maar nie oor taal en kultuur nie. Hulle het skuldgevoelens oor apartheid en is geneig om polities korrek op te tree.”

“Aktiewe bevorderaars voel sterk oor taal en kultuur asook oor Suid-Afrika.” Volgens dr. Eloff is die mense “wel krities oor hoe die land geregeer word en voel dat minderheidsregte verwaarloos word.”

In daardie stadium (2008) het ons toe ook vir ander doeleindes die volgende bygevoeg:

Dissidente of afvalliges (moontlik dié wat belangeloos is): Hulle is die groep Afrikaners wat dit verafsku om Afrikaners te wees, baie onduidelik is oor hul eie identiteit en gevolglik uit hul pad gaan om Afrikanerkerke en -instellings, -waardes en -norme te bevraagteken en te vernietig. Hulle het ook moontlik ʼn oordrewe sin vir politieke korrektheid.

Afrikaners in diaspora: Dié groep Afrikaners wat Suid-Afrika verlaat het om hul heil in die buiteland uit te werk. Hulle is meestal eerstegenerasie-Afrikaners wat nog iets voel vir taal en kultuur, maar ter wille van eie oorlewing hul in die buiteland gaan vestig het.

In ʼn groot mate is die tipering dalk nog geldig, maar moet ons ook met alle erkenning aan die Solidariteit Beweging en in alle erns begin praat van ʼn sewende groep, naamlik die proaktiewe bouers.

Ná Solidariteit se Toekomsberaad op 10 Oktober 2019 is dit praktiese gedemonstreer dat daar ook ʼn groep Afrikaners is wat, ten spyte van ʼn onwillige regering, self begin bou aan ʼn toekoms in Suid-Afrika.

Ná vyf en twintig jaar is dit duidelik dat ons in ʼn ander Suid-Afrika leef en werk as die een wat ons in 1994 voorsien het.

In April 1994 het die meerderheid Suid-Afrikaners oorweldigend gestem vir ʼn demokrasie en is die ANC in regering geplaas. Vir ʼn hele paar jaar was daar gewis ʼn positiewe gees onder Afrikaners. Miskien het oudpresident Nelson Mandela se besonderse staatsmanskap, sy eie duidelike en positiewe standpunte oor Afrikaners en Afrikaans, asook sy persoonlike omarming van vele gemeenskappe, bygedra tot die positiewe gees wat geheers het.

Dit was ook in hierdie tyd dat Afrikanerpersoonlikhede stelselmatig begin wegstaan het van die begrip “Afrikaner”, en is ʼn meer omarmde begrip “Afrikaanssprekend”, en selfs “Afrikaanses” aanvaar en bevorder. Enkele individue het selfs uit hul Afrikanerskap bedank. Sommige Afrikaners het agteroor gebuig om polities korrek te raak in die nuwe Suid-Afrika.

Ontnugtering het egter vinnig gevolg: ’n regeringsbeleid wat neerslag gevind het in regstellende aksie, sportkwotas, grondonteiening, naamsveranderinge van dorpe en strate, swart ekonomiese bemagtiging, Afrikaans wat sy status as amptelike en onderrigtaal begin verloor het. Alles onder die dekmantel van transformasie, het Afrikaners al hoe meer uitgesluit. Die gebrek aan dienslewering, die verval in infrastruktuur, verswakking in onderwysstandaarde, korrupsie, onvermoë om misdaad vas te vat, xenofobie, kragonderbrekings en vele meer het bygedra tot mismoedigheid.

Hierdie mismoedigheid is egter nie net teenwoordig by Afrikaners nie.

Valse beskuldigings wat spruit uit die regering se eie onvermoë – waarvan beweerde teenkanting teen grondhervorming ’n voorbeeld is – het die negatiwiteit en mismoedigheid in Afrikanergeledere beduidend versterk. Voortdurende beskuldigings van rassisme en die etiket van apartheid wat ook gerieflikheidshalwe gereeld om die nek van die Afrikaner gehang word, dra by tot die groeiende weerstand. Beskuldigings van witbevoorregting het selfs Charlize Theron oortuig en het sy onlangs bely dat dit haar bevoordeel het.

Afrikaners is in die beskuldigdebank geplaas en die bevordering van Afrikanerbelange is gesien as ’n hunkering terug na apartheid en die ou orde. Dit het mense huiwerig gemaak om sterk standpunt in te neem in die openbaar; hulle wou nie gebrandmerk word as reaksionêres wat slegs eie belang wou dien nie.

Een van die heel grootste struikelblokke was die verwyt dat die Afrikaner nie kan saampraat oor aktuele kwessies nie omrede hy deur sy verlede gekontamineer is.

Talle Afrikaners het gevolglik apaties begin geraak. Ander het besluit om ter wille van die ordelike voortbestaan van Suid-Afrika en die Afrikaner, met die regering saam te werk sonder om hul integriteit in te boet. Ander het weer die weg van protes gekies (hoofsaaklik passiewe protes om braaivleisvure). Menige ander het egter die land verlaat in die soeke na ‘n veiliger toekoms. Ons kan hulle nie meer verkwalik nie.

Die aanslag op die Afrikaner wat manifesteer in heelwat van die regering se beleidsraamwerke het ʼn toenemende bewuswording van die behoud van identiteit, kultuur en waardes by die Afrikaner geskep. Daar het ook nuwegenerasie-Afrikaners ontwaak wat hul erfreg as Afrikaners weer wil opeis.

’n Gevoel van Afrikaners wat moet opstaan en hul stemme konstruktief moet laat hoor, is besig om by menige Afrikaner pos te vat. Meer nog: die stem het oorgegaan tot proaktiewe aksie in 2019 soos gedemonstreer by die Toekomsberaad.

Midde-in ’n Suid-Afrika wat steier onder beurtkrag, verswakte dienslewering, besoedelde water en vele ander krisisse, is Afrikaners nog steeds gewillig om met kundigheid te help om die land weer te maak werk. Dit wil egter lyk asof die ANC doodtevrede is met die toedrag van sake (deur hul eie onbevoegdheid en onvermoë) en ter wille van transformasie (ten alle koste) enige hulp, enige ondersteuning of advies van die hand wys.

Kan ons die Solidariteit Beweging dan kwalik neem dat hulle ʼn kategorie geskep het vanuit die aktiewe bevorderaars na proaktiewe bouers in Suid-Afrika?

Hulle voel nie net sterk oor taal en kultuur nie, maar doen iets daaraan.

Ek haal my hoed af vir hulle!

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Jan Bosman

Jan Bosman is Hoofsekretaris van die Afrikanerbond.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

27 Kommentare

Omkoop ·

Al hierdie mooi soet-sappige praatjies gaan geensins intelligente en gekwalifiseerde mense omkoop om in die hool te wil bly nie. Inteendeel.

Positief ·

Dankie – baie goeie en insiggewende artikel. Ek sal myself hoofsaaklik klassifiseer as “aktiewe bevorderaar”, alhoewel ek raakpunte het met van die ander definisies het.

Ek wil graag bou en ‘n verskil maak en ondersteun Solidariteit se planne ten volle. Wat my wel kwel is dit waaroor ons nie beheer het nie. Een van hierdie faktore is die voorgestelde NVG.

Ek is nie ten gunste van ‘n Boererepubliek of tuisland nie. Daarvoor is ek heeltemal te geïntegreerd en liberaal teen die tyd.

Ek voel soms kwaad dat ons generasie nie net kan leef nie, maar voor keuses geplaas word t.o.v. emigrasie. Ek is baie bevoorreg, gelukkig en geseënd net hier, maar wonder maar gereeld oor die gras aan die ander kant.

Geen ander land maak my opgewonde nie. Ek weet SA is vrot van probleme, maar hoekom is ek dan gelukkig net hier? Ek verstaan dit self nie, maar ek is. Ek kan emigreer en het al goed navorsing gedoen en al my eendjies is in ‘n ry, maar ek wil nie. Ek bou eerder hier.

Expat ·

Ek is ‘n pasiewe dissident in diaspora. Gee nie ‘n flenter om wat met SA gebeur nie.

@Expat ·

Dan sou jy nie hier gelees het nie. Dis mense met sulke houdings wat maak dat ek eerder net hier in SA bly.

Piet left the Building ·

@@Expat. Dit sal ook goed wees vir die buiteland indien jy hier bly.

Petrus ·

95% van die bevolking gee nie ‘n sners om wie en wat die Afrikaner is nie. Die Afrikaner se tyd is uitgedien en het sy/haar nut verloor. Om te dink Afrikaners sal genooi word om te help bou aan hierdie hool is wensdenkery. Dit help nie ons vertel mooi stories vir mekaar nie.

Noem net ·

Die hele emigrasie storie word in elk geval oordryf. Bitter min Afrikaners in vergelyking met die hoeveelheid in SA emigreer werklik. Google gerus Afrikaner diaspora. En die sogenaamde 2000 Suid-Afrikaners wat elke maand emigreer is ook uiters min in vergelyking met ons bevolking. Baie meer mense emigreer oor en weer vanaf die USA, Kanada, Australië ens. Daar is selfs heelwat Nederlanders en Britte wat na SA emigreer! Mense moet rustig raak en bietjie verder kyk. Gaan as jy wil gaan en bly as jy wil bly – gun almal hul geluk en keuses.

Stephan de S ·

Dankie vir hd goeie en opbouende artikel. Wat vir my snaaks is , is dat mense wat nie Afrikaners wil wees nie en ook geen begrip het dat ons vir onsself n leefruimte hier kan skep, tog aan mekaar aan hd debat deelneem. Hoekom hopeloosheid , swartgalligheid en beterwetigheid oordra? Hou dit vir jouself. Ek verwys nie na mense wat opregte kommentaar lewer nie.

@Stephan ·

Ek glo nie my kommentaar was swartgallig, hopeloos en beterwetig nie? Ek is ook ‘n bouer hier uit keuse en dink ook die artikel is baie goed.

Gerhard Kotze ·

Goeie punt, Noem net.

Dalk kan n mens n projek begin om Afrikaners van die mense te maak, wat hulle wel in SA vestig! Ek dink sommige mense het so mismoedig geraak dat hulle geleenthede miskyk!

Thinus Erasmus ·

Paar eeue gelede het ń jong seun gesê: “ek is ń Afrikaner” omdat hy nie onder die Rooi taal wou buig nie.
Wel vandag sê ek: Ek is DIE Afrikaner! Ek is deel van ń identifiseerbare Volk, en ek is trots daarop – my taal my geskiedenis en my land. Ek sal nie die knie buig vir wat my bedreig en bespot nie. Vir niemand is ek iets verskuldig, verskoning of vergoeding nie. Vir niemand hoef ek terug te staan of bang te wees nie.
En in hierdie land sal ons voort baklei totdat ons ń eie soewereine gronddeel het, want dit is wat die Afrikaner is!
Tyd en verdrukking is besig om ons volk te versterk en louter.
Vaarwel Expat, ek is bly vir jou toekoms – al is dit dan English.

Dolf ·

Dis te laat vir daai eie soewereine gronddeel. Niemand werk daarvoor nie, nie eers Solidariteit of die VF+ nie. Miskien Orania, maar dis klein.

Dirk Breytenbach ·

Ek is ‘n “blyer” en probeer aktief bou aan ‘n alternatief wat nie vennynig en afwysend teenoor ander minderhede of meerderhede is nie. Ek het ‘n geboortereg om in SA te wees en voldoen nie aan die 4 kategoriee hierbo genoem nie. Ek is nie ‘n bevorderaar nie maar ‘n bouer aan beter alternatiewe. As ek nou noodgedwonge met ‘n kleiner sny van die koek tevrede moet wees dan bak ek nog nuwe koeke vir myself sonder om beswaard en verbitterd te wees. Ons (almal) het gedurende die onderhandelinge in 1994 kollektief onoordeelkundig te werk gegaan en die verkeerde pad ingeslaan maar hoef nie dinge soos onder prestasie, BBEE, korrupsie, toe eiening , bedrog, haat, onwerkbare ideologiee, vergelding of luiheid te aanvaar nie. Ons hoef ook nie gedienstig en gedwee deur ander kulture oorweldig te word nie. Ek bly ‘n Afrikaner ongeag waar of in watter situasie ek my in SA bevind.

Ek sal ook nooit my Afrikanerskap bedank nie wat ‘n skande is dit tog nie. Ek dra my skuld van die verlede nederig maar vra nie meer om verskoning nie, dis gedoen. Ek verlang ook nie terug na die verlede gedurende apartheid nie maar wel na ‘n beter toekoms vir elkeen in SA. Diegene wat wil weghardloop of verkleurmannetjie speel moet dit so gou moontlik doen. Kom lei, werk saam of staan eenkant toe daar is werk om te doen!

Dirk Breytenbach ·

Positief, ek glo nie verstaan mooi wat Liberaal beteken nie. Dis nie ‘n oulike etiket wat jy kies om verlig te lyk nie. Gaan doen gerus bietjie navorsing daaroor dan kan ons daaroor saam gesels. Die Afrikaner in die algemeen is liberaal.

Standaarde ·

Vir diegene wat nie omgee om in ‘n derdewêreldse hool te woon waar jy omsingel, verdruk en verswelg word nie, dan is diesulkes se standaarde in lyn om in Afrika te wil bly. Dis reg so. Almal maak hul eie keuses.

Stephan de S ·

Ekskuus. Ek het na niemand spesifiek verwys nie….dis maar net n algemene waarneming oor maande.

Dries du Toit ·

Ek glo as dit maar net afgehang het van “keuse” sou daar al reeds bitter min Afrikaners in hierdie land oor gewees het. 90 % het nie n keuse nie. Ons sit maar op die Titanic se stoep en wag dat hy sink

@Dries du Toit ·

Jy sal verbaas wees hoeveel bly uit KEUSE. Ek is een van hulle. Meeste van my familie en vriende kan wel gaan, maar bly. Hier en daar kies iemand wel om te gaan.

Judge Dredd ·

…..en die Afrikaner is skaam om homself ‘n boer te noem…..

Positiewe Bouer ·

Ek help swart kinders met wiskunde. Wit kinders is te besig met rugby en ander aktiwiteite. Ek doen dit gratis verniet. Naweke en gedurende die week. Ook vakansies en vakansiedae. Ek is nie seker wat ek bou nie maar dis lekker om te kan ervaar hoe ‘n kind wat in graad 9 is en gesukkel het 100% in die derde termyn behaal het. Dis hoe ek bou. Sou graag my eie mense wil help. Maar ons het ‘slim’ geword. Te slim vir onsself. So dink ek.

Hendrik ·

Ek bly lekker en veilig naby Pta. Elke mens neem sy besluite en risiko van daardie besluite. Dis nie maklik ekonomies gewys in S.A en die grootste bekommernis is dat ons kinders geleenthede ontneem word a.g.v hul velkleur. Dit neem agter nou net langer om deur die oppervlakte te breek.

Johan ·

En dan is daar nog diegene wat die land verlaat het weens persoonlike (familie) omstandighede en nie omdat hulle wou nie. Nie almal verlaat die land weens die politiek of misdaad nie. Regoor die wereld emigreer (of verhuis tydelik) mense na ander lande om verskillende redes. Moet dus nie verbaas wees as hierdie Afrikaner terug emigreer ondanks die hopelose situasie waarin die land hom bevind !

Feite ·

Afrikaner proaktiewe bouers bly in SA en in die buiteland in verskillende groepe, ook as individue. Orals waar Afrikaners is vorm hulle groepe en bou hulle, of hulle nou steeds deel is van die Afrikanervolk en of hulle deel is van God se volk, Afrikaners bou. Party Afrikaners bou mure terwyl ander brue bou. Sekere Afrikaners bou mure en brue. Om dus te reken dat dit net Afrikaners is wat in SA bly wat proaktiewe bouers is, is so ver van die waarheid verwyder, dat die skrywer se aannames eintlik verstommend lagwekkend is. Al is julle een miljoen Afrikaners wat proaktiewe bouers is in SA, is een Afrikaner proaktiewe bouer in die buiteland sterker en beter daaraan toe. Die Afrikaner proaktiewe bouers bevind hulself orals oor die wereld heen, nie net in SA nie. Met skrywes soos hierdie van Bosman, is dit opvallend dat die Afrikaner in SA se situasie al meer desperaat raak!

Cathy Kotze ·

Dis wonderlik dat daar steeds ‘n groot groep Afrikaners is wat graag wil saamstaan en hulle stem wil laat hoor. Die oorgrote meerderheid is mense wat lief is vir hulle kultuur, taal en tradisies.

Miskien is nou die tyd om uit te reik na ander Suid-Afrikaners wat net so veel as Afrikaners in die nuwe bestel verloor het.

Daar is vele doodgewone hardwerkende mense in ander bevolkingsgroepe wie se verlies gelyk staan aan dié van Afrikaners. Die Afrikaner en Bruin bevolking het baie in gemeen, en saam kan hulle soveel meer bereik.

Ek woon in Kanada en is omring deur Swart, Bruin en Indiese mede Suid-Afrikaners wie ook uit die ANC se Suid-Afrika gevlug het. Baie van hulle is deur Nelson Mandela se kaders gesien as “sell-outs” en het waarlik gevlug vir hulle lewe.

Miskien is die tyd vir Afrikaner isolasie verby. Daar’s hoop indien alle verwonde Suid-Afrikaners uiteindelik begin saamstaan en begin veg vir die werklike Suid-Afrika wat hulle intens liefhet.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.