Bly en bou – proaktiewe Afrikaners in SA

Afrikaner

Argieffoto: Adéle Changuion

Onlangs, in ʼn gesprek met dr. Theuns Eloff, het ek hom herinner aan ʼn toespraak van hom in om en by 2008 by ʼn FAK-geleentheid in Potchefstroom toe hy nog visekanselier van die Noordwes-Universiteit (NWU) was. In sy toespraak het hy gesê taal en lidmaatskap van politieke partye, kerke of kultuurverenigings onderskei nie meer Afrikaners nie. Hy het bygevoeg dat Afrikaners volgens hul siening oor en waardering vir taal en kultuur, asook hul houding teenoor die nuwe Suid-Afrika (wat in 2008 nog redelik nuut was) gedefinieer word. Hy het in daardie stadium Afrikaners in vier groepe gedefinieer:

“Aktiewe weerstandiges voel sterk oor taal en kultuur, maar nie oor die nuwe Suid-Afrika nie. Hulle het ’n eksklusiewe siening oor wit Afrikaners.”

“Passiewe weerstandiges is mense wat nie sterk voel oor een van die twee nie. Hulle stuur hul kinders na Engelse skole en glo die land sal, ‘nes Zimbabwe’, ten gronde gaan.”

“Inklusiewe bevorderaars voel sterk oor die nuwe Suid-Afrika, maar nie oor taal en kultuur nie. Hulle het skuldgevoelens oor apartheid en is geneig om polities korrek op te tree.”

“Aktiewe bevorderaars voel sterk oor taal en kultuur asook oor Suid-Afrika.” Volgens dr. Eloff is die mense “wel krities oor hoe die land geregeer word en voel dat minderheidsregte verwaarloos word.”

In daardie stadium (2008) het ons toe ook vir ander doeleindes die volgende bygevoeg:

Dissidente of afvalliges (moontlik dié wat belangeloos is): Hulle is die groep Afrikaners wat dit verafsku om Afrikaners te wees, baie onduidelik is oor hul eie identiteit en gevolglik uit hul pad gaan om Afrikanerkerke en -instellings, -waardes en -norme te bevraagteken en te vernietig. Hulle het ook moontlik ʼn oordrewe sin vir politieke korrektheid.

Afrikaners in diaspora: Dié groep Afrikaners wat Suid-Afrika verlaat het om hul heil in die buiteland uit te werk. Hulle is meestal eerstegenerasie-Afrikaners wat nog iets voel vir taal en kultuur, maar ter wille van eie oorlewing hul in die buiteland gaan vestig het.

In ʼn groot mate is die tipering dalk nog geldig, maar moet ons ook met alle erkenning aan die Solidariteit Beweging en in alle erns begin praat van ʼn sewende groep, naamlik die proaktiewe bouers.

Ná Solidariteit se Toekomsberaad op 10 Oktober 2019 is dit praktiese gedemonstreer dat daar ook ʼn groep Afrikaners is wat, ten spyte van ʼn onwillige regering, self begin bou aan ʼn toekoms in Suid-Afrika.

Ná vyf en twintig jaar is dit duidelik dat ons in ʼn ander Suid-Afrika leef en werk as die een wat ons in 1994 voorsien het.

In April 1994 het die meerderheid Suid-Afrikaners oorweldigend gestem vir ʼn demokrasie en is die ANC in regering geplaas. Vir ʼn hele paar jaar was daar gewis ʼn positiewe gees onder Afrikaners. Miskien het oudpresident Nelson Mandela se besonderse staatsmanskap, sy eie duidelike en positiewe standpunte oor Afrikaners en Afrikaans, asook sy persoonlike omarming van vele gemeenskappe, bygedra tot die positiewe gees wat geheers het.

Dit was ook in hierdie tyd dat Afrikanerpersoonlikhede stelselmatig begin wegstaan het van die begrip “Afrikaner”, en is ʼn meer omarmde begrip “Afrikaanssprekend”, en selfs “Afrikaanses” aanvaar en bevorder. Enkele individue het selfs uit hul Afrikanerskap bedank. Sommige Afrikaners het agteroor gebuig om polities korrek te raak in die nuwe Suid-Afrika.

Ontnugtering het egter vinnig gevolg: ’n regeringsbeleid wat neerslag gevind het in regstellende aksie, sportkwotas, grondonteiening, naamsveranderinge van dorpe en strate, swart ekonomiese bemagtiging, Afrikaans wat sy status as amptelike en onderrigtaal begin verloor het. Alles onder die dekmantel van transformasie, het Afrikaners al hoe meer uitgesluit. Die gebrek aan dienslewering, die verval in infrastruktuur, verswakking in onderwysstandaarde, korrupsie, onvermoë om misdaad vas te vat, xenofobie, kragonderbrekings en vele meer het bygedra tot mismoedigheid.

Hierdie mismoedigheid is egter nie net teenwoordig by Afrikaners nie.

Valse beskuldigings wat spruit uit die regering se eie onvermoë – waarvan beweerde teenkanting teen grondhervorming ’n voorbeeld is – het die negatiwiteit en mismoedigheid in Afrikanergeledere beduidend versterk. Voortdurende beskuldigings van rassisme en die etiket van apartheid wat ook gerieflikheidshalwe gereeld om die nek van die Afrikaner gehang word, dra by tot die groeiende weerstand. Beskuldigings van witbevoorregting het selfs Charlize Theron oortuig en het sy onlangs bely dat dit haar bevoordeel het.

Afrikaners is in die beskuldigdebank geplaas en die bevordering van Afrikanerbelange is gesien as ’n hunkering terug na apartheid en die ou orde. Dit het mense huiwerig gemaak om sterk standpunt in te neem in die openbaar; hulle wou nie gebrandmerk word as reaksionêres wat slegs eie belang wou dien nie.

Een van die heel grootste struikelblokke was die verwyt dat die Afrikaner nie kan saampraat oor aktuele kwessies nie omrede hy deur sy verlede gekontamineer is.

Talle Afrikaners het gevolglik apaties begin geraak. Ander het besluit om ter wille van die ordelike voortbestaan van Suid-Afrika en die Afrikaner, met die regering saam te werk sonder om hul integriteit in te boet. Ander het weer die weg van protes gekies (hoofsaaklik passiewe protes om braaivleisvure). Menige ander het egter die land verlaat in die soeke na ‘n veiliger toekoms. Ons kan hulle nie meer verkwalik nie.

Die aanslag op die Afrikaner wat manifesteer in heelwat van die regering se beleidsraamwerke het ʼn toenemende bewuswording van die behoud van identiteit, kultuur en waardes by die Afrikaner geskep. Daar het ook nuwegenerasie-Afrikaners ontwaak wat hul erfreg as Afrikaners weer wil opeis.

’n Gevoel van Afrikaners wat moet opstaan en hul stemme konstruktief moet laat hoor, is besig om by menige Afrikaner pos te vat. Meer nog: die stem het oorgegaan tot proaktiewe aksie in 2019 soos gedemonstreer by die Toekomsberaad.

Midde-in ’n Suid-Afrika wat steier onder beurtkrag, verswakte dienslewering, besoedelde water en vele ander krisisse, is Afrikaners nog steeds gewillig om met kundigheid te help om die land weer te maak werk. Dit wil egter lyk asof die ANC doodtevrede is met die toedrag van sake (deur hul eie onbevoegdheid en onvermoë) en ter wille van transformasie (ten alle koste) enige hulp, enige ondersteuning of advies van die hand wys.

Kan ons die Solidariteit Beweging dan kwalik neem dat hulle ʼn kategorie geskep het vanuit die aktiewe bevorderaars na proaktiewe bouers in Suid-Afrika?

Hulle voel nie net sterk oor taal en kultuur nie, maar doen iets daaraan.

Ek haal my hoed af vir hulle!

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Jan Bosman

Meer oor die skrywer: Jan Bosman

Jan Bosman is Hoofsekretaris van die Afrikanerbond.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

27 Kommentare

jongste oudste gewildste
Omkoop

Al hierdie mooi soet-sappige praatjies gaan geensins intelligente en gekwalifiseerde mense omkoop om in die hool te wil bly nie. Inteendeel.

Positief

Dankie – baie goeie en insiggewende artikel. Ek sal myself hoofsaaklik klassifiseer as “aktiewe bevorderaar”, alhoewel ek raakpunte het met van die ander definisies het. Ek wil graag bou en ‘n verskil maak en ondersteun Solidariteit se planne ten volle. Wat my wel kwel is dit waaroor ons nie beheer het nie. Een van hierdie faktore is die voorgestelde NVG. Ek is nie ten gunste van ‘n Boererepubliek of tuisland nie. Daarvoor is ek heeltemal te geïntegreerd en liberaal teen die tyd. Ek voel soms kwaad dat ons generasie nie net kan leef nie, maar voor keuses geplaas word t.o.v.… Lees meer »

Expat

Ek is ‘n pasiewe dissident in diaspora. Gee nie ‘n flenter om wat met SA gebeur nie.

Petrus

95% van die bevolking gee nie ‘n sners om wie en wat die Afrikaner is nie. Die Afrikaner se tyd is uitgedien en het sy/haar nut verloor. Om te dink Afrikaners sal genooi word om te help bou aan hierdie hool is wensdenkery. Dit help nie ons vertel mooi stories vir mekaar nie.

Noem net

Die hele emigrasie storie word in elk geval oordryf. Bitter min Afrikaners in vergelyking met die hoeveelheid in SA emigreer werklik. Google gerus Afrikaner diaspora. En die sogenaamde 2000 Suid-Afrikaners wat elke maand emigreer is ook uiters min in vergelyking met ons bevolking. Baie meer mense emigreer oor en weer vanaf die USA, Kanada, Australië ens. Daar is selfs heelwat Nederlanders en Britte wat na SA emigreer! Mense moet rustig raak en bietjie verder kyk. Gaan as jy wil gaan en bly as jy wil bly – gun almal hul geluk en keuses.