Bo die wet verhewe?

Deur Zel-Marí Gelderblom

Julius Malema spreek die skare toe by die Moses Mabhida-stadion in Durban, tydens die bekendstelling van die EFF se verkiesingsmanifes. (Foto: Rajesh Jantilal/AFP)

Op die vooraand van die 2024-verkiesing gaan Julius Malema, leier van die EFF, hierdie maand weer in twee afsonderlike sake in die hof verskyn. Die eerste hofsaak gaan oor Malema se uitlating: “You must never be afraid to kill. A revolution requires killing at some point because killing is part of the revolutionary act.”

Die Menseregtekommissie (MRK) het Malema voor die gelykheidshof gedaag omdat hy geweier het om sy uitlating terug te trek óf om daarvoor verskoning te vra. Malema voer aan, soos Netwerk24 berig, dat die MRK hom en sy party eers moes kans gee om hul kant van die saak te stel sodat die feite behoorlik oorweeg kon word. Watter kant is daar nou eintlik te stel? Malema se uitlating is volgens my en vele ander blatante haatspraak en aanhitsing tot geweld. Geen ander kant kan dié feit weerspreek nie.

Die ander hofsaak behels die “Kill the Boer”-dreunsang. AfriForum eis dat waarnemende appèlregter Raylene Keightley van die saak verwyder word omdat sy in 2018 in ʼn ander hofsaak sterk negatiewe menings teen AfriForum gehuldig het. Uitspraak in dié saak is egter voorbehou.

Malema bevind hom gereeld aan die verkeerde kant van die gereg en spring telkemale die straf daarvoor vry. Dit is iets wat ʼn mens laat wonder: Is Malema bo die wet verhewe?

Politieke partye soos die EFF probeer om meer steun te kry deur middel van leë beloftes wat, as dit vervul sou word, hul ondersteuners se ekonomiese probleme sal vererger eerder as oplos. Dit is makliker om kiesers te werf as jy hulle belowe dat hulle bloot vir ʼn beter lewe moet stem eerder as om vir een te werk.

Malema was al by verskeie ander hofsake betrokke. Dink maar aan die bloutjie wat hy in 2019 in die Pretoriase Hooggeregshof geloop het toe sy aansoek van die hand gewys is om die Wet op Oproerige Byeenkomste 17 van 1956 ongeldig en onwettig te verklaar. Dan is daar die hofsaak van die onwettige afvuur van ʼn vuurwapen waarby AfriForum ook betrokke is. Dié hofsaak volg nadat Malema op die EFF se vyfjaarfeesvieringe in 2018 skote in die lug in afgevuur het. Die EFF se woordvoerders ontken egter dat die voorwerp in die video ʼn regte vuurwapen is en beweer dat dit klappers was wat in ritme met die voorwerp afgegaan het.

Luxolo Tyali, provinsiale woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) in die Oos-Kaap, het egter in ʼn verklaring bevestig dat die NVG in totaal vyf klagtes teen Malema voer:

  • die onwettige besit van ʼn vuurwapen
  • die onwettige besit van ammunisie
  • die afvuur van ʼn vuurwapen in ʼn beboude gebied
  • dat hy nie die redelike voorsorgmaatreëls getref het om te sorg dat mense of eiendom nie in gevaar is nie
  • dat hy mense en eiendom in gevaar gestel het

Dan is daar ook bewerings van korrupsie: Malema is tydens sy tyd as die president van die ANC Jeugliga van korrupsie en wanbestuur beskuldig. Hierdie bewerings is deur verskeie owerhede ondersoek.

Daar is ook nog beweerde belastingontduiking. In 2012 is hy aangekla van belastingontduiking en bedrog wat met sy ondernemings en persoonlike finansies verband gehou het.

Grondbesetting is nóg ʼn kwessie waarvoor Malema in die hof was. Malema en die EFF is groot voorstanders vir grondbesetting in Suid-Afrika. Hoewel hul standpunt uit sommige oorde steun geniet, ontlok dit ook kritiek en regsuitdagings van opponente. In 2023 is Julius Malema en die EFF se aansoek van die hand gewys om te appelleer teen ʼn interdik wat AfriForum in 2017 verkry het. Dié interdik het Malema en die EFF verbied om mense aan te hits om privaat eiendom te betree en dit onwettig te beset.

Dit is die sesde pak slae vir Malema en die EFF oor dieselfde aangeleentheid en daar is nou geen verdere regsremedies vir ʼn sewende poging nie. Dit is nou ʼn ernstige misdaad om mense aan te hits om grond te betree en grond te beset. As die EFF in die toekoms hierdie misdaad pleeg, sal hulle aan minagting van die hof skuldig wees.

Die EFF moes al die oorblywende koste wat hy AfriForum verskuldig was vir dié ses jaar se hofgevegte in dieselfde saak met rente betaal. Al het die EFF ʼn gedeelte van die kostebevele aan AfriForum oorbetaal, kom die uitstaande bedrag steeds op ongeveer R215 000 te staan. Rente moet ook terugwerkend op hierdie bedrag betaal word. Die EFF sal ook die jongste kostebevele van die Hoogste Hof van Appèl en die Konstitusionele Hof moet betaal sodra dit toegestaan word.

Daar is ʼn sterk argument te voer dat Julius Malema die breër publiek uitlok wanneer hy aanhou om die “Kill the boer”-dreunsang te sing en hom aan haatspraak en aanhitsing tot geweld skuldig maak. Hy wéét wat hy doen en doen dit om ʼn spesifieke reaksie te ontlok.

Aangesien dit die geval is, behoort ons sy opmerkings en uitlatings baie ernstiger op te neem en probeer keer dat hy met hierdie tipe gedrag wegkom. Dit is onaanvaarbaar dat ʼn hooggeplaaste kan maak en breek soos hy wil. Dit is tyd dat hy die gevolge van sy aksies dra.

  • Zel-Marí Gelderblom is die koördineerder van inhoud en mediaverhoudinge by AfriForum en het ʼn meestersgraad (cum laude) in genderpolitiek aan die Nelson Mandela Universiteit behaal.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Republikein in die Wes Kaap ·

Malema weet inderdaad wat hy doen. Hy weet ook waar om die streep te trek. Hy is bestem vir die kabinet en op huidige trant gaan hy êrens in die toekoms president word. Sy einde gaan net bewerkstellig word deur sy aanhangers af te rokkel. Dit sal moeilik wees.Maar om te vra dat hy die “gevolge” van sy aksies moet dra klink meer soos ‘n kwaai skoolhoof se optrede wat gewoonlik korttermyn van aard is.

Anel ·

Doen iets goeds: deporteer malema na waar hy vandaan kom en ontbind die eff!

Erika ·

Die media gee hom heeltemal te veel eer en publisiteid. Dis hoekom hy sê wat hy sê en doen wat hy doen. Vat die kamaras weg en jul sal sien hy kom nerens

Jan ·

Ek dink hulle is te bang om teen hom op te tree want hulle weet die gevolge gaan chaoties wees met die EFF ondersteuners wat amok sal maak. Dit is mos die EFF manier.

So ja, hy is verhewe bo die wet. Net soos Zuma.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.