Boekbekendstelling: Onthou! Kronieke van vroue- en kinderlyding, 1899-1902

Kort rede by die bekendstelling van die boek Onthou! by die Voortrekkermonument op 22 Mei 2012

Die boek Onthou! Kronieke van vroue- en kinderlyding, 1899-1902, het ‘n wyer en enger betekenis, asook ‘n subteks.

Vyftig jaar gelede was die fokuspunt van publikasies oor die Britse konsentrasiekampe van die Anglo-Boereoorlog, 1899-1902, die geredekawel oor feite: Hoeveel vroue en kinders is presies in die kampe oorlede; hoeveel kampe was daar; hoeveel toiletgeriewe was daar beskikbaar ens. Dieselfde benadering vind ons in die literatuur oor die Nazi-kampe van die Tweede Wêreldoorlog en die Russiese kampe in die Gulag. Vir baie jare is die wêreld getrakteer op debatte oor hoeveel Joodse kampinwoners presies in die kampe gesterf het en hoeveel mense in die kampe in die Gulag om die lewe gebring is.

Die morele impak van die kampe en die humanitêre implikasies daarvan het grootliks buite die gesprek gebly. Tzvetan Todorov se werk oor die morele impak van die Nazi-konsentrasiekampe tydens die Tweede Wêreldoorlog; Anne Applebaum se ontleding van die humanitêre implikasies van die kampe in die Gulag en Rezak Hukanovic se ondersoek na die lewe in die doodskampe in Bosnië, verteenwoordig die verskuiwing in die geskiedskrywing na die morele impak en die humanitêre implikasies van die lewe in die konsentrasiekampe. Nou eers besef ons dat steriele debatte oor getalle as’t ware die stemme en krete om humanitêre behandeling van mense verstil. Vir die eerste keer word die diepere humanitêre pleidooie vir menslike behandeling en humanitêre waardes gehoor. Dit is ‘n kreet om – soos Todorov dit noem: Geheue en identiteit.

Die Afrikaner se kreet om te onthou ter bevestiging van sy identiteit hoor ons reeds in Leon Cachet se boek oor die Transvaalse Afrikaners en F.W. Reitz se monografie oor die lyding en stryd van die Afrikaner teen Britse imperialisme in die 19de eeu (‘n Eeu van onreg). Mev. Neethling se versameling van vroue-egotekste oor die lyding van vroue en kinders is ook ‘n teks waarin identiteit en geheue hand aan hand loop.

Die tekste het universele betekenis vir sover dit in ‘n breër verband die lyding van, institusionele geweld gepleeg teenoor en die trauma deur aantasting van die waardigheid van die Boerevroue en -kinders wesenlike lesse vir alle tye en vir alle mense inhou. Die “nooit weer nie!” kan slegs deur onthulling van die verlede in die hede die grondslag vir ‘n beter toekoms lê. Margaretha Joubert se behandeling en haar lyding in die Paarlse tronk het morele en humanitêre implikasies ver buite die grense van ons land. Die “nooit weer nie” opgesluit in die behandeling van die vroue en kinders in die kampe het universele humanitêre betekenis: Soos wat die Britse imperiale ideologie Boerevroue en -kinders op ongekende skaal by die oorlog betrek het en generaal Weyler in Kuba sy diaboliese dade van verskroeide-aarde ‘n paar jaar vroeër ontwerp het, het die Nazi-konsentrasiekampe, die Russiese kampe in die Gulag en die kampe in Bosnië, morele betekenis ver buite die grense van die lande waarin die diaboliese dade afgespeel het. Daardie appèlle is uiters relevant vir ons tyd:

Die universele lesse wat uit Onthou! geleer moet word:

* Totalitarisme en ideologiese fundamentalisme neem baie vorme aan as gevolg waarvan sommige mense gediaboliseer word en andere die volle beskerming van die politieke regimes ervaar.

** Relativering van menslike waardigheid neem talle vorme aan – is daar ‘n wesenlike verskil tussen die wandade in die konsentrasiekampe, dié in Nazi-Duitsland en die plaasmoorde wat op ‘n bepaalde segment van die bevolking in ons tyd gepleeg word? Of Elizabeth van Heyningen se opmerkings dat die Boerevroue baie van higiëne in die kampe geleer het – ten spyte van meer as 27 000 wat daar dood is?

*** Soos kampslagoffers in ander lande het individue en groepe wat tot vandag die gevolge van die konsentrasiekampe ervaar, die reg om hul verlede terug te roep en hul identiteit en die morele impak daarop te gedenk.

**** Die krete om gehoor te word uit die Britse konsentrasiekampe, dié in Nazi-Duitsland, die Gulag en in Bosnië is ‘n morele protes teen die politieke Alzheimer-sindroom waardeur gepoog word om die trauma van die verlede te verberg, nie so erg voor te stel nie of selfs te ontken.

Vir te lank in die Suid-Afrikaanse geskiedskrywing was daar ‘n steriele gekibbel oor feite, die hoeveelheid toilette in die kampe, die hoeveelheid dokters, verpleegsters, watter aandeel die vroue aan hul haglike omstandighede in die kampe gehad het – by sommige geskiedskrywers steeds die fokus – terwyl die krete van die slagoffers van die kampe klinies opsygeskuif, geïgnoreer en die morele impak daarvan misgekyk is. Historici berei as’t ware die volgende Holocaust voor!

Politieke korrektheid en manipulasie van morele waardes en menslikheid verduister die morele implikasies van die kampe: Politieke hovaardigheid en morele heiliging van immorele politieke agendas en – oogmerke huisves die potensiaal van aantasting van menslikheid en menswaardigheid. In die naam van heilige politieke doelwitte word soms die grootste onreg teenoor etniese groepe en individue gepleeg – die kampe in Suid-Afrika, Duitsland en Rusland is daar sprekende voorbeelde van.

Historici se ongeërgdheid oor die morele implikasies van die kampe en die humanitêre waardes daardeur geskend, skep die teelaarde vir toekomstige etniese suiwering, geringskatting van die politieke en ekonomiese belange van groepe en individue. Terwyl die debat oor mediese geriewe in die kampe voortgaan, word die oog gesluit vir die sterwenskrete van vroue en kinders wat onder die hiel van politieke maghebbers van hul waardigheid gestroop en ontmens is.

Uit die geskiedenis van die kampe leer ons dat politieke magshebbers te maklik ‘n praktyk van “die doel heilig die middele” van stapel stuur en daarmee wegkom. Die fokus verskuif vanaf die mens na die instrumente om politieke doelwitte te bereik en dat dié middele uiteindelik die doel self word. Hoe dikwels sien ons in die wêreld vandag dat onder die krete van sosiale regstelling selfs groter onreg gepleeg word. Wanneer die heiliging van die middele uitmond in regverdiging van ongelykwaardige behandeling van kultuur- en taalgroepe is die eerste tree reeds gegee na etniese suiwering. Die doel word nie aan morele kriteria getoets nie en sommige mense word vir ideologiese redes as “mindere mense” geag.

Propaganda om politieke doelwitte te bereik is die eerste tekens van dreigende morele gevaar. Die krete van vroue en kinders in Onthou! is voorafgegaan deur die volle aanslag van die Britse propagandaveldtog ter bevordering van Britse imperialistiese ikonografie (oftewel simbole) – Die anti-Boer propagandafilms het onbeskroomd die Boere gestigmatiseer terwyl politieke simbole van die onderdrukker die militêre ideale van ‘n nuwe politieke orde versinnebeeld het – nie ‘n woord is daarin gerep oor die konsentrasiekampe nie.

Verhongering, marteling en onwaardige behandeling van mense bly immoreel en behoort nooit goedgepraat te word nie. Levinas se “thinking of the other” het ‘n morele appèl wat vir alle tye universele implikasies het.

Valse simpatie met onderdrukkers skep groter morele rampe: Morele boosheid word nou blote ongeluk, die gevolge van omstandighede of selfs die skuld van die slagoffers.

Manicheïsme – “Ons is altyd skuldig, maar ander is altyd reg” – bevat elemente van morele sensorskap. Dit beteken eintlik: “Ek is beter as jy omdat ek insien dat ons so sleg is.” Diegene is net so gevaarlik soos diegene wat Xenofobie of etnosentrisme verkondig.

Konsentrasiekampe is uiterstes wat ons veel kan leer wat van universele waarde is:

# Die boodskap dat mense deur innerlike geesteskrag kan uitstyg bo uiterlike haglike omstandighede (Viktor Frankl). Onthou! bevat talle voorbeelde daarvan.

# Die waardes van lojaliteit, moed, deursettingsvermoë is morele waardes wat gemeenskappe selfs onder die haglikste omstandighede orent hou – soos Tzvetan Todorov dit stel: “Heroïsme veronderstel altyd moed, krag en self-verloëning sowel as die geloof in ‘n hoëre ideaal.”

# Menslike waardigheid kry nuwe betekenis – Mense is nie vry om te beweeg waar hulle wil nie; nie vry om self keuses uit te oefen nie (bv. in die konsentrasiekampe ligte uit of moeders nie vry om hulle kinders nie na die hospitaal te stuur nie).

# Die behoud van menslike waardigheid vereis dikwels ongehoorsaamheid aan die onderdrukker: Die weiering om bevele te gehoorsaam; die waai van nasionale simbole wat deur die onderdrukker verbied word; die sing van liedere wat verbied word (bv. optrede van vroue op ‘n trein uit Johannesburg met wapperende vlae – ‘n poging om hul waardigheid te herstel).

# Selfrespek berus nie alleen by die neem van besluite nie, maar by die uitvoering daarvan (bv. Die vroue in die Bloemfontein-konsentrasiekamp wat in ‘n gronddam hul klere was; die voorbeeld van latrine geriewe in die Bethulie-konsentrasiekamp wat die waardigheid van mens aantas en vroue wat in opstand kom daarteen).

# Betekenislose werk is dalk die grootste vorm van aantasting van menslike waardigheid – daarom probeer vroue hul selfrespek behou deur netjies vir foto’s te poseer selfs al het hul bykans geen klere nie; die werk wat hulle doen word deeglik gedoen; selfs die vloere van blikkies in Norvalspont-konsentrasiekamp).

# Die waarde van solidariteit: Miemie Els se opstand in die Brandfortkamp en die ondersteuning deur ander vroue en kinders het universele betekenis.

# Estetiese waardering is ‘n belangrike middel om selfrespek te herwin: Onder moeilike omstandighede ontvang sommige mense die genade om ander attent op skoonheid te maak – bv. die sing van liedere, gedigte in kampdagboeke; of selfs ‘n sonsondergang.

# Terwyl sommige mense ‘n stryd voer om selfrespek te herwin, verloor ander dit om in die oë van die maghebbers polities korrek op te tree, die guns van die heersers te wen of om hul eie mense te verneder en te verguis – die verskynsel van hensoppers en joiners is vandag steeds relevant soos dit was in die oorlog.

# Politieke ideologieë ken nie perke aan die degradering en depersonalisering van mense nie. “Bird cages” en strafkampe – mense is gestroop van hul besittings; slegs tentnommers; oorledenes word soos dinge behandel.

# Mense wat lakeie van politieke magshebbers word, word ook gedepersonaliseer – selfs die mees vroom en vriendelike mense stort nou hul argwaan op hul taal- en volksgenote uit en behandel hulle soos dinge.

# Die gesiglose politieke maghebber dra nie alleen die blaam vir morele ineenstorting nie, ook hulle wat diegene verkies en in magsposisies geplaas het: “The assasin is not only he who strikes the blow, but who supported evil, no matter how: For these things the citizens of totalitarian regimes are truly responsible.”

# Die ondertoon van Onthou! is dat geloof, hoop en liefde triomfeer – soos in die Bethulie-konsentrasiekamp waar ‘n bejaarde moeder ‘n gestremde seun reeds vir 14 jaar met die mond voer soos ‘n duif!

Fotomateriaal dra baie daartoe by om die morele impak van die konsentrasiekampe te peil – Paul Alberts het pionierswerk in dié verband in Suid-Afrika gedoen. Hierdie boek sit die tradisie voort. Charmaine Alberts en Caria Vermaak is ‘n super-span – kyk self na die produk. Aan Dirk en Johan en die personeel van Kraal onder leiding van Ilze, ‘n besondere woord van dank.

Klik hier om meer oor die boek te lees.
Klik hier om ‘n video van die bekendstelling te sien.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Andries Raath

Meer oor die skrywer: Andries Raath

Professor Raath, skrywer van die boek "Niklaas van Rensburg: Die Siener" en "Onthou!" is ’n senior professor in regsgeleerdheid aan die Universiteit van die Vrystaat. Sy besondere belangstelling is regsgeskiedenis, regsfilosofie en die geskiedenis van pioniersgemeenskappe.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

1 Kommentaar

jongste oudste gewildste
madelaine pretorius

Goeie dag Ek probeer om die boek te koop as ‘n vadersdag geskenk en kan dit nerens kry nie.
Kan u my asb. help. Ek bly in Hermanus Kaapstad.
Baie Dankie Madelaine 0283138231.