Boelies: Hoe kan ek ’n verskil maak?

leandie-lombaard-02

Leandie Lombaard. Foto: Mariska Batt.

Deur Leandie Lombaard

Die samelewing is die afgelope maand dermate deur geweld, misdaad, terrorisme en moord geteister dat ’n mens eintlik nie meer kan kophou met alles nie. Hierdie gebeure gee aanleiding tot nagmerries en slapelose nagte, en derhalwe kom ’n mens tot die gevolgtrekking dat slegte dinge nie net in Suid-Afrika plaasvind nie, maar wêreldwyd.

Vir ’n jong vrou wat onlangs die arbeidsmark betree het en eers verlede jaar universiteit verlaat het, kan die gevoel van die wêreld daarbuite taamlik oorweldigend wees. ’n Mens leef nie meer onder jou ouers se dak nie en hulle kan nie meer hul vlerke so gereeld oor jou hou soos voorheen nie. Dit beteken dat jy die grootmenswêreld betree het en meer gereeld met boelies van die samelewing in aanraking kom en nie meer net die boelies wat jy op skool moes hanteer nie. Daar is dus nie nou meer noodwendig ’n onderwyser wat jou uit die kloue van die nare leeus kan red nie.

Jy moet jou dus die volgende vraag afvra: Hoe kan ek ’n verskil maak? Ek is dalk jonk en onervare, maar het ’n passie om te leef en my stem te laat hoor! God het dan ’n plan met my lewe net soos wat Hy ’n plan met elke ander mens se lewe ook het, of ek nou ’n sportheld, popster, aktivis, onderwyser of rekenmeester is. In my beroep, waar ek myself ook al bevind … God ontmoet my waar ek is.

Ons as jong Suid-Afrikaners moet die volgende onthou:

Laat niemand jou jonkheid verag nie, maar wees ’n voorbeeld vir die gelowiges in woord, in wandel, in liefde, in gees, in geloof, in reinheid. – 1 Timoteus 4:12

Die enigste manier hoe ons ’n verskil in die samelewing kan maak, is om as ’n voorbeeld te leef. Dit is nie altyd maklik nie, omdat hartseer, vrees en woede ons pad op ’n gereelde grondslag kruis. Jesus het ons as sy volgelinge trouens belowe dat ons dit nie maklik op aarde sal hê nie. Met hierdie belofte gee Hy steeds vir ons hoop, want daar is altyd lig aan die einde van die tonnel.

En dit sê ek vir julle, sodat julle vrede kan vind in My. In die wêreld sal julle dit moeilik hê; maar hou moed: Ek het die wêreld klaar oorwin. – Johannes 16:33

As kind het die film Pay it Forward my so geïnspireer dat dit my nou nog bybly. Dit beklemtoon dat ’n mens ’n verskil in ander se lewe kan maak met een enkele optrede. Soos in hierdie film wou ek dit juis ook in my eie lewe toepas.

Nagenoeg twee jaar gelede het ek ’n dag soos enige ander gehad: besig, moeg, stresvol en ’n gejaag na wind. Ek was werksaam as fasiliteerder vir eerstejaarstudente en tussendeur hard besig om te leer en take te doen ter voltooiing van my honneursgraad. Soms hou ons ons so besig met aardse dinge dat ons vergeet om net stil te word en na God se stem te luister. Ek het Jesus gevra of ek net weer sy stem kan hoor, want ek weet dat ek ’n verskil wil maak in hierdie eerstejaarstudente se lewe, al is dit net in een persoon. Ek wil ondersteuning bied en/of help waar ek kan. Daar moet tog sekerlik ’n doel daarmee wees waarom ek is waar ek is?

God het duidelik nie op Hom laat wag nie, want in ’n kwessie van ’n week kom ek op ’n brief in die universiteit se badkamer af. Op die koevert staan “To you”. Ek besef toe dat hierdie brief nie ’n spesifieke naam bevat nie en besluit gevolglik om dit oop te maak. Binne-in die brief staan die volgende:

 Dear Stranger

It is often in the darkest skies that we see the brightest stars. Think of yourself as a drop of water. You as a drop can collectively with others make up a pond, a river, a lake, or an ocean. As several drops fall together, ripples are created. And when the ripples meet, amazing things happen. Know that you are capable of that.

From another stranger

Ek was behoorlik stomgeslaan, want nie net het God my gebed beantwoord nie, Hy het my ook ontmoet waar ek is. Iemand was dus gehoorsaam aan ons wonderlike Hemelvader om daardie brief te skryf en dit daar te plaas – daarom is dit belangrik om stil te word en na God se stem te luister.

Daardie brief speel tot vandag toe steeds ’n groot rol in my lewe, want hoewel die wêreld daarbuite donker is, moet ons as lig in die wêreld leef. Of ons nou oud, jonk, kort, lank, pienk of pers is, ons is hier op aarde geplaas vir ’n spesifieke doel. Ons, as volgelinge, is hier om ander met lig aan te raak. Om ’n verskil in ander se lewe te maak kan op baie maniere gebeur – of jy nou net vriendelik is, na iemand luister, by ’n kinderhuis werk of vir die man op straat kos koop – “change happens through acts of kindness”.

Kom ons tree in liefde teenoor die boelies van die wêreld op en maak ’n verskil! Vuur baklei nie met vuur nie. Kom ons gooi water op die vuur en leef in liefde, want liefde het reeds die wêreld oorwin!

  • Lombaard is ‘n navorser by die burgerregte-organisasie AfriForum.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

René Erwee ·

Pragtig – hoe wens ek nie dit kan aan jongmense voorgelees, of met hulle bespreek word nie! En dan – ons almal moet dit ‘n lewensingesteldheid maak. Dankie vir dié pragtige skrywe!

John ·

Oppas niggie! Moenie ‘n adder se kop streel nie. Hy gaan nie dankbaar wees nie. Trou met ‘n boelie en jy gaan die een wees wat vlug, nie hy nie. Die redes waarom mense boelie, staan nie altyd in skoonskrif op sy of haar arm ¿♥getatoeeer nie… Hulle is dikwels ook verkragters en wreedaardig mense en die eerste aansig baie bedrieglik. Gaan dit help om #♡♡♡’nice’ te wees met ‘n duiwel?

Rudie Booyens ·

Jy het ‘n mooi hart en ‘n pragtige aanslag!
Ek stem egter saam met John, vergeet die boelies. Fokus op hul slagoffers. Ons moet hulle bemagtig sodat hulle kan opstaan om boelies te hanteer.

DFH ·

Die wêreld het so skeef getrek dat die “boelies” jammer gekry word en hulle slagoffers te vergete agter bly. Agter elke boelie sit eintlik net ‘n gebroke mens wat uitroep vir hulp, ten koste van onskuldige slagoffers. Boelie gedrag moet daadwerklik aangespreek en gestop word. Navorsing het getoon dat kinders wat boelie, 80% van die kere by die huis geboelie word. Daarom stem ek saam dat ek as ‘n druppel, saam nog druppels ‘n vloed water kan begin en boelie gedrag wegspoel. Boelies dra nie geslag of ouderdom nie, hulle kom in enige vorm voor, party omstaanders draai hulle koppe weg en maak of hulle niks sien of hoor nie. Dis tyd dat die boelie woorde, vuiste en gedrag hard en duidelik aangespreek word. Maar weet net jy gaan nie populêr wees wanneer jy hierdie bose gedrag aanspreek nie. Ons behoud: Hy wat in ons is, is groter as hy wat in die wêreld is!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.