Boere maak reeds planne – en sal aanhou

Die landbougemeenskap het die afgelope maande in die media en in onderhandelinge met politici onder skoot gekom dat regeringsbeleid oor grondhervorming te dikwels gekritiseer word sonder dat die boere met praktiese voorstelle kom om dit te laat werk. In Jan-Jan Joubert se Rapport-kommentaar op 10 Julie 2011 oor die langverwagte groenskrif skryf hy ook: “Van die georganiseerde landbou se kant mis mens, in die openbare diskoers, werklik omvattende planne wat in die praktyk kan werk.”

Suid-Afrika se boere is bekend vir planne maak, en met grondhervorming is daar geen uitsondering nie. Ons boer te naby aan Zimbabwe om nie grondig oor grondbesit, transformasie, boerontwikkeling, voedselsekerheid en volhoubaarheid te dink, en daaroor planne te maak nie. Ons aanvaar ook dat dit óns is wat met werkbare planne vorendag moet kom en dat niemand anders dit vir ons gaan doen nie.

Agri-SA se kenteken

Sedert 2003, toe swak bestuur van die restitusieproses sy tol begin eis het, het landbou-unies, koöperasies en bedryfsorganisasies al 17 voorstelle aan die departement voorgelê oor hoe die proses vlotter kan verloop en meer volhoubaar kan wees. Sommige daarvan, soos Agri-SA se reaksie en alternatiewe voorstel op die groenskrif, is omvattend en handel oor die identifisering van geskikte grond en begunstigdes, waardasies, opleiding en vennootskappe tussen nuwe en bestaande boere en oor ons aktiewe rol in transformasie in landbou.

Ons het in agt jaar nog geen reaksie op ons voorstelle gekry nie.

Tog is die spore van sommige van daardie voorstelle in die uitgelekte weergawe van die groenskrif, en in minister Nkwinti se 2011-begrotingsdebat herkenbaar. Die idee van inklusiewe plaaslike forums soos die groenskrif se grondgebruiksrade, waar almal wat ʼn verskil aan die heil van begunstigdes op grondhervormingsplase kan maak (onder andere boereverenigings, koöperasies, Eskom en banke) ʼn bydrae kan lewer en waar deursigtigheid afgedwing kan word, kom uit ʼn 2006-voorstel van Agri-SA se grondsakekomitee. Die boerderyvennootskapskemas, wat van die beste suksesverhale in landboutransformasie verteenwoordig, is die produk van voorstelle uit die sagtevrugtebedryf.

Agri-SA het voorstelle gemaak oor seleksiekriteria vir beginnerboere, oor waardasieforums saam met die banke om seker te maak dat die staat nie te veel vir grond betaal nie, en oor mentorskappe en adviesdienste. Ons maak nie daarop aanspraak dat ons al die antwoorde gereed het nie, maar daardie voorstelle dien ten minste as ʼn kapblok vir verdere gesprek.

Senior amptenare stel nie regtig daarin belang nie. In alle gesprek met die owerhede wys boere daarop dat dit nie die eiendomsklousule in die grondwet, of die vrywillige-verkoperbeginsel is wat gefaal het nie, maar dat korrupsie, nepotisme en wanadministrasie in die departement grondhervorming laat vashaak. Die amptenare in sy departement is meer party-polities gedrewe as die minister self, en groter betrokkenheid deur burgerlike strukture in grondhervorming is nie in hulle belang nie. Geen sinvolle voorstel, of selfs nie die ideale wetgewing, sal slaag as die fondasies bros is nie. Met onbevoegde amptenare wat net op selfverryking ingestel is, en deur uitgediende rasgebaseerde ideologie, en met ʼn kortsigtige ‘ons sal die boere terugkry vir apartheid’-benadering na swart ekonomiese bemagtiging kyk, gaan ons met grondhervorming nêrens kom nie.

Sukses met grondhervorming is per definisie ook suksesvolle transformasie van landbou. Dit het veel minder met die beskikbaarheid van grond, grondwaardes en eienaarskap te doen, en meer met die houdings en aspirasies van die mense wat daarby betrokke is. Aan die kern van die probleem lê ʼn vertrekpunt in sommige kringe binne die ANC dat produktiewe landbougrond van suksesvolle blanke boere “teruggevat” moet word, omdat dit “gesteel” is. Selfs in tussenwerpsels uit die ANC-banke in die parlement word geskree dat markverwante vergoeding in grondhervorming nie betaal moet word nie, “omdat die grond gesteel is.”

Diesulkes moet nog uitwys watter van die 37 000 kommersiële boere die grond waarop hulle vandag produseer, gesteel het. Meer nog, hulle staan te verduidelik watter soort demokrasie van ʼn handjievol individue verwag om alleen die rekening vir ʼn nasionale verantwoordelikheid te betaal.

Daar mag geen onduidelikheid oor wees nie; transformasie en grondhervorming móét werk. Daarsonder is vooruitstrewende landbou, en ʼn vreedsame bestaan in die platteland nie moontlik nie. Maar suksesvolle grondhervorming is nie die produk van mogge-troffe eksperimente nie; en nog minder van ou-wêreldse sosialistiese idees waaroor die geskiedenis ʼn verdoemende uitspraak gelewer het – soos die Vryheidsmanifes se ideaal dat plase aan die werkers daarop moet behoort. Dit is eerder die produk van eerlike gesprek, wat tot inklusiewe teikengerigte projekte lei en op kundigheid, ervaring en praktiese uitvoerbaarheid geskoei is.

Die internet-kommentaar op Jan-Jan Joubert se berigte was ontstellend fatalisties, so asof daar geen sinvolle toekoms vir landbou in Suid-Afrika is nie. Onlangse radikale uitsprake oor grondgryp van die ANC se skuim-om-die-mond-profete het meer as net die boere in bomskuilings ingejaag. En daar is rede tot kommer, wat daar is geen waarborg dat ons Zimbabwe se lot sal vryspring nie. Ons beste versekeringspolis is ons eie gesindheid en bereidheid om moue op te rol om van die uitdaging van ons tyd ʼn sukses te maak.

Kyk na die merkwaardige sukses wat Graan-SA, die Nasionale Wolkwekersvereniging (NWKV) en die Melkprodusente-organisasie (MPO) met hul boerontwikkelingsprojekte behaal het; en na die honderde swart grondhervormingsboere wat as gevolg daarvan reeds winsgewend boer. Kyk na hoe ver die R84 miljoen wat boere uit hul sakke aan bemagtigingsprojekte gespandeer het, gerek is om in al nege provinsies volhoubare swart boerdery-ondernemings te vestig. Dink net as georganiseerde landbou met die staat kon saamspan, waar die R45 miljard wat reeds aan grondhervorming en landboutransformasie gespandeer is ons sou kon bring!

En dit kan gebeur! Die ANC is baie meer as net Malema; en ʼn korrupsie-vrot departement is nie die enigste aandeelhouer in grondhervorming en boerontwikkeling nie. Hulle verteenwoordig net die een kant van die verhaal. Daar is ook ʼn anderkant van die storie, en ons is deel daarvan. Boere in Suid-Afrika is veel nouer by transformasie betrokke as wat ons Zimbabwiese kollegas was, met meer eenstemmigheid, behoorlik uitgeklaarde beleidstandpunte en groter koördinasie tussen landboubedrywe onderling en tussen sakestrukture in ander sektore van die ekonomie deur Besigheideenheid Suid-Afrika, waar Agri-SA veral oor grond- en eienaarskapkwessies ʼn sentrale rol speel.

Suid-Afrika het ook ʼn ander voordeel bo Zimbabwe – ʼn voorbeeld op ons voorstoep van waar onverantwoordelike grondhervorming heen kan lei! Die boere glo onwrikbaar dat die stem van redelikheid sal seëvier, omdat ʼn meerderheid Suid-Afrikaners redelike mense is. Anders het ons nog nooit ʼn toekoms in Afrika gehad nie!

Maar die debat is nog oop. Ons almal pas oor tyd ons standpunte en vertrekpunte aan om middelgrond te soek. Soms verg die omstandighede egter dat hakke ingekap word en die rug styf gemaak word. Oor eiendomsreg as ʼn basiese mensereg, is die boere nou op daardie punt. Dis ons land ook, dié.

Hierdie meningstuk is deur ʼn onafhanklike persoon opgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Theo de Jager

Meer oor die skrywer: Theo de Jager

Theo de Jager is Adjunkpresident van Agri-SA.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

5 Kommentare

Riesl Spies ·

‘ n Baie insigewende artikel deur Theo de Jager, daar is egter ‘n standpunt waarmee ek glad nie saam stem nie: “Suid-Afrika het ook ʼn ander voordeel bo Zimbabwe – ʼn voorbeeld op ons voorstoep van waar onverantwoordelike grondhervorming heen kan lei! Die boere glo onwrikbaar dat die stem van redelikheid sal seëvier, omdat ʼn meerderheid Suid-Afrikaners redelike mense is” Die boere in Zimbabwe het ook geglo dat die onwrikbare stem van redelikheid sal seevier, omdat die meerderheid Zim -burgers nie net redelik is nie, maar ook beskik oor ‘n bo-gemidelde vlak van opvoeding. Die situasie op die grond het egter anders uitgespeel. My groot probleem met ‘n standpunt van blinde vertroue en sagte hantering, is dat daar eers ‘n hele paar plase in die stof moet byt, voor ons gaan sien dat die vertroue in die redelikheid van die meerderheid Suid-Afrikaners, ons nerens gaan bring nie. Dit het nie in Zimbabwe gebeur nie en dit gaan beslis nie in Suid-Afrika gebeur waar die opvoedingsvlak veel laer is as in Zimbabwe nie. Laat ons uit Zimbabwe se foute leer, en dit anders aanpak. Die ooreenkomste is te ontstellend dieselfde!!!

louis.dup ·

Theo ~

Dankie dat jy die huidige wanadministrasie van amptenare wat aan selfverryking dink, so welsprekend kontrasteer met die 37000 huidige kommersiële boere, wat deurlopend praktiese voorstelle en beleid formuleer.  Dit toon inderdaad die verskil tussen wie net aan sy eie sak voel en wie op die toekoms van die hele land fokus:  tussen egoïsme en patriotisme. 

Louis du Plessis

Anoniem ·

Dankie vir die plasing Theo.
My interpretasie van Jan-Jan se artikel is dat hy nie georganiseerde landbou beskuldig van ‘n gebrek van planne nie.  Hy sê bloot dat daardie planne nie deel is van die openbare diskoers nie.
Afrikaners is oor die algemeen simpatiek teenoor die lot van die Suid-Afrikaanse boerderygemeenskap.  ‘n Groot gedeelte van ons bevolking het iewers ‘n familielid wat boer en het selfs die behoefte om self ook êrens in die grond te krap.  Daarbenewens word ‘n aantasting van een se eiendomsreg gesien as ‘n aantasting van almal se eiendomsreg.  Om nie ons bekommernis oor voedselsekerheid en voedselprysinflasie agterweë te laat nie.
Die gebrek aan beskikbare inligting rakende die inhoud van die planne wat deur Agri-SA aan die regering voorgehou word, Agri-SA se jaloerse waak oor sy neutrale beeld wat hom effektief afsonder van Afrikanerorganisasies en verslae wat slegs in Engels op Agri-SA se webwerf beskikbaar is, skep egter by my die indruk dat georganiseerde landbou moontlik steun vir hul saak deur Afrikaners as ‘n las eerder as ‘n bate ervaar.
Die vraag is of, gegewe die populistiese en emosionele aanslag wat die regering het ten opsigte van grond, dit die beste benadering is? 
Om in die laaste instansie op ‘n beroep op voedselsekerheid en redelikheid staat te maak vir die verdediging van landbouers se welvaart blyk vir my moontlik te akademies van aard te wees indien die aanslag wat boere ervaar nie ‘n aanslag teen landbouers as sulks is nie, maar eerder ‘n aanslag teen Afrikaners se belang in landbou is.
Die steun wat die landbougemeenskap vanuit Afrikergeledere geniet moet nie as vanselfsprekend aanvaar word nie.  Indien hierdie steun nie met dieselfde ywer vertroetel word as waarmee swart bemagtigingsprojekte vertroetel word nie, mag georganiseerde landbou homself alleen vind op die dag van sy grootste nood.
Ek wil darem net laastens byvoeg dat Agri-SA se bereidwilligheid om by die Afrikaner Burger Netwerk en Maroela media in te skakel vir my ‘n positiewe stap in die regte rigting is.  Ek hoop dat ons meer hiervan gaan sien en dat dit ook op meer tasbare gesamentlike opheffingsprojekte sal uitloop. 

Marius Koekemoer ·

Hoeveel grond is in staatsbesit ?
Dit is heelwat – miskien moet ons meer daarop fokus ?

Mario Nel ·

Ai ek is maar ‘n dom Afrikaner. Wil die boere in die Taxi-bedryf opgaan? Is dit deel van die boer se kultuur? Moet die staat vir elke wit kind ‘n taxi koop? Is die swartman tradisioneel ‘n kommersiele boer? As daar vir die stedelike swartmense elk ‘n HOP-huis met belastinggeld gebou moet word, met water en krag, beteken dit dat die landelike swartmense ook elk ‘n plaas met implimente ens gekoop moet word. Die slim mense praat dan van ‘n reenboognasie. Dit impliseer verskillende kleure, elk met ‘n unieke golflengte wat die kleure onderskeidend van mekaar maak. Kom ons erken ons kultuurhistoriese verskille en aanlegte. Of is grondhervorming net ‘n faset van die ANC- regering se beleid van beheer oor alle fasette van die samelewing?

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.