Boerebetoging ruk Duitse hoofstad tot stilstand

Foto: (AP Photo/Michael Sohn)

Op 26 November het duisende boere uit die hele Duitsland met massiewe trekkers na die hoofstad Berlyn opgeruk. Dit was ʼn gesig om te aanskou hoe lang konvooie trekkers (op die ou einde was dit sowat 8 400 trekkers en 40 000 boere) van alle kante saamgetrek het in die middelpunt van die hoofstad, by die Brandenburger Tor.

Dit het amper gelyk soos tenks wat inrol en die mag oorneem. Die lang Straße des 17. Juli was vir een dag die grootste parkeerplek in Duitsland. Hoewel dit die verkeer ontwrig het, het talle van die hoofstad se bewoners hulle steun uitgedruk deur vir die boere die duim-op-teken te wys en te waai. Op die trekkers was vlae gemonteer van die onderskeie streke waar die boere vandaan kom. Ek het self van die trekkers gesien by die besige Ernst Reuter Platz waar ek werk en met boere gesels wat van die ander kant van Duitsland gekom het.

Foto: (AP Photo/Markus Schreiber)

Die betoging is gereël deur die organisasie Landschafft Verbindung (die platteland verbind mense), wat eers in Oktober gestig is en sterk deur die sosiale media werk. Die voorbereidings agter die skerms was baie suksesvol en die uitwerking geweldig – dit was die oorheersende tema van die dag, en sal nog ʼn nadraai hê.

Die rede vir die woede van die boere kan tweeledig opgesom word: die streng maatreëls van die regering om die omgewing te beskerm ruïneer die boere en is dikwels teenproduktief en werklikheidsvreemd. Verder is die boere moeg om die sondebok vir alles te wees en om by die wetmakingsproses geïgnoreer te word. Hulle verlang na meer waardering vir hulle veeleisende werk.

Die uitgangspunt was duidelik: Hulle is nie teen omgewingsbeskerming nie; inteendeel, in die praktyk doen hulle baie meer vir die behoud van biodiversiteit en die natuur as die stedelinge, maar hulle is moeg om deur ʼn verwyderde regering voorgesê te word sonder om ʼn inspraak te hê, en om deur ʼn stedelike elite verag en gekritiseer te word.

Foto: (AP Photo/Michael Sohn)

Die minister van omgewingsake, Svenja Schulze, wat die boere te woord gestaan het, het die regering se streng omgewingsmaatreëls verdedig en die boere het demonstratief die rug op haar gedraai. Ook die minister van landbou, Julia Klöckner, het dit nie veel makliker gehad met haar dialoogpoging nie.

Die regering het onder die indruk van die groot klimaatbetogings van die afgelope maande streng wetgewing ingestel om motorvervoer, kragopwekking, nywerheidsproduksie en landbou (onder meer) nog strenger te reguleer. Hoewel almal vir ʼn gesonde omgewing is, en mense ook tot sekere aanpassings bereid is, is talle maatreëls ʼn straf vir sekere groepe sonder om doeltreffend te wees.

Foto: (AP Photo/)

Al die beskermingsmaatreëls kos geld, tyd en moeite om in te stel en die winsgrens vir boere is reeds klein, hulle werksure en werksdruk hoog. Ál meer stedelinge verlang na ál meer kos, en boonop gesofistikeerde, omgewingsvriendelike en gesonde kos teen billike pryse, en ál minder boere moet dit produseer terwyl die landbougrond minder raak. Hoe moet hulle die produksie verhoog as hulle nie mag kunsmis gebruik nie? En hoe kan hulle beesmis gebruik, as die aanhou van vee net moeiliker gemaak word? Hoe moet mense gevoed word as daar ál meer propaganda teen vleisproduksie is? Boonop word boere onnodig beskuldig omdat hulle boerderye ʼn impak op die omgewing het. Hulle doen die vuilwerk sodat die stedelinge, onder wie die elite in politiek en media, kan eet.

Die boerebetogings in Duitsland het iets van die geelbaadjie-protesgolf in Frankryk gehad. Dit is dieselfde verdelingslyne tussen ʼn linkse stedelike elite wat die hele wêreld wil red op ander mense se koste, en die gewone, hardwerkende mense wat sukkel om elke maand kop bo water te hou. En om die sondebok en slaansak vir alles te wees is iets wat Suid-Afrikaanse boere ook baie goed ken.

Foto: (AP Photo/Markus Schreiber)

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Sebastiaan Biehl

Meer oor die skrywer: Sebastiaan Biehl

Sebastiaan Biehl werk tans as ʼn analis in Berlyn, Duitsland. Hy is ook ʼn skrywer van romans en reisbeskrywings in sy vrye tyd en was op ʼn tyd (2001-2005) ook vir Solidariteit se media-afdeling werksaam. Sy kwalifikasies is BA algemeen, BA Hons (Politieke Wetenskap) en MA Politieke Wetenskap by Bloemfontein en RAU, onderskeidelik. Sebastiaan se gebiede van belangstelling is veral politiek, geskiedenis en reis.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

12 Kommentare

jongste oudste gewildste
Marius

Uitstekend. Geen boer kan regtig boer as hy sy grond kan bewerk op sodanige mate dat dit optimaal gebruik kan word nie.
“Lassen Sie die Bauern den linken Klimaprotestierenden ein oder zwei Dinge zeigen.”

Judge Dredd

Lyk my die wereld oor is daar ‘n aanslag op plattelandse gemeenskappe deur gierige en gemaksugtige/naiewe stedelinge.

Boertjie

As ons boere so bymekaar sou kom, is alles weg wanneer hulle terug huistoe gaan. Julle moet nie kla nie, wees bly julle is nie ‘n boer in SA. Dis goed dat jul regering ferm is aangaande omgewingsbeskerming. Hier by ons word die hele natuur stadig maar seker uitgewis.

Nederkaner

Dieselfde ding het hier in Nederland gebeur en moet nie ‘n fout maak nie die “stedelinge” staan agter die boere. Dis die politiese elite wat dink hulle weet wat beste vir almal is.

kobie

Duitsers kan saamstaan vir n goeie saak die sogenaamde afrikaners kan leer by hulle.