Bokke kan bly wees Britse en Ierse Leeus toer nie nou na SA

Sommige mense raak effe omgekrap as ek sê dit is ʼn verligting dat die Britse en Ierse Leeus tans na Nieu-Seeland toer en nie na Suid-Afrika nie. Dit is egter ontstellend dat mense dink dat die Bokke enige dag met 15 of meer punte enige span behalwe die All Blacks sal stoomroller. Dit was 2007 se realiteit; nié 2017 sʼn nie. Hieroor is daar darem heelwat mense wat met my saamstem.

Die Bokke het ʼn baie goeie kans om die komende reeks teen Frankryk te wen. Selfs om al die toetse te wen. Vanjaar se Bok-span gaan weens sekere ingrypings en koersveranderinge beter as verlede jaar se span wees, maar om hierdie verbetering kwalitatief te peil is nou nog ʼn opperste waagstuk. Die Bokke se hulpafrigter, Johann van Graan, het wel reeds aangedui dat daar nie groot verbetering verwag moet word nie.

Die feite staan egter vas dat die Springbokke se onlangse rekord teen die vier nasies wat die Leeus uitmaak, maar bra treurig is. Wallis kon die Bokke nog slegs drie keer klop, maar twee daarvan was in die laaste drie jaar gewees. Slegs Duane Vermeulen en Fourie du Preez se briljante beweging het die Bokke ʼn sege in die 2015 Wêreldbekertoernooi besorg. Wallis het verlede jaar maklik met 27-13 in Cardiff gewen en dis nie eens naastenby die beste Walliese span nóg nie.

Engeland het verlede jaar gemaklik met 37-21 op Twickenham teen die Bokke getriomfeer. ʼn Uiters verswakte en moeë Ierse span het verlede jaar die eerste toets op Nuweland gewen (en dit nogal met slegs 14, en op een stadium 13, spelers op die veld). Dit was die eerste Ierse sege op Suid-Afrikaanse bodem. Die reeksnederlaag teen Ierland op tuisbodem is slegs deur indiwiduele vertonings deur spelers soos Warren Whiteley en Faf de Klerk afgeweer. Ierland het die All Blacks verlede jaar geklop – die enigste span wat dit in 19 wedstryde kon regkry – en etlike uitnemende drieë in die proses gedruk. Engeland was sterk op pad om die All Blacks se rekord van 18 agtereenvolgende eersterangse seges te verbeter voordat hulle ook deur die nimlike Iere in vanjaar Sesnasiesreeks gestuit is. Ierland en Engeland se selfvertroue is hemelhoog en daar is goeie redes daarvoor.

Ongeag hoe baie die Springbokke ook al vanjaar gaan verbeter, is dit hoogs onwaarskynlik dat hulle beter as Ierland en Engeland gaan wees en onwaarskynlik dat hulle beter as Wallis sal wees. Hulle behoort nog steeds gemaklik met Skotland af te reken, maar selfs dit is nie altyd seker nie. Die Bokke het verlede jaar teen Italië vasgeval en om teen Argentinië te verloor raak al ʼn gewoonte. Hulle kon nie eens ʼn saamgeflanste Barbarians-span verlede jaar klop nie. Suid-Afrika is tans slegs sewende op Wêreldrugby se ranglys met Wallis, Engeland, Ierland en selfs Frankryk wat bó die Springbokke pryk.

Om dan te dink hierdie Bok-span – wat nog probeer uitpluis hoe hulle wil speel en geen hegte eenheid is nie – kan die “beste van die beste” uit die Britse en Ierse Leeus se vier nasies klop is, met alle respek, wensdenkery. ʼn Vergelyking is hier gepas. Die 2009-Springbokke was een van die beste rugbyspanne nóg. Hulle het twee jaar tevore die Wêreldbeker-trofee gelig en ook die Drienasies-titel op luisterryke wyse gewen in 2009. Daardie jaar was die Britse en Ierse Leeus hier met ʼn baie goeie, maar nie briljante, span. Die reeks was reeds ná die tweede toets gewonne nadat Morné Steyn ʼn strafdoel in die doodsnikke oorgeskop het. Die Leeus het die derde toets maklik gewen, maar dit het bloedsweet gekos om daardie reeks se eerste twee toetse te wen.

Die Leeus vat altyd ʼn ruk om aan die gang te kom en hul naasbestes sal daarom waarskynlik die spit afbyt teen die Nieu-Seelandse Superspanne (wat almal onder die beste provinsiale spanne ter wêreld tel) voordat hul bestes die All Blacks aandurf. Hulle gaan waarskynlik ook die reeks verloor, maar dit is teen een van die beste spanne nóg en by verre die beste span tans op die planeet. En die Springbokke is nie naastenby die All Blacks nie.

Ek wil baie graag hê die Springbokke moet wêreldtemmers wees, maar dit kan nie tans gedoen word nie. Om te dink die Springbokke is nou een van die top-spanne strook eenvoudig net nie met die feite en werklikheid nie. Kom ons hoop daar is ʼn merkwaardige verbetering oor die volgende vier jaar voordat die Britse en Ierse Leeus weer hier kom toer. In 2017 sou die B&I Leeus egter waarskynlik ʼn historiese 3-0 reekssege op Suid-Afrikaanse bodem kon behaal en uit ons Superrugby-spanne sou slegs die Leeus hulle straks in ʼn katgeveg kon tem.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Eugene Brink

Dr. Eugene Brink is ʼn entrepreneur, sake-konsultant en onafhanklike politieke kommentator.

Deel van: Meningsvormers, Rugby

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Johann ·

Met die Springbok op die een bors en die Protea op die ander een, werk nie een van die twee meer nie, die een is deesdae ‘n karkas en die ander is veldblomme. Kom ons vernuwe en bemagtig hulle ook in die nuwe SA, kom ons noem hulle die Galjoene.

Verwonderd ·

Ja Johann. Ek wonder… is vandag se nasionale blom nie ‘n wit plastiese sak wat aan ‘n doringtak hang nie?

Johann ·

Wel, die nasionale bok is nou ‘n karkas, en jy sê die nasionale blom hang aan ‘n plastieksak. Nou, dis hoekom ek sê, kom ons probeer die nasionale vis, die Galjoen. (Hopelik nie ‘n vis op droë grond nie.)

John ·

Die buiteland het lank lekker gekonkel om die Bokke te ruineer via die so vrome regstellende aksie. En ons doen mee. En die hele boksemdaais het nou selfs boots -oor-kop geslaan. Dis nie net die ekonomie wat in resessie is nie, die top bestuur weet nie eers aldag wat die verskil tussen rugby, tennis, sokker of atletiek is nie, solank alles net in Durban gebeur waar die groot kous bo die warm kaggel hang.

david ras ·

My bekommernis is dat die Bokke Saterdag met ‘n mengelslaai van Ackerman en die Leeus se patroon en Coetzee se skop-stoei en krag rugby op die veld gaan draf.
Mens hoop net daar is genoeg gom in om dit bymekaar te hou….

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.