Bokke moet eers ons respek verdién

rugby-springbok-logo-groot

Argieffoto.

Dit is altyd interessant om sekere Facebook-groepe dop te hou nadat die Springbokke in die hek geduik het. Die massa-histerie wat op Saterdag se (hoeveelste) fiasko gevolg het, was egter vir my effens anders. Die afkeer aan die Springbokke se spel het ʼn breër spektrum van mense beslaan. Allister Coetzee en sy span afrigters en spelers het behoorlik deurgeloop en mense uit verskillende rassegroep het talle redes vir nog ʼn misoes opgehaal. Baie daarvan is dalk op onkunde gegrond en baie daarvan is net ongeldig, maar die meeste daarvan is in die kol en uiters geldig, want die rugby-ontleders eggo dieselfde kritiek. Die tweede helfte van daardie wedstryd was skrikwekkend swak en Coetzee moet dit asseblief tog nie probeer verdoesel met die verskoning dat Australië “baie goed” gespeel het nie. Hulle was lekker vrot.

Iets anders wat my opgeval het, is hoe al hoe meer swart en veral bruin mense geduld verloor met die verloordery en die onderliggende redes daarvoor. My mening is meer witmense as bruinmense praat deesdae kwotas en politieke inmenging in sport (veral rugby) goed en steun dit. Dis vreemd hoe dieselfde wittes nie kwotas in ʼn tradisionele sport soos sokker goedpraat om sodoende “breër deelname” en “nasiebou” aan te moedig nie. Etnies swart sokkerspelers verdien dus hul plekke in spanne op grond van meriete, maar nie wit en bruin rugby- en krieketspelers nie, lui hierdie beskouing.

Die navorsing jok ook nie. In ʼn kwantitatiewe opname deur die SA Instituut vir Rasseverhoudinge (SAIRV) in Maart vanjaar, is bevind 77% van die respondente keur die kies van SA sportspanne alleenlik op grond van meriete en nie ras en kwotas nie, goed. ʼn Allemintige 74.2% swartmense, 87% bruinmense, 94.9% Indiërs en 84.3% wittes het dit goedgekeur. Op ʼn pro rata-grondslag voel bruinmense en Indiërs as groepe dus sterker as wittes daaroor dat sportspanne op meriete gekies moet word. Kwotas is dus ʼn elite-konstruk.

Die rede vir hierdie verwikkelinge is dat niemand van verloor hou nie en dat die Springbokke steeds ʼn aura by die publiek handhaaf. Mense verwag van hulle om te wen en gereeld te wen. Dis nog aanvaarbaar om teen Nieu-Seeland, wat nou kop en skouers bo die res van die internasionale spanne uittroon, te verloor (en dan ook nie ver nie), maar nie teen Australië of Argentinië nie.

Die talle verskonings deug nou nie meer nie en arme Coetzee en sy kaptein, Adriaan Strauss, is in die middel vasgevang. Strauss en Coetzee verduidelik elke week hierdie Bok-span is een wat “in aanbou” is en vra ons moet geduldig wees. Die probleem is ons rugby boer agteruit eerder as om te verbeter. Niks wys vir my of enige ander ondersteuner dat daar hoegenaamd verbetering is nie. Die Bokke lyk nou net so planloos soos hulle in die Junie-toetse gelyk het. Coetzee het omtrent al die snoeiskêr vir ʼn vale gebruik en gebêre om kombinasies te laat werk, maar steeds haper omtrent alles behalwe die skrum. Selfs die Lions-spelers, wat die een na die ander uitblink-vertonings in Superrugby gelewer het, lyk nou selfs bra middelmatig en ondoeltreffend.

Coetzee se aanstelling as afrigter was beslis ʼn moeisame en verpolitiseerde proses, maar as hy werklik ʼn goeie afrigter was, sou hy beslis beter beheer kon neem. Eddie Jones is in Januarie as Engeland se afrigter aangestel en het kort daarna die Sesnasies-toernooi vir die eerste keer in jare gewen en die Wallabies ʼn 3-0 reeksnederlaag Doer Onder toegedien. Die Engelse is nog verlede jaar in hul eie Wêreldbekertoernooi in die groepfases uitgeskakel en het sleg teen die Wallabies op Twickenham verloor. Jones het toe die Japanse span afgerig, wat die Springbokke vir die eerste keer geklop het. Die Engelse het besef hul afrigting is nie op peil nie, hul trots gesluk en ʼn Australiër as afrigter aangestel. As afrigter van ʼn (darem nog) eersterangse rugbyland, moet die wellewende Coetzee darem beter kan doen as wat tot dusver die geval was. Australië het vanjaar hul eerste sege in ses wedstryde teen die Springbokke behaal!

Dis dalk dwaas-idealisties van ons om te verwag ons rasbehepte rugbyadministrateurs en politici moet ʼn buitelander kies om die Springbokke af te rig, want hulle wil per slot van sake nie eens wit plaaslike afrigters aanstel nie, maar dit is waarskynlik nodig om werklike vordering te maak. Vra maar die Argentyne, Iere, Walliesers en Skotte, wat die laaste paar jaar mildelik van Kiwi-hulp gebruik gemaak het en nou die vrugte pluk, met beter vaardighede en ʼn gebalanseerde spelpatroon. Hierdie spanne kan maklik die huidige Bok-span klop.

Toegegee, Coetzee het ook ander probleme aan boord geneem. Eerstens het hy nie tegnies bedrewe hulpafrigters om hom nie. Matthew Proudfoot en Mzwandile Stick is nie goed genoeg om op internasionale vlak af te rig nie, nie eens naastenby nie. Of hulle ooit goed genoeg sal wees, is ʼn ope vraag. Maar die punt is hulle is nie nou goed genoeg nie. Oud-Bokke en verskeie kenners het aan die begin van die jaar gevra die nuwe afrigter moet ʼn baie sterk span om hom hê. Stick is as agterlynafrigter aan Coetzee opgedwing en die rigtingloosheid in die agterlyn is tekenend daarvan dat hierdie vennootskap een van dwang, eerder as keuse is. Richie Gray is vroeër vanjaar gepos en ons spel by die afbreekpunte ly nou onder die leemte wat hy gelaat het, terwyl ons skopafrigting ver tekortskiet. Die rugbyskrywer, Mark Keohane, som dit goed op in sy jongste rubriek in Business Day: “The Boks are losing, because the national coach and his assistants are out of their depth internationally.”

Tweedens het Saru Coetzee teen wil en dank aangestel, maar beperk sy keuses oor wie hy mag kies. Australië het 15 jaar gelede briljante rugbyspelers gehad, maar nie meer nie. Suid-Afrika, daarenteen, het ʼn oorvloed, waarvan baie weliswaar oorsee speel. Strydig met die aanvanklike beleid om die minimum oorsese spelers te kies, het die loesings Coetzee gedwing om al hoe meer van hulle te begin kies. As hy nie wil aanhou verloor nie, het hy geen keuse nie. Maar baie van daardie spelers se spelstyl en vaardighede het al intussen verbeter, nes die Lions-spelers sʼn en hulle vind dit moeilik om by Coetzee se vreemde spelpatroon aan te pas. Dit verduidelik die individualiteit en voorspelbaarheid van die Bokke se aanvalle, soos baie spelers iets op hul eie en baie keer ook resepmatig probeer doen. Op meriete is daar swart én wit spelers wat nie daar hoort nie en dit ondermyn die span. Kwotas en blinde lojaliteit word ten koste van vorm en meriete beloon en nederlae is die eindresultaat.

Ons sportminister, Fikile Mbalula, braak gal oor hoe dislojaal ons is jeens die Springbokke en dring daarop aan dat ons agter hulle staan. Jammer, Fekile, maar jy kan my nie wetlik verplig om patrioties te wees as daar duidelik fout is nie. Ons almal is dik vir sy inmenging in sport, sy dubbele standaarde met die verskillende sportsoorte en sy blatante rassisme. Jy kan selfs met een of twee middelmatige spelers in jou span, maar met baie selfvertroue, ver kom. Sy inmenging en konstante gehamer op transformasie, breek ons spelers se moed en dryf ons belowende talent oorsee. As die Bokke ons respek verdien, sal die minister nie daarop hoef aan te dring nie. Ons sal dit vrywillig gee. Maar eers moet ons, as die ondersteuners, help om die struikelblokke uit die weg ruim voordat dit te laat is. Jammer, maar ek kan nie aanhou om middelmatigheid te steun nie en miljoene ander Suid-Afrikaners voel dieselfde.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

53 Kommentare

jongste oudste gewildste
CR

Op sy kop. Transformasie is SA rugby se ondergang. Swak afrigter kies ‘n swak transformeerde span en punt.

Mauritz

Ek stem grootliks saam met Eugene se uitlatings. Huidiglik is die spel wat deur die Bokke aan ons aangebied word nie die tyd werd om te kyk nie. Grassny of mall toe saam met vroulief is beslis op my voorkeur lysie bokant die Bokke. Verstaan mooi, dit gaan nie oor verloor nie, eerder oor die basiese vaardighede wat ontbreek. Tong in die kies. Het julle gesien watse goeie vaardighede het Luke McAllister en Sonnybill se susters tydens die sevens in Rio vertoon. Met regstellende aksie so hoog op die agenda gaan daar seker binnekort n dame of twee in die… Lees meer »

Frans C

Die minister van sport is ‘hell-bent’ om toe te sien dat in alle sport die demografie van die land verteenwoordig is ,asook in die afrigtingpersoneel,want hy reken deur wetgewing kan hy die probleme in sport oorkom ongeag die feit dat wetgewing niks kan doen om spelers of arigters se vaardighede te verbeter nie.

Of ons nou daarvan hou of nie solank die ANC aanbewind bly sal dit sportliefhebbers se voorland wees.

Gerhard

En so voeter alles wat eens goed was die afgrond af

James

Die span is heeltemal verkeerd gekies.ons het oues wat glo ervaring het wat niks beteken.ek dink die wat die span kies het nie n idee wat hulle doen.so hulle kies name wat hulle hoor van .ons is nie meer springbok rugby nie.daai jare is verby hulle kan hulle nou bafana bafana noem