Bokke moet eers ons respek verdién

rugby-springbok-logo-groot

Argieffoto.

Dit is altyd interessant om sekere Facebook-groepe dop te hou nadat die Springbokke in die hek geduik het. Die massa-histerie wat op Saterdag se (hoeveelste) fiasko gevolg het, was egter vir my effens anders. Die afkeer aan die Springbokke se spel het ʼn breër spektrum van mense beslaan. Allister Coetzee en sy span afrigters en spelers het behoorlik deurgeloop en mense uit verskillende rassegroep het talle redes vir nog ʼn misoes opgehaal. Baie daarvan is dalk op onkunde gegrond en baie daarvan is net ongeldig, maar die meeste daarvan is in die kol en uiters geldig, want die rugby-ontleders eggo dieselfde kritiek. Die tweede helfte van daardie wedstryd was skrikwekkend swak en Coetzee moet dit asseblief tog nie probeer verdoesel met die verskoning dat Australië “baie goed” gespeel het nie. Hulle was lekker vrot.

Iets anders wat my opgeval het, is hoe al hoe meer swart en veral bruin mense geduld verloor met die verloordery en die onderliggende redes daarvoor. My mening is meer witmense as bruinmense praat deesdae kwotas en politieke inmenging in sport (veral rugby) goed en steun dit. Dis vreemd hoe dieselfde wittes nie kwotas in ʼn tradisionele sport soos sokker goedpraat om sodoende “breër deelname” en “nasiebou” aan te moedig nie. Etnies swart sokkerspelers verdien dus hul plekke in spanne op grond van meriete, maar nie wit en bruin rugby- en krieketspelers nie, lui hierdie beskouing.

Die navorsing jok ook nie. In ʼn kwantitatiewe opname deur die SA Instituut vir Rasseverhoudinge (SAIRV) in Maart vanjaar, is bevind 77% van die respondente keur die kies van SA sportspanne alleenlik op grond van meriete en nie ras en kwotas nie, goed. ʼn Allemintige 74.2% swartmense, 87% bruinmense, 94.9% Indiërs en 84.3% wittes het dit goedgekeur. Op ʼn pro rata-grondslag voel bruinmense en Indiërs as groepe dus sterker as wittes daaroor dat sportspanne op meriete gekies moet word. Kwotas is dus ʼn elite-konstruk.

Die rede vir hierdie verwikkelinge is dat niemand van verloor hou nie en dat die Springbokke steeds ʼn aura by die publiek handhaaf. Mense verwag van hulle om te wen en gereeld te wen. Dis nog aanvaarbaar om teen Nieu-Seeland, wat nou kop en skouers bo die res van die internasionale spanne uittroon, te verloor (en dan ook nie ver nie), maar nie teen Australië of Argentinië nie.

Die talle verskonings deug nou nie meer nie en arme Coetzee en sy kaptein, Adriaan Strauss, is in die middel vasgevang. Strauss en Coetzee verduidelik elke week hierdie Bok-span is een wat “in aanbou” is en vra ons moet geduldig wees. Die probleem is ons rugby boer agteruit eerder as om te verbeter. Niks wys vir my of enige ander ondersteuner dat daar hoegenaamd verbetering is nie. Die Bokke lyk nou net so planloos soos hulle in die Junie-toetse gelyk het. Coetzee het omtrent al die snoeiskêr vir ʼn vale gebruik en gebêre om kombinasies te laat werk, maar steeds haper omtrent alles behalwe die skrum. Selfs die Lions-spelers, wat die een na die ander uitblink-vertonings in Superrugby gelewer het, lyk nou selfs bra middelmatig en ondoeltreffend.

Coetzee se aanstelling as afrigter was beslis ʼn moeisame en verpolitiseerde proses, maar as hy werklik ʼn goeie afrigter was, sou hy beslis beter beheer kon neem. Eddie Jones is in Januarie as Engeland se afrigter aangestel en het kort daarna die Sesnasies-toernooi vir die eerste keer in jare gewen en die Wallabies ʼn 3-0 reeksnederlaag Doer Onder toegedien. Die Engelse is nog verlede jaar in hul eie Wêreldbekertoernooi in die groepfases uitgeskakel en het sleg teen die Wallabies op Twickenham verloor. Jones het toe die Japanse span afgerig, wat die Springbokke vir die eerste keer geklop het. Die Engelse het besef hul afrigting is nie op peil nie, hul trots gesluk en ʼn Australiër as afrigter aangestel. As afrigter van ʼn (darem nog) eersterangse rugbyland, moet die wellewende Coetzee darem beter kan doen as wat tot dusver die geval was. Australië het vanjaar hul eerste sege in ses wedstryde teen die Springbokke behaal!

Dis dalk dwaas-idealisties van ons om te verwag ons rasbehepte rugbyadministrateurs en politici moet ʼn buitelander kies om die Springbokke af te rig, want hulle wil per slot van sake nie eens wit plaaslike afrigters aanstel nie, maar dit is waarskynlik nodig om werklike vordering te maak. Vra maar die Argentyne, Iere, Walliesers en Skotte, wat die laaste paar jaar mildelik van Kiwi-hulp gebruik gemaak het en nou die vrugte pluk, met beter vaardighede en ʼn gebalanseerde spelpatroon. Hierdie spanne kan maklik die huidige Bok-span klop.

Toegegee, Coetzee het ook ander probleme aan boord geneem. Eerstens het hy nie tegnies bedrewe hulpafrigters om hom nie. Matthew Proudfoot en Mzwandile Stick is nie goed genoeg om op internasionale vlak af te rig nie, nie eens naastenby nie. Of hulle ooit goed genoeg sal wees, is ʼn ope vraag. Maar die punt is hulle is nie nou goed genoeg nie. Oud-Bokke en verskeie kenners het aan die begin van die jaar gevra die nuwe afrigter moet ʼn baie sterk span om hom hê. Stick is as agterlynafrigter aan Coetzee opgedwing en die rigtingloosheid in die agterlyn is tekenend daarvan dat hierdie vennootskap een van dwang, eerder as keuse is. Richie Gray is vroeër vanjaar gepos en ons spel by die afbreekpunte ly nou onder die leemte wat hy gelaat het, terwyl ons skopafrigting ver tekortskiet. Die rugbyskrywer, Mark Keohane, som dit goed op in sy jongste rubriek in Business Day: “The Boks are losing, because the national coach and his assistants are out of their depth internationally.”

Tweedens het Saru Coetzee teen wil en dank aangestel, maar beperk sy keuses oor wie hy mag kies. Australië het 15 jaar gelede briljante rugbyspelers gehad, maar nie meer nie. Suid-Afrika, daarenteen, het ʼn oorvloed, waarvan baie weliswaar oorsee speel. Strydig met die aanvanklike beleid om die minimum oorsese spelers te kies, het die loesings Coetzee gedwing om al hoe meer van hulle te begin kies. As hy nie wil aanhou verloor nie, het hy geen keuse nie. Maar baie van daardie spelers se spelstyl en vaardighede het al intussen verbeter, nes die Lions-spelers sʼn en hulle vind dit moeilik om by Coetzee se vreemde spelpatroon aan te pas. Dit verduidelik die individualiteit en voorspelbaarheid van die Bokke se aanvalle, soos baie spelers iets op hul eie en baie keer ook resepmatig probeer doen. Op meriete is daar swart én wit spelers wat nie daar hoort nie en dit ondermyn die span. Kwotas en blinde lojaliteit word ten koste van vorm en meriete beloon en nederlae is die eindresultaat.

Ons sportminister, Fikile Mbalula, braak gal oor hoe dislojaal ons is jeens die Springbokke en dring daarop aan dat ons agter hulle staan. Jammer, Fekile, maar jy kan my nie wetlik verplig om patrioties te wees as daar duidelik fout is nie. Ons almal is dik vir sy inmenging in sport, sy dubbele standaarde met die verskillende sportsoorte en sy blatante rassisme. Jy kan selfs met een of twee middelmatige spelers in jou span, maar met baie selfvertroue, ver kom. Sy inmenging en konstante gehamer op transformasie, breek ons spelers se moed en dryf ons belowende talent oorsee. As die Bokke ons respek verdien, sal die minister nie daarop hoef aan te dring nie. Ons sal dit vrywillig gee. Maar eers moet ons, as die ondersteuners, help om die struikelblokke uit die weg ruim voordat dit te laat is. Jammer, maar ek kan nie aanhou om middelmatigheid te steun nie en miljoene ander Suid-Afrikaners voel dieselfde.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

53 Kommentare

CR ·

Op sy kop. Transformasie is SA rugby se ondergang. Swak afrigter kies ‘n swak transformeerde span en punt.

JC ·

EK KAN NIE AANHOU OM MIDDELMATIGHEID EN ‘N VERLOOR MENTALITEIT TE STEUN NIE. MEER IS DAAR NIE NODIG OM TE SE NIE.
EK ONDERSTEUN VEEL EERDER DIE ALL BLACKS!!

Mauritz ·

Ek stem grootliks saam met Eugene se uitlatings. Huidiglik is die spel wat deur die Bokke aan ons aangebied word nie die tyd werd om te kyk nie. Grassny of mall toe saam met vroulief is beslis op my voorkeur lysie bokant die Bokke. Verstaan mooi, dit gaan nie oor verloor nie, eerder oor die basiese vaardighede wat ontbreek.
Tong in die kies. Het julle gesien watse goeie vaardighede het Luke McAllister en Sonnybill se susters tydens die sevens in Rio vertoon. Met regstellende aksie so hoog op die agenda gaan daar seker binnekort n dame of twee in die Bokspan MOET wees. SARU moet sommer dadelik hierdie twee dames koop, dan sal ons oraait wees.

Frans C ·

Die minister van sport is ‘hell-bent’ om toe te sien dat in alle sport die demografie van die land verteenwoordig is ,asook in die afrigtingpersoneel,want hy reken deur wetgewing kan hy die probleme in sport oorkom ongeag die feit dat wetgewing niks kan doen om spelers of arigters se vaardighede te verbeter nie.

Of ons nou daarvan hou of nie solank die ANC aanbewind bly sal dit sportliefhebbers se voorland wees.

James ·

Die span is heeltemal verkeerd gekies.ons het oues wat glo ervaring het wat niks beteken.ek dink die wat die span kies het nie n idee wat hulle doen.so hulle kies name wat hulle hoor van .ons is nie meer springbok rugby nie.daai jare is verby hulle kan hulle nou bafana bafana noem

Marian Nigrini ·

My mening rakende ons bokspan is dat ek voel iets dieper is verkeerd as net dit wat ons sien. Dink die manne in die bokspan is so deurmekaar soos opgooisel in ‘n tuimeldroër. Ek staan maar by hulle, want dit is soos ‘n mens se kind…… bly lief vir hul.

Peet Jacobs ·

Dit wat ons nou met ons rugby beleef het reeds met ons krieket gebeur. Ons was op n stadium nommer een in die wereld met krieket en deesdae sukkel ons om in die top 5 te bly. Die bokke is nou vierde op die wereldranglys en huidiglik is daar geen aanduiding dat dit gaan verbeter nie. Daar sal nog nederlae wees vir die eens trotse springbokspan. All blacks is die benchmark. Dalk is dit waarop ons keurders spankeuses baseer.

Andre ·

SARU is ‘n rassisties sportbeheerliggaam, want hul kwotastelsel dui daarop dat etnisiteit belangriker is as prestasie. Die feit dat die IRB dit toelaat, bly vir my ‘n tragiese geval van huigelary. Die IRB is gekant teen rassisme (VOLGEND HUL STATUTE), maar dit blyk nie dat SARU se beleid hul enigsins skeel nie. Selektiewe geheue en selektiewe optrde dus van IRB-kant. Geen regdenkende persoon gaan sport ondersteun met verskuilde agendas nie, tensy jy dieselfde mentaliteit openbaar of baie dom is. .

Gert Louw ·

Kom ons staan saam, boikot alle rugby in SA, stuur die bokke ek noem hulle blesbokke, hulle nie die naam van springbokke werd nie. Laat die hoogste raad van die ” heiligdom van rugby in SA suffer” agterkom daar is nie meer geld nie. So ook die spelers want dit gaan oor geld, nogmaals geld. Bring hulle terug grond toe dat hulle besef dat dit gaan oor trots om die Bok trui te dra. Fire die hele blesbok span.

Basson ·

Tyd vir die Springbok embleem om met eervolle vermelding verwyder te word.

BOLANDER ·

Basson, en wat gaan dit in die sak bring?????????????????????

Pietman ·

Bolander, die Springbok was gekoppel aan ‘n span wat die beste was. Ja beter as die All-Blacks. Van nou af gaan ons rugby net stagneer. Hoekom die Springbok daaraan koppel?

Bloues ·

Basson en Bolander. Ja hulle moet proteas word. Dan kan daar in die toekoms baie mooi skeidslyne wees van die Bokke voor inmening en die bokke daarna. Ek kyk nie meer krieket nie, en sal eersdaags net toetse kyk waarin die Bokke NIE speel nie.

Ek hoop die kiwis klop ons met meer as 50 punte en glo my, dit kan heel moontlik gebeur.

Cornelius ·

Maar tog koop almal kaartjies en sit naweek in en naweek uit op die paviljoen of voor die duur DSTV om Supersport te kan kyk. As hulle dit in hulle sake begin voel sal ons vining n ander ding sien.
Net so van die os op die jas met kwotas, kyk na die 7’s rugby. n Briljante span met n puik afrigter, fokus op meriete en goeie afrigting.

John ·

Mense onthou, ons is nog in die ontwikkelingsfase… al die afgelope 20 jaar…. gee kans en hou net moed. Australie & kie werk hoeka daaaraan dat ons moet transformeer (onthou die meelbomme en…) sodat hulle kan ‘brag’ dat hulle die Springbokke maklik kafgedraf het. Ja, mens hart ‘bloei vir hulle’… terwyl ons s’n pyn in ons binneste.

Ag asseblief tog... ·

John jy is blind jammer….ek stem vir n alle kleurige span maar op meriete gekies nie op die sirkus van politieke inmenging nie. As jy nie kan sien dat daar groot afrigtings probleme, afrigters keuses en groot fout met die span keuses is nie en net eenvoudig bly glo dat onder middelmatigheid is aanvaarbaar dan het jy nie trots nie….Ek betaal goeie geld om die Springbokke te ondersteun so ek verwag die beste en wat ons tans kry is nie die Springbokke se naam werd nie jammer..So ek ontrek my borge en ondersteuning dankie…

Najsaab ·

Ek stem die bok embleem moet waai……jy verdien daardie bok jy kry hom nie verniet nie……tweedens moet iemand wakker skrik en hulp inbring vir die afrigters want hulle weet nie wat hulle doen nie……..daars baie talent in daardie span maar hulle hardloop doelloos op die veld rond…….die span is nie n eenheid nie

Leon van veenhuyzen ·

Ek is klaar met S.A. sport, daar is te veel politiek by sport. Dit is heeltemal ongehoord. Ek is klaar en gatvol, kyk nie eers meer sport op TV nie, ek wil niks weet van die land en sy sport nie, ek sal maar ander lande ondersteun.

Thuunda ·

Leon, jy is nie alleen nie, net die bittereinders sal eersdaags nog die politieke spanne ondersteun, wat in die mense se koppe aangaan kan mens maar net oor wonder.

Dereck Le Roux ·

Die skrif is al lankal teen die transformasie muur, die liedjie van David Kramer Blokkies Joubert se woorde was profeties, “Ja ons manne was maar rof in die ou dae, But we played the gentlemans game, But its all being spoiled by politics its never gonna be the same.” Ek het al lankal opgehou om alle Suid Afrikaanse sport te ondersteun en enige persoon wat protesteer teen onprofesionele getjommel protesteer by stadions deur weg te bly van die getjommel af, geen geld by die hekke is geen geld om spelers, administrateurs en Saru affiliasie fooie te betaal nie.

Roger ·

Die ANC het bereik wat hul wou…vernietig alles wat na aan die hart lê van die Afrikaner. Sy sport, taal, onderrig en godsdiens.Sekere fatalistiese Afrikaners speel ook maar te graag in hul hande, want hul is te bang vir konfrontasie en daar is menige rugstekers wat maar te graag gesig bly koop by die ANC. Ek ondersteun geen borge van enige rugbyspanne (op alle vlakke) in SA nie. Juis omdat sulke maatskappye, deur hul borgskap, dus ook eintlik rassisme goedkeur.

Siestog ·

Stem 110% saam jou Roger..onder die transformasie mantel vernietig die Anc en sy Fikiles als wat eens na aan die hart was vir die Afrikaner. Die afbreking van die Springbok rugby trots is maar net nog n stap nader om die Afrikaner te wys hy is nie welkom in Suid Afrika nie..
.Hul druk die dolk dieper en dieper in die hart en ja hul slaag tans om alles te versuur waarop daareens trots was maar wys ok daardeur hoe onbevoegd pateties hul en hul kwota spelers en kwota afrigters regtig eintlik is soos hul nie die mas opkom nie. Siestog…

neelsie ·

Kan ook nie vir Adriaan kwalik neem dat hy die pad vat nie!
Die ‘kwota Coetzee’ se transformasie sal nooit werk nie.
Mbalula is n skande vir ons sport!!

Swanna ·

Ons rugby op die oomblik is ‘n direkte spieel beeld van wat in ons politiek aan die gang is of sal ek se wat in die parlement aan gaan. Persone word in posisies aangestel en het geen opleiding, vaardigheid of ondervinding van wat hulle daar moet doen nie. Maar nou moet jy in hulle gemors glo en ondersteun soos Fakale verwag. Wat ‘n graap is ons vir die buiteland. SIES.

Ben Prinsloo ·

Die tyd vir die Springbokspan om as n gerekende span te wees se tyd is verby. Van so n paar jaat terug al is dit net afdraande pad vir hulle. Ongelukkig steun ek nie n polities korrekte span nie. Hule sal nie die Aussies of die Varings klop nie, inteendeel daar wag n slagveld op hulle teen die Varings. Ek kan maar net oë toeknyp en dink aan die goeie ou dae.

BOLANDER ·

Ja Ben, ek mis ook die goeie ou dae se rugby!!!!! Ai tog.

Lourens ·

Ek Ondersteun die Springbok en nie ‘n Protea nie, stem saam verwyder die springbokkie heeltemalvan truie af nie nie nodig dat die springbok verder verneder word nie.

Willem Frost ·

Rugby in SA word nie meer deur rugby mense bestuur nie. Hoeveel oud-Bokke is daar in ons rugbybesture en in afrigting? Daar was n tyd toe net oud springbokke die Bokke kon afrig. Manne soos dok Craven, Hennie Muller, Johan Claassen , Ian Kirkpatrick en so aan. Toe het selfs die All Blacks se broeke gebewe as hulle die naam Springbok hoor. Vandag is ALLES in die land deur die verpeslike ANC verpolitiseer en stort alles ook in duie. Transformasie is die kanker wat ons samelewing vernietig. As n stap een behoort ou Fakile en die res van die ANC gespuis by alle rugby wedstryde verban te word. Ongelukkig het die rugby administrateurs nie die ruggraat van n slak nie.

humor ·

Willem Frost jy het hom nou “wragtag” reg gese. Dit is nie vir my nodig om verder kommentaar te lewer nie.

Jan ·

Coetzee se verwaande arrogansie werp verseker vrugte af. Hy weet nie wat hy nie weet nie.

Garath ·

In 1996 wen Bafana die Afrika beker met Clive barker en Neil Tovey aan die stuur. Met 100% transformasie wat was die vordering sedertdien? Goeie voorbeeld vir die Springbokke en Krieketspelers.

Andre K ·

Veels geluk minister. Jy het daarin geslaag om ons sport af te trek na dieselfde vlak as die sokkerspan.

BOLANDER ·

Andre K. As ek mag by voeg. Ook tot dieslefde vlak as die ANC!!!!!

Henry ·

Manne die agrigters is power en nie op internasionale standaard nie. Kry johan ackerman om ac te help en fire vir proudfoot en sticks wat n joke. Sal hom nie eens op provinsiale vlak gebruik

Thuunda ·

*Gaap

Het die reenboognasie se Zebra span alweer verloor?

Wie sal nou so ‘n politieke span WIL ondersteun. Stel voor dat al die goeie rugbyspelers maar eerder oorsee kontrakte kry as om hulle siel aan die ANC te verkoop om dan net die ‘voorreg’ te he om in die Zebra span te speel.

Maria van Dieweeck ·

Sport is nie meer sport nie! Gaan alles oor geld, politiek en mode! Waar is die trots heen, om net daai trui te kan dra? Ek hoor nog vir Gerhard Vivier?, op my pappa se radio, “Dis n ver skop.., dis n mooi skop, dis n reguit skop en hys OOR!! Maar nou ja, dit was toe ouens nog nie geweet het van haar gel en ‘highlights’nie! Coetzee helllllooooooo…moet asb nie vir Jantjes weer laat skop nie, hy kan nie!! Al wil jy en hy, hy kan nie! Dit het n groot sielkundige effek as n span nie kan reken op daai ou nie, man, dink tog!

CL ·

Wanneer jy ‘n kwota span gebruik kan jy nie deelneem aan internasionale top rugby(lees hier DIE BESTE SPELERS) nie. Skryf dan in vir ‘n kwota liga iewers. Dis ‘n klap in die Aussies se gesig om te verwag hulle moet teen ‘n kwota span speel.

Jan ·

Nee, nie “affirmative action rugby “vir my nie
Die dstv is af.
Dis al waarvoor ek hom nodig gehad het.
Geen rugby op ons gewone TV kanale nie!–net sokker!
Totsiens rugby!

Siestog.. ·

Ja Jan hul die ‘anc’ dons die rugby ok op soos alles, en dan verwag hul jy moet betaal vir jou TV liksens en jou geforseerde DSTV maandelikse betaling as jy wel rugby wil kyk en dit dan om na hul politieke ingemengde opgedonsde getjommelry spel skepping met kwotas en kwota afrigters te kyk…
Nee wat net so power soos hul geen blanke kwota geforseerde sokker span, ek KYK eerder ballet!!!!!!.

Lizzy ·

Net soos met SABC, so ook nou met DSTV. Weg met dit. Sal nooit weer ‘n kaartjie, hemp, of enige iets anders koop wat aan rugby gekoppel is nie.. Een van die dae, sal hulle die kaartjies verniet moet weg gee soos met die sokker.

Jakkalas ·

“Spot on ” respek moet verdien word ongeag wie jy is. Respek kan nie afgedwing word nie….. daai sogenaamde minister het baie om nog te leer in die lewe van werklikheid.

Kosie ·

Ek wil ophou kyk my probleem is dat die cheetahs nou eers begin om te wen

Penellope Jones ·

Jammer Fikile, maar jy weet net wat respek in anc-taal beteken, met ander woorde, kleur, transformasie en geen idee waaroor rugby-respek gaan nie.

Die Bokke is nie die mense wat respek moet verdien nie, hulle het dit, dis die “besluitnemers” en “transformeerders” wat respek probeer afdwing met kleur -denkpatrone wat alles oorheers en nie verstaan wat rugby is nie.
In sport is politiek-gemotiveerde besluite ‘n euwel soos ons nou al ‘n vele kere waargeneem het.

Die feit dat die bal nou na die bokke se baan gegooi word, is ‘n volle bewys dat hy sy politieke aanstellings probeer verdedig en beskerm.

Dit word verder bevestig deur die feit dat politiek en meriete totaal nie vermeng kan word, of enigsins probeer kan word nie.

Wys in ander lande waar die minister van sport sommer ook die nasionale rugby-afrigting en -keurder en kenner is!

Sydney ·

Ek wil eerder sien dat die springbok embleem tydelik agter die protea moet inskyf, totdat ons spelers kry wat weer die springbok sal respekteer. Deesdae is daar soveel fosiele wat hulle terug keer maak dat die jonger manne op die kantlyn moet sit. Ek kan verskeie jonger spelers opnoem wat meer met trots sal speel as van die ouer garde wat van oorsee af ingebring word. Hulle as die imports bring glad nie meer waarde tot die spel toe nie. Dr Danie Craven en sy hond sal hoog te m….. in wees as hulle nou langs die veld moet staan en sien wat aan gaan met rugby oor die algemeen is. Gee van ons jonger opkomende spelers meer geleenthede maak nie saak wie en waar hulle vandaan kom nie. Hulle sal nie slegter speel as die huidige ou manne nie……

Johan ·

Dstv buit al jare Afrikaanssprekende rugbyliefhebbers uit (toets my en probeer om ‘n goedkoop pakket te kry wat Kyknet en kanaal 201 insluit). As jy egter sokker kyk is dit die goedkoopste pakkette. SARU kry waarskynlik hul grootste inkomste v Dstv. As ons ‘n boodskap vir hulle wil stuur, moet ons of Dstv stop of afklim vd rugbypakket. Laat geld praat want dis duidelik dat SARU, net soos die ANC, nie na hulle ondersteuners luister nie

Anestis Stergianos ·

Allister is nie die regte breier vir die span nie . Die spelers moet op meriete gekies word , ge nie om of die hele span pienk , pers , groen is nie solank hulle op meriete gekies word !!!!!!!!!!!!!!!

JP ·

Die probleem kom al ver. Ons het net toegelaat dat die inmenging jaar na jaar meer word en eindelik oop en bloot ‘n politieke speelbal geword het. Vir my het ek die gevaar tekens in 1999 al gesien en besluit ek kan nie ‘n sport steun waar politiek ‘n rol speel en opgehou om die Bokke te steun. Huidig is daar niks in SA rugby wat die waardes van sport ondersteun of ons trots verdien.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.