Die groot verwagtings oor ons A-Springbokspan baar toe ‘n muis. Na die eerste 40 minute het ek begin dink dat daar tog hoop vir die Bokspan is, maar toe begin – van alle dinge – ons fiksheid ingee. Dit is weereens ‘n bewys dat wedstrydfiksheid slegs verkry kan word deur wedstryde te speel.
Die oplossing vir die klein fiksheidsprobleempie kan opgelos word deur plaasvervangers op te stuur – so het Pieter toe gedink, maar nét daar het die moeilikheid begin: Onmiddellik is ons skrum onder groot druk, want toe skuif ons kaptein in die vaskopposisie in. Nouja, vaskop of loskop, ‘n voorryman is John Smit nie.
Ons as rugbypubliek weet dit mos nou al lankal, maar die elementêrste kennis bly verborge vir die afrigter en al sy assistente. Onmiddellik is die Bokke op hulle agtervoet en ons losvoorspelers uit die prentjie. Net desperate verdediging het gekeer dat die telling nie nog groter teen die Bokke was nie; en slegs Bismarck du Plessis het sy stempel as plaasvervanger afgedruk. Weereens het hy bewys dat hy die beginspan se haker moet wees.
Francois Steyn het ook groter en stadiger as ooit tevore gelyk en bied, behalwe vir sy kanonvoet, geen spelskepping vanuit die heelagter posisie nie. Ek weet dat Pieter en sy makkers reeds hulle wêreldbekerspan gekies het, maar ʼn man soos Jaco Taute van die leeus sal verseker vir meer opwinding as Francois Steyn sorg.
As die bokke twee eerste helftes na mekaar kan speel soos Saterdag het ek hoop, maar ek is bevrees dié span gaan Saterdag weer swaar leef teen die All Blacks se B-span.
Wat die Curriebeker betref moet ʼn mens nou glo dat die Leeus gekom het om in die finaal te speel. Ek glo dat sy ondersteuners, net soos ek, nie kan glo dat die Leeus nog die enigste onoorwonne span in die liga is nie.
Groete tot volgende keer.
Bloubul
Ai-ja. Daar was verlede naweek geen trots by die manne in groen-en-goud nie.