Bokprobleme, kleurbeheptheid en Curriebekeropskuddings

Na ʼn week se wegbreek waar daar selfs geen selfoonontvangs is nie,  kon ek nie antwoord op die kommentaar wat gelewer is op my skrywe van verlede week nie.

Na gister se Bledisloe Cup sien ek swarigheid vir die Bokke as daar nie ʼn dramatiese verbetering in hulle spelpatroon en toegewydheid intree nie. Ons sal sien of die rehabilitasieproses en “geheime oefenkamp” die nodige vrugte gaan afwerp.

Ai tog, wanneer sal die gekerm oor die kleur in die samestelling van ons rugbyspanne tog eendag ophou. Kies die spanne op meriete en geen rugby ondersteuner sal ʼn probleem daarmee hê nie.

As ABSA en SARU dan so bekommerd is hoekom begin hulle nie met ʼn Akademie vir gekleurde spelers nie. Hulle kan dan as ʼn swart/gekleurde span in die onderskeie kompetisies inskryf en as hulle bo uitkom sal die onderskeie Unies oor mekaar val om die goeie spelers te kontrakteer. Hoekom is dit net die verpligting van die onderskeie rugbyunies om gekleurde spellers te ontwikkel. As die spelers goed genoeg is sal hulle vanselfsprekend deur die Unies opgeraap word.

Die Goue Leeus begin nou toon dat hulle met die grotes saam kan gesels. Ek dink hulle ondersteuners kan hulle oë nie glo nie en hou asem op om te sien of die wenkultuur sal voortduur. Dit sit nie in enige span se broek om die Bulle op Loftus te wen nie.

Pine Pienaar sal vinnig ʼn plan moet maak om uit die laaste posisie te beweeg, anders is die bietjie aansien wat hy as Vrystaat se Onder 20-afrigter opgebou het, ook daarmee heen. Om ʼn Curriebekerspan af te rig, sit nie in enigeen se broek nie. Die punt is dat dit almal om hom laat sleg lyk en dit sluit manne in wat die Super 14 al ʼn paar keer verower het.

Die tuisvoordeel het vir al die Curriebekerspanne gewerk buiten vir die Bulle. (Die feit dat hulle vir 20 minute met 14 spelers op die veld gespeel het, is hulle eie skuld). Geluk aan die Griekwas die Cheetahs en die Luiperds wat tuisveld oorwinnings behaal het.

Hierdie week sal daar diep gedelf moet word en die drie grotes (WP, Natal en die Bulle) sal verseker baie het om oor na te dink.

Dié naweek is daar weer ʼn paar rillers wat voorlê.

Tot volgende keer

Bloubul

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Polla Roux

Polla Roux is 'n oud-Westransvaler. Na draaie in die onderwys en korporatiewe wêreld, het hy vroeër vanjaar as Organisasiesekretaris by Solidariteit uitgetree.Hy het net meer as honderd Carlton-wedstryde agter die blad (1966-1976), het vir Noord-Transvaal gespeel en is na Springbokproewe genooi, maar sy loopbaan is deur 'n skouerbesering kortgeknip. Hy het gereeld as eerste liga-skeidsregter opgetree en was vanaf 1995 tot 1998 senior bestuurder by die Noordtransvaalse Rugby-unie en betrokke by die skep van die Bloubul-lied saam met Steve Hofmeyr.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.