Borgtog vir moord – wat kan jy verwag?

hein-gonzales

Hein Gonzales is bestuurder van risiko en ondersteuning by AfriForum se afdeling vir gemeenskapsveiligheid. Foto: Verskaf.

Deur Hein Gonzales

Jy is een aand op pad huis toe vanaf die werk. Met jou aankoms by die huis word jy aangeval deur inbrekers en daar word op jou geskiet. Jy tree in selfverdediging op met jou vuurwapen, wel binne die raamwerk van die wet, en skiet ʼn aanvaller dood. Jy bel onmiddellik die polisie en gee jou samewerking aan die SAPD. Die polisiebeampte daag op die toneel op en neem jou verkeerdelik op aanklag van moord met voorbedagte rade in hegtenis. Die volgende oggend verskyn jy in die hof op hierdie aanklag en word verteenwoordig deur jou prokureur in die borgtogaansoek. Wat kan jy verwag?

Wat is die vereiste: Art 60(11) (a)?

“Notwithstanding any provision of this Act, where an accused is charged with an offence referred to—
in Schedule 6, the court shall order that the accused be detained in custody until he or she is dealt with in accordance with the law, unless the accused, having been given a reasonable opportunity to do so, adduces evidence which satisfies the court that exceptional circumstances exist which in the interests of justice permit his or her release.”

Jou 18-stap-proses

1) Indien jy in aanhouding is, sal die SAPD-beampte jou binne 48 uur ná inhegtenisneming na die hof moet neem vir jou eerste hofverskyning en moontlike aansoek om borgtog. Maak seker jy reël vooraf dat jou prokureur met jou beraadslaag en gereed is vir jou eerste hofverskyning.

2) Jou prokureur sal eerstens die staatsaanklaer nader voor jou hofverskyning en probeer vasstel wat die staat se gevoel ten opsigte van borgtog is. Gaan die staat die aansoek teenstaan, en indien wel, op welke gronde? Dit gebeur dikwels in die praktyk dat die SAPD-beampte oorhaastig optree en iemand in hegtenis neem voordat daar ʼn sterk saak is. In sulke gevalle sal die staat nie borgtog teenstaan nie en die proses dus makliker verloop. Dit sal ook vir jou sterk gronde gee om op borgtog vrygelaat te word, veral as die ondersoek nog lank kan duur en jy nie van jou vryheid ongrondwetlik ontneem mag word nie.

3) Indien die staat besluit om die borgtogaansoek teen te staan, sal jou prokureur met jou oorleg pleeg om opdrag te kry om voort te gaan met ʼn formele aansoek om borgtog. Onthou, jou prokureur is jou beste vriend. Vertel hom alles al is jy van oordeel dat dit tot jou nadeel is.

4) Aangesien hierdie soort misdryf binne die raamwerk van Skedule 6 val, sal jy as beskuldigde/aansoeker op ʼn oorwig van waarskynlikheid (50%+1) die volgende moet bewys:

a) Dat die omstandighede vir jou vrylating in die belang van geregtigheid is;
b) Dat sulke omstandighede soos vermeld in par (a) hierbo, buitengewone omstandighede is.

5) In die praktyk word jy dikwels gekonfronteer met die staatsaanklaer en SAPD-beamptes wat nie voorberei is vir borgtogaansoeke nie. Dit kan beteken dat jou saak uitgestel kan word en jy in aanhouding kan bly tot die aanhoor van jou borgtogaansoek.

6) In die hof sal die staatsaanklaer die saak uitroep en die formele klagte in die hof uitlees met ʼn klagstaat. Jou prokureur sal opstaan en bevestig dat hy namens jou optree in hierdie aangeleentheid. Jy sal deur die hofordonnans ingebring word en in die beskuldigdebank staan.

7) Jou prokureur sal die voorsittende beampte inlig dat hy gereed is vir ʼn formele borgtogaansoek en derhalwe opdrag het om voort te gaan.

8) Indien die staat en voorsittende beampte gereed is, sal jy die bewyslas dra (deur jou prokureur) om die hof te oortuig om jou op borgtog vry te laat. Dit sal plaasvind deur jou saak eerste aan te bied, sonder om eers die staat se saak en getuienis teen jou aan te hoor.

9) Om die hof te oortuig van jou vrylating, moet jy as beskuldigde getuienis voor die hof plaas. Dit beteken nie dat jy self moet getuig nie, maar jy kan wel getuienis aanbied deur beëdigde verklarings wat deur jou prokureur aangebied sal word, mondelingse getuienis van familielede, alibi-getuies en/of deskundige getuienis wat aan die hof voorgelê word.

10) Hou in gedagte dat die rekord van die borgtogverrigtinge opgeneem sal word. Hierdie rekord vorm deel van die verhoorverrigtinge. Indien jy leuens vertel, die hof probeer mislei, of dalk jou verweer in die hof openbaar, sal jy hierby gehou word en nie jou weergawe tydens die verhoorverrigtinge kan verander nie. Indien jy dit wel verander, sal jy as ʼn ongeloofwaardige getuie in die oë van die hof beskou word. Laasgenoemde kan die lewe vir jou moeilik maak in die hof tydens jou verhoor op meriete.

11) Ná die aanhoor van jou saak sal die staat getuienis aanbied by wyse van mondelingse en dokumentêre getuienis. Die staat roep gewoonlik die ondersoekbeampte om te kom getuig oor die meriete van die saak, asook of jy vorige veroordelings en misdaadrekords het.

12) Indien daar nuwe getuienis voor die hof geplaas word deur die staat waarvan jy nie bewus was nie, sal jou prokureur geleentheid kry om hierdie getuienis te weerlê.

13) Ná die aanhoor van getuienis sal die staat en jou prokureur betoog en die hof oortuig van hulle onderskeie sake deur te steun op wetgewing en regspraak. Hierna sal die voorsittende beampte al die feite, getuienis en argumente oorweeg, waarna hy/sy die uitspraak lewer.

14) Let wel dat dit nie nodig is vir jou prokureur om ernstige siekte en/of finansiële gevolge te argumenteer vir borgtog op grond van buitengewone omstandighede nie. Die kumulatiewe effek van gewone omstandighede soos in art 60(4) vervat, kan kwalifiseer as “buitengewone omstandighede” (S.v. Dlamini 1999 (2) SACR 51 (CC) par [76]) ʼn Sterk regsgeldige verweer teen die aanklag kan kwalifiseer as “buitengewone omstandighede”.

15) Indien jy nie tevrede is met die uitspraak nie, kan jy appelleer teen hierdie beslissing. Hierdie onderwerp sal in Deel 3 van die bespreking hanteer word.

16) Indien jy borgtog toegestaan word, kan jou familie en/of vriende onmiddellik die borgtoggeld by die hof se kassiere gaan inbetaal. Ná betaling sal jy onmiddellik vrygelaat word ooreenkomstig die hofbevel.

17) Jou vriende en familie sal hulle borgtoggeld terugkry ná die afhandeling van die verhoor, op voorwaarde dat jy jou verhoor bygewoon en nie gevlug het nie.

18) Die voorsittende beampte kan jou ook sekere voorwaardes vir jou borgtog oplê. Voorbeelde kan wees dat jy jou elke dag by jou plaaslike polisiestasie aanmeld, dat jy nie kontak met die slagoffer mag hê nie en dat jy onder meer nie die dorp/stad mag verlaat sonder die toestemming van die ondersoekbeampte nie.

Welke faktore bepaal “in die belang van geregtigheid”?

1) Jou prokureur sal moet bewys dat dit in die belang van geregtigheid is dat jy vrygelaat word op borgtog. Laasgenoemde beteken dat die negatief bewys moet word van die faktore soos gelys in art 60(4)(a)-(e) van die Strafprosesregwet. Dit beteken wesenlik dat die omstandighede soos vermeld in hierdie artikel, nie sal realiseer met jou vrylating nie. Wat behels die faktore kragtens art 60(4)?

a) Sal jou vrylating enige spesifieke persoon of lede van die publiek in gevaar stel en/of is daar moontlikheid dat jy weer ʼn skedule 1-misdryf sal pleeg as borgtog toegestaan word? (Art 60(4)(a)) In hierdie verband sal die hof kyk na jou verlede. Het jy ʼn geskiedenis van geweldsmisdrywe? Het jy strafregtelike rekords vir geweldsmisdrywe?

b) Is daar ʼn moontlikheid dat jy sal vlug en nie jou verhoor bywooon nie? (Art 60(4)(b)) Het jy vaste werk, ʼn vaste werksadres of familie in die dorp/stad, en so meer?

c) Is daar ʼn moontlikheid dat jy, indien jy vrygelaat word, jou sal inmeng met staatsgetuies of reële getuienis/bewysstukke vernietig? (Art 60(4)(c)) Het jy ʼn geskiedenis van sulke soort optredes? Het jy jou tydens die ondersoek en inhegtenisneming voor jou aanhouding skuldig gemaak aan sulke gedrag?

d) Is daar ʼn moontlikheid dat jy die borgtog- en regstelsel sal ondermyn? (Art 60(4)(d))

e) Sal jou vrylating in uitsonderlike omstandighede veroorsaak dat die oepnbare orde versteur of openbare veiligheid en sekuriteit ondermyn word? (Art 60(4)(e))

In Twayie v Minister van Justisie het ʼn volbank regters die volgende opmerking gemaak: “Elke verhoorafwagtende is potensieel ʼn onskuldige, en onnodige inperking van die burger se vryheid druis teen alle beskaafde regsgevoel in …”

Bronne:

1) Strafprosesregwet, Wet 51 van 1977
2) Bail, Practitioners Guide , derde uitgawe, John van der Berg

  • Hein Gonzales is bestuurder van risiko en ondersteuning by AfriForum se afdeling vir gemeenskapsveiligheid.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.