Boris Johnson: die onverrassende verrassing

Boris Johnson, nuwe leier van die Britse Konserwatiewe Party, in Londen (23 Julie 2019) (Foto: AP Photo/Frank Augstein)

Deur Hermann Pretorius

Vir ʼn slag het die politiek ʼn heel verwagse wending geneem. Boris Johnson, voormalige staatsekretaris en burgemeester van Londen is die nuwe eerste minister van die Verenigde Koninkryk. Johnson het die leierskapsverkiesing van die Konserwatiewe Party met nagenoeg 66% van die stemme gewen en is Woensdag amptelik deur Koningin Elizabeth gevra om ʼn regering te vorm.

Regeringsvorming is onder normale omstandighede eenvoudig ʼn kwessie van getalle geskoei op ʼn volstrekte meerderheid in die laerhuis van die Westminster-parlement, dit wil sê ten minste meer as die helfte van die 650 setels in die laerkamer van die bikamerale stelsel.

In Johnson se geval is hierdie kwessie egter nie so eenvoudig nie. Hy is die leier van die grootste party in die laerhuis, maar die Konserwatiewe LP’s is nie genoeg om alleen ʼn meerderheid te kan bereik nie nadat die voormalige eerste minister, Theresa May, die Konserwatiewe meerderheid uit die 2015-verkiesing gewen, verloor het in die 2017-verkiesing. Met haar nederlaag in daardie verkiesing en die verlies van die Tories se meerderheid, het May die raamwerk vir die huidige politieke chaos in Westminster aanmekaar gesit. Die feit dat die Tories slegs ʼn minderheidsregering is, afhanklik van die steun van die Demokratiese Unie-party van Noord-Ierland, ontneem die tradisionele gronde waarop ʼn Britse regering kan staatmaak om beleid en wetgewing in te stel.

Dus, met die taak van Brexit en die elektorale redding van sy party voor hom, sit Johnson in ʼn uitsonderlik onbenydenswaardige politieke posisie. Die fokus behoort dan te val op wat Johnson wil vermag, wat hy kan vermag en wat hy waarskynlik gaan vermag. Hierdie vrae is tans nog duister, maar kan wel verhelder word deur te verstaan wie Johnson is, en waarom hy tans is waar hy is.

Daar is tans vele meningvormers wat die lui denke volg dat Johnson die Britse Donald Trump is en selfs Trump het in sy tipies “nederige en genuanseerde” manier hierdie sentiment onlangs uitgespreek. Vlugtige oorweging van Johnson se politieke geskiedenis onthul egter ʼn ander storie.

Johnson se agtergrond is in die joernalistiek waar hy ʼn suksesvolle dog kontroversiële tydperk gespandeer het. Wyd bewonder vir sy vermoëns as kommunikeerder, is sy loopbaan as joernalis egter beswadder deur skandes gekoppel aan die opmaak van bronaanhalings deur die jong Johnson. Hy betreë die politieke wêreld, en wen die onwaarskynlike amp van die Londen-burgemeesterskap – onwaarskynlik omdat die Britse hoofstad ʼn oorwegend linkse, pro-Arbeiderspartystad is, en Johnson ʼn Konserwatiewe is – die party aan die tradisionele regterkant van die Britse politieke spektrum.

Johnson bevestig sy reputasie as ʼn bona fide-verkiesingswenner toe hy ʼn tweede termyn wen. Hierdie oorwinning is van besondere belang aangesien dit bereik is ten tyde van ʼn Konserwatief-geleide nasionale regering wat besig was met ingrypende staatsbestedingsbesparings. Om as Konserwatiewe te wen in ʼn linkse stad terwyl ʼn toe onpopulêre Konserwatiewe eerste minister, David Cameron, aan bewind is, het Johnson verskans in die posisie van natuurlike opvolger tot Cameron.

Toe verander die 2016 Brexit-referendum die landskap van Britse politiek volledig. Cameron, onder druk van faksies binne sy eie party en die elektoraal gevaarlike Nigel Farage aan die hoof van die Verenigde Koninkryk se Onafhanklikheidsparty, kondig in die oploop tot die 2015-verkiesing ʼn plebissiet aan op die VK se lidmaatskap van die Europese Unie.

Cameron het gehoop om met hierdie referendum die kwessie van die tafel te verwyder sodat hy kan fokus op die voltrokke implementering van sy ekonomiese beleid om die VK se ekonomie weer op dreef te kry ná die ingrypende finansiële krisis in 2007/’08. Die VK se verhouding met die res van Europa en veral die Europese Unie het teen 2015 gesorg vir die mislukking van twee Britse premierskappe, dié van Margaret Thatcher en John Major, en Cameron was nie van plan om sy premierskap aan dié kwessie af te staan nie. Beplan of onbeplan, sou Johnson Cameron hierdie wens ontneem.

Met Johnson as die gesig van die veldtog om die EU te verlaat, behaal die sogenaamde Brexiteers ʼn historiese en onverwagse oorwinning: 52% van die Koninkryk stem om die EU te verlaat, en Cameron bedank in vernedering nadat sy dobbelspel om die EU-kwessie op te los, skouspelagtig verander in ʼn voetskoot.

Soos wat Cameron die deur ooplos op pad uit, wil dit toe in Julie 2016 voorkom of Johnson en sy betroubare vennoot Michael Gove as droompaar beheer van die premierskap en die tesourie sou neem. Maar gebeure werp hierdie verwagtinge omver. Gove verloor ter elfde ure vertroue in Johnson se vermoë om die gewigtige taak van Brexit aan te pak, en tot die skok van die politieke wêreld, kondig hy sy eie kandidaatskap aan. In die warboel, onttrek Johnson toe van die leierskapsresies en word Gove gruwelik gestraf vir sy dislojale gedrag. Op die ou end kon Theresa May eenvoudig oor die liggame trap om deur die oop deur van Downingstraat 10 te loop.

May begin haar premierskap met die onverwagse herstel van Johnson se politieke loopbaan. Binne dae gaan hy van politieke dooie, na die staatsekretaris vir die VK, die publieke gesig van die Britse regering op die diplomatieke verhoog.

Johnson se termyn as hoofdiplomaat was volgens baie ʼn fiasko, en dit is opvallend dat sy ondersteuners min daaroor te sê het as oor sy dae in die Londense regering. ʼn Episode wat veral kritiek teenoor Johnson uitlok, is sy hantering van die gevangenskap van Nazanin Zaghari-Ratcliffe, ’n Iranees-Britse burger wat deur die Iranse regering in arres geplaas word vir vermeende betrokkenheid by pogings om die Iranse staat omver te werp. In ʼn onverantwoordelike opmerking maak Johnson die stelling dat Zaghari-Ratcliffe bloot in Iran was, nie as onskuldige, neutrale besoeker nie, maar om joernalistiekklasse aan te bied. Hierdie opmerking is toe later gebruik deur die Iranse staat om die aanklagtes teen Zaghari-Ratcliffe te versterk.

As staatssekretaris bly Johnson lojaal aan Theresa May, ten spyte van vroeë aanduidings dat haar Brexit-plan diep onbevredigend gaan wees vir enige iemand wat ten gunste van Brexit gestem het. Maar in Julie 2018, toe die strekking van May se teleurstellende Brexit-planne aan die kabinet voorgelê word, bedank Johnson in protes teen die afwatering van Brexit. Vir ʼn jaar lank is hy ʼn doring in die vlees van die May-regering, en is dit duidelik dat hy planne begin implementeer om seker te maak dat hy, soos hy dit eens verwoord het, die bal kan vang sou dit uit die skrum loskom.

Ná die derde parlementêre nederlaag van May se Brexit-plan in die laerhuis in Mei 2019, word dit toe duidelik aan die Konserwatiewe Party as geheel dat May nie daartoe in staat is om Brexit af te handel nie, en dat ʼn nuwe leier nodig sal wees om die party van elektorale uitwissing te red.

Die uitslag van die Europese parlementsverkiesings was die finale spyker in die kis van May se premierskap – die Tory-party, die oudste politieke party ter wêreld, val tot 9% in die kiesuitslae. Van daar af was die roete na ʼn Johnson-premierskap nagenoeg onbelemmerbaar oop, en Johnson se lewenslange ambisie om premier van die VK te word, word uiteindelik verwesenlik toe hy Dinsdag die koningin se hand gesoen het om haar veertiende eerste minister te word. Johnson se groot held en die onderwerp van sy suksesvolle boek wat in 2014 gepubliseer is, Winston Churchill, was koningin Elizabeth se eerste eerste minister toe sy die troon bestyg in 1952.

Johnson se instinkte as burgemeester en staatsekretaris was nie dié van ʼn Britse Trump nie. Alhoewel daar dalk ooreenkomste tussen die twee wêreldleiers is, veral ten opsigte van hul vermoë om retories ʼn elektoraat aan hul kant te kry, is daar min ander ooreenkomste. Waar Trump se handelsbeleid skreiend proteksionisties is, is Johnson ʼn groot aanhanger van vrye markte en vrye internasionale handel. Waar Trump nog altyd ten gunste was vir ʼn sterker teen-immigrasiebeleid, is Johnson nog altyd meer ten gunste van wettige immigrasie – self meer so as sy voorganger Theresa May.

Soos enige mens is Johnson ʼn komplekse versameling van oortuigings, filosofie en ambisie. Maar dit staan onteenseglik dat hy ʼn politikus is van uitsonderlike talent – sy vermoë om met kiesers te kommunikeer en ʼn opbeurende gesindheid te bring, is ongeëwenaar in Brittanje en dalk selfs die wêreld. Weens vele buitehuwelikse verhoudings is sy persoonlike integriteit al herhaaldelik in twyfel getrek. Maar die politiek is die kuns van die haalbare. Die Brexit-kwessie staar die VK al drie jaar in die gesig sonder enige teken van ʼn oplossing.

Die aanstelling van Johnson mag dalk net die eerste keer wees wat die Britse regering ʼn poging gaan aanwend om ʼn sukses van die onderhandelinge te maak en sodoende die talle voordele van ontknoping uit die EU na te jaag en op te kapitaliseer. Mens voel amper braaf genoeg om te sê dat, as Johnson nie die huidige politieke krisisse van die VK kan trotseer nie, sal niemand kan nie. Sy begaafdheid as politikus maak hom daartoe in staat om ʼn unieke sukses van Brexit te maak. Sy swakhede maak hom egter kwesbaar om as mislukking en ʼn historiese voetnoot te word in die biografie van ʼn ander, meer suksesvolle eerste minister wat Brittanje deur ʼn tyd van krisis kon kry.

  • Hermann Pretorius is ʼn analis by die Centre For Risk Analysis

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Shannon ·

Boris die nar. Nie gwild genoeg in die Utopiese hoofstad om aan bewind te bly daar nie, maar lou genoeg om `n ou drukkie te kry innie Tori binnekringe. Ook geen wonder dan dat Boris, Jacob Rees-Mogg en die ander loopbaan poliekuste nou skielik weer erg is oor Brexit. Want Nigel Fraash se B party sal hulle waarskynlik `n bloedneus gee in die volgende verkiesing.
Geen groter hipokriet as `n Brit nie. Kan saamleef met dit wat hulle die res van die wereld al vir eeue lank aandoen nie. What’s good for the goose is good, period. Lank leef die E.U. met magtige Britanje knus daarbinne.

Therese van Schalkwyk ·

Die rol wat Michael Gove gespeel het in die Brexit-sirkus is m.i. reusagtig.
Hy het nie soseer vertroue verloor in Boris Johnson om Brexit aan te pak nie, maar eerder sy eie gierige magsaspirasies die oorhand laat kry.
Gove se skandalig blatante rugstekery, en die uitgerekte tragiese Brexit-komedie wat daarop gevolg het, dwing min respek of agting af vir die Britse politiek, sowél as die Londonse gevestigde orde. Die groot verloorders in hierdie sogenaamde demokrasie is die gewone Britse kieser. Hierdie verskynsel neem klaarblyklik wêreldwyd toe.
Theresa May, foute en al, is beslis nie die gróót skurk in hierdie verhaal nie.

Terloops, Donald Trump is net so ten gunste van wettige immigrasie as Boris Johnson.
Vra gerus die miljoene wetsgehoorsame nuwe Amerikaanse burgers elke jaar.

Johan Swart ·

Gaan kyk op Youtube na enige een van die “interviews” met Boris….hy kan nie aandag gee vir 5 minute nie….sy konsentrasie is soos n 4 jarige kleuter…hy roggel en mompel sy antwoorde en eindig nie sy sinne met iets sinvol nie….

Helgard Muller ·

Goeie artikel. Wat waarskynlik ook ‘n verskil gaan maak is die kabinet. Dit is so te se ‘n ware konserwatiewe kabinet. Nie net dit nie, maar kyk na aanstelling soos Cummings en Fox – wat goed saam met Johnson al saamegewerk het. Veral Cummings die meesterbrein agter die “Leave” veldtog. Daar is ook tot ‘n seker mate die druk wat Johnson op homself plaas as die gesig van Brexit en dat hy prominent Brexiteers soos Raab en Reese-Mogg in sy kabinet het wat dit moeilik maak om nie ‘n Brexit deur te voer nie, maar terselfdertyd ook meer ruimte skep vir kompromie noudat mense soos Reese-Mogg deel is van die kabinet. (Wat byvoorbeeld altyd nog meer buigbaar was as Baker van die ERG).

Ek dink die karikatuur van Trump is oningelig – sy posisie is nee teen vryehandel nie maar vir meer regverdige handelspraktyke – beide China en self die EU is nie vryehandel utopia nie. Ditto immigrasie – die kwessie hier is wettige immigrasie en binne ‘n raamwerk en teen ‘n tempo wat bestuur kan word. Hier soos ‘n papegaai herhaal jy net die media en TDS kommentaar.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.