Boris Johnson se waagstuk het gewerk

Boris Johnson. Foto: (Lindsey Parnaby/Pool via AP)

Boris Johnson, die Britse eerste minister, se politieke loopbaan is verstommend en hy staan uit onder ’n reeks opportunistiese en vervelige politici met sy uitsonderlike politieke talent en ook politieke geluk.

Nadat hy deur die media ná ʼn reeks nederlae in die parlement al afgeskryf is en daar bespiegel is dat hy die eerste minister sal wees wat die kortste regeer, het hy nou met mag en mening die parlementsverkiesing gewen.

Brexit was die groot vraagstuk ná omtrent drie jaar se oneindige debatte en ontelbare struikelblokke op die pad uit die Europese Unie (EU). Terwyl Johnson onomwonde geveg het vir die uittrede van sy land uit die EU, ten spyte van alle terugslae, het die opposisie Arbeidersparty nooit ʼn duidelike standpunt gehad nie en homself dikwels weerspreek. Om die dooiepunt op te los, het Johnson ʼn vervroegde verkiesing uitgeroep, maar omdat hy geen meerderheid gehad het nie, moes hy die opposisie oortuig dat die vervroegde verkiesing tot almal se beswil sal wees. Sy waagstuk het gewerk.

Johnson se Konserwatiewe Party het uit die posisie van ’n minderheidsregering hul getal setels aansienlik verhoog na 365 (+47), gemaklik bo die volstrekte meerderheid van 326 setels. Die Arbeidersparty met hul leier Jeremy Corbyn het erg teruggesak na 203 setels (-59). Hulle het heelwat van hul tradisionele hartlandsetels in die industriële Noord-Engeland aan die Konserwatiewes verloor.

Die ander oorwinnaar was die Skotse Nasionaliste, wat wel net in Skotland gestaan het, maar daar skoonskip gemaak het en 48 setels (+19) uit 59 gewen het. Die Liberale Demokrate, wat hulle bemark het as die sterkste voorstanders van die verblyf in die EU en wat gehoop het om al die Remain-aanhangers agter hulle te verenig, het teleurstellend gevaar met slegs 11 setels (-1). Streekpartye en kleiner belangepartye het ook enkele setels gewen.

Die groot oorwinning vir die Konserwatiewes is ook moontlik gemaak omdat Nigel Farage van die Brexit-party besluit het om nie die Konserwatiewes te opponeer nie en om Johnson die alleenlike Brexit-kampioen te maak. Dit was ʼn slim en versiende skuif. Sodoende kon hierdie verkiesing beskou word as ʼn tweede Brexit-referendum. Daar is geen twyfel meer nie dat die meerderheid Britte dit wil hê, en dit veral nou agter die rug wil kry. Die voortdurende pogings om die Brexit te verhoed deur die EU, die opposisie, selfs parlementslede van die Konserwatiewe Party, die media, kunstenaars en akteurs, ensovoorts het die gewone mense net nóg meer vasbeslote gemaak om die man te ondersteun wat as die kampioen vir Britse belange gesien word.

Boris Johnson. Foto: (AP Photo/Mark Lennihan)

Die Arbeidersparty daarteenoor het skerp na links geswaai en het min in gemeen met Tony Blair se eertydse gematigde New Labour. Trouens, Corbyn en sy beleid het die Arbeidersparty teruggeplaas in die 1970’s. Die party se oormatige klem op sogenaamde minderhede het ook inheemse Britte wat altyd die Arbeiders ondersteun het, laat swaai.

Ná die lang gekibbel oor die Brexit en tweemalige aanskuif van die datum van uittrede het die verkiesing nou duidelikheid gebring: Op 31 Januarie sal Brittanje uiteindelik uit die EU uittree. Dan begin die proses oor die hoe, maar Johnson het reeds ʼn breë skikking onderhandel, wat egter deur die vorige parlement afgekeur is. Nou sal alle Brexit-wetgewing maklik deur die parlement goedgekeur word. Meer armdruk lê egter voor in die onderhandelinge met die EU.

Alhoewel Brexit die oorheersende tema was, was die Konserwatiewes ook uitgesproke oor beheer op immigrasie en misdaadbekamping, beide klassieke konserwatiewe vraagstukke. Om Arbeidersparty-kiesers te trek, is daar ook groot inspuitings in die staatlike gesondheidsektor belowe.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Sebastiaan Biehl

Sebastiaan Biehl werk tans as ʼn analis in Berlyn, Duitsland. Hy is ook ʼn skrywer van romans en reisbeskrywings in sy vrye tyd en was op ʼn tyd (2001-2005) ook vir Solidariteit se media-afdeling werksaam. Sy kwalifikasies is BA algemeen, BA Hons (Politieke Wetenskap) en MA Politieke Wetenskap by Bloemfontein en RAU, onderskeidelik. Sebastiaan se gebiede van belangstelling is veral politiek, geskiedenis en reis.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Sê-maar-net ·

Ag ek kry so lekker oor hierdie oorwinning! Ek hoop al daai ou suurpruim-anties wat vir Theresa May al haar dae (en nagte) gegee het, is nou almal terug in die kombuis en dat beter stoffasie hulle vervang het. Oom Boris moet nou net die ou boelie, die EU, bloedneus slaan, dan haal ek my hoed af vir hierdie Indigo-kind, wat sy ADHD (net soos Trump) in die regte rigting vir hom laat werk. Bravo Boris!!

Louisa ·

Meeste van die Remain Konservatiewe MP’s het of uitgetree voor die verkiesing en die wat gestaan het as Onafhanklike kandidate of vir die Liberale Demokrate, het hulle setels almal verloor! Maar ja, ek deel jou vreugde, vir te lank het hulle demokrasie geondermyn. Boris gaan baie hard moet werk om die mense wat vir hom gestem het se respek te behou. Oor die algemeen is hy nie baie gewild nie, maar hy was die beter keuse tussen twee euwels. Sover lyk die tekens goed.

Therese van Schalkwyk ·

Die afgelope drie jaar moes ons in die belangrikste media lees hoe die armer plattelandse ongegradueerde kiesers in die Brexit-referendum “nie regtig geweet het waarvoor hul stem nie”.
Daardie siening is sekerlik na Johnson se manjifieke oorwinning as leuen openbaar.

Die skrywer van hierdie puik stuk, Sebastiaan Biehl, kan ook op die skouer geklop word as die enigste joernalis ter wêreld (!) wat melding maak van Nigel Farage se “slim en versiende skuif” tydens die afgelope verkiesing.
Farage sal nie maklik in sy leeftyd erkenning kry vir híérdie besluit wat ‘n reuse-rol gespeel het, of enigiets anders wat hy vermag nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.