Botswana kry ʼn nuwe president

mokgweetsi-masisi-botswana

Mokgweetsi Masisi (links), lê ʼn eed af as deel van die inhuldigingseremonie as Botswana se nuwe president by die parlementgeboue in Gaborone, hoofstad van Botswana, op 1 April 2018. Foto: Xinhua/BOPA.

Botswana het ’n nuwe president, Mokgweetsi Masisi, wat ná twee termyne van sy voorganger, Ian Khama, die amp oorgeneem het. Dit maak Masisi die vyfde president van die land en van die Botswana Demokratiese Party (BDP). Masisi was, soos nog elke president behalwe die stigter-president Seretse Khama, voorheen visepresident. Sy eintlike toets kom in volgende jaar, wanneer ’n nuwe parlement verkies word wat die president moet kies. Sy kanse daarvoor is egter goed. Botswana is nie ’n eenpartystaat nie, al word dit sedert onafhanklikheid in 1966 deur dieselfde party regeer. Die meeste mense is tevrede met die beleid van die gematigde regeringsparty en gee nog elke keer vir hulle ’n volstrekte meerderheid.

Die land is selde in die nuus, omdat hier nie dinge – wat Afrika so dikwels die nuus haal – gebeur nie, naamlik opstande, onluste, diktatorskap, plunderings, staatsgrepe. Botswana gaan stilletjies sy gang en is ’n besliste suksesverhaal, sonder om dit self aan die groot klok te hang. Korrupsie is redelik laag, alhoewel die feit dat die BDP al vir meer as 50 jaar regeer, natuurlik lei tot elitevorming en bevoordeling van sekere persone.

Die nuwe president het onlangs aangekondig (iets wat vir Afrika merkwaardig is) dat hy die staatsdiens wil laat krimp en staatsmaatskappye wil verkoop. In talle Afrikastate is die burokrasie die hoofwerkgewer en suig geweldige bedrae belastinggeld op vir werk wat privaat beter gedoen kan word. Die president het erken dat die staat nie werk skep nie, en dit ook nie moet probeer doen nie, maar dit eerder aan die privaat sektor moet oorlaat en goeie omstandighede vir besigheidsvestiging moet voorsien. Dit is ’n boodskap wat net nie deurdring tot die Suid-Afrikaanse regering nie en wat een van die oorsake van die hoë werkloosheid van om en by 27% is. Botswana s’n is met 18% nog steeds hoog, maar aansienlik minder, en dit in ’n land met ’n baie minder ontwikkelde ekonomie as Suid-Afrika. Die vakbonde in Botswana hou natuurlik net so min van die boodskap soos die vakbonde in Suid-Afrika, maar hulle is nie naastenby so magtig nie.

Ten spyte van sy klein bevolking van slegs 2 miljoen mense (meesal etniese Tswanas) het Botswana ’n opvallend professionele weermag en het onlangs nuwe wapentuig ontvang. Wat egter merkwaardig is, is die feit dat Botswana vir die eerste 10 jaar ná onafhanklikheid geen weermag gehad het nie. Dit was ’n wyse besluit, want in die 1960’s was Botswana ’n arm land en het elke sent benodig vir die opbou van die land soos die ontwikkeling van die infrastruktuur, skole en mediese dienste. ’n Weermag sou niks kon beteken teen die destydse wit oorheersde buurlande (Suid-Afrika met Suidwes-Afrika en Rhodesië) met hul sterk weermagte nie. Waar in talle Afrika-lande binne enkele jare ná onafhanklikheid al staatsgrepe uitgevoer is en die weermag ’n bron van onstabiliteit eerder as stabiliteit was, kon Botswana, wat na ’n verstandhouding met Suid-Afrika gestreef het (al het dit die apartheidbeleid soos elke Afrika-staat afgekeur), goed ontwikkel. Die weermag het nog nooit enige oorlog gevoer nie en word hoofsaaklik vir grensbeskerming, teenwildstropingsoperasies en rampbeheer gebruik. Onlangs is egter aansienlike wapentuig gekoop, onder meer, Gripen-vegvliegtuie.

Daar is ook ’n groot VSA-lugmagbasis in die land, waaroor al talle gerugte die rondte gedoen het dat dit met die oog op ’n moontlike politieke rampscenario in Suid-Afrika gebou is. Feit is egter dat dit omtrent die enigste land in die streek is wat stabiel is en nie enige ondervinding van of flirtasie met sosialisme gehad het nie. Zimbabwe is besonder onstabiel en in Suid-Afrika het omstandighede ook verswak. ’n Ylbevolkte en voorspoedige land soos Botswana moet dus sy onafhanklikheid kan verdedig.

Nogtans is nie alles in orde in Botswana nie. Die ekonomie is nog steeds veels te afhanklik van mynbou (veral diamante), met veeboerdery (veral beeste) en toerisme (veral duur safaritoere) as bykomende inkomste – alles bedrywe wat aan skommelings onderworpe is en min waarde toevoeg. Botswana kon dit wel regkry om ’n beherende aandeel in die diamantontginning te kry en is nie meer die “hulpbronkolonie” wat dit eens was nie. Al word die land grootliks deur Tswanas bewoon, is daar die klein Khoi-San-minderheid wat nie dieselfde mate van erkenning en simpatie geniet as in Suid-Afrika nie en al uit hul stamgebiede in die sentrale Kalahari verdryf is ter wille van mynbouaktiwiteite. Alhoewel in die politiek niks ooit seker is nie, is die kanse goed dat ook in die toekoms die gesegde “geen nuus is goeie nuus” vir Botswana sal geld.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Sebastiaan Biehl

Sebastiaan Biehl werk tans as ʼn analis in Berlyn, Duitsland. Hy is ook ʼn skrywer van romans en reisbeskrywings in sy vrye tyd en was op ʼn tyd (2001-2005) ook vir Solidariteit se media-afdeling werksaam. Sy kwalifikasies is BA algemeen, BA Hons (Politieke Wetenskap) en MA Politieke Wetenskap by Bloemfontein en RAU, onderskeidelik. Sebastiaan se gebiede van belangstelling is veral politiek, geskiedenis en reis.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

nico k ·

Botswana is beslis die mees stabiele land in Afrika. Ek glo sy sukses is deels daaraan te wyte dat dit groteliks deur een bevolkingsgroep bewoon word en min rasse spanning het. (Die Khoisan groepe is te min om enige invloed te hê al het hulle waarskynlik rede tot klagtes.) En ek dink ‘n 2de rede vir die beter ekonomie is die lae bevolkings getalle. Die beskikbare geld moet dus deur baie minder mense gedeel word. SA se groot probleem in die snelgroeiende bevolking. Ons sal nooit genoeg werk hê vir almal nie. En armoede sal net styg.

Liberaal ·

Sies nico, jy mag nie noem dat lae bevolkingsgroei ‘n suksesfaktor is nie. Die liberale leiers gebruik oorbevolking reeds as ‘n wapen om onrus te saai, so moet asseblief nie noem dat lae bevolkigsgroei tot ekonomiese sukses lei nie, dis polities inkorrek.

thinus ·

dit laat ‘n groot deur oop vir ontwikkeling in die land, maar sal hul regering wil luister en tot op watter vlak sal hulle wil ontwikkel?

Skepties ·

Ek gaan Khama mis. Ek is nie seker of iemand anders die land so goed gaan bestuur nie. Ek hoop nie daar kom ook nou verval nie.

marous ·

Botswana se beginsels is eenvoudig . As daar ‘n wet is kom ALMAL dit na , selfs die land se president. As jy die land of sy mense of besoekers skade berokken sal jy die gevolge dra maak nie saak wie jy is nie. Daar is net een Botswana en dit moet opgepas word.

Elred Ferreira ·

Ons sal graag meer artikels van mnr Biehl wil lees,dis lekker om artikels te lees waar die skrywer weet waarvan hy of sy praat.

Liberaal ·

Hy is te eerlik en reguit, lees eerder max of melanie verwoerd se polities korrekte agendas.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.