Bou of breek ek?

Bennie van Zyl. (Foto: Daleen Gouws)

Met die munisipale verkiesing om die draai, draai die ANC tans die krane in feitlik elke departement oop om hul ideologies gedrewe besluite wat van hul vorige konferensie gekom het, beslag te gee. Dit was te wagte – daar moet immers rekenskap gegee word aan hul ondersteunersbasis.

Die TLU SA (Transvaalse Landbou-unie van Suid-Afrika) het, sedert die ANC die land oorgeneem het, deurlopend met elke plan vir die landbouomgewing waarmee daar vorendag gekom is, die gevaar vir Suid-Afrika en sy inwoners uitgewys. Van die eerste sogenaamde Landbouplan wat in 2001 die lig gesien het, was elke ander landbourolspeler ’n ondersteuner. Slegs TLU SA het die ideologiese gevaar uitgewys en ons van die plan gedistansieer.

Deur ’n dokument te onderteken en te ondersteun waarbinne jy jou organisasie en al jou vermoëns sal inspan om, byvoorbeeld, grondhervorming te laat werk, is na ons oordeel uiters gevaarlik en kortsigtig.

Verskeie aspekte het vanuit die ANC se ideologiese raamwerk deurlopend die lig gesien. Hier dink ons aan dinge soos swart ekonomiese bemagtiging (SEB), transformasie, regstellende aksie, gelyke indiensneming en dies meer. Telkens was dit TLU SA wat die alleenrolspeler was en nie die duidelik ideologies gedrewe planne ondersteun en onderteken het nie.

Al klink die terminologie ook hoe mooi, moet daar besef word dat die voorreg om inhoud aan hierdie begrippe te gee, in die hande van die ANC is. Dit is hulle wat bepaal hoe dit toegepas moet word, wat telkens help om hul Nasionaal Demokratiese Rewolusie te laat verwesenlik.

Die regering is tans weer die aanvoorder van ’n nuwe “meesterplan” vir landbou. Dis ’n dokument wat weer eens deurspek is van hul ideologiese versugtinge en al is daar wel sekere verwysings na ekonomiese groei, word die goeie daarin vinnig nek omgedraai deur ’n sogenaamde bemagtigingsagenda wat die hooffokus is.

Die vraag word nogmaals gevra of ons dit sal afteken. Soos die dokument nou daar uitsien, is daar geen manier dat TLU SA sy steun daaraan kan gee nie. Dit is wéér ’n dokument wat nie die toets van volhoubaarheid teen die markbeginsels sal deurstaan nie. Die vraag is inderdaad nie of TLU SA die dokument sal afteken nie, maar veel eerder of die markkragte die dokument sal goedkeur.

Sedert 1994 het die markkragte baie geduldig omgegaan met die onseker en gevaarlike beleidsomgewing wat die ANC deurlopend skep. Voor Covid-19 ons getref het, het die markte ons land geëvalueer en te lig bevind, met die gevolg dat ons na rommelstatus afgegradeer is. Daarna het die wyse waarop die regering die ekonomie “versmoor” het, nie eintlik die nodige vertroue geskep waarbinne die broodnodige ekonomiese groei hoegenaamd kan plaasvind nie.

Die TLU SA is dankbaar dat al hoe meer rolspelers die afgelope tyd die gevaar wat die ANC se beleid vir alle inwoners inhou, begin blootlê en selfs teenwerk.

Aanvanklik, in 1994, was daar moontlik ’n mate van goedgelowigheid en bietjie hoop dat rasionele denke tog sal seëvier.

Die TLU SA het sedert die begin van die ANC se oorheersing van die besluitnemingsproses telkens die rooi ligte uitgewys. Aanvanklik is ons redelik verguis deur selfs organisasies wat logies behoort te dink wat reg en wat verkeerd is. Indien niemand nou nog nie besef dat die ANC se beleid slegs iets inhou vir die kaders rondom die vuur en dat die res van Suid-Afrika gesien kan word as gemanipuleerde stemvee en melkkoeie nie, is daar nie baie hoop dat sodanige mense enigsins die lig sal sien nie.

Suid-Afrika het onder die ANC se beleid nie ’n toekoms nie. Hulle is besig om vinnig met selfverryking, korrupsie en kaderontplooiing die land te stuur na die ashoop van mislukking. Die vraag is natuurlik wat gedoen moet en kan word aan hierdie huidige situasie waar die ANC besig is om elke inwoner van hierdie land, hul kinders en kleinkinders se toekoms te steel.

Die gedagte dat daar self opgetree en geskep moet word, het by verskeie organisasies deur die tyd beslag gekry. So word ervaar dat verskeie privaat instansies in veral die onderwysomgewing, soos die BCVO-skole (Beweging vir Christelik Volkseie Onderwys), vandag steeds begronde onderwys lewer. Privaat universiteite soos die Afrikaanse Protestantse Akademie en Akademia gaan van krag tot krag.

Op elke lewensterrein sal daar self gebou moet word. Soos die staat se voorligtingsdiens byvoorbeeld in die landbouomgewing in duie gestort het, het TLU SA reeds begin met ’n adviesdiens vir boere waar hulle winsgewendheid optimaal bevestig word. Wat wel belangrik is vir die pad vorentoe, is dat die antwoorde suiwer en begrond moet wees.

Vir TLU SA is daar nie twyfel oor waar die antwoorde vandaan moet kom nie. Ons geloof in die drie-enige God is ons basis en rigsnoer. Reg deur die Bybel leer ons hoe God mense gebruik het om sy wil te laat geskied. Ons dink aan mense soos Josef, Simson, Daniël, Gideon en Dawid. Elkeen van hulle het elke dag handelend opgetree om die nodige verskil te maak.

Dawid moes steeds sy vyf klippies optel toe hy teen Goliat te staan gekom het. Wat wel saakmaak, is die geloofsoortuiging waarmee hy Goliat aangedurf het. Vir Dawid en al die ander Bybelse voorbeelde was hul optrede in vaste geloof en tot eer van God. In ons eie geskiedenis het die Voortrekkers ook by Bloedrivier opgetree tot eer van God soos dit ook in die Gelofte onderneem is. Is dit vandag nog ons elkeen se rigsnoer?

Kom ons span die kragtigste wapen waaroor ons beskik in, naamlik die krag van gebed. Laat ons bid vir wysheid en krag. Dan sal ons staande bly en die nodige insig kry om, wanneer daar besluite geneem moet word, met oortuiging ook tot eer van God die toekoms tegemoet te gaan.

Deur al die jare wanneer TLU SA voor situasies te staan gekom het waar besluite geneem moes word, is daar telkens deur die leierboere vasgehou aan beginsels en is daar gewerk vir ’n uitkoms en nie ’n populistiese korttermynkeuse om vir die pawiljoen te speel nie.

Evalueer elke struktuur aan sy integriteit en beginselvastheid en word deel van dit wat vir jou saakmaak. Deur vas te hou aan die saakmakende waardes, kan elke individu met sy inset homself as ’n bouer posisioneer.

Die TLU SA werk graag saam met rolspelers wat om die regte redes tafel toe kom.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Bennie Van Zyl

Bennie van Zyl is hoofbestuurder van TLU SA.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Herpiet ·

Dalk moet ons weer gaan kyk na die mier waarvan die bybel verwys. Bly werk en bou ondanks sy omgewings omstandighede?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.