Bou op die verlede

luister-beeld

Foto: Couleur/Pixabay.com

Dit was oudpres. Paul Kruger van die ZAR wat die raad gegee het dat ons uit die verlede moet neem wat goed is, en die toekoms daarop bou. Goeie raad, oom Paul, maar watter twee dinge, in ’n verlede so omstrede en verdeeld soos ons land s’n, is die goeie waarop voortgebou moet word?

Pas ná die demokratisering van die land het die departement geskiedenis aan die Universiteit Stellenbosch daardie sleutelvraag gevra aan die gerekende Nederlandse historikus Frank Ankersmit van die Universiteit van Groningen. Sy antwoord was dat dit wat Suid-Afrikaners van alle agtergronde in gemeen het, ’n geskiedenis van lyding is.

Dis ’n dapper mens wat iemand so gereken soos Ankersmit oor die geskiedenis sal takel, maar ons reken lyding is ’n bietjie te veel van ’n passiewe handeling om ’n toekoms op te bou. As aksiestap wat voortvloei uit lyding, is empatie dan sekerlik ’n beter lewenswaarde om uit die verlede te haal. Empatie of meelewing of deernis, as jy wil, met mekaar se bagasie van die verlede en drome vir die toekoms, is trouens glad nie ’n slegte plek om met die genesing van ’n verdeelde samelewing te begin nie.

Hoe werk dit? Meelewing beteken dat ons mekaar se belewing so intens sal meemaak dat dit ons eie belewing word. Dit is ’n proses van gee eerder as neem – om, soos in die Christelike tradisie, jou deernis te gee sonder om te verwag om noodwendig terug te ontvang. Dus: Wat kan ek by jou leer? eerder as: Ja, maar dan moet jy darem nou eers hoor wat ek te sê het.

Die gee van deernis is nie ’n wederkerige verwagting nie.

Die tweede lewenswaarde waarmee ons land se geskiedenis ons toerus, is die gewaarwording dat dit nooit te laat is om te probeer nie. Ons land se geskiedenis is deurspek met voorbeelde daarvan dat mens nooit moet moed opgee nie – deur die genade kom daar wel uitkoms as jy vertroue behou.

Dit is ’n baie positiewe boodskap van hoop uit ons geskiedenis. Daar is tye dat die uitkoms ver en die probleme onoorbrugbaar lyk, maar dit is belangrik om te onthou om op die uitkyk te bly vir geleenthede – om die flonkerende lig in die duister te sien.

Dit is ook die antwoord in hierdie dae, wanneer die retoriek van verskeie leiersfigure in veral die gronddebat wegstuur van die versoeningsideaal, en waar dit voorkom asof elkeen net hul eie belang op die hart dra en iemand soek om te blameer. As elkeen sy of haar vermoë om te luister eerder as te praat (daarom het ons mos twee ore en net een mond!) behou, en daarmee saam sy of haar vermoë tot deernis en meelewing, sal dit met ons land en met ons nasie wel wees. En as elkeen van ons nooit moed opgee nie, maar daagliks ons bes probeer om die beste mense te wees wat ons kan wees, sal mens verbaas wees oor hoe die toekoms kan verhelder in die taaiste van tye.

  • Hierdie nuuskommentaar word deur Pretoria FM verskaf. Luister daagliks na Klankkoerant op Pretoria FM vir die jongste nuuskommentaar.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

23 Kommentare

Jerry ·

Wel gedaan aan die skrywer. Dit is seersekerlik die positiefste wat ons uit ons verlede kan neem en dit is om te versoen, te leef met deernis en te laat leef! Opregte gelowige en beginselvaste Afrikaners met deernis en hoop is wie ons ouers was, dit is wie ons is en dit is wie ons kinders en hulle kinders sal wees. Die Afrikaner sien die geleenthede, die flonkerende lig in die duister, hier in SA en elders in die buiteland! Die Afrikaner trap diep spore waar sy verlede hom vat, nie net in SA nie, maar versprei oor die uithoeke van die wereld. Die Afrikaner is is nie stagnant nie en ook nie parmant nie, hy is daar waar die God wat hy aanbid hom wil he, daar waar hy moet wees om n verskil te maak, n verskil deur dankbaarheid en deur alle mense met deernis te dien.

Arak ·

Die versoeningsideaal is ‘n leuen en sal nooit realiseer nie. Solank as mense verskil en ander kan blameer vir hulle probleme sal daar nooit versoening wees nie. Wie se ideaal was hierdie wonderlike “versoeningsideaal” in elk geval? Die regering van die dag soek dit nie en ek is van mening dat al hoe minder blankes kans sien vir die chaos wat die skrywer versuiker as die “versoeningsideaal”. Ook pragtig om Christenlike tradisie te misbruik om die leuen te probeer regverdig, wonderlike. /sarc

Veritas ·

Arak, wat meeste van ons nie besef nie is dat, in Afrika, toegeeflikheid as ‘n swakheid gesien word. Onderhandelinge vind nooit plaas in ‘n gees van ontvanklikheid nie maar wel van eise. Hoe verder die Afrikaner agteroor buig om die ander partye tevrede te stel, hoe groter en dringender raak die eise. Vasstaan is hier die wagwoord. Nie verder togee nie.

Henry ·

Alles goed en wel om ‘n simpatieke oor en ‘n sagte antwoord op allerlei grimmig-geite en bedreigings te verskaf, maar iewers langs die pad moet selfs die mees positiefgesinde PK siel begin erken dat die toekoms van hierdie droewe land se inwoners bra sleg lyk, om dit hipersag en ‘samewerkend’ te beskryf.

Die retoriek* vanuit alle oorde wat in toenemende mate ons gewone piete se wêrelde op daaglikse wyse bedreig, is na sovele jare sedert 1994, te oortuigend, te dikwels en ‘waarskynlik waar’ om soos voorheen, langer te ignoreer.

Armageddon het reeds vanaf die voorstoep tot by die ingangsportaal gevorder.
Hoe lank kan ons soos die Jode in die destydse Nazi Duitsland aanvanklik gemaak het, in ontkenning leef? Ontken dat ons huise, besittings, plase, geliefdes ens ens nie langer teen verwoesting verseker kan wees nie? Moet ons eers ‘n eie ‘Kristalnacht’ beleef?

Ons gewone piete wat in ‘n land woon waar die woord ‘mandjie’ jou reeds in ‘n hof en ‘n gevangenis kan laat beland…

* PK terminologie vir ‘om bedreig te word’.

Hello ·

Arak, daar is twee kampe Afrikaners, die een kamp klou vas aan die verlede en die ou testament en het gestrewe na n eie volkstaat, maar val n bietjie rond en tans strewe hulle na die selfbeskikkingsideaal, terwyl die ander kamp hulself losgewikkel het uit die verlede met die fokus op die nuwe testament en die toekoms en hulle strewe die versoeningsideaal na. Daar is dus nie net een kamp Afrikaners nie, daar is twee kampe en ek en jy moet onsself maar liefs daarmee versoen. Dit is nie iets nuuts nie, die twee kampe was nog altyd met ons. Die een trompetter en raas, terwyl die ander een luister en die kat uit die boom kyk. Seker die dat jy onder die indruk verkeer, dat daar net een kamp is.

Liberaal ·

Die polities korrekte kant vertel vir die ander kant om hulle eiendom en werk weg te gee, maar doen dit nie self nie, o nee, ons linkses vlug na sekuriteitsareas of emmigreer na ander (wit) lande. Dis ons linkses se geheim, ons preek maar meng en gee nie self weg nie, dit werk uitstekend vir ons.

Eish ·

Die gebeluistery word draadsittery in Afrikaans genoem. Sodoende kan jy jou seile span volgens die windrigting.

Henry ·

Hello daar,
Jou twee “kampe” waarbinne jy Afrikaners wil forseer, is heel vreemd. Dat ‘n ou testamentiese beskrywing aan die “selfbeskikkingsideaal” se rasende en blasende kampgangers toegeken word, teenoor die “versoeningsideaal” wat deur die ander kampers as ‘n Spikspliternuwe Verbeterde Testament nagestreef word, is darem vreeslik eenvoudig. Om dit sagkens te stel.

Afgesien van al die ander “kampe” waarbinne enige volk – insluitende Afrikaners – geplaas sou kon word, is die groepering van verskillende lewensbeskouinge, ideale ens darem nie so eenvoudig dat die hele ou spulletjie in twee “kampe” verdeel kan word nie.

As voorbeeld.
Waar sou ‘n armsalige Selfbeskikker wat al die versoeningskenmerke toon, hom/haarself in jou twee “kampe” bevind?
Of in watter kamp pas ‘n Versoener in, wat mbv kat-uit-die-boom-kyk trieks, wil selfbeskik?

Om nie eers te praaaat van al die ander “kampe” wat alle ordentlike volkere kenmerk nie.

:-)

Deon ·

Dit sal goed wees as die linkses en regses finaal kan paaie skei, met die linkses wat heerlik saam met die ANC hierdie wonderlike reenboogland geniet en hulle eiendom met die kommuniste deel, en die regses wat uiteindelik wet en orde en rasionele ekonomiese beleid in hulle eie westerse land kan handhaaf.

John ·

Hmm.. en ver oor die see praat CR van die sg oersonde van die Afrikaners… die vals aanname dat Afroboere so uit hul mega-landerye gehaal en afgemaai is en Boere hulle in die plaashuise tuisgemaak het. Snags het bendes Boere opgeruk, die waghonde geskiet en die vroue en kinders aangerand en die mans… Ja, die heerlikste wyn is eers opgesuip en toe is die plase geannekseer en vreemde name gegee… kamtig Franse name. Ja, dis lekker om te droom as jy ver van ‘n ander man se goed is en Xi se vrou so mooi smile. En om steeds sulke tjol te verkoop en dan wil Jan2 he ons moet traai en sy Nederlandse alwetende wyse se beterweterige lydingsvolsin ons s’n te maak… Nederland se ander Jan het hier anker gegooi en sou seer sekerlik ‘n heel ander storie te vertel he as die huidige medelinge.

Willem ·

Dan sien ek hy het hulle daar oorkant verseker dat die vrese van die mense in die land oor die verandering van die grondwet het nou verdwyn.

Hello ·

Liberaal dit gaan niks baat om emosioneel te raak en ander af te kraak en te blameer vir jou situasie nie. Kyk eerder in die spieel en as jy tevrede is met wat jy sien fokus dan op jou selfbeskikkingsideaal en respekteer eerder die wat na n versoeningsideaal strewe. Jy weet nooit, hulle mag dalk tot jou redding lei!

Liberaal ·

Ja ons linkses se reenboognasieideaal het so mooi uitgedraai, kyk hoeveel versoening en vergifnis is in ons land, SA is voorwaar ‘n blink voorbeeld van hoe n land moet wees.

Willem ·

Dit sal prysenswaardig wees as alle betrokke partye by so ‘n ingesteldheid kan inkoop, maar ongelukkig is die realiteit dat die regering en eisers met hul optrede die ander partye noop om sterk op te tree, en in baie gevalle op regsaksies moet staatmaak. Gaan lees gerus die artikel “Meer skuil glo oor onteiening van Akkerland-plase”, vandag hier op Maroela, dan besef mens waarteen grondeienaars en boere hulle vasloop.

Willem ·

Dit sal prysenswaardig wees as alle betrokke partye by so ‘n ingesteldheid kan inkoop, maar ongelukkig is die realiteit dat die regering en eisers met hul optrede die ander partye noop om sterk op te tree, en in baie gevalle op regsaksies moet staatmaak. Gaan lees gerus die artikel “Meer skuil glo oor onteiening van Akkerland-plase”, vandag hier op Maroela, dan sien mens waarteen grondeienaars en boere hulle kan vasloop.

Jerry ·

Eish, om diegene met versoeningsideale te ettiketeer as draadsitters omrede hulle nie hulle ideaal trompetter nie is nie n geldige bewering of argument nie omrede diegene met die versoeningsideale, in die geval AgriSA, het die leiding geneem met onderhandelinge en samewerking met die regering om oplossings te vind vir grondhervorming waartoe selfs die TLU hulle ook nou toe versoen het. Die versoeningskamp het sonder n geraas en n geblaas net doodeenvoudig die leiding geneem. Dit is hoe ware leiers na vore tree en tewerk gaan. Eweskielik lyk versoening nie langer na n te slegte opsie nie, inteendeel is ek bereid om te se dat versoening kort voor lank die enigste lewensvatbare opsie gaan word vir die Afrikaner. Moet my nie verkeerd verstaan nie, daar is niks fout met die selfbeskikkingsideaal nie, dit is net dat dit slegs vir n klein groepie beskore gaan wees op die einde van die dag agv n klomp lewensvatbare faktore waaroor ek eerder nie noual sal uitbrei nie! Een ding waarvan jy seker kan wees is dat die versoeningsideaal sy man kan staan teen enige aanslae, uit watter oorde ookal.

Hendrik ·

Dit is nogal snaaks dat swartgroepe ook nie vra om selfbeskikking. Dit is gemaklik in S.A en selfbeskikking verg baie harde werk en moed.

Gerrie ·

Ek glo nie maar strewe na selfbeskikking. Daar het ek vir jou ‘n teen voorbeeld gegee wat jou stellings verkeerd bewys.

Willem ·

Lees dan nou die volgende artikel van Jan-Jan wat sopas op Maroela geplaas is.

Hello ·

Deon, die tyd sal kom dat Afrikaners hande gaan vat en versoen as n kombinasie van selfbeskikking en versoening. Geen selfaangestelde regse sentiment of liberale sentiment leierskap sal die Afrikaner uitmekaar uit dryf nie!

Hendrik ·

Selfbeskikking is al aan die gang en ons wag net dat meer Afrikaners hulle gewig ingooi. Samewerking met owerhede was nog nooit ‘n probleem omdat hul insien dat ‘n positiewe gemeenskap opgebou word wat nie baie las op hulle plaas nie. Die probleem is juis gemeenskappe wat net wil ontvang en nie wil werk nie. Wys my enige gemeenskap wat deel is van ‘n Metro wat selfstandig is wat deur eie geld opgebou is onafhanklik van die Metro se belastingstruktuur? Praat is goedkoop en kom wys julle staal….

Hello ·

Gerrie, u as n ongelowige wie nie glo nie, maar strewe na selfbeskikking, vir u en mense soos u, voel ek net deernis omrede u die sprekende voorbeeld is van die hoofrede waarom wanhoop en vrees vir die toekoms, so maai onder diegene met selfbeskikkingsideale!

Gerhard ·

Dit voel amper of daar gese word, verbeel jou dit gebeur nie regtig nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.