Bouers en brekers – die twee gesigte van Suid-Afrika

‘n Skermskoot uit ‘n video van die opvoering van die Ndlovu Youth Choir by America’s Got Talent.

Op 26 Junie 2019 het twee gesigte van Suid-Afrika, sowel nasionaal as internasionaal aandag getrek, maar om twee totaal uiteenlopende redes.

Die Amerikaanse TV-talentkompetisie America’s Got Talent saai op 26 Junie die optrede van die Ndlovu-jeugkoor van Limpopo op YouTube uit. Die optrede is die vorige aand op TV uitgesaai. Binne ure versprei die YouTube-skakel deur alle sosialemediakanale en word reeds binne ʼn dag meer as 1 miljoen keer gekyk. Deur die bank is die kommentare van Suid-Afrikaners baie positief en word die woord trots telkens genoem. Dit gee weer hoop en die positiewe assosiasie met die koor word deur baie Suid-Afrikaners uitgespreek. Tot en met hierdie skrywe is die video al reeds meer as 5 miljoen keer op YouTube gekyk, maar is daar sedertdien ook ander plasings wat ook heelwat kykers trek.

Dit is die bouers waarmee ons graag geassosieer wil word.

Die ander gesig van Suid-Afrika wat die dag op 26 Junie 2019 die aandag getrek het, is een van verwoesting. Protesteerders van Ikageng buite Potchefstroom dwing ʼn stootskraperbestuurder om stukke van ʼn teerpad op te grawe en te verniel. Die vandalistiese betogers is skynbaar ontevrede oor dienslewering in die algemeen, maar spesifiek oor beweerde gebrekkige verskaffing van huise. Van die protesteerders is in hegtenis geneem en word van kwaadwillige saakbeskadiging aangekla. Vroeg in Julie 2019 word die Katlehong Primary School aan die brand gesteek omdat betogers ontevrede is oor elektrisiteit. ʼn Saak van brandstigting word ondersoek.

ʼn Paar jaar gelede op Sondag 29 Mei 2016 beleef ons die Ndlovu-jeugkoor wat uit die afgeleë Moutse-wildreservaat in Limpopo kom, toe hulle die Sondag saam met ander kore in die Musaion teater by die Universiteit van Pretoria optree. Hul passie en energie was toe reeds aansteeklik, maar dit was hul uitbundige talent wat die gehoor se harte die dag gesteel het. Dit was egter met die onlangse bekendstelling wat die ware storie van die kinders uit ʼn armoedige gemeenskap – wat nog steeds sonder lopende water of elektrisiteit is en sommige ook hul jonger broers en susters moet versorg – wat na vore gekom het in die aangrypende voorafbekendstelling op die YouTube-video. Die mees treffende samevatting van hul storie – die armoede, die passie, die harde werk en dit wat hulle bereik – is beskryf deur hul afrigter, Ralf Schmitt toe hy voor hul TV-optrede sê: “Maar omdat hulle in armoede gebore is, beteken dit nie hulle ís armoede nie.”

Die laaste paar maande was daar rondom die verkiesing en politieke gebeure weer hoop vir Suid-Afrikaners. Baie mense wil graag positief bly en ʼn verskil maak.

Dit is egter weer asof die hoop vervaag het en is Suid-Afrikaners baie gretig ingestel op positiewe nuus. Dit gebeur egter nie op politieke terrein nie, sportprestasies is maar yl gesaai en ook op ekonomiese gebied gaan dit droewig.

Juis daarom het die storie van die Ndlovu-jeugkoor en hul individuele lede wat net op talent aangewese is, om die regte redes soveel opslae gemaak. Hulle kon ook gekies het om in ellendige omstandighede vasgevang te wees, die bietjie infrastruktuur wat daar is, deur protesaksies te vandaliseer en hulself in nog groter armoede dompel.

Vir hulle was daar nie net die hoop nie, maar ook die wilsbesluit om self iets te doen aan hu eie omstandighede en so ʼn geleentheid te ontsluit. Dit het hulle by uitstek gedoen en is die internasionale aandag op hulle gevestig. Dit sal hopelik nog meer geleenthede op hulle weg plaas. So bou hulle self aan die verbetering van hul eie omstandighede.

Beotgers drom by Ikageng, naby Potchefstroom in Noordwes, saam. (Foto: SA Polisie)

Intussen is die gemeenskappe van Ikageng sonder ʼn teerpad en Katlehong sonder ʼn laerskool. Hulle het verkies om die ander roete te volg. Om brekers te wees, vandale in die ergste graad om só hulself in net nog groter ellende gedompel. Vir hulle word die droom van baie, om uit armoede te ontsnap, net ʼn groter nagmerrie.

Wat maak ons met die twee gesigte wat Suid-Afrika op 26 Junie gesien het? Bly ons afbreek of begin ons bou? Die hartseer ironie is dat hoe meer ons bou, hoe meer word afgebreek.

Die brekers is nie net diegene wat ons sien midde-in die puin en verwoesting van infrastruktuur nie. Die brekers is ook alomteenwoordig in raadsale en plunder daagliks ons tale deur universiteite en skole te verengels, deur gemeenskappe teen mekaar op te sweep deur kru rassisme en haatspraak en deur die stroping van belastinggeld om hulself te verryk.

Die brekers is ook teenwoordig in die politieke ideologiese omgewing deur mislukte beleide soos regstellende aksie en swart ekonomiese bemagtiging af te forseer en hoe meer dit misluk in die sukkelende staatsondernemings soos die SAL, Eskom en die SABC, nog meer daarvan af te dwing.

Die brekers gaan ook voort om die Grondwet te wysig ten einde onteiening sonder vergoeding moontlik te maak.

Suid-Afrika roep, nee, pleit vir meer bouers. Mense wat elke dag ʼn positiewe en konstruktiewe verskil maak, wit en swart. Mense wat hulle talente ontsluit en aanwend tot voordeel van ʼn groter gemeenskap en uiteindelik ʼn beter Suid-Afrika.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Jan Bosman

Meer oor die skrywer: Jan Bosman

Jan Bosman is Hoofsekretaris van die Afrikanerbond.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Hendrik ferreira ·

Ek wil n positiewe bouer wees maar ek word beperk en teen gediskrimineer in n land waar ek die sesde geslag is en net oor ek n wit seun is mag ek nie werk of studeer wat ek wil nie agv diskriminerende wette,skrap dit sodat ek op meriete kan bou.

John ·

Die getalle-oorwig, gepaard met die ‘we want’- uitgestrekte vuis van die swartmagbeweging, soos wat Mandela menigkeer vertoon het, staan in die pad van die bouers. ‘Saam’ is ‘n mite. Regstellende aksie, grondgrype-sonder-vergoeding, BEE en Afrikaanse-skole-besetting is voorbeelde van die ANC se ‘apartheidsbeleid’ Indien wittes net die gee moet doen soos belasting betaal, kore en sportspanne afrig, maar dan in die hoekie moet gaan sit met die Donkie-papierhoedjie vir stoute kinders op die kop, sal agteruitboer floreer. En dit doen met rasseskrede.

Kallie ·

Die ou SA wat ons geken het is begrawe. Nou moet jy maar net vir jouself bou en sorg.

Jerry ·

Bouers wie hard besig is om mure te bou rondom sakeryke terwyl miljoene krepeer is eintlik die brekers. Bou eerder brue voordat dit te laat raak in die dag!

Hans ·

Die uitlatings deur die hoofregter oor wittes/swartes op die effektebeurs is kommerwekkend-nie die uitlatings van n bouer nie

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.