Bouplanne vir gemeenskapsuniversiteite

Deur Alwyn Swanepoel

Argieffoto: Pixabay

In die vorige artikel in die reeks oor gemeenskapsuniversiteite het ons gekyk na die belangrike hoekstene van gemeenskapsuniversiteite. Daar is gefokus op desentralisering, akademiese leierskap in die huise, sosiale stabiliteit, en egte diversiteit. In hierdie aflewering word gefokus op die tweede punt wat in die eerste artikel genoem is, naamlik bouplanne vir gemeenskapsuniversiteite.

Bouplanne vir verlewendiging

Dit is natuurlik so dat ons genoemde verwysingspunt, Robert O’Hara, se genoemde boustene ’n bouplan moet hê, en daarvan is hy baie bewus.

Daar kan nie hier in detail op al sy voorstelle ingegaan word nie; indien jy hierdeur geprikkel is, stel gerus self verder op sy webwerf hieroor ondersoek in. Opsommend is die kern daarvan die volgende: Volgens O’Hara is die ideaal dat ’n verskeidenheid van mense in ’n bepaalde huis/kollege in twee groepe opgedeel sal word, naamlik die senior en die junior lede.

Die senior lede beskrywe hy as “fellows” en “associates”. Hulle bestaan uit die dosente en erelede uit die omliggende gemeenskap. Die juniors beskrywe hy as die voorgraadse en nagraadse studente. Volgens O’Hara se ideale raamwerk behoort die seniors ’n sesde van die kollege uit te maak, en die juniors vyf sesdes (elke jaargroep ’n sesde). Almal hoef ook nie noodwendig inwonende lede te wees nie, maar moet – en en dit is belangrik – as lede inskakel by die spesifieke kollege se programme.

Die vraag wat hier ontstaan, is natuurlik of O’Hara se model hiermee uiteindelik werklik soveel anders daar sal uitsien as huidige koshuise met hul programme. Die verskil tree egter tog na vore as daarop gelet word dat hy ruimte wil maak vir ’n inwonende president sowel as ’n dekaan as geestelike en intellektuele vaders vir elke kollege. Hy maak ook sterk voorspraak daarvoor dat die akademiese lede en erelede, sowel as die studente, werklik uit alle vlakke en fakulteite en departemente gekies sal word, sodat elke groep ongeveer ’n sesde van die totale aantal van maksimum 400 lede sal verteenwoordig. Die rede vir dié beperking, soos verduidelik in die vorige artikel, is omdat anonimiteit bokant hierdie getal sterk toeneem (iets wat gemeentes ook maar weer kan hoor).

Wat hierdie model wel heelwat anders maak as die bestaande koshuismodelle, is dat daar in terme van ouderdomme, ruimte (spasie) en tyd (ritmes en praktyke) moeite gemaak word om die model anders te verwerklik. Daar is byvoorbeeld sterk voorspraak daarvoor dat moeite gemaak word met ruimtes waar die lede, juniors en seniors, dikwels saam eet. Daar is ook sterk voorspraak vir kuierkamers vir beide die senior en die junior lede wat so ingerig moet word dat daar spontane samesyn kan wees. Wat die ritmes op die kalender betref, behoort daar definitiewe weeklikse, maandelikse en jaarlikse instellings te wees waarop die lede samesyn beleef rondom spesifieke geleenthede, wat ook ’n unieke aard en kultuur aan elke afsonderlike kollege verleen. Dit is duidelik dat die senior lede, bedoelende dosente en erelede, ook hierin meedoen en dat baie van hierdie geleenthede ook gepaardgaan of eindig met samesyn rondom gemeenskaplike etes. O’Hara verwoord hierdie gedagtegang treffend:

”n Gevestigde sosiale ritme is noodsaaklik vir die gesondheid van enige gemeenskap, ‘n ritme wat mense gemaklik laat voel en laat voel dat hulle deel is van iets groter as hulself. Daarom: Stel ‘n raamwerk op van weeklikse, maandelikse en jaarlikse geleenthede wat die lewensduur van die betrokke huis definieer, en voeg af en toe eenmalige geleenthede by soos nodig. Moet nooit die gereelde gebeure kanselleer nie; hou dit week na week, maand na maand, jaar na jaar, sonder uitsondering. Bedien voedsel by elke geleentheid. Voedsel is die wisselkoers van alle sosiale transaksies in ‘n residensiële kollege.”

Voortvloeiend hieruit stel hy voor dat daar onder meer ’n weeklikse koffie en tee-geleentheid sal wees vir alle lede om saam te verkeer. Uit die aard van die saak doen hy ook voorspraak vir ’n huiskomitee en ’n verwelkomingskomitee, sowel as tutors uit die nagraadse studente wat vir elke 20 tot 40 studente aangestel is. Hy noem ook dat daar met die omgewing moeite gemaak moet word: dit moenie kunsmatig en plasties wees nie. Daar moet liewer met materiale soos hout, stene, klip, groen plante en warm lig gewerk word as met neonligte, kettingwinkels en kitskos-etikette. Hy vra heel gevat: “Vertoon jy ‘n reuse neon Pizza Hut-bord in jou huis?”

Die implikasie is dat daar werklik ’n huislike atmosfeer sal wees en dat vuurherde, keurige kunswerke en beeldhouwerk mettertyd hoe langer hoe meer die ruimtes sal versier. Om die akademiese atmosfeer te dien, stel O’Hara voor dat daar weeklikse gedigte van die week op borde sal verskyn, dat studente interessante praktiese toepassings uit hul velde sal deel, dat daar ’n mikro-biblioteekruimte geskep word en selfs dat daar lesings aangebied sal word. Inleidende kort-kursusse vir die eerstejaars oor iets soos die klassieke groot boeke-tradisie (liberal arts tradition) kan ook as deel van hul inlywing oorweeg word. O’Hara gaan nie verder hierop in nie, maar opvolgkursusse oor die verskeie kante van wysheid en wêreldbeskouing soos bepaalde narratiewe, simbole, ritmes, en vraagstellings, kan ook trapsgewys in die volgende jare hanteer word.[1]

Klein akademiese gemeenskappe kan ook intern gevorm word, en dan is daar natuurlik ook bepaalde gesamentlike toere na historiese gedenkwaardighede of wildbesigtigings en ander kulturele of sportaktiwiteite wat natuurlik nie uitgesluit is nie. Die doel is om werklik ’n stimulerende huislike omgewing daar te stel wat anderkant ’n koshuislike omgewing tree. In so ’n omgewing behoort die boeiende van die beste uit elke student se wêreld en vakgebied gedeel te word en daarin en daardeur kan verlustiging in ’n fantastiese Godgegewe werklikheid aan mekaar bedien word.

Daar is natuurlik nog baie meer wat oor bouplanne gesê sou kon word, maar dit is nodig om ook uit te kom by die dieperliggende filosofie wat ten grondslag van so ’n benadering sou kon lê en wat O’Hara nie genoegsaam in sy eie werk aan die orde stel nie. Daarom sal daar in die volgende uitgawe by die derde punt stilgestaan word wat in die eerste artikel genoem is: die fondamente van gemeenskapsuniversiteite.

  • Alwyn Swanepoel is as professor verbonde aan die Fakulteit Teologie van die Afrikaanse Protestantse Akademie (APA). Hy dien tans ook as dekaan van die Fakulteit Lettere en Wysbegeerte aan dieselfde instelling. 

* Hierdie artikel is die tweede in ʼn reeks van vier artikels wat ʼn verwerking is van ʼn voordrag gelewer by ʼn gespreksgeleentheid wat die Afrikaanse Protestantse Akademie (APA) op 30 November 2017 aangebied het. Lede van die APA, Akademia, Aros en die Bo-Karoo-kampus van Orania was betrokke, tesame met enkele dosente van die UP en die UOVS.

[1]  Vgl. In hierdie verband N.T. Wright in Jesus and the Victory of God. Christian Origins and the Question of God: Volume II. Minneapolis: Fortress, 1996. Wright (p. 138) identifiseer vier komponente van ’n wêreldbeskouing: verhale, simbole, rituele en bepaalde vrae en antwoorde (Wie is ons? Waar is ons? Wat is verkeerd? Wat is die oplossing? Watter tyd in die geskiedenis is dit?).

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

annie ·

Hoe mooi en suiwer klink die Nuwe Wèreldorde se planne nie in goeie Aftikaans nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.